Düsseldorf 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land  Deelstaat 20px Noordryn-Wesfale Koördinate  Stigting 1135 Stadstatus 14 Augustus 1288 Oppervlakte:    - Totaal 217,41 vk km  Hoogte bo seevlak 38 m Bevolking:    - Totaal (31 Desember 2020) 620 523  - Bevolkingsdigtheid 2 854/vk km Tydsone UTC +1 (MET)  - Somertyd UTC +2 (MEST) Burgemeester Stephan Keller (CDU) Amptelike webwerf duesseldorf.de

Düsseldorf (Duits: [ˈdʏsl̩dɔɐ̯f], ; Nederduits: Düsseldörp, [ˈdʏsl̩dœɐ̯p]) is die administratiewe hoofstad van die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale met 'n bevolking van 620 523 (soos op 31 Desember 2020). Die stad lê suid van die Ruhrgebied, in 'n gebied waar die vlakte van die Nederryn geleidelik in die bergstreek van die Bergisches Land oorgaan.

Die metropool aan die Ryn is met sy ekonomiese, kulturele en kunslewe asook sy argitektuur 'n stad van internasionale betekenis. Naas die regering van die deelstaat Noordryn-Wesfale is 'n groot aantal owerhede en ander instellings in Düsseldorf gesetel. Die skouterrein en die Ryns-Wesfaalse Effektebeurs maak van Düsseldorf 'n rolspeler in die internasionale ekonomiese lewe.

duimnael|links|Düsseldorf se Mediahafen As een van die welvarendste stede in Europa is Düsseldorf naas Dresden die enigste beduidende metropool in Duitsland wat geen skuldlas het nie. Sedert die nywerheidsomwenteling het nywerhede, handelsmaatskappye en banke van wêreldfaam hulle hoofkwartiere in Düsseldorf. 'n Groot aantal advertensie-agentskappe en modehuise maak van die stad 'n beduidende sentrum van kreatiewe ondernemings.

Die internasionale lughawe van Düsseldorf is die grootste in die metropolitaanse gebied van Ryn-Ruhr met tien miljoen inwoners en het 'n belangrike rol by die vinnige groei van die plaaslike toerismesektor gespeel. Düsseldorf huisves saam met Londen die grootste gemeenskap van Japannese en ander Oos-Asiatiese burgers asook talle hoofkwartiere van multinasionale Japannese ondernemings en kulturele instellings vir Japannese en ander Asiate.

Met die omvattende kunsversameling van die deelstaat Noordryn-Wesfale, 'n groot aantal musea en kunsgalerye asook die befaamde Kunsakademie Düsseldorf het die stad tot 'n internasionale kunsmetropool ontwikkel. Bekende teaters soos die Schauspielhaus en die Kom(m)ödchen en talle gewilde Duitse musici en skrywers bevestig Düsseldorf se reputasie as 'n eersterangse sentrum van uitvoerende kunste. Internasionaal befaamde argitekte soos Frank Gehry het in die Düsseldorfse Medienhafen en ander stadsbuurte opspraakwekkende bouwerke geskep.

Geografie Ligging Düsseldorf is by die monding van die klein Düsselrivier in die Ryn in die sentrale gedeelte van die Nederrynse Vlakte en merendeels aan die regteroewer van die Rynrivier geleë. Slegs vier stadsdele (Oberkassel, Niederkassel, Heerdt en Lörick) het aan die linkeroewer ontstaan. Die stadsgebied en sy omgewing is in 'n terrasagtige terrein geleë waar die Ryn in 'n aantal kleiner sytakke vertak.

duimnael|links|Marina Düsseldorf in die winter Die stad is in die hartland van die metropolitaanse Ryn-Ruhr-streek geleë asook in die oorgangsgebied tussen die Nederryn-vlaktes en die bergstreek Bergisches Land waarvan die stad in historiese opsig deel uitmaak. Düsseldorf maak deel uit van 'n welvarende korridor langs die Ryn en grens in die suidweste aan die Ruhrgebied, 'n tradisionele myn- en nywerheidsstreek van Noordryn-Wesfale.

Die metropolitaanse Ryn-Ruhr-streek word by die mees uitgestrekte en mees digbevolkte gebiede binne die sogenaamde Europese Megalopolis gereken. Met 'n oppervlakte van byna 10 000 km² en 'n bevolking van ruim elf miljoen in twintig selfregerende stede en tien administratiewe distrike is dit die grootste metropolitaanse gebied in Duitsland. Ongeveer vyftig kilometer rondom Düsseldorf woon nege miljoen mense.

