Afrikaans hoort by Nederlands: ons Afrikaanse taalverdriet is 'n boek (en verwerkte lisensiaatverhandeling) deur Petrus van Eeden. In hierdie boek betwis Van Eeden die funksionaliteit en bestaansreg van Afrikaans as die (na sy mening rypgedrukte) standaardtaal in Suid-Afrika. Hy pleit dat Afrikaners moet herbesin en Nederlands weer as kultuurtaal moet aanvaar. Van Eeden steun taalamalgamasie.
Standpunte Van Eeden voer die volgende standpunte aan:
Dikwels is die vreemdheid wat aan Nederlands gekoppel word toe te skryf aan 'n gebrekkige opvoeding of blootstelling aan die Nederlandse standaardtaal (soos dit slegs vir die Afrikaner-elite voor 1925 bestem was). 'n Soortgelyke tendens het ook plaasgevind nadat Napoleon verslaan is en die Suidelike Nederlande met die Noordelike Nederlande onder koning Willem I verenig is. Die Vlaminge het vas geglo dat Hollands 'n gans ander taal was en taalpartikularisme was teen die 1970's nog lank nie dood nie. Nog in die 1960's het minder as 3 persent van die Vlaminge hul Nederlandse standaardtaal as omgangstaal gebruik, en selfs in Nederland het net 3 persent van die bevolking in 1930 die Standaardnederlands as omgangstaal behoorlik beheers. Politiek en versuiling het ook die twee Nederlande verder vervreem. Die verfransingsproses in België het die Vlaminge hul opsies laat heroorweeg. Uiteindelik, deur toegestane taalregte en beter skoolopleiding, is toe wel besluit om betrekkinge met Nederland te verstewig, wat ekonomies beter daaraan toe was en beter steun kon bied vir die behoud van die Nederlandse taal. Volgens Van Eeden is die ooreenkomste met Afrikaans duidelik:
Teen die opkoms van Afrikaans as kultuurtaal het die Afrikaner-intellektueles die felste teenstand gebied, en die voorstanders van Afrikaans as kultuurtaal was hoofsaaklik plattelanders. Nederlands was die taal wat op skool geleer is, en as die beskaafde, eie moedertaal beskou is. Teen die einde van die 1800's was die Afrikaanse dialek as 'n standaardtaal grotendeels ondenkbaar.
In Nederland en Vlaandere is die taalverskeidenheid so enorm (en party dialekte in so 'n mate vir ander dialeksprekers algeheel onverstaanbaar) dat Afrikaans moeiteloos in Nederlands opgeneem sou kon word, soos dit immers vroeër jare die geval was. Afrikaans is nie so uniek of so afwykend as wat Nederlands byvoorbeeld van Duits verskil nie. Dit is taalkundig onjuis dat die taalkloof tussen Afrikaans en Nederlands so groot was dat afstigting geregverdigd was. Hy wys onder meer hoe Limburgs (wat nader aan Duitsland lê) baie meer as Afrikaans van Standaardnederlands afwyk, maar tog as Nederlandse dialek fungeer. Die oordeel lê in die hande van die volk om te besluit of hul dialek of spreekstaal 'n standaardtaal moet wees (wat meer dikwels 'n emosionele as logiese besluit sou wees). Van Eeden wys op die onafhanklike Surinaamse bevolking wat Nederlands as die elite-taal beskou, maar Afrikaners weer nie. In die tydsgees van die Romantiek het ook in Suid-Afrika die romantiese gevoel vir die volkstaal begin ontwaak. Nie alleen is Engels as die elitêre (bedreigende) variëteit gesien nie, maar ook "Hollands". Van Eeden beskou die skeiding tussen Afrikaans en Nederlands as 'n siening net so onlogies as die beskouing van Amerikaanse Engels en Britse Engels as afsonderlike tale, òf tussen van Brasiliaanse, Portugese en Angolese Portugees, òf Spaans oor al die Suid-Amerikaanse en Europese landskappe heen (òf Natalduits en Standaardduits). Reeds in Het Christelik Schoolblad, die mondstuk van die Christelijk Nationaal Onderwijs in Transvaal, word voorspel dat Nederlands vir die Afrikaner 'n geslote skatkamer sou word en dat die babataal, Afrikaans (met weinig letterkunde, wetenskapsterme of agtergrond), deur Engels oorrompel en verdring sou word – terug na die kombuis. Afrikaans en Nederlands was ná 1910 amptelik sinonieme, tot en met 1983. Die waarde van die Nederlandse taal was destyds te vinde in: 1) Universiteite met Nederlands as voertaal, 2) die Nederlandse tydskrifte in die Kaapprovinsie wat hand aan hand sou geveg het om die Nederlandse taal uit te bou, en daardeur sou bygedra het tot die lees en skryf van Hollands in 'n tyd toe die magtige Engelse stroom steeds gedreig het om die Afrikaner en sy taal te verswelg. 