Die Verenigde Arabiese Emirate se nasionale krieketspan (Arabies: فريق الإمارات الوطني للكريكيت) is die nasionale krieketspan wat die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word deur die Emiratiese Krieketraad (ECB, van Engels: Emirates Cricket Board) bestuur wat in 1989 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en een jaar later ’n assosiaatlid geword het. Sedert 2005 is die IKR se administratiewe kantore in Doebai gesetel, terwyl die hoofkantoor hom steeds op Lord’s in Londen bevind. Saam met Nepal en Oman is die Verenigde Arabiese Emirate tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale krieketspanne na die vyf toetslande van Suid-Asië.
Die Verenigde Arabiese Emirate is een van die opkomende EDI-spanne; hulle het die AKR-trofee tussen 2000 en 2006 vier keer agtereenvolgens gewen, en was ook naaswenners by drie ander geleenthede (in 1996, 1998 en 2008) sedert dié toernooi vir die eerste keer uitgespeel is. Hulle het die 1994-krieketwêreldbekerkwalifisering gewen en aan die Krieketwêreldbeker 1996 deelgeneem. Bykomende EDI-wedstryde is tydens die Asiatiese Bekertoernooie in 2004 en 2008 gespeel. Tydens die 2014-krieketwêreldbekerkwalifisering het hulle in die tweede plek na Skotland geëindig en sodoende vir die Krieketwêreldbeker 2015 gekwalifiseer en EDI-status tot in 2018 verkry.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat die Verenigde Arabiese Emirate ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Die Verenigde Arabiese Emirate is tans (Februarie 2026) 20ste op die eendagranglys en 17de op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
Die Emiratiese Krieketraad (Engels: Emirates Cricket Board, ECB) is in 1989 gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in die Emirate. In 1990 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit. Daarbenewens het die ECB in 1984 ’n lid van die Asiatiese krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad) geword.
Die Emiratiese Krieketraad bestuur al die Verenigde Arabiese Emirate se verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die ECB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Verenigde Arabiese Emirate se span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik die Verenigde Arabiese Emirate oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Invoering en vestiging van krieket In 1892 het die Verenigde Koninkryk verantwoordelikheid oorgeneem vir die sjeikdomme langs die Persiese Golf, destyds “Verdragskus” genoem. Soldate van die Britse Leër het krieket saamgeneem en dié sportsoort op ’n informele vlak beoefen. Die eerste amptelike wedstryde is tydens die Tweede Wêreldoorlog gespeel, toe personeel van die Britse Lugmag en ander Britse Statebondmagte (insluitende eersterangse en klubspelers uit Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika) in stede soos Ajman, Al Ain, Doebai en Sharjah gestasioneer was en hulle hul gunsteling tydverdryf beoefen het. Die kolfblaaie wat hulle rondom die Sharjah-lugmagbasis opgerig het, is ná die einde van die wêreldoorlog deur Britte en ander buitelandse personeel verder gebruik.
Inwoners van Sharjah het teen inwoners van Doebai in plaaslike derbies, wat in Doebai aangebied is, begin speel. Die “tuinstad” van Al Ain beskik oor die oudste krieketraad in die hele Verenigde Arabiese Emirate. Gedurende die 1960’s is die eerste krieketklubs gestig. Die sport se gewildheid het ná die onafhanklikheidwording van die Verenigde Arabiese Emirate in 1971 begin afgeneem. Nadat Suid-Asiatiese werkersmigrante hulle in dié land begin kom vestig het, het hulle hul passie vir krieket saamgeneem. Die plaaslike Arabiese bevolking, wat in Indië en Pakistan opgevoed is, het die nodige infrastruktuur opgerig en van die 1980’s af is plaaslike toernooie aangebied.
Die nasionale span se eerste jare duimnael|links|Die Sharjah-krieketstadion het reeds 200 EDI- en vier toetswedstryde gehuisves In 1976 het die nasionale span sy eerste wedstryd teen die Pakistanse Internasionale Lugdiens se eersterangse span in Sharjah gespeel. Die toeriste het 345/5 in hul 50 boulbeurte aangeteken en die gasheer was op 88/4 ná 28 boulbeurte, toe dié wedstryd weens reën afgelas is. In 1980 is plaaslike krieketbeheerliggame in Doebai en Sharjah gestig en een jaar later is die Sharjah-krieketstadion ingewy, wat deur ryk inwoners befonds is. Internasionale wedstryde in die Emirate het meestal sonder die plaaslike nasionale span plaasgevind, so die Asiatiese Beker 1984, wat in hierdie stadion aangebied is. Tydens dié toernooi is die eerste EDIs in die Emirate beslis; deelnemers was Indië, Pakistan en Sri Lanka. Vier jaar later is hier die Austral-Asiatiese Beker tussen Australië, Bangladesj, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan en Sri Lanka aangebied. In 1995 het die Emirate die Asiatiese Beker tussen Bangladesj, Indië, Pakistan en Sri Lanka aangebied, weer sonder eie deelname. Altesaam is op die stadion meer as 200 EDIs en vier toetswedstryde aangebied. Weens veiligheidskwessies het die Pakistaanse beheerliggaam van sy tuiswedstryde na die Emirate verskuif. Ook Afghanistan moes weens die veiligheidsituasie van sy tuiswedstryde hierheen verskuif.
