duimnael|regs|220px|Die NG kerk Hanover se hoeksteen is op 30 November 1907 gelê. Dit is ontwerp deur William Henry Ford, wat tydens die Anglo-Boereoorlog uit Australië na Suid-Afrika geëmigreer het.

Die NG gemeente Hanover is ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Karoodorp Hanover, presies halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg. Van die nasionale pad af kan die reisiger die kerktoring duidelik tussen twee koppies afgeteken sien staan. Dié besonderse kerk, ontwerp deur die gebore Australiër William Henry Ford, is in 1907 in die dienstyd van ds. S.P. Fouché teen ’n koste van £8 530 opgerig.

Stigting duimnael|links|180px|Ds. Thomas François Burgers. Die gemeente is in 1856 gestig en die eerste leraar was was ds. T.F. Burgers, die latere president van die Transvaalse Republiek. Hy het hier gestaan tot 1872 toe hy uit die bediening getree het. In die pastorietuin is nog 'n hoë sipresboom wat deur hom aangeplant is by die graf van sy kindjie wat hier oorlede is. Gedurende die laaste jare van sy verblyf hier het 'n deel van die gemeente afgeskei as gevolg van die saak van Burgers teen die Sinode. Hieroor het De Kerkbode van 3 Julie 1869 berig: “Door de gemeente, welke zich aan de dienst van Ds. Burgers heeft onttrokken, is tot haren leeraar beroepen de Proponent C. du Toit, die het beroep, vememen wy, heeft aangenomen." Hy is op 13 November 1869 as herder ingeseën, en by die geleentheid het ds. A.A. Louw van Murraysburg, grootvader van ds. J.S. Louw wat in 1949 hier bevestig is, die bevestigingsrede uitgespreek. In 1874 vertrek hy weer uit die gemeente. Op die Sinode van 1873 is besluit om die vrye gemeente van Hanover as afsonderlike gemeente van die NG Kerk te erken, maar die gemeente is aangeraai om 'n spoedige hereniging met die oorspronklike gemeente te soek.

Gedurende die dienstyd van ds. (later prof.) J.I. Marais, wat deur die oorspronklike gemeente uit Kaapstad beroep en op 15 September 1873 bevestig is, is hierdie skeuring bygelê, en is die eenheid van die gemeente herstel, veral deur bemiddeling van 'n kommissie deur die Ring van Graaff-Reinet afgevaardig.

Ds. Arend Hofmeyr duimnael|regs|200px|Ds. Arend Hofmeyr en sy eerste vrou, Louisa Adriana, gebore Louw. Vir die gemeente Hanover was die koms van ds. Arend Hofmeyr ’n groot wins, want sy 26 jaar lange dienstyd was een van die mees geseënde tydvakke in die gemeente se geskiedenis. Binne vyf maande ná die vertrek van ds. J.I. Marais, wat professor aan die Kweekskool geword het, kon die gemeente sy opvolger in die persoon van ds. Arend Hofmeyr verwelkom. Benewens ’n salaris van £300 is hom ook 50 hamels en 12 mudden meel per jaar aangebied. Hy is beroep op dieselfde dag waarop demissie aan ds. Marais verleen is, maar het ses weke later laat weet dat hy nie voor die eerste naweek in Oktober ontvang en bevestig sou kon word nie omdat hy eers die nuwe kerk op Maclean sou voltooi en inwy. Drie broers het toe met ’n perdewa afgereis na Maclean om ds. Hofmeyr, sy vrou en vyf kinders te gaan haal. Terselfdertyd is ’n bokwa met esels gestuur om soveel moontlik van die pastoriegesin se huisraad te vervoer.

Op Vrydag 2 Oktober 1877 is ds. Hofmeyr en sy gesin die dorp binnegelei, gevolg deur 21 karre. Aangesien dit ook Nagmaalsnaweek was, was die ou kerk stampvol toe die bevestiging die Saterdagoggend plaasvind. Behalwe sy broer ds. J.H. Hofmeyr van die NG gemeente Somerset-Oos wat die bevestiging uitgespreek het, was ook ds. Hofmeyr se swaer ds. J.R Albertyn (Hanover se konsulent) teenwoordig om die plegtigheid namens die Ring waar te neem. Die namiddag het ds. Hofmeyr sy intreepreek gelewer.

