Die Río de la Plata (Spaans: [ˈri.o ðe la ˈplata], letterlik "Silwerrivier") is 'n estuarium (breë riviermonding) waar die Río Paraná en Río Uruguay in die Atlantiese Oseaan vloei. Dit vorm die karakteristieke suidoostelike inkeping in die Suid-Amerikaanse kuslyn. Die monding is in totaal 290 kilometer lank. Waar die twee riviere ontmoet, is die rivier 48 kilometer breed; by die oseaan neem dit tot 220 kilometer toe, wat die Río de la Plata die breedste rivier ter wêreld maak.

Die Spaanse seevaarder, Juan Díaz de Solís, was die eerste Europeër wat die Río de la Plata besoek het. Hy het dit teëgekom toe hy van die Brasiliaanse kus na die suide gevaar het. Hy het gedag dis 'n seearm waarvan die water op onverklaarbare manier soet was. Hy noem dié see Mar Dulce ("die Soete See"). Omdat sy karvele vlak bodems gehad het, kon hy die rivier opvaar.

Die estuarium vorm gedeeltelik die natuurlike grens tussen Argentinië en Uruguay. Die hoofstad van Argentinië, Buenos Aires, en dié van Uruguay, Montevideo, lê aan die Río de la Plata. Die eiland Martín García voor die kus van Uruguay is Argentyns.

In die Tweede Wêreldoorlog is die Duitse dwergslagskip die Admiral Graf Spee hier deur sy bemanning gekelder omdat geglo is dat hulle deur 'n oormag oorweldig sou word en die geveg nie sou kon wen nie.

Sien ook Slag van die Rio de la Plata

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Riviere in Argentinië Kategorie:Riviere in Uruguay