Ysland (Yslands: Ísland, [ˈistlant], ) is 'n Europese eilandstaat tussen Groenland en die vasteland van Europa. Met 'n oppervlakte van 102 775 vierkante kilometer en 'n bevolking van omtrent 384 000 is Ysland die kleinste en, vanweë sy ligging in die Noord-Atlantiese Oseaan ver van die Europese vasteland af, ook die mees geïsoleerde van die Nordiese of Skandinawiese lande. Sestig persent van die Yslandse bevolking is in die metropolitaanse gebied van die hoofstad Reykjavik in die suidweste van die land gekonsentreer.

duimnael|links|Die nuwe eiland Surtsey in 1963, sestien dae nadat 'n seevulkaan uitgebars en die eiland uit die see begin opstyg het duimnael|links|Die vulkaan Þríhnúkagígur se magmakamer is die enigste op aarde wat begaanbaar is. 'n Kabelkar neem besoekers na benede duimnael|links|Die omgewing van Þríhnúkagígur duimnael|links|Wol op wiele duimnael|links|Padnoodhulp naby Dettifoss duimnael|links|Stormwolke begin saampak in November Ysland is die grootste vulkaaneiland ter wêreld, die tweede grootste eiland in Europa (ná Groot-Brittanje) en ook die mees ylbevolkte land van Europa. www.eldey.de: Feite Alhoewel Ysland in politieke opsig deel uitmaak van Europa, lê die eiland op die geologiese grenslyn tussen Europa en Noord-Amerika, die Mid-Atlantiese Rug (MAR). Ysland het sy ontstaan dan ook aan vulkaniese uitvloeisels van hierdie rif te danke. Die aardkors breek hier op en die rif groei nog steeds jaarliks met enkele sentimeters.

'n Gordel van onlangs aktiewe vulkane en breuke in die aardkors loop dwarsdeur die eiland, van Axafjördur in die noorde tot by die eilandgroep Vestmannaeyjar in die suide. 'n Vertakking van hierdie gordel loop tot by Reykjanes, terwyl die skiereiland Snæfellsnes in Wes-Ysland deur 'n vulkaniese buitesone omring word. In die afgelope 1100 jaar sedert die Noorse volksplanting op die eiland was daar tussen 150 en 200 vulkaanuitbarstings in die aktiewe sones, en op sommige plekke het selfs aansienlike vulkaankeëls gevorm.

Die vulkaan Hekla in die suidweste het in die tydperk tussen 1100 en 1970 ten minste vyftien keer uitgebars. Gedurende argeologiese opgrawings is vroeë boerderye ontdek wat onder Hekla se aswolke begrawe was. 'n Hewige uitbarsting in die jaar 1783 het weiland en vee grootskaals verniel en in die hongersnood, wat op die natuurramp gevolg het, het sowat 'n kwart van die destydse Yslandse bevolking gesterf. Onlangse vulkaanuitbarstings het onder meer in 1963 'n nuwe eiland, Surtsey, langs die suidweskus laat ontstaan, terwyl die stad Vestmannaeyjar-Karpstadur op die nabygeleë eiland Heimaey net tien jaar later gedeeltelik verwoes is.

Ysland was onbewoon tot teen die 9de eeu, toe Kelties-Britanniese en Wiking-setlaars hulle as boere op die eiland gevestig het. Ysland het die langste demokratiese tradisie van alle lande ter wêreld met 'n vroeë parlement, die Alþingi, wat uit die jaar 930 dateer.

Ysland was aanvanklik 'n Noorse besitting en het later 'n deel van die Deense koninkryk gevorm. In 1918 het die land 'n selfregerende gebied geword en in 1944 'n onafhanklike republiek met 'n direk verkose president. Die land is lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO).

In ekonomiese opsig het die land van 'n geïsoleerde agrariese gemeenskap tot 'n hoëtegnologie-ekonomie ontwikkel wat vir sy burgers 'n baie hoë lewenstandaard verseker.

Etimologie duimnael|Noormanne sit voet aan wal in Ysland – 'n 19de-eeuse tekening deur Oscar Wergeland Volgens die Yslanders se sagas was die Noorweër Naddodd (of Naddador) in die negende eeu die eerste Noorman wat Ysland bereik het en hy het dit Snæland ("sneeuland") genoem omdat dit gesneeu het. Volgens Naddodd het die Sweed Garðar Svavarsson aangekom en toe is die eiland Garðarshólmur genoem, wat "Garðar se eiland" beteken.

