Die Roswellvoorval verwys na die gebeure rondom ’n Amerikaanse militêre verkenningsballon wat in 1947 naby Roswell, Nieu-Mexiko, neergestort het.Olmsted, Kathryn S. (2009). "Chapter 6: Trust No One: Conspiracies and Conspiracy Theories from the 1970s to the 1990s". Real Enemies: Conspiracy Theories and American Democracy, World War I to 9/11 (Oxford University Press). ble. 173–204. Rommel wat deur ’n veeboer naby Roswell ontdek is, het die grondslag gevorm vir samesweringsteorieë waarvolgens die Amerikaanse weermag ’n neergestorte buiteaardse ruimtetuig herwin het. Nadat metaal- en rubberrommel deur personeel van die Roswellweermagvliegveld herwin is, het die Amerikaanse lugmag die besit van ’n "vlieënde skyf" aangekondig. Die aankondiging het internasionale opskrifte gehaal, maar is binne ’n dag teruggetrek.

Die rommel was in werklikheid afkomstig van ’n komplekse en onbemande militêre ballontrein wat uit gekoppelde ballonne en verskeie toerusting bestaan het, en wat van die nabygeleë Alamogordo-weermagvliegveld af bedryf is as deel van die hoogs geheime Projek Mogul, ’n program wat bedoel was om Sowjetse kerntoetse op te spoor. Om die doel en oorsprong van die rommel te verdoesel, het die weermag berig dit was ’n gewone weerballon.

In 1978 het die afgetrede lugmagoffisier Jesse Marcel onthul die weermag se weerballonverklaring was ’n dekmantelverhaal en gegis die rommel was van buiteaardse oorsprong. Dié gissing is gewild gemaak deur die boek The Roswell Incident van 1980 en het die grondslag gevorm vir langdurige en toenemend ingewikkelde en teenstrydige samesweringsteorieë, wat met verloop van tyd die voorval uitgebrei het om regerings in te sluit wat bewyse van buiteaardse wesens verdoesel, grys buiteaardse wesens, veelvuldige neergestorte vlieënde skywe, en uitheemse lyke en lykskouings.

In die 1990’s het die lugmag verskeie verslae gepubliseer waarvolgens die voorval met Projek Mogul verband hou, en nie met rommel van ’n VVV nie. Ten spyte hiervan en ’n algemene gebrek aan bewyse, beweer baie VVV-voorstanders die Roswellrommel was werklik van ’n uitheemse tuig afkomstig en beskuldig hulle die Amerikaanse regering van ’n toesmeerdery. Die samesweringsverhaal het ’n stylfiguur geword in letterkunde, rolprente en televisieprogramme oor wetenskapsfiksie. Die dorp Roswell adverteer hom as ’n bestemming vir VVV-verwante toerisme.

Neerstorting van 'n militêre ballon Teen 1947 het die Verenigde State duisende hoogs geheime Projek Mogul-ballonne gelanseer met toestelle om na Sowjetse atoomtoetse te luister. Op 4 Junie het navorsers by die Alamogordo-weermagvliegveld in Nieu-Mexiko ’n lang trein van dié ballonne lanseer; hulle het kontak met die ballonne en die toerusting wat daaraan vas was, verloor binne 'n paar kilometer van W.W. “Mac” Brazel se plaas naby Corona, waar ’n ballon later neergestort het. Later daardie maand het Brazel tinfoelie, rubber, band en dun houtlatte ontdek wat oor 'n deel van sy plaas versprei was.

Sonder ’n telefoon of radio was Brazel aanvanklik onbewus van die vlaag artikels in dié tyd oor "vlieënde skywe" wat in die VSA gesien is. Die pers landwyd het verslag gedoen oor wat bekend geword het as vlieënde pierings, voorwerpe wat na bewering maneuvers uitgevoer het buite die vermoë van enige bekende vliegtuig. Toe Brazel Corona op 5 Julie besoek, het sy oom, Hollis Wilson, voorgestel sy puin kan van so ’n “vlieënde skyf” wees.

Die volgende dag het Brazel na Roswell, Nieu-Mexiko, gery en die sheriff, George Wilcox, ingelig oor die puin wat hy ontdek het. Wilcox het die Roswellweermagvliegveld (RAAF) geskakel. Die basis het majoor Jesse Marcel en kaptein Sheridan Cavitt aangewys om saam met Brazel terug te keer en die materiaal van die plaas te versamel. Die basisbevelvoerder, kolonel William Blanchard, het die bevelvoerder van die Agtste Lugmag, Roger M. Ramey, van hul bevindings in kennis gestel.

