LitNet is ’n Suid-Afrikaanse aanlyn joernaal wat hoofsaaklik Afrikaanse letterkundige, kulturele, opvoedkundige en akademiese inhoud publiseer. Die platform bevat onder meer boekresensies, skrywersonderhoude, oorspronklike skeppende werk, meningsartikels, opvoedkundige materiaal en gesprekke oor aktuele en kulturele onderwerpe.

LitNet se oorspronklike slagspreuk was “Die boekehuis met baie wonings”. Die naam het gedui op die verskillende afdelings of “wonings” waarin skrywers, boeke, lesers, kultuur en openbare gesprekke gehuisves is.

Geskiedenis LitNet is deur die skrywer en akademikus Etienne van Heerden bedink. Volgens Van Heerden het hy die idee in 1998 ontwikkel en ’n voorstel vir ’n aanlyn boekjoernaal aan 24.com voorgelê. Die webwerf het op 11 Januarie 1999 aanlyn gegaan, kort nadat News24 sy verskyning gemaak het.

Die aanvanklike borge was Kalahari.net en 24.com. LitNet is destyds beskryf as ’n onafhanklike literêre joernaal wat uitsluitlik op die internet beskikbaar was. Die platform is later as ’n gesamentlike onderneming van Ligitprops 3042 BK en Media24 beskryf, met Van Heerden as stigter-redakteur.

LitNet het vroeg reeds die internet as ruimte vir literêre gesprekke en skrywersontwikkeling benut. In 2000 is die eerste Young Voices-aanlynskrywerskonferensie aangebied. Die konferensie van 2004 is in samewerking met die Universiteit van Kaapstad se Skool vir Tale en Letterkundes en Sentrum vir Skeppende Skryfwerk aangebied. Skrywers, uitgewers en redakteurs kon virtuele referate plaas waarop lesers feitlik onmiddellik kon reageer.

LitNet het in Januarie 2024 sy 25ste bestaansjaar gevier.

Inhoud

Hoewel LitNet hoofsaaklik ’n Afrikaanse platform is, is daar deur die jare ook inhoud in onder meer Engels en Nederlands gepubliseer. Die webwerf het ontwikkel van ’n hoofsaaklik letterkundige joernaal tot ’n breër kulturele en openbare platform. Die inhoud sluit boekresensies, oorspronklike gedigte en verhale, skrywersonderhoude, kuns- en teaterdekking, opvoedkundige hulpbronne, meningsartikels en besprekings van maatskaplike en politieke vraagstukke in.

Die webwerf bied ook ruimte vir onderhoude, seminare en openbare gesprekke wat op gepubliseerde akademiese navorsing voortbou. Dit maak navorsingsbevindinge vir ’n breër, nie-akademiese gehoor toeganklik.

LitNet Akademies

LitNet Akademies is LitNet se geakkrediteerde, ooptoegang- akademiese aanlyn joernaal. Dit publiseer portuurbeoordeelde Afrikaanse navorsingsartikels en het die Internasionale Standaardreeksnommer ISSN 1995-5928.

Die joernaal is op die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se lys van goedgekeurde akademiese tydskrifte. Navorsingsartikels wat die portuurbeoordelingsproses slaag, kan gevolglik as erkende navorsingsuitsette dien. Uitgebreide Engelse opsommings word saam met die Afrikaanse artikels gepubliseer om die navorsing vir ’n groter internasionale gehoor toeganklik te maak.

LitNet Akademies publiseer navorsing in verskeie vakgebiede, waaronder die geesteswetenskappe, godsdienswetenskappe, opvoedkunde, regte, natuurwetenskappe en ekonomiese en bestuurswetenskappe. Die artikels word elektronies gepubliseer en is kosteloos aanlyn beskikbaar.

Verwysings

Eksterne skakels LitNet se amptelike webwerf LitNet Akademies

Kategorie:Afrikaanse webwerwe Kategorie:Suid-Afrikaanse webwerwe