duimnael|regs|300px|Drie van die vier bendelede: William Foster (links), John Maxim (middel) en Carl Mezar. Die vierde lid was William se vrou Peggy (née Korenico).

Die Fosterbende was ’n groep misdadigers wat tussen 1912 en 1914 ’n reeks geslaagde rooftogte in Suid-Afrika uitgevoer het. Die vier bendelede het hulself op 18 September 1914 in 'n grot in Kensington, Johannesburg, om die lewe gebring nadat hulle ’n skrikbewind aan die Witwatersrand gevoer het.

Genl. Koos de la Rey het omgekom in die polisie se optrede teen die bende. Dit het onvoorsiene politieke gevolge ingehou.

William Foster William Robert Clem Foster (1886-1914) beroof in 1913 'n juwelier in Kaapstad. Hiervoor is hy 'n vonnis van 12 jaar harde arbeid opgelê wat hy in die Pretoria Sentraal-gevangenis sou uitdien. Op 27 Februarie 1914 ontsnap hy egter, nadat hy 'n draadheining oopsny terwyl ander gevangenes die wagte se aandag aflei. Hy sluit hom by John Maxim aan, ’n Amerikaanse avonturier en medepligtige van sy vroeëre misdade wat in Maart 1914 uit dieselde tronk vrygelaat is. Die twee mans werf dan 'n nuweling, die 22-jarige Carl Mezar (alias George Smit), wat reeds 'n uitgebreide kriminele rekord het. William se vrou Peggy sou later ook by die groep aansluit. Saam laat hulle 'n spoor van geweld agter.

In Boksburg beroof hulle 'n bank, in Roodepoort en Vrededorp breek hulle kluise in poskantore oop en in Doornfontein val hulle 'n drankwinkel binne. Een van die grootste polisiesoektogte tot op daardie stadium in Suid-Afrika vind plaas. In 'n huis in Regent's Park (Johannesburg) is hulle gewaar, maar kom weg. Die polisie trek toe 'n kordon om sekere stadsdele en rig padblokkades op. By een van hierdie barrikades skiet die polisie per ongeluk dr. Gerald Grace dood wat haastig op pad was na 'n pasiënt. Veral is gesoek na 'n motor met drie mans. Met behulp van speurhonde is die bende in 'n grot in die heuwel by Kensington (Johannesburg) weer vasgepen. Dit was 'n ou prospekteerderstonnel waarin hulle voorrade opgegaar het. Onderhandelinge vir oorgawe het plaasgevind en Foster vra dat sy vrou Peggy en hul babadogtertjie 'n ruk by hulle in die grot kan aansluit. 'n Oomblik later is die dogtertjie uit die grot, skote klap en die polisie vind die vier se lyke.

Sterftes Vier moorde, ses selfmoorde, en twee sterftes van onskuldige verbygangers het die dodetal op 12 te staan gebring. Hulle was die volgende:

Alex Charlson, 'n kroegman is doodgeskiet terwyl hy probeer ingryp tydens 'n poging tot bankroof in Boksburg-Noord. Polisie-sersante Robert Mansfield en Neil McLeod is by die Imperial Bottle Store in Fairview/Doornfontein doodgeskiet. Speurder Charles Albert Mynott is doodgeskiet toe die polisie die bende by 'n huis in Regent's Park probeer arresteer.

Benewens die vier bendelede wat in hul selfmoordpakt omkom, was daar ook die selfmoord van 'n posmeester en 'n polisie-inspekteur. Tydens die ondersoek na die rooftog op die Vrededorp-poskantoor is bevind dat die posmeester £72 uit die kluis "geleen" het om sy nuwe motor af te betaal. Hy ontvang 'n opgeskorte vonnis, en pleeg selfmoord toe hy meen dat sy loopbaan hierdeur geruïneer is. Inspekteur Edward Leach pleeg kort na die gebeure selfmoord. Hy het homself moontlik verkwalik dat hy opdrag gegee het dat Peggy toegelaat word om die grot te betree waar sy sou sterf, óf dat hy nie betyds die bevel aan Langlaagte kon deurgee dat daar nie op voertuie geskiet moet word nie. Dr. Gerald Grace en generaal Koos de la Rey, kort daarop, was die onskuldige verbygangers wat deur polisiekoeëls gedood is.

Genl. Koos de la Rey duimnael|200px|Generaal Koos de la Rey duimnael|200px|Generaal Christiaan Frederik Beyers Genl. De la Rey en genl. C.F. Beyers was op 15 September 1914 van Pretoria op pad na Potchefstroom om 'n moontlike rebellie teen die regering te organiseer. Die generaals was heeltemal onbewus van die polisiepatrollies en padblokkades oor die hele Witwatersrand om die bende rowers en moordenaars vas te trek. Die patrollies het opdrag gehad om alle motors te stop. Maar die generaals het gedink dat hul rebellieplanne uitgelek het en gee daarom aan hul motorbestuurder die bevel om verby die eerste padblokkade te jaag. Ook by die tweede barrikade jaag hulle verby, maar 'n polisieman skiet op die agterwiele van hul motor. 'n Opslagkoeël tref De la Rey in die hart en hy sterf.

Gevolge In die Afrikanergemeenskap is geglo dat De la Rey se dood nie 'n ongeluk was nie, maar 'n opsetlike sluipmoord en 'n sameswering van die regering om die beplande rebellie in die kiem te smoor. De la Rey se dood en sy begrafnis het bygedra tot die politieke onrus in die land en tot die uitbreek van die Rebellie (die Maritz-rebellie) op 26 Oktober 1914. Met die algemene verkiesing van die volgende jaar was die dood van De la Rey en die Rebellie nog vars in die geheue van die Afrikanerkiesers en het talle hulle hul rug op genls. Louis Botha en J.C. Smuts gedraai.

Bibliografie

Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 7. Kaapstad: Nasou, 1972.

City of Johannesburg-webwerf

Kategorie:Suid-Afrikaanse moordenaars Kategorie:Bendes