Op 8 Julie het die RAAF se openbare inligtingsbeampte, Walter Haut, ’n nuusverklaring uitgereik waarin verklaar is dat die weermag ’n “vlieënde skyf” naby Roswell herwin het. Robert Porter, ’n RAAF-vlugingenieur, was deel van die bemanning. Hy het dit wat aan hom vertel is ’n "vlieënde piering” was, op die vlug na die Carswell-weermagvliegveld in Texas gelaai. Hy het die materiaal, wat verpak was in omhulselpapier toe hy dit ontvang het, beskryf as liggewig en nie te groot om in die bagasiebak van ’n motor te pas nie. Nadat die stasiebestuurder, George Walsh, die nuus oor Roswell se radiostasie bekend gemaak en dit aan die Associated Press oorgedra het, is sy telefoonlyne oorval. Hy het later onthou: “Die hele middag het ek probeer om sheriff Wilcox te skakel vir meer inligting, maar kon hom nooit bereik nie [...] Die media het my van oor die wêreld gebel.”

thumb|220px|Majoor Jesse A. Marcel poseer op 8 Julie 1947 met puin. thumb|220px|Brigadier-generaal Roger Ramey, links, en kolonel Thomas J. DuBose poseer met puin. Die persverklaring wat deur Haut uitgereik is, het gelui:

Mediabelangstelling in die saak het kort daarna afgeneem ná ’n nuuskonferensie waar generaal Roger Ramey, sy stafhoof, kolonel Thomas DuBose, en weerbeampte, Irving Newton, die materiaal as stukke van ’n weerballon geïdentifiseer het. Newton het aan verslaggewers gesê soortgelyke radarteikens is by sowat 80 weerstasies regoor die land gebruik. Die klein aantal daaropvolgende nuusberigte het alledaagse beskrywings van die ongeluk gebied. Op 9 Julie het die Roswell Daily Record beklemtoon dat geen enjin- of metaalonderdele in die wrak gevind is nie. Brazel het aan die Record gesê die puin bestaan uit rubberstroke, “tinfoelie, papier, band en stokke”. haal aan:

Brazel het gesê hy het aanvanklik min aandag daaraan gegee, maar later saam met sy vrou en dogter teruggekeer om van die puin op te tel. Ten spyte van latere bewerings dat hy gedwing is om ’n dekmantelverhaal te herhaal, het Brazel aan koerantverslaggewers gesê: “Ek is seker dit wat ek gevind het, was nie enige weerballon nie.” Toe hy in Fort Worth, Texas, ondervra is, het Jesse Marcel die wrak beskryf as “dele van die weerapparaat” wat bestaan het uit “tinfoelie en gebreekte houtbalke.”

’n Deel van die materiaal is van Texas na die Wright-vliegveld in Ohio gevlieg, waar kolonel Marcellus Duffy dit as ballonapparaat geïdentifiseer het. Duffy het vorige ervaring van Projek Mogul gehad en Mogul se projekbeampte Albert Trakowski gekontak om die puin te bespreek. Omdat hy nie besonderhede oor die projek kon bekend maak nie, het Duffy dit as “meteorologiese toerusting” geïdentifiseer.

Die amptelike weergawe van 1947 het enige verband met militêre programme van die Koue Oorlog uitgelaat. Op 10 Julie het militêre personeel by Alamogordo ’n demonstrasie aan die pers gegee. Vier offisiere het ’n vals weergawe verskaf van die gewone gebruik van weerballonne gedurende die voorafgaande jaar. Hulle het ballonkonfigurasies wat deur die Mogul-span gebruik is, gedemonstreer as maniere om meteorologiese data in te samel, en sodoende ’n geloofwaardige verduideliking gebied vir enige ongewone aspekte van die Roswellpuin. Die Amerikaanse lugmag het later die weerballonverhaal beskryf as ’n "poging om aandag van die hoogs geheime Projek Mogul af te lei.”

VVV-samesweringsteorieë (1947-'78) Die puinherwinning van 1947 het drie dekades lank relatief onbekend gebly. Verslaggewing het gou opgehou nadat die regering ’n aardse verduideliking verskaf het, en breër beriggewing oor vlieënde pierings het vinnig afgeneem ná 'n VVV-foefie toe ’n wyd gerapporteerde neergestorte skyf van Twin Falls, Idaho, as ’n poets ontmasker is wat deur vier tieners geskep is met onderdele van ’n blêrkas.

