links|270px|duimnael|Ds. Pieter van der Merwe het die NG kerk Merweville se hoeksteen op 24 Januarie 1914 gelê. Die argitek was Folkert Wilko Hesse. duimnael|regs|200px|Ds. Pieter van der Merwe, die leraar van die moedergemeente Beaufort-Wes na wie Merweville genoem is.

Die NG gemeente Merweville is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Groot-Karoo.

Agtergrond Die NG gemeente Beaufort-Wes is in 1820 as die twaalfde NG gemeente in die Kaapkolonie gestig waarna ds. John Taylor as eerste predikant deur die goewerneur aangestel is. Op 27 November 1818 is Beaufort as 'n afsonderlike distrik geproklameer, waarvan die grense gestrek het van die verste plaas aan die Oranjerivier in die noorde tot aan die Swartberge in die suide, van die Kariegarivier in die ooste tot aan die Dwykarivier in die weste. Behorende tot die gemeente Beaufort-Wes was 'n ylbevolkte deel wat gewoonlik die Koup genoem word om dit van ander dele van die Karoo te onderskei. Baie inwoners van dié streek het op plase gewoon, maar daar was ook 'n deel van die bevolking wat trekboere was, oftewel mense wat nie 'n vaste woonplek gehad het nie. Hulle het met hul vee van een plek na die ander getrek en tent opgeslaan waar daar weiding en water was. Hoewel baie vrugbaar in goeie tye, loop die Koup dikwels onder droogtes deur. Dit het dan ook amper 'n instelling geword vir die meeste inwoners van die gebied om vir die wintermaande te verhuis na die winterreënvalstreke waar weiding volop en goedkoop was.

Met so 'n mobiele gemeenskap is dit begryplik dat daar oor die algemeen 'n betreklik verarmde geestelike en opvoedkundige toestand geheers het en, hoewel daar oral nog die goeie tekens was van "belangstelling in de leer naar de Godsaligheid ons nagelaten door de vroome vaderen" van: Sabbatsheiliging, huisgodsdiens, en die beoefening van gesang en gebed, was daar ook diegene wat verlam en verarm geword het na die geestelike en so diep versink het in die tydelike dat onverskilligheid en ongebondenheid oral merkbaar was en soms gedreig het om dissipline en tug te verontagsaam. Die beskawing is wel in hierdie dele tot 'n groot mate gehandhaaf, maar die beskermende gesag en die geestelike bearbeiding van die Kerk het te lank uitgebly en, in sy uitbreiding, nie altyd tred gehou met dié van die volksplanting nie.

Aanloop tot gemeentestigting duimnael|regs|240px|Merweville se eerste NG kerkie is in 1899 opgerig en het ná die nuwe kerk se inwyding in 1916 nog tot 1954 as kerksaal gedien, toe die teenswoordige saal opgerig is.

Die eerste drie dogtergemeentes van Beaufort-Wes was Prins Albert (1842), Victoria-Wes (1843) en Fraserburg (1851). Daarna het gevolg Carnarvon in 1874 en Merweville in 1904. Reeds in 1897 het die kerkraad van Beaufort-Wes onder voorsitterskap van ds. Pieter van der Merwe besluit om 'n kerkie iewers in die Koup te bou. Van der Bylskraal, 80 myl van Beaufort-Wes af en die plaas van die heer Van der Byl, is vir dié doel gekies en die kerkie, wat later as skoolgebou sou dien en as kerksaal tot die nuwe in 1954 opgerig is, is in 1899 deur die heer Van der Byl opgerig en deur die kerkraad van Beaufort-Wes oorgeneem vir die som van £325. So kon ds. Van der Merwe sedert Februarie 1899 twee maal per jaar die Nagmaal aan hierdie afgeleë deel van sy gemeente bedien. Op gewone Sonde is die dienste deur die onderwyser waargeneem. In Oktober van dieselfde jaar het die kerkraad verlof toegestaan om in die rigting van 'n afsonderlike gemeente te werk. Die Tweede Vryheidsoorlog het die stigtingsplanne vertraag en dit was eers nadat die vrede herstel is dat 'n begin weer gemaak kon word.