Die sentrale ligging in die grootste metropolitaanse streek van Duitsland, sy administratiewe funksie as hoofstad van die – ten opsigte van sy bevolkingsgetal – grootste Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale, die groot getal internasionale ondernemings met hoofkwartiere in die stad, sy eersterangse infrastruktuur asook opvoedkundige, kulturele en sportgeriewe maak van Düsseldorf 'n ekonomies belangrike metropool in 'n polisentriese netwerk van stede. Groen ruimtes in en rondom Düsseldorf bied ontspanning vir die bewoners.

Die ligging by die Ryn, wat hier 'n uitgestrekte rivierlandskap vorm, het stadsbeplanners en argitekte geïnspireer om met buitengewone en avantgarde-boukuns te eksperimenteer en sodoende 'n unieke stadsbeeld te skep waarin rivierloop en beboude gebiede tot 'n indrukwekkende stadslandskap versmelt.

Klimaat duimnael|Sononder oor die Ryn op 'n Augustusdag Die stadsgebied van Düsseldorf is in 'n oop vlakte geleë waar westelike windstrominge vogtige lug vanuit die Noordsee na die binneland dra. Die stad het derhalwe 'n gematigde klimaat met sterk oseaniese invloede en onbestendige weer. Winters is gevolglik gematig met min sneeuval, terwyl die somers gematig en dikwels nat is.

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 10,6 °C met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat 800 millimeter. Düsseldorf is een van die gebiede in Duitsland met die mees gematigde winters waar jaarliks net op 'n gemiddeld van elf dae sneeuval aangeteken word. Met slegste sowat 1550 sonskynure per jaar word Düsseldorf egter nie by die sonnigste plekke in die land gereken nie. Die stadsklimaat is nogtans warm genoeg vir enkele geharde uitheemse palmspesies.

Geskiedenis Oorsig Graaf Adolf von Berg het op 14 Augustus 1288 stadstatus aan Düsseldorf verleen. Die stad is dus een van die jonger nedersettings wat in die middeleeue aan die regteroewer van die Ryn gestig is. In die volgende eeue het Düsseldorf van 'n klein handelsplek tot die setel van die graaflike von Berg-gesin gegroei. Later het hertoë en keurvorste uit die Palts hul gebiede vanuit Düsseldorf geregeer.

In die vroeë 19de eeu het die stad as administratiewe setel van 'n Napoleontiese groothertogdom gefungeer om uiteindelik, ná 'n langdurige fase van industriële groei in die 19de en 20ste eeu, die regeringsetel van die deelstaat Noordryn-Wesfale te word.

Vroeë geskiedenis duimnael|Nagtelike uitsig oor die ou stadskern Die kwessie of Düsseldorf slegs 'n klein boere- en vissersdorp – met een straat, een kerk en enkele huise – was toe dit in 1288 stadstatus gekry het, of in dié tyd al tot 'n florerende handelsentrum ontwikkel het, is omstrede onder geskiedkundiges. Die plaaslike Lambertuskerk is egter al dekades vroeër opgerig en het waarskynlik reeds in 1206 die status van parogiekerk gekry. Historiese dokumente verwys na drie plaaslike burgers wat as pagters van die plaaslike veerboot op die Rynrivier opgetree het sodat daar in daardie vroeë periode al sprake van handelsaktiwiteite kan wees.

Düsseldorf, waarvan die oudste historiese verwysings uit 1150 dateer, het in dié tydperk egter nog in die skadu van belangriker, nabygeleë nedersettings soos die ou palts- en kloosterstad Kaiserswerth en Neuss aan die Ryn se linkeroewer gestaan. Waarskynlik het graaf Adolf die plaaslike parogie- tot kapittelkerk verhef en stadstatus aan die nedersetting verleen om sy ekonomiese ontwikkeling te bevorder. Omstreeks 1300 was Düsseldorf egter nog 'n relatief klein stad.

Sy ligging was in elk geval strategies gunstig. Düsseldorf het op 'n landtong ontstaan wat teen die Ryn se vloedwater beskerm was. Die waterliggame – met die Ryn in die weste, die Düssel-rivier in die suide en 'n rivierarm van die Ryn, die sogenaamde Eder, in die noorde – het as natuurlike beskerming teen aanvallers gedien. Slegs aan sy oostelike kant moes die stad deur 'n dubbele watergrag versterk word. Dit is in die 14de eeu deur 'n steenmuur vervang. Die middeleeuse stad se oppervlakte was nie groter as 3,8 hektaar nie, met 'n 800 meter lange versterking.

duimnael|links|Lambertuskerk en Burgplein Die eerste verwysing na 'n burgemeester dateer uit 1303, dié na 'n stadsraad uit 1358. In daardie jaar het Düsseldorfse afgevaardigdes saam met verteenwoordigers van ander stede en adellikes ter geleentheid van die Bergischer Landtag vergader om besluite oor belasting te neem. Graaf Wilhelm von Berg, wat sedert 1360 as landsheer geregeer het, het die ekonomiese ontwikkeling van Düsseldorf aktief bevorder. In 1371 het die stad sy eie geregshof en galg gekry, vanaf 1373 was dit 'n doeanestad en het waarskynlik vanaf 1377 muntstukke geslaan.