Daarna het die Wiking Flóki Vilgerðarson die eiland bereik; sy dogter het op pad verdrink, toe het sy vee aan honger gevrek. Volgens die sagas het die taamlik moedelose Flóki op 'n berg geklim en 'n fjord gesien (Arnarfjörður) vol van ysberge, wat hom die eiland se nuwe en huidige naam laat gee het. Die teorie dat Ysland se Wikingsetlaars daardie naam gekies het om die nedersetting van hul groen eiland te ontmoedig is 'n mite.

Geografie Eiland van vuur en ys duimnael|links|Topografiese kaart van Ysland duimnael|Ysland in die winter. Die foto is op 28 Januarie 2004 deur die Nasa-satelliet Aqua geneem Ysland behoort tot die jongste grondgebiede ter wêreld en sy ontstaan is te danke aan sy ligging op die Mid-Atlantiese Rif. Die eiland het vermoedelik sowat twintig miljoen jaar gelede uit die Atlantiese Oseaan begin verrys toe twee magmabronne gelyktydig begin het om vloeibare gesteentes opeen te hoop en hierdie geologiese "geboorte" duur nog steeds voort. Op baie plekke in Ysland is die jong landmassa nog besig om vuur en warm water te spu en bied uitstekende navorsingsgeleenthede vir geowetenskaplikes.

Die grootste deel van die eiland is gevorm tydens of ná die laaste ystydperk. Die oudste deel van die eiland lê in die noordweste en word in Yslands die "Wesfirdi" of "Wesfjorde" genoem. Die jongste deel is die eilandjie Surtsey wat ontstaan het tydens 'n vulkaanuitbarsting in 1963.

Langs die noorde van die eiland vloei die koue golfstroom en die warm golfstroom vloei langs die suide van die land. Gekoppel aan die wind wat meestal van suid na noord oor die eiland waai is die klimaat in Reykjavik (Suidwes-Ysland) kouer as in Europa, maar nog steeds gematig. In Akureyri daarenteen word as gevolg van bergwinde groot temperatuurskommelinge aangeteken.

Ysland word omring deur die Atlantiese Oseaan, die Straat van Denemarke (tussen Ysland en Groenland) en die Noordelike Yssee. Die land se mees noordelike punt lê net effens suid van die Noordpoolsirkel en is geografies op ongeveer dieselfde breedtegraad as die middel van Swede.

Die hoofeiland beslaan 102 700 van die totale oppervlakte van 103 125 vierkante kilometer. Saam met sy visserysone beslaan Ysland sowat 758 000 vierkante kilometer. www.eldey.de: Geografie

Vulkanisme duimnael|links|Ysland met betrekking tot die Mid-Atlantiese Rif duimnael|Die Hvalfjörður-Botnsdalur duimnael|Die Kalfárvellir-Snæfellsnes duimnael|Die skiereiland Snæfellsnes Ysland bestaan grotendeels uit lae- en mediumgrootte berge, tafelberge wissel af met aktiewe en slapende vulkane en kalderas, waartussen kronkelende riviere met baie watervalle 'n weg na die see baan. Die berge is selde bebos.

Die land staan bekend vir sy geisers en sy vulkane, waarvan sommige nog aktief is soos byvoorbeeld Öræfajökull (tewens die hoogste berg), Laki, Hekla, die Eldfell, Snæfellsjökull en die eiland Surtsey, wat eers in 1963 as gevolg van vulkaniese aktiwiteit ontstaan het. Minder bekende vulkane sluit in Dimmuborgir, Herfjall, Krafla en Námaskarð. Daar is sowat 200 vulkane wat in drie groot vulkaanstelsels oor die eiland verdeel is en sedert die Noorse volksplanting meer as 1 100 jaar gelede is daar tussen 250 en 500 uitbarstings aangeteken. Die grootste vulkaanstelsel strek van die suidooste van Ysland tot by die noordooste en loop langs die Mid-Atlantiese Rif waar die Eurasiese en Amerikaanse Plaat jaarliks sowat twee sentimeter van mekaar wegbeweeg. Die rif word egter met lawa, wat uit die binneste van die aarde opstyg, weer opgevul. Die Mid-Atlantiese Rif is in die noorde van Ysland sowat 40 kilometer en in die suide sowat 60 kilometer wyd en strek oor sowat 'n kwart van die land se oppervlakte. Die rif word gekenmerk deur 'n gordel van vulkaankraters, stomende warmwaterbronne, solfatare (gebiede met 'n hoë temperatuur) en gereelde aardbewings.