Nietemin het die geloof in 'n VVV-toesmeerdery deur die Amerikaanse regering in dié tyd wydverspreid geword. Foefies, legendes en stories van neergestorte ruimtetuie en buiteaardse liggame in Nieu-Mexiko het ontstaan en later elemente van die Roswellmite gevorm. In 1947 het baie Amerikaners die waarneming van VVV's aan onbekende militêre vliegtuie toegeskryf.

In die dekades tussen die aanvanklike herwinning van die puin en die ontstaan van Roswellteorieë het vlieënde pierings sinoniem geword met buiteaardse ruimtetuie. Ná die moord op John F. Kennedy en die Watergate-skandaal het vertroue in die Amerikaanse regering afgeneem en samesweringsteorieë het wydverspreid geraak.

Die 1947-voorval is herinterpreteer om by die publiek se toenemend samesweringsgerigte wêreldbeskouing te pas. Aanhangers van VVV's het die regering beskuldig van ’n “Kosmiese Watergate”. Aztec-VVV-foefie 240px|thumb|Die skrywer Frank Scully (regs) en die swendelaar Silas Newton (middel).

Die VVV-foefie van 1948 van Aztec, Nieu-Mexiko, het stories behels van 'n neergestorte VVV en herwonne buiteaardse liggame wat later met Roswell verbind is. Dit het wye blootstelling gekry toe die bedrieërs daaragter die Variety-rubriekskrywer Frank Scully oortuig het om oor hulle fiktiewe ongeluk te skryf. Die verhaal het vertel van klein, grys mensagtige liggame, metaal sterker as enigiets wat op Aarde gevind word, 'n onontsyferbare skrif en ’n regeringsdekmantel om openbare paniek te voorkom. Dié elemente het in latere weergawes van die Roswellmite verskyn.

In hervertellings is die alledaagse puin wat by die werklike ongeluksterrein by Roswell aangemeld is, vervang met die Aztec-foefie se fantastiese weergawe. Teen die tyd dat Roswell weer mediabelangstelling gekry het, het grys buiteaardse wesens deel van die Amerikaanse kultuur geword deur die Barney en Betty Hill-voorval. In ’n Roswellverslag van 1997 het die lugmagondersoeker James McAndrew geskryf: “Selfs met die ontmaskering van hierdie ooglopende bedrog word die Aztec-verhaal steeds deur VVV-teoretici geglo. Elemente van hierdie verhaal duik af en toe weer op en word beskou as die katalisator vir ander stories oor neergestorte vlieënde pierings, insluitend die Roswellvoorval.”

Hangar 18 "Hangar 18" is ’n niebestaande plek wat volgens baie latere samesweringsteorieë buiteaardse vaartuie of liggame gehuisves het wat van Roswell herwin is. Die idee van buiteaardse lyke van ’n neergestorte vaartuig wat in ’n lugmaglykhuis by die Wright-Patterson-lugmagbasis gestoor word, is genoem in Scully se Behind the Flying Saucers, en uitgebrei in die boek Incident at Exeter van 1966. Dit het die grondslag gevorm vir die wetenskapsfiksieroman The Fortec Conspiracy van 1968. Fortec handel oor ’n fiktiewe toesmeeraksie deur die lugmageenheid belas met omgekeerde ingenieurswese van ander lande se tegnologiese vooruitgang.

In 1974 het die wetenskapsfiksieskrywer en samesweringsteoretikus Robert Spencer Carr beweer buiteaardse liggame wat uit die Aztec-ongeluk herwin is, is in “Hangar 18” by Wright-Patterson gestoor. Carr het beweer dat sy bronne die buiteaardse lykskouing aanskou het, nog ’n idee wat later in die Roswellverhaal opgeneem is. Die lugmag het verduidelik geen “Hangar 18” bestaan by die basis nie en het ’n ooreenkoms tussen Carr se storie en die fiktiewe Fortec Conspiracy uitgewys. Die rolprent Hangar 18 van 1980, wat Carr se bewerings dramatiseer, is deur die rolprent se regisseur, James L. Conway, beskryf as ’n "moderne dramatiese weergawe” van Roswell, en deur die folkloris Thomas Bullard as “ontluikende Roswellmitologie”.

Roswellsamesweringsteorieë (1978-'94) thumb|240px|Roswell se internasionale VVV-museum.

Belangstelling in Roswell is weer aangeblaas nadat die VVV-navorser Stanton Friedman in 1978 vir Jesse Marcel ondervra het. Marcel het die Roswellpuin van die plaas na die Fort Worth-nuuskonferensie vergesel. In die 1978-onderhoud het Marcel verklaar die “weerballon”-verklaring van die nuuskonferensie was ’n dekmantel, en dat hy nou glo die puin was buiteaards.