Op Hanover, soos seker ook op Maclean, was ds. Hofmeyr baie geliefd. ’n Gemeentelid, wat jare lank in die pastorie op Hanover ingewoon het, het in later jare as volg van die predikant getuig (uit die Nederlands vertaal): "Ds. Hofmeyr was stil dog vriendelik. Hy was vriendelik en tog beslis. Hy was beslis en tog gematig en verstandig. Hy was verstandig maar nederig. Hy was nederig maar eerbiedwaardig. Hy was swak as mense en tog sterk in zy Here en vol liefde tot sy gemeente en huisgesin. Hy was een van die stilles van die land, een van die mense wat weinig ander reg waardeer voor sy dood. ’n Predikant het ná sy dood in "De Kerkbode" drie dinge het hom in die lewe van ds. Arend Hofmeyr getref: sy diepe godsvrug, sy groot beskeidenheid en hoe presies hy in al sy sake ("bezigheid") was.

Eerste jare op Hanover Nadat hy net meer as ’n jaar in die gemeente gearbei het, het oudl. F.W. Stevens in die kerkraadsvergadering opgestaan raadsvergadering opgestaan en "in naam van den Kerkeraad aan den Leeraar een paar karpaarden ten gebruike voor zyn werk in den gemeente" aangebied. 'n Paar jaar later besluit die kerkraad op voorstel van dieselfde broeder om sy salaris aan te vul "door een jaarlyksche vrye gift van 60 schapen". Ds. Hofmeyr het kort tevore vir die beroep na Potchefstroom bedank en die kerkraad wou deur hierdie "vrye gift", asook 'n adres, vergesel van £63, sy waardering op tasbare wyse betuig. Die predikant van Hanover het in die 1870's en '80's jare stoere staatmakers aan sy sy in die kerkraad gehad, onder wie C.J. Vermeulen, F.W. Stevens, I.A. van Zyl, C.D. Cilliers, P.A. Wannenburg (kassier), G.P. van den Hever, A.J. Burger en D.J. Viljoen (vader van ds. P.J. Viljoen, emeritus van Heidelberg). Vermeulen is in 1877 as rustende ouderling oorlede, en in die kerkraadsvergadering van Oktober van daardie jaar word hulde aan hom gebring as baanbreker en stigter van die dorp, jare lange staatmaker in die kerkraad en aandeelhouer van die "Gesticht" (plaaslike sendingwerkkring) .

Geldsake duimnael|links|300px|Die ou pastorie op Hanover wat in ds. (later pres.) T.F. Burgers se tyd (1860) ingewy is. Hy het die vloerplan volgens oorlewering in die vorm van die letter "B" laat ontwerp. Dié gebou is in 1944 gesloop, maar daarin het ds. Hofmeyr sy hele dienstyd op Hanover lank gewoon.

Hoewel die skuld in ds. Marais se tyd aansienlik verminder is, kon dit tog nie heeltemal gedelg word nie. Dit het mettertyd selfs weer aangegroei sodat dit aan die begin van ds. Hofmeyr se dienstyd op £1 400 gestaan het. Vir die delging hiervan het hy en sy kerkraad, ondanks die "drukkende tyden" vroeg in 1879 aan die werk gespring. 'n Grootskaalse basaar tydens die April-Nagmaal met die doel om al die skuld uit te wis, word in die vooruitsig gestel. Met die oog op 'n kollekte van huis tot huis is die gemeente in vyf wyke verdeel, en die leraar versoek om die kollekterende vyf diakens op hul kollektereis deur die distrik te vergesel. Hierdie kragdadige poging tot skulddelging was baie geslaagd: ruim £900 is ingesamel. Ook het 'n paar lidmate saam £400 bygedra en die diakens het aan kontant nog £100 op die lyste gekry. En so kon die kerkraad die hele skuld uitwis. In sy godsdiensverslag van 1878–'79 maak ds. Hofmeyr met 'n opregte gevoel van dankbaarheid gewag van die milde bydraes en eendragtige samewerking van die kant van die gemeente, waardeur die kerkraad in staat gestel is om die skuld in die maand April te kon delg.