Dokumente uit 1382 verwys na die eerste Joodse gemeenskap in Düsseldorf. In dieselfde jaar is die gashuis gestig waaruit later die Sint Hubertus-hospitaal sou ontstaan – 'n stedelike instelling wat tegelykertyd as herberg vir vreemdelinge, hospitaal en sentrum vir bejaarde- en armesorg gedien het.

In 1384 het graaf Wilhelm, wat in 1380 deur die koning tot hertog verhef is, met die bou van 'n nuwe stadsdeel suid van die historiese kern begin. Aanvanklik het hierdie nedersetting oor sy eie administrasie beskik, maar dit is later, net soos ander dorpe in die omgewing, by Düsseldorf ingesluit.

Die regeringstyd van hertog Wilhelm was 'n periode van ekonomiese opswaai, veral nadat Düsseldorf die relieke van Sint Apollinarius uit Remagen gekoop en sodoende tot 'n belangrike bedevaartsoord ontwikkel het. Pelgrims was nou 'n aansienlike bron van inkomste sodat Düsseldorf die ou Lambertuskerk omstreeks 1390 tot 'n Gotiese saalkerk kon laat omskep. Eerste verwysing na 'n aantal stadspoorte, waaronder die Bergse Poort (Berger Tor, 1396) en die Flinger Poort (Flinger Tor, 1408) dateer eweneens uit hierdie tyd.

Hertoglike regeringsetel Die hertoglike kasteel vlakby die Ryn in die suidoostelike hoek van die historiese stadskern dateer waarskynlik uit die 14de eeu. Die eerste verwysing na die kasteel dateer uit 1386, ses jaar later is daar sprake van 'n kapel. Maar hertog Wilhelm, wat ook die tweede stigter van Düsseldorf genoem word, kon slegs 'n tyd lank vrede en voorspoed geniet. Nadat hy in 1397 'n swaar nederlaag teen die stad Kleef (Duits: Cleve) op die slagveld van Kleverhamm gely het, het sy eie seun in opstand teen hom gekom. Tydens die onluste is die hertoglike kasteel geplunder en verwoes, en die burgers van Düsseldorf, wat hul hertog tot dusver as weldadiger ervaar het, het hom nou krities bejeën. Nogtans het Wilhelm tot en met sy afsterwe op 25 Junie 1408 in die kasteel bly woon.

Die stadsbeeld is in die 15de eeu nouliks verander. Omstreeks 1438 het die Kruishere, 'n bedelorde in die Augustynse tradisie, hulle in Düsseldorf gevestig en in 1443 met die bou van hul kerk begin. Historiese dokumente verwys vir die eerste keer na 'n openbare badhuis (1462) en 'n geneeskundige (1465). Die huis "Zum schwarzen Horn" het vanaf 1470 as raadsaal gedien, terwyl die kasteel vanaf 1445 tot 'n gebou met drie vleuels omgebou is.

duimnael|Die raadsaal van Düsseldorf is tussen 1570 en 1579 opgerig In die 16de eeu het Düsseldorf 'n nuwe fase van sy geskiedenis betree. Danksy die huwelik van Johann, hertog van Kleef en graaf van die Mark, met Maria, erfgename van Jülich, Berg en Ravensberg, in 1510 het die stad die kans gekry om as regeringsetel van 'n groter bond van lande te fungeer. Die heersers – Johann is ná sy afsterwe in 1539 deur Wilhelm (1539–1592) en Johann Wilhelm (1592–1609) opgevolg – het by voorkeur in Düsseldorf geresideer.

Düsseldorf het tot die belangrikste Renaissancestad aan die Nederryn ontwikkel, en geleidelik het die stadsbeeld en strukture van die stad ingrypend begin verander. In politieke opsig was Düsseldorf die administratiewe sentrum van die verenigde hertogdomme Jülich, Kleef en Berg, asook van die graafskappe Mark en Ravensberg. Die stad het veral onder hertog Wilhelm III, wat vanweë sy groot getal besittings die bynaam "die Ryke" gekry het, gefloreer.