In 1984 het hulle by die Asiatiese krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad) aangesluit. In 1989 is die Emiratiese Krieketraad (Engels: Emirates Cricket Board, ECB) gestig en hulle het in dieselfde jaar ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword, wat hulle vir wedstryde teen ander nasionale spanne toegelaat het. Reeds in die daaropvolgende jaar het die beheerliggaam ’n assosiaatlid geword. Weens sy nielidmaatskap in die wêreldbeheerliggaam kon die nasionale span nie aan die kwalifiserings vir die krieketwêreldbekertoernooie in 1979, 1983, 1987 en 1992 deelneem nie. Dieselfde het gegeld vir die Asiatiese Bekertoernooie in 1984, 1986, 1988, 1990 en 1995. In 1990 het die nasionale span twee keer swak teen Nederland verloor. Hierdie nederlae het verduidelik dat die Verenigde Arabiese Emirate nog baie moes doen om tydens die IKR-trofee in 1994 suksesvol te wees en die EKR het toe ’n omstrede beleid goedgekeur.
Op pad na die eerste krieketwêreldbekerdeelname Ten einde van ’n suksesvolle nasionale span tydens die IKR-trofee 1994 in Kenia het die EKR verskeie eersterangse spelers in Indië, Pakistan en Sri Lanka betrek om ’n werkgeleentheid in dié land te vat, sodat hulle volgens die residensiële vereistes vir die Verenigde Arabiese Emirate se nasionale krieketspan kon speel. Met die inheemse kaptein Sultan Zarawani het die Verenigde Arabiese Emirate die trofee ingepalm en daarmee vir die Krieketwêreldbeker 1996 gekwalifiseer. Dit was hul eerste sukses in hul eerste probeerslag. Hulle het die gasheer Kenia in die eindstryd verslaan (met twee paaltjies). Die Keniaanse spelers en die krieketraad was baie ontsteld oor die feit dat hulle verslaan is deur ’n span wat volgens hulle en ander waarnemers uit “huursoldate” bestaan het. Die IKR het oor dié dispuut geswyg, maar hulle het die vereistes vir nasionale spanne verhoog.
Tydens die Austral-Asiatiese Beker 1994 het die Emiratiese gasheer sy eerste EDIs teen Indië en Pakistan gespeel, maar hulle is ná twee nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Die Emiratis het laaste geëindig tydens ’n driehoekige reeks teen Kenia en Nederland in dieselfde jaar en ook in 1995 laaste tydens ’n toernooi teen die A-spanne van die volle lede Indië, Pakistan en Sri Lanka. ’n Jaar later het die span aan die Pakistanse EDI-toernooi deelgeneem en een van vier wedstryde gewen. Tydens die Krieketwêreldbeker 1996 in Indië, Pakistan en Sri Lanka het hulle vir die eerste keer aan dié toernooi deelgeneem, maar al hul wedstryde behalwe vir dié teen Nederland verloor: teen Suid-Afrika (met 169 lopies), teen Engeland (met agt paaltjies), teen Pakistan (met nege paaltjies) en teen Nieu-Seeland (met 109 lopies). Die ontmoeting met Nederland was die eerste EDI-wedstryd tussen twee assosiaatlede van die IKR en die eerste EDI-oorwinning vir die Verenigde Arabiese Emirate (met sewe paaltjies).
Tydens die eerste AKR-trofee 1996 in Maleisië het die Verenigde Arabiese Emirate ná hul nederlaag in die eindstryd teen Bangladesj (met 108 lopies) as naaswenner geëindig, waarmee hulle die Asiatiese Beker 1997 misgeloop het. Weens die verhoogde vereistes vir nasionale spanne was die Verenigde Arabiese Emirate nie in staat om hul sukses van 1994 te herhaal nie, tydens die IKR-trofee 1997 in Maleisië het hulle in die tiende plek geëindig. Tydens die halfeindstryd van die AKR-trofee 1998 in Nepal is die Verenigde Arabiese Emirate deur Bangladesj met ses paaltjies verslaan en hulle het ook die Asiatiese Beker 2000 misgeloop.
In die nuwe millennium Oor die jare heen kon die span, nadat Bangladesj in 2000 ’n volle lid van die IKR geword het, homself as die beste assosiaatlid in Asië vestig, hoewel hulle nie met die beste assosiaatlid van Europa en Noord-Amerika kon meeding nie. Die Emirate het die AKR-trofeë in 2000 en 2002 gewen, nadat hulle onderskeidelik Hongkong (met drie paaltjies) en Nepal (met ses paaltjies) in die eindstryde verslaan en sodoende vir die daaropvolgende Asiatiese Bekertoernooie in 2004 en 2008 gekwalifiseer het. Tydens die IKR-trofee 2001 in Kanada het die Emirate egter in die vyfde plek geëindig en sodoende die Krieketwêreldbeker 2003 misgeloop. Tydens die Hong Kong Cricket Sixes in dieselfde jaar het hulle daarin geslaag om Australië twee keer te klop.
In 2004 het die Verenigde Arabiese Emirate die Sesnasies-uitdaagtoernooi 2004 aangebied en volgens punte gelykop met vier ander spanne in die vyfde plek geëindig. In dieselfde jaar het die Emirate hul eerste Interkontinentale bekerwedstryd teen Nepal gespeel, waartydens Ali Asad nege paaltjies in die eerste beurt geneem het. Daarna het die Emirate Maleisië verslaan, maar in die halfeindstryd teen Kanada verloor. Die Verenigde Arabiese Emirate het die AKR-trofee gewen, nadat hulle Oman in die eindstryd met 94 lopies geklop het. Daarna het hulle weer EDI-krieket gespeel, maar hulle is deur beide Indië (met 116 lopies) en Sri Lanka (ook met 116 lopies) in die eerste rondte van die Asiatiese Beker 2004 verslaan. Tydens die Hong Kong Cricket Sixes het hulle in die vierde plek geëindig, nadat hulle sowel Indië asook Suid-Afrika verslaan het.