Die twee ander sentrums van vulkaniese aktiwiteit is die skiereiland Snæfellsnes en die hartland van Suid-Ysland. Baie valleie is in die verlede opgevul deur die lawa van groot vulkaanuitbarstings waardeur daar soms hele lawavlaktes ontstaan het. Naas die gloeiende lawa hou gletserlope die grootste bedreiging vir mense in Ysland in. Sommige vulkane word deur die yslaag van 'n gletser oordek wat tydens 'n uitbarsting afsmelt en in 'n magtige vloedgolf van water, modder en stene na die see toe stroom. Die mees gevreesde vulkane van hierdie soort is Grímsvötn, wat onder die yslaag van die Vatnajökull-gletser lê, en Katla, wat ook die "Ou Heks" genoem word, onder die Mýrdalsjökull-gletser. Die laasgenoemde bars gereeld uit en het met sy lawa en gesteentes, wat na die see gestroom het, die eiland met enkele vierkante kilometers vergroot.

Naas dié natuurlike "landwinning" hou Ysland se vulkaniese vuur ook voordele vir die plaaslike bevolking in. Die land pronk met die grootste aantal warmwaterbronne wêreldwyd wat vir geotermiese kragopwekking ingespan word. Meer as 80 persent van die Yslanders beskik oor geotermiese verwarming. Geotermiese energie verwarm ook 'n groot aantal klein swembaddens wat orals in Ysland aangelê is en die kweekhuise in die omgewing van Hverargerði waar blomme en groente (en selfs tropiese vrugte soos lemoene en piesangs vir navorsingsdoeleindes) gekweek word om Ysland meer onafhanklik van duur ingevoerde landbouprodukte te maak.

Sneeuvelde en gletsers duimnael|Die Eyjafjallajökull-gletser met sy gletsermeer Ysland, wat uit magmabronne in die binneste van die aarde ontstaan het, lyk soos 'n stoomketel wat steeds onder druk staan. Nogtans is die oppervlakte van die eiland grotendeels deur koue en ys gevorm. Tydens die laaste groot gletserperiode van die Ystydperk was die hele land met gletsers bedek, wat die fjorde langs die wes-, noord- en ooskus in die landmassa gesny en die steil rotswande en bergspitse gevorm het.

Sowat 10 000 jaar gelede het die Yslandse landmassa ná die afsmelting van die groot gletsers met hul reusegewig geleidelik begin verrys. Maar die eiland het tot vandag toe 'n wêreld van ys en gletsers gebly. Die huidige gletsers dateer nie uit die laaste groot gletsertydperk nie, maar het gedurende 'n koueperiode omtrent 500 v.C. ontstaan. Tans is meer as 13 persent van Ysland se oppervlak met sneeuvelde en gletsers bedek. Baie van die gletsers lê op vulkane, en vulkaanuitbarstings is vanweë die daarmee gepaardgaande gletserlope 'n groot bedreiging vir toeriste wat moontlik in die afgeleë gebiede bly.

Die binneland is grootliks onbewoon en is dikwels slegs toeganklik vir vierwielaangedrewe voertuie. Vroeër was die onherbergsame "Hoogland", soos dit dikwels genoem word (alhoewel dit nouliks hoër verrys as die kusgebiede), 'n toevlugsoord vir bannelinge. Ódáðahraun, die grootste lawaveld van Ysland met 'n oppervlakte van 4 500 vierkante kilometer, lê noord van die Vatnajökull en is deur die lawastrome van talle vulkaanuitbarstings gevorm. Die lawaveld dra die kenmerkende naam "Misdadigerswoestyn". Die bekendste uitgestotene, wat hier in die 18de eeu twee dekades lank oorleef het, was Fjalla-Eyvindur.

Die kusgebiede duimnael|Kaart van Ysland Die meerderheid van die Yslandse bevolking is in die vrugbare kusgebiede gekonsentreer wat sowat sewe persent van die eiland beslaan. Die hoofstadgebied van Reykjavik is Ysland se enigste groot stedelike sentrum.

Van die Wesfirdi in die noordweste langs die noorde tot aan die ooste van die land word die kuslyn gekenmerk deur groot en klein fjorde en baaie. Baie fjorde is in die wintermaande slegs oor die water bereikbaar en is selfs in die somer slegs toeganklik met vierwielaangedrewe voertuie. Dit is dan ook nie verbasend dat daar sedert die Tweede Wêreldoorlog 'n ontvolking van hierdie gebiede is nie. In die suide word die kuslyn gekenmerk deur 'n byna volkome afwesigheid van natuurlike inhamme, 'n resultaat van die oorspoeling van die streek deur die smeltwater van Vatnajökull. Die weskus word weer gekenmerk deur breë fjorde en baaie.

Klimaat duimnael|links|Klimaatsones in Ysland volgens die Köppen-klimaatklassifikasie duimnael|Die skiereiland Dyrhólaey (Suid-Ysland) in die winter