3) die ongekende steun en opbloei wat die Nederlandse beweging ná die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika sou geniet en ervaar het, deurdat die posisie van Nederlands drasties in die skole sou verbeter het vergeleke met dertig jaar tevore, en die talle NG-gemeentes wat in hul jaarverslae melding sou gemaak het van die vordering en verbetering van Nederlands in die staatsondersteunde skole, 4) die Britse regering wat "Nederlands" as 'n bedreiging beskou het, eerder as Afrikaans. Die vrae word verder gestel: As Surinamers, 'n multikulturele en onafhanklike oudkolonie, vandag Nederlands as die prestige-taal aanvaar, waarom dan nie ook die Afrikaners nie? As Brasilianers, wat 'n baie groter sprekertal uitmaak as die stamlanders, wel die Europese Portugees as die prestigetaal aanvaar, waarom dan nie ook die Afrikaners nie? Wat die taal self betref word die volgende opmerkings gemaak: Afrikaanssprekendes moet gedurig terugkeer na moeder Nederlands om te verstaan waarom die meervoud van "dag" dan "dae" moet wees, maar "nag" dan "nagte". So foneties ("ons skryf soos ons praat") soos Afrikaans ook wou wees – hy kan tog nie wegkom van letteruitspraak nie. Uit 'n Nederlandse en Vlaamse perspektief was dit heeltemal onverwags dat Afrikaans die kultuurtaal sou word: Hollands het immers die Groot Trek deurstaan en in Transvaal en die Vrystaat die amptelike taal geword; die Statebybel was die geliefde lektuur van die Boere; onderwysers is uit Holland ontbied, predikante het in Nederlands studeer; die Hollandse immigrante het steun aan Nederlands verleen, sodat boeke en dagblaaie gedruk en versprei kon word. Dit is niks ongewoon dat immigrante altyd die taal in 'n land aanneem wat as die prestige-taal beskou word nie. In Antwerpen was die Jode Franstalig, maar toe Frans sy regte daar verloor het, het die Jode Nederlandstalig geword. In Quebec het byna alle immigrante Engels as huistaal aanvaar. In Suid-Afrika het byna alle Indiërs Engels as huistaal aanvaar. Afrikaans en die Afrikaanse kultuur (gewoontes en gebruike) is langsaam besig om heeltemal te verengels. Woorde uit Afrikaans word pasgemaak om by Engels te pas – vergelyk "onderwyser" wat in Nederlands slégs op 'n laerskoolonderwyser van toepassing is. Afrikaans het hierdie woord gelykgestel aan "teacher", sodat mens nou 'n kleuterskool-, laerskool-, en hoërskoolonderwyser kry. Diegene wat nog aan tipiese Afrikaanse gewoontes en gebruike vashou, word deur ander as outyds, konserwatief en agterlik bestempel. Daar word eerder leenvertalings gemaak en Amerikaanse sinsnedes word eerder direk vertaal as om met splinternuwe taaleienaardighede vorendag te kom. In Nederlands word elke vrou nog ongeag haar huwelikstatus as "mevrou" op straat aangespreek – daar is geen begeerte om haar na die Amerikaanse "ms" te "mê" nie. Afrikaans het geen ander taal waaruit gevoed kan word soos Duits of Frans nie – bloot omdat die opvoeding en taalkontak met hierdie lande se kulture bloot nie daar is nie. Op die langeduur kwyn Afrikaans tot vertaalde Engels. 'n Klein taaltjie soos Vlaams het hom ook so aangepas by die Frans – woorde kon baie makliker uit Frans na Vlaams, en weer terugvertaal word. Die stryd om 'n Afrikaner-identiteit te bou, was niks meer as 'n blufspel om te verengels nie. Sou Nederlands deurentyd in Suid-Afrika as die kultuurtaal gebly het, sou geen mens Apartheid aan 'n internasionale taal kon koppel nie. Heelwat energie en geld sou jaarliks vermors word om presies die Nederlandse taalboeke na te maak. Daar bestaan steeds 'n geldgebrek om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal te voltooi, terwyl die Woordenboek der Nederlandse Taal in 1998 voltooid sou wees terwyl dit baie meer lemmas en woordeskat bevat het. Die Nederlandse woordeboeke sou die Afrikaanse woorde inklusief as dialektiese verskynsels opgeneem het, soos dit tot in die 1960's die geval was.
