Lionel Andrés "Leo" Messi Cuccittini (gebore 24 Junie 1987 in Rosario, Santa Fe-provinsie, Argentinië) is 'n Argentynse sokkerspeler. Hy speel as ’n voorspeler (aanvaller) vir Inter Miami in die Major League Soccer en is die kaptein van beide Inter Miami en die Argentynse nasionale span. Sy bynaam is La Pulga ("die vlooi") wat hy te danke het aan sy kort lengte en spoed. Hy word wêreldwyd beskou as een van die grootste sokkerspelers in die geskiedenis.

Messi het deur sy loopbaan ’n groot aantal belangrike sporttoekennings ontvang, onder andere agt Ballon d’Or-pryse, ses Europese Goue Skoene, en verskeie FIFA-pryse vir wêreldspeler van die jaar. In 2025 is hy deur die IFFHS (International Federation of Football History & Statistics) aangewys as die Aller Tye Beste Mansspeler. Met 45 trofeë is hy die mees bekroonde sokkerspeler ooit. Sy rekords sluit onder meer die meeste doele in ’n kalenderjaar (91), die meeste doele vir een klub (672 vir Barcelona), en die meeste bydraes tot doele in die FIFA Wêreldbeker in.

Messi het sy professionele debuut vir Barcelona op 17-jarige ouderdom gemaak in 2004. Hy het gou ’n belangrike speler geword en in die 2008/09-seisoen het hy daartoe bygedra dat die klub La Liga, die Copa del Rey, die Supercopa de España, die UEFA Champions League, die Superbeker en die FIFA Klubwêreldbeker gewen het. Gedurende meer as ’n dekade by Barcelona het hy talle klubrekords verbeter en die span gelei tot tien ligatitels en vier Champions League-trofeë. Finansiële probleme by Barcelona het daartoe gelei dat Messi in 2021 na Paris Saint-Germain verhuis het, waar hy twee ligatitels gewen het. In 2023 het hy by Inter Miami aangesluit.

As ’n Argentynse internasionale speler is Messi die land se algehele topdoelskieter en die speler met die meeste wedstryde. Hy het ’n goudmedalje by die 2008 Olimpiese Spele gewen. Nadat hy in 2011 kaptein geword het, het hy Argentinië gelei na drie agtereenvolgende eindstryde, en uiteindelik na groot sukses deur die Copa América in 2021 en die Wêreldbeker 2022 te wen — Argentinië se eerste Wêreldbekertitel sedert die toernooi van 1986. Destyds was Argentinië se sterspeler Diego Maradona, en saam het hulle byna ’n goddelike status onder Argentynse ondersteuners. In 2024 het hy weer die Copa América gewen — sy derde groot titel met die nasionale span.

Tydens die Wêreldbekertoernooi van 2026 het hy die algehele rekord vir meeste doele in die geskiedenis van die Wêreldbeker opgestel deur Miroslav Klose se vorige rekord van 16 doele te oortref.

Buite die veld is Messi een van die wêreld se bekendste sportfigure. Hy is herhaaldelik aangewys as een van die hoogste betaalde sportlui ter wêreld deur Forbes en France Football. Hy is ook verskeie kere op Time se lys van die 100 invloedrykste mense.

Internasionale loopbaanstatistieke Vir die Argentynse nasionale sokkerspan: Jaar Kere uitgedraf Doelskoppe20055020067220071462008822009103201010220111342012912201376201414820158420161182017742018542019105202041202116920221418202388202411620255320261010Totaal206125

Verwysings

Bronnelys Simon Kuper: Barça: The rise and fall of the club that built modern football, Short Books, London 2022.

Eksterne skakels

Kategorie:Argentynse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1987 Kategorie:Spaanse sokkerspelers Kategorie:Lewende mense