Die gebruik om 'n jaarlikse dankfees te hou, het destyds sy beslag gekry. Na aanleiding van 'n Sinodale besluit dat elke gemeente jaarliks 'n dankdag moet hou, het die kerkraad op voordrag van ds. Hofmeyr besluit om "in verband met den bepaalden dankdag een dankfeest te hebben". Hierdie eerste dankfees in die geskiedenis van Hanover, wat in 'n tyd van droogte gehou is, kon slegs £271 inbring. Tog het hierdie klein begin, in 'n besonder drukkende tyd aangepak, met die jare uitgegroei tot 'n pragtige en geseënde instelling, waardeur in die latere jare etlike duisende ponde jaarliks in die kerkkas gestort is. Hierdie jaarlikse dankfeeste, wat vanaf 1881 gereeld in ds. Hofmeyr se tyd gehou is, en altyd met 'n groot veeveiling gepaardgegaan het, het daartoe bygedra dat die geldelike toestand van die gemeente bestendig verbeter het. En dit op sy beurt het die kerkraad weer in staat gestel om noodsaaklike opknappingswerk aan die reeds verwaarloosde kerk, gebou en pastorie te doen. Al is in 1883 nagenoeg £700 bestee aan die afpleistering van die kerk en die opsit van 'n nuwe dak, kon kassier P.A. Wannenburg nog 'n voordelige saldo van £475 aan die einde van die jaar toon. Dit het die kerkraad vrymoedigheid gegee om kort daarna (1885) die kerk verder te vernuwe, en deur die aanbring van 'n galery heelwat meer sitplekke te verseker, 'n onderneming wat 'n hele paar honderd pond gekos het.

Na bogenoemde buitengewone uitgawes van die jare 1883–'86, wat heelwat meer as 'n £1 000 beloop het, is daar weer sprake in die kerkraadsnotule van die "drukkende tyden en de geldelooze toestand der gemeente". Maar die banksaldo kon nie te swak gestaan het nie, want aan die begin van 1886 word £100 aan die dorpsbestuur geleen. Met die uitgang van die tagtigerjare verbeter die tyd weer, en kon met die voorlegging van die jaarverslag aan die begin van 1889 met dankbaarheid kennis geneem word van die bevredigende toestand daarvan, "zynde de balans aanzienlyk gestegen". Hierdie bevredigende finansiële toestand van die gemeente is dwarsdeur die negentigerjare gehandhaaf. Als is byvoorbeeld in 1891 £400 bestee aan die aanbring van 'n "ringmuur en traliewerk" rondom die kerkgebou, was daar teen die einde van die jaar nog 'n paar honderd pond in die bank. Die inkomste in 1892 was byvoorbeeld £1 334, en nadat in daardie jaar £664 uitgegee is, kon die geldjaar met 'n saldo van £670 afgesluit word. Selfs gedurende die moeilike jare van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was die geldsake van die gemeente kerngesond.

Ds. Hofmeyr en die kerkraad was gelukkig om in daardie jare iemand soos P. Antonie Wannenburg (timmerman van beroep) as sy kassier te hê. Die bestendige verbetering van die geldsake van die gemeente moet in geen geringe mate toegeskryf word nie aan die bekwame wyse waarop hierdie toegewyde man die finansiële administrasie van die gemeente behartig het. Sowat 33 jaar (hy het eers in 1913 bedank) het hy hierdie verantwoordelike werk gedoen; gedurende die eerste jare gratis, en selfs toe die kerkraad hom later "voor zyne trouwe diensten" 'n bonus gee, het dit nooit meer as £10 in die jaar bedra nie. Die kerkraad het hom ewenwel af en toe lof toegeswaai vir die "nette en perfekte" toestand van die boeke en "voor zyn onver moeiden yver in het bestier van de geldelyke zaken der gemeente". Met sy aftrede in 1913 is 'n plaaslike wetsagent, Bernardus de Villiers (seun van die man met dieselfde naam wat in ds. Marais se tyd kassier was) as kassier aangestel. In 1917 volg E. de Villiers hom op; na sy oorlyde teen die einde van 1918, word die kassierskap opgedra aan die heer G.S.G. Malan, die plaaslike skoolhoof.

Kerkgebou vernuwe