Oor die verloop van die voorbereidingswerk is daar geen geskrifte beskikbaar nie; daarom moes die skrywer van Merweville se halfeeugedenkboek in 1954 gebruik maak van dit wat die ouer mense van destyds nog kon onthou. Die vooropgestelde plan was om 'n plaas in hierdie dele te koop, 'n gemeente te stig en dan die plaas aan die kerkraad oor te dra wat dan sou oorgaan tot die stigting van 'n dorp. Eers moes die mense gevind word wat bereid sou wees om die nodige waarborg te verskaf vir die koopsom van 'n plaas. Hiervoor is 'n koopkommissie benoem. Al is een en die ander plaas aan die hand gedoen, het Van der Bylskraal blykbaar te veel in sy guns gehad. Op 1 Januarie 1904 is die heer Van der Byl oorlede, 'n vandisieveiling is gehou en die plaas Van der Bylskraal is aan die kommissie verkoop vir £4 500.

Van der Bylskraal duimnael|links|270px|Die plaas Van der Bylskraal waarop Merweville aangelê is toe daar reeds onder meer 'n plaastronk, skool, polisiekwartier, poskantoor en winkel was. regs|duimnael|230px|Van der Bylskraal se opstal soos dit gelyk het in 2014. duimnael|regs|220px|Die heer Van der Byl en een van sy seuns. Merweville is op sy plaas, Van der Bylskraal, aangelê. Die eienaar van die plaas was Jacobus Johannes Le Sueur van der Byl. Behalwe veeboer was hy ook winkelier, posmeester en spesiale vrederegter wat gewone sakies kon verhoor. Tronkstraf is opgelê en uitgedien in die plaastronk wat later in 'n woonhuis omskep is. Daar was nege kinders in die Van der Byl-gesin. Toe die oudstes kon begin skoolgaan, is 'n plaasskool opgerig waar ook kinders van omliggende plase kon skoolgaan. Dié plaasskool het later die dorpskool geword.

Op Nuwejaarsdag 1904 is die heer Van der Byl binne 'n week ná sy jongste dogter se dood aan masels ook oorlede. Hy is op Worcester begrawe waar die oorskot van sy dogtertjie ook later herbegrawe is. Die weduwee Van der Bijl en haar kinders het op Worcester gaan woon. Teen 1954, toe die gemeente Merweville sy halfeeufees gevier het, het nog net een van die Van der Byl-kinders gelewe, ene Stanley wat 'n afgetrede bankbestuurder was en op Queenstown gewoon het.

Die plaas wat gekies is om die toekomstige dorp te wees, was mooi en waterryk en geleë langs die Van der Bylsrivier wat langs die oewers ruig begroei was met doringbome en kareebome en plek-plek vyeboomlanings, granaatlanings en 'n paar vye- en moerbeibome. Oral in die bedding van die rivier was daar stroompies, wegkeervore wat water na leidamme moes voer, opdammings en gate vol water – lekker swemgate vir die somermaande. Verder weg, langs die oewers, was daar ruigtes en rietbosse en selfs digte boskasies ook. Weerskante van die rivier was daar saailande en tuine en verder weg is daar rante en hoër koppe.

Destyds was daar reeds al sowat tien geboue of enkelvertrekke op die plaas. Behalwe die opstal met winkel en poskantoor daarby, was daar ook nog die kerkie, die onderwyserswoning, die Scouts-huis met 'n tronk daarby, polisiekwartier en nog enkele wonings vir gesinne wat toe reeds daar gewoon het.

Gemeentestigting Op 29 November 1904 het die Ringskommissie onder voorsitterskap van ds. Pieter van der Merwe op Van der Bylskraal byeengekom om die nuwe gemeente te stig. Ouderling F.J. Fourie het die vergadering namens die kerkraad van NG gemeente Beaufort-Wes bygewoon. Baie belangstellendes het opgekom en om tienuur die oggend het hulle in die ou kerkgebou vergader om die stigting van die gemeente by te woon en die grenslyne te bepaal. Die koopkommissie het vooraf ooreengekom dat die gemeente "Merweville" sou heet ter ere van die eintlik stigter van die gemeente, die predikant van Beaufort-Wes. Hoewel die nuwe gemeente ook gedeeltes van Laingsburg, Prins Albert en Sutherland bygekry het, was die kern uit Beaufort-Wes; daarom kan die gemeente as 'n dogter van dié gemeente beskou word.

Op 18 Mei 1905 is die plaas deur die boedel van Jacobus Johannes Le Seuer van der Byl getransporteer aan die eerste kerkraadslede van die gemeente. Dié plaas het uit drie dele bestaan en die koopskat was £4 500.

Op 14 Januarie 1905 is die eerste kerkraadsvergadering gehou onder voorsitterskap van ds. A.G. du Toit van Prins Albert as agerende konsulent. Op dié vergadering is besluit om 'n begraafplaas aan te wys en herbegrafnis te hou van diegene wat reeds op die dorp begrawe is. Mej. Z. Snyman, dogter van ouderling Snyman, is aangestel as eerste orreliste. M.F. Erasmus is as kassier-diaken aangestel.

