Die nasionale vlag van Suid-Afrika is op 20 April 1994 in die Staatskoerant afgekondig en op 27 April 1994 amptelik in gebruik geneem. Die vlag is reghoekig en het ’n ewe groot rooi (bo) en blou (onder) horisontale band, wat deur ’n middelste groen band geskei word. Die groen band vertak in ’n horisontale Y-vorm, waarvan die twee bene in die hoeke aan die vlagpaal se kant eindig. Binne-in die twee groen bene is ’n swart driehoek, wat met goue strepe geskei word. Die rooi en blou band word deur wit strepe van die groen band geskei. Die bane aan die wapperkant het ’n verhouding van 5:1:3:1:5.

Die nuwe vlag van Suid-Afrika is in Maart 1994 deur die destydse Suid-Afrikaanse staatsheraldikus Frederick Brownell ontwerp en aan die begin van die algemene verkiesing van 1994 goedgekeur. Die nasionale vlag is gekies om die land se nuwe demokrasie aan die einde van apartheid te simboliseer en het die vlag vervang wat van 1928 af gebruik is. Met die einde van apartheid was daar ’n algemene gevoel dat die voormalige nasionale vlag – bekend as Oranje, Blanje, Blou weens sy kleure – vervang moes word as gevolg van sy rassistiese konnotasies in die oë van baie Suid-Afrikaners. Die ou vlag word vandag dikwels óf as ’n simbool van Afrikanernasionalisme of as ’n simbool van apartheid beskou.

In die soeke na ’n nuwe vlag is die publiek ingespan om aan ’n wedstryd deel te neem, maar geen van die ontwerpe is deur die Nasionale Simbolekommissie goedgekeur nie. Toe die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika nader, is ’n ontwerp van Frederick Brownell tydelik aangeneem en net sewe dae voor dié geleentheid aan die publiek bekendgestel. Die reaksies was só positief dat die tydelike vlag amptelik as nasionale vlag in die grondwet van Suid-Afrika, Hoofstuk 14 se Bylae 1 – Nasionale Vlag (bl. 129), ingeskryf is. Gesien in die lig van die probleme wat Suid-Afrika in sy geskiedenis beleef het, is die konsensus oor die nuwe nasionale vlag buitengewoon. Ten spyte van sy nuutheid het die vlag ’n uitstekende nasionale simbool geword. Byname vir die vlag sluit in die Seskleur en die Reënboogvlag.

Ontwerp Vlagkundige beskrywing duimnael|Die vlag wapper by ’n sportbyeenkoms in 2009 op die Sydney-krieketveld Die nasionale vlag word in die grondwet van Suid-Afrika, Hoofstuk 14 se Bylae 1 – Nasionale Vlag (bl. 129), soos volg beskryf:

Die nasionale vlag is reghoekig, en is een en ’n half maal so lank as wat dit breed is. Dit is swart, goud, groen, wit, rissierooi en blou. Dit het ’n groen Y-vormige baan wat een vyfde van die breedte van die vlag is. Die middellyne van die baan strek van die boonste en onderste hoeke naas die vlagpaal, sluit in die middel van die vlag by mekaar aan en strek daarvandaan horisontaal na die middel van die wapperrand. Die groen baan is bo en onder wit gesoom en na die vlagpaal goud gesoom. Elke soom is een vyftiende van die wydte van die vlag. Die driehoek naas die vlagpaal is swart. Die boonste horisontale baan is rissierooi en die onderste horisontale baan is blou. Hierdie bane is elk ’n derde van die breedte van die vlag.

Simboliek Die ontwerp en kleure is ’n samevatting van hoofelemente uit Suid-Afrika se vlaggeskiedenis. Drie van die vlag se kleure (rooi, wit en blou) is ontleen aan vroeëre vlae van die land en kan beskou word as ’n verteenwoordiging van die Nederlandse en Britse vlagtradisies in Suid-Afrika. Groen is gedurende die 19de eeu in die Transvaalse Vierkleur (1857) vir die eerste keer in gebruik geneem, terwyl die nasionale vlag van die Boererepubliek Goosen (1882) ’n swart streep daarin gehad het. Geel/goud word saam met groen gereeld in die Suid-Afrikaanse sportkonteks gebruik. Daarvolgens is geel/goud en groen die nasionale sportkleure van Suid-Afrika en word onder andere deur die nasionale spanne in (genoem word die “groot drie” ) sokker (Bafana-Bafana en Banyana-Banyana), krieket (Proteas) en rugby (Springbokke) gebruik. Saam met die vlag van Suