Eleanor Baker (21 Augustus 1944, Pretoria – 1 Julie 2002, Klein-Brakrivier) was 'n Afrikaanse skrywer wat 15 romans, twee draaiboeke en verskeie jeugboeke oor haar loopbaan geskryf het. Van haar boeke is onder die skuilname Christine le Roux en Alex Muller gepubliseer.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Biografie op springbokboeke.co.za, besoek op 21 Augustus 2014
Haar eerste roman, Wêreld sonder einde, het in 1972 verskyn. Die kwart-voor-sewe-lelieEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Baker,_Eleanor_E. is in 1991 vir die Ou Mutual-prys vir letterkunde benoem, en Verbeelde werklikheid het in 1996 die kortlys vir die M-Net-boekprys gehaal. Daar is spore op die maan het in 1992 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepersprys vir Jeugliteratuur gewen en word in skole voorgeskryf.http://www.litnet.co.za/eleanor-baker-1944-2002/
Lewe en werk Eleanor Elizabeth Liebenberg is op 21 Augustus 1944 in Pretoria gebore as tweede oudste van vyf kinders (een seun en vier dogters). Haar ouers is Christie en Ena Liebenberg. Haar vader was ’n professor wat Chemie doseer het aan die Universiteit van Pretoria. D.F. Malherbe is haar oupa se neef. Sy word groot op ’n plaas net buite Pretoria. Vanaf 1957 is sy ’n leerling aan die Hoërskool F.H. Odendaal in Pretoria, waar sy in 1961 matrikuleer en ook die hoofmeisie is.
Hierna studeer sy verder aan die Universiteit van Pretoria waar sy aanvanklik inskryf vir ’n B.Mus.-graad, maar later in die letterkunde studeer. Sy is in hierdie tyd kortstondig getroud en staan bekend as Eleanor Kritzinger. In 1968 verwerf sy onder hierdie naam die M.A.-graad in Afrikaans met lof, met ’n verhandeling oor Die toepassing van die tegniek van bewussynstroom in enkele moderne Afrikaanse romans. Sy behaal nie ’n formele onderwyskwalifikasie nie, maar hou vanaf 1966 skool by die King Edwardskool in Houghton in Johannesburg en vestig haar in hierdie tyd in Hillbrow.
Sy trou in 1969 met Walter Joslizen Vernon Baker, wat hom later by die Diplomatieke Diens aansluit en die familie word in 1975 na Teheran in Iran verplaas.NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/Authors/3265 Van hierdie tyd af skryf sy voltyds. Na drie en ’n half jaar keer hulle in 1979 tydens die revolusie in Iran terug na Pretoria, maar woon daarna periodiek in verskeie stede regoor die wêreld, insluitende Den Haag (1982–1985), Montreal (1985–1987) en Brussel vanaf 1990–1994, waarna hulle permanent na Suid-Afrika terugkeer. Hulle gaan woon in Brooklyn in Pretoria. In 1997 tree Walter af en hulle verhuis na Klein-Brakrivier. Die egpaar het twee kinders, ’n seun (Alexander, wat in 1977 in Teheran gebore is) en ’n dogter (Christine, wat in 1979 in Suid-Afrika gebore is kort na hulle terugkeer uit Iran).http://www.litnet.co.za/eleanor-baker-1944-2002/
Eleanor Baker sterf op 1 Julie 2002 aan longinfeksie nadat sy siek geword het van die chemoterapiebehandeling vir limfkanker wat kort tevore by haar gediagnoseer is.Cape Librarian: https://www.westerncape.gov.za/text/2004/9/14to15_jan2003.pdf Lombaard, Sonnette. Romanskrywer Eleanor Baker sterf ná longinfeksie. Beeld, 4 Julie 2002
Skryfwerk Reeds in 1957 begin sy om 'n dagboek te hou en van haar bydraes word opgeneem in die skool se jaarblad. Sy begin haar ernstige skryfloopbaan deur romans te skryf, waarvan die eerste twee vir publikasie afgekeur word. Haar werk word gekenmerk deur haar unieke manier van omgaan met menslike verhoudings en veral liefdesverhoudings, waarin sy ’n fyn sin en aanvoeling vir mense se gevoel en omgang teenoor mekaar openbaar. Hierdie verhoudings word gereeld aangebied in ’n eenvoudige, tot ’n mate voorspelbare verhaal, waar die verhoudings en nie die verhaal nie, die belangrikste element is. Haar karakters word deurgaans lewensgetrou en eg geteken en sy skroom nie weg van sensitiewe onderwerpe soos masturbasie, buite-egtelike verhoudings, depressie en verkragting nie. Sy skryf ook twee televisiedramas. Benewens haar meer literêre werk, skryf sy ook verskeie populêre liefdesverhale onder die skuilnaam Christine le Roux en onder die naam Alex Muller skryf sy vyf speurverhale. Die boeke wat sy onder haar eie naam skryf, is opmerklik ingestel op ’n fyn waarneming van die werklikheid, met veral ’n baie raak beskrywing van die menslike verhoudings. Wanneer sy onder ’n skuilnaam skryf, gee sy haar verbeelding meer vrye teuels om agter die storie aan te skryf, ongeag of dit altyd heeltemal met die werklikheid versoen kan word. Daarenteen is ’n opvallende kenmerk van haar “ernstiger” romans juis die mate waarin sy populêre en meer literêre elemente kombineer, asook dikwels humor en erns. André P. Brink noem haar by geleentheid ’n miskende skrywer in Afrikaans wat enige tyd Karel Schoeman se gelyke is, nadat hy in die sewentigerjare meegedoen het aan die miskenning deur dit te betreur dat ’n roman van haar uitgegee is.
Prosa Wêreld sonder einde is haar eerste roman wat vir publikasie aanvaar word. Hierin raak twee karakters met oënskynlik geen raakpunte nie, by mekaar betrokke. Die een is ’n bejaarde, eensame en armoedige weduwee, mevrou Bildendyk, en die ander ’n ankerlose, rebelse jong man, Rocky. Hy is ’n jeugmisdadiger wat een aand onverwags gewond voor haar venster beland, nadat hy deur sy bende aangerand is. Die probleem van kommunikasie tussen hulle blyk aanvanklik onoorbrugbaar te wees. Sy neem hom nietemin in en versorg hom vir ’n paar dae in haar woonstel in Hillbrow sonder dat iemand daarvan weet, en sodoende vind albei genesing van hulle eie omstandighede.
Splinterspel se hoofkarakter en ek-verteller, Johanna, woon saam met haar drie dogters alleen op ’n kleinhoewe. Johanna beskryf die emosionele mishandeling wat sy van haar moeder gekry het en die haat wat sy as gevolg daarvan in haar omdra. Gaandeweg word dit egter duidelik dat sy nie ’n betroubare verteller is nie en dat sy met haar ontoereikende geestestoestand gereeld haar toevlug neem tot verbeeldingsvlugte om die werklikheid te ontsnap. Die vele uitdagings wat haar normale (of verbeelde) situasie bied word vererger deur die aankoms van ’n minnaar en sy kan die spannings nie te bowe kom nie. Haar wroeging en geestelike stryd en veral grootliks onverwerkte haat lei eindelik tot totale versplintering, totdat sy voor ’n spieël staan waaruit haar gesig verdwyn het, simbolies van haar verlies aan eie identiteit.Brink, André P. Rapport, 24 Maart 1974
Mǿrketiden (letterlik “die donker tyd”) is die naam vir die donkerste tyd in die Skandinawiese lande, wanneer die son feitlik glad nie sy verskyning maak nie. Hierin word ’n reis deur die donkerte van die menslike gees onderneem. Die hoofkarakter, Clinton Alexander, bevind hom in sy soektog na betekenis te midde van ’n psigodrama in fantastiese omgewings en gebeure. In die voorspel kom hy nog redelik normaal voor, maar ontsenu sy gaste in sy deftige woonstel met geheimsinnige speletjies, waar almal in terme van diere geïdentifiseer word. Hiervandaan slaan die gebeure oor na die fantastiese en bevind Clinton hom toenemend in irrasionele droomwerklikhede, wat sy stryd om normaliteit uitbeeld. Hy beland in situasies waaroor hy geen beheer het nie en waarvan hy die slagoffer of sondebok is. So word hy uit ’n goedkoop kafee uitgegooi; hy wil die vet kafeemeisie huis toe vergesel, maar sy vererg haar en ontsnap; hy kom aan by ’n vreemde gebou in ’n vreemde omgewing waar almal by ’n bisarre partytjie hom herken, maar almal dig ’n ander identiteit aan hom toe. Wanneer hy ontvlug, word hy eindelik “gevange” gehou in ’n gebou waar sy bewegings tot enkele vertrekke beperk word en hy geestelik afgetakel word en gereduseer word tot die mees basiese. Elke spookagtige episode wat hy deurmaak word gevolg deur ’n gesprek met ’n onsigbare stem uit die plafon. Hierdie verblyf loop uit op ’n “verhoor” waar hy sy aandadigheid en skuld aan menswees moet bely. Die hellevaart neem hom dan terug na sy woonstel, maar met die wete dat die groot Oordeel nog kom.Brink, André P. Rapport, 26 Oktober 1975Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976De Vries, Abraham. Beeld, 24 November 1975Eksteen, Louis. Standpunte. Nuwe reeks 126, Desember 1976
Monica vertel van ’n alledaagse vrou te midde van 'n eksistensiële krisis. Sy is vet, middeljarig en gefrustreerd, vasgevang in ’n vervelige roetine wat daagliks herhaal word, met geen vooruitsigte nie. Vir haar man, Dirk, is dit ’n saak van eer dat sy vrou nie hoef te werk nie en dit ontneem haar die kans om haar sensitiwiteit en intelligensie ten volle uit te leef. Sy het egter een onbesonne daad in die verlede gepleeg, toe sy owerspel gepleeg het met haar man se broer in ’n strandhuis. In ’n onbewaakte oomblik bieg sy van hierdie voorval aan ’n ander vrou, wat haar later daarmee afdreig. Dit dreig om haar normale lewe om te keer, sodat sy ernstig begin besin oor wat sy werklik vir haar lewe wil hê. Die daaglikse sleur wat sy so haat word dan ironies die belangrikste in haar lewe en sy veg met alles wat sy het om dit te behou. Hierdie boek beeld ’n antitese uit van die romantiese liefdesverhaal en bereik veral in die sensitiewe hantering van die gemoedslewe ’n hoogtepunt.Brink, André P. Rapport, 18 Junie 1978Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg Eerste uitgawe 1980Olivier, Gerrit. Standpunte. Nuwe reeks 145, Februarie 1980
In ’n Geslote boek neem die ek-verteller (Magdaleen) ’n oorsese pos aan as sosiale sekretaresse, waar sy met ’n wye verskeidenheid van mense te doen kry. Haar spesiale taak is om sakemanne en hulle gades op die lughawe te ontmoet, waarna hulle tuisgaan in die huis waar sy ook bly. Haar skerp waarnemingsvermoë tipeer en karakteriseer hierdie mense en hulle verhoudinge met mekaar op subtiele manier, maar eindelik is daar die besef dat elke mens tog maar ’n geslote boek bly. Magdaleen se verhouding met Paul Nolte groei subtiel. ’n Ervaring met terroriste waarin haar vriendin Medina in ’n bomontploffing sterf verander egter haar lewensbeeld en wêreld. Dit is die enigste boek wat handel oor die skrywer se ervarings in die diplomatieke diens.Mostert, Joan. Die Transvaler, 5 April 1982
Weerkaatsings word in die subtitel as ’n sprokie beskryf en die verhaal bevat dan ook verskeie subtiele verwysings na bekende sprokies. Daar is ook deurentyd spanning tussen die “werklikheid” waarin die karakters hulle bevind, en die “sprokieswêreld” waarin hulle veral in hulle gedagtes leef. Die heldin, die jong joernalis Lize Bergen, gaan na België, waar sy behandeling vir ’n seldsame bloedkwaal moet ondergaan. Hier neem ’n ryk sakeman, Charles Ashton, haar onder sy vlerke. Hy is ’n vrygesel wat as gevolg van ’n ongelukkige jeug ’n kluisenaarsbestaan voer. Sy gaan ’n geleentheidshuwelik met hom aan, maar hulle onvermoë om te kommunikeer strem hulle verhouding binne die huwelik. Dit verg ’n langsame groeiproses deur skadubeelde (“weerkaatsings”) vir hulle om eers die self en dan die ander persoon werklik te ontdek.Breytenbach, Kerneels. Die Burger, 15 November 1984Brink, André P. Rapport, 11 November 1984Roos, Henriette. Standpunte. Nuwe reeks 179, Oktober 1985Van Zyl, L.A. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 23 no. 2, Mei 1985 Hierdie boek word in vyf tale vertaal (waaronder deur haarself in Engels en deur ander ook in Hebreeus, Fins, Deens en Sweeds), vir skole voorgeskryf en oor die radio voorgelees. In 1986 publiseer die Deense tydskrif Allers en ’n Finse tydskrif dit as vervolgverhaal. Weerkaatsings verower in 1984 die Kaaplandse FAK Helpmekaar-prys vir Ontspanningsliteratuur. Koos Human neem die fragment ’n Tuiskoms vir Charles uit hierdie roman op in sy bloemlesing Willekeur.