Eerste leraar duimnael|links|200px|Ds. Schalk Pienaar was Merweville se eerste predikant. Dit was sy eerste en enigste gemeente. Op 13 Maart 1905 is 'n gekombineerde kerkraadsvergadering gehou, ook onder voorsitterskap van die konsulent. Die dienende lede sowel as die rustende lede, wat gedien het toe die gemeente nog deel was van Beaufort-Wes, het die vergadering bygewoon. Vier proponente is benoem, naamlik S.W. Pienaar, Antonie Johannes Troskie, Gideon Jacobus Rousseau en Matthys Michielse du Toit. By die eerste stemming het prop. Pienaar ses uit 11 stemme gekry, 'n volstrekte meerderheid. Pienaar neem die beroep aan en op 15 April 1905 is 'n kerkraadsvergadering gehou onder voorsitterskap van ds. G.A. Maeder van Victoria-Wes waartydens die broeders C.F. Snyman en J. van Huyssteen aangestel is as kommissie om reëlings vir die predikant se ontvangs te tref.

Prop. Pienaar sou op Vrydag 16 Junie 1905 op Prins Albertweg aankom en van daar deur 'n rytuig na die dorp vervoer word. Nadat hy omstreeks drie- of vieruur op Rietfontein sou aankom, sou die kerkraad hom hul adres daar of nader aan die dorp aanbied. Met die kar van die heer W.M. van der Westhuizen van Koedoesfontein, het sy seun Wietsche prop. Pienaar en ds. W.A. Alheit van Ceres op die stasie gaan haal. Die samekoms vir die ontvangs is op Koedoeshoogte naby die dorp gereël. Die optog het bestaan uit perdekarre, donkiekarre en enkele perderuiters. Vooraan was diakens M.F. Erasmus en J.J.H. Alberts te perd en agter hulle het die ander rytuie gevolg. Die heer G.S. Snyman was in bevel en het te perd al langs die stoet gery. Op die hoogte is prop. Pienaar ontmoet en vandaar is hy geleide gedoen tot voor die "Boarding House" waar 'n lied gesing en 'n welkomsadres gom aangebied is, waarop hy gepas geantwoord het na aanleiding van die laaste gedeelte van 2 Korintiërs 5:17: "... het oude is verby gegaan, zie, het is alles nieuw geworden."

Pastorie regs|320px|duimnael|Merweville se NG pastorie is in 1907 in gebruik geneem. Aangesien die gemeente nog nie 'n pastorie gehad het nie, moes die leraar vir eers by die onderwyser tuisgaan. Eers in April 1906, op voorstel van diaken M.F. Erasmus, is besluit om 'n begin te maak met die bou van 'n predikantswoning. 'n Gemeentevergadering is gehou en die som van £343 is vir die boufonds ingesamel. Die kerkraad het volmag gekry om met die werk aan te gaan, solank hulle die som van £800 nie oorskry nie. In Junie daardie jaar is die plan vir die pastorie goedgekeur en 'n boukommissie aangestel om toesig oor die werk te hou. Na aanleiding van 'n geskenk van £400 van Prins Albert is dit aan die voorsitter opgedra om 'n brief van bedanking te skryf aan die kerkraad van Prins Albert en hul liefdesdaad ook in die Kerkbode te laat publiseer.

In September 1907 is ds. Pienaar getroud met Saries Roos, dogter van Gielie Roos van Stellenbosch, en is die jong egpaar kort daarna in die nuwe pastoriegebou ontvang.

Nog voor die pastorie gebou is, was daar reeds 'n put met 'n handpomp en 'n kalkdam op die erf. In 1910 is in die put geboor vir water. Die water was egter onvoldoende en later is 'n gat langs die dam geboor en 'n windpomp opgesit.

Kerkbou Voorbereidende werk duimnael|links|220px|Ds. Pieter van der Merwe het die NG kerk Merweville se hoeksteen op 24 Januarie 1914 gelê. Op 14 Januarie 1911 is 'n gemeentevergadering gehou om te beraadslaag oor die bou van 'n nuwe kerk. Op voorstel van die brs. C.F. Snyman en A.J. Swarts is besluit dat dit volgens die oordeel van die vergadering tyd geword het om 'n begin te maak met die insameling van geld vir die oprigting van 'n nuwe kerkgebou. Daardie selfde aand is 'n insameling gehou en £300 en 55 stuks kleinvee belowe. Op 'n later vergadering is besluit dat die leraar tydens huisbesoek vir die boufonds sou kollekteer.