Die gestelde gevolge Die volgende gevolge word voorgehou: Het die Afrikaner by Nederlands gehou, sou die massamedia gebruik kon maak van internasionale Nederlandstalige joernaliste en sportkommentators, by verslaggewing in die pers, radio en televisie. Tans is Nederlandstalige korrespondente wêreldwyd beskikbaar, terwyl die Afrikaner saam met sy Engelstalige landgenote net die diens van internasionale Engelstalige kommentators en joernaliste geniet. Afrikaners sou nooit geïsoleer gewees het en noodgedwonge die Angel-Saksiese taal en kultuur aangegryp het nie. Die gevolge is dat die Staatsbiblioteke 'n oormaat Engelse boeke besit, wat net mooi die teenbeeld in Vlaandere en Nederland is, waar die meerderheid boeke juis in Nederlands is. Hy haal Paardekoper aan oor die sukkelende boekhandel: Als ik een Zuidafrikaanse boekhandel binnenga, schrik ik. Je ziet bijna niks als Engelse Boeken; alleen bij zorgvuldig nader toezien vind je ook nog een klein hoekje met een paar Afrikaanse titels. Dat is niks minder als een noodtoestand. Was de helft Afrikaans en de helft Engels, dan zou ik niet verbaasd staan over de afwezigheid van Nederlandse boeken, maar nu is het alarmerend. Ik weet het: die stand van zaken weerspiegelt de onkunde inzake Nederlands bij de grote meerderheid van de Afrikaners...Waarom ook zou die geen aandacht vragen voor alles wat in het Nederlands gedrukt is, en wat gelijksoortige Engelse werken in de boekhandel kan vervangen, zoals encyklopedieën, standaardwerken over geschiedenis, archeologie, kunstgeschiedenis, biologie, wiskunde, scheikunde, natuurkunde enz. enz.? 'n Verskraling in Afrikaanse musiek was in 1995 baie sigbaar, en Van Eeden reken dat Afrikaanse musiek (as lewenskragtige dialek) goed in Vlaandere en Nederland sou vaar, as die Afrikaners die Nederlandse taal as standaardtaal aanvaar het. Afrikaners is as taalgemeenskap te klein om mee te ding teen die oordonderende Engelse media-mark. Hoewel dikwels aanvaar word dat Afrikaans groter is as Deens of Noors, word dit dikwels buite rekening gehou dat die Nordiese lande mekaar se boekemarkte onderling ondersteun, maar ook 'n baie hoër welvaartspeil en koopkrag het en nie op hul grondgebied deur Engels bedreig word nie. In 1993 was Nederlands op grond van sy sprekertal (21 miljoen mense) die 35ste grootste taal ter wêreld. As mens egter in ag neem wat in die taal tot stand kom, naamlik die koerante, boekproduksie, opleidingsniveau, wetenskaplike publikasies, sendtyd op radio en televisie, dan kom Nederlands 12de op die wêreldranglys te staan. Sou Afrikaans by Nederlands gehou het, was Nederlands nie alleen in 'n sterker posisie nie, maar die Afrikaners sou ook in die voordele gedeel het. By die meeste ingevoerde artikels soos televisies, radio's, video's, ensomeer, word die gebruiksaanwysings in talle tale gedruk, onder andere Nederlands, omrede die land "Nederland" bestaan. Afrikaans is egter afwesig omdat sy taalkrag en demografie te klein is. Noodgedwonge moet die Afrikaners die instruksies in Engels volg, bloot omdat hy nooit aan Nederlands blootgestel is nie. Van Eeden lys 'n hele paar nuutskeppings in Afrikaans wat glad nie oorspronklik is nie, maar eerder leenvertalings. Hy sluit die paragraaf af deur te sê: Ons is nie so kreatief met Afrikaans as wat ons dink nie, ons vertaal gewoon uit Engels. Terwyl Afrikaners maar tevrede moet wees met enkele senders, het Nederland reeds in 1995 nege Nederlandstalige TV-kanale gehad. As Afrikaans by Nederlands gebly het, sou dit nie nodig wees om duur kostes aan te gaan om die produksies oor te klank nie. Buiten die streeksradio's het Nederland ook vyf nasionale radiostasies gehad. Eweveel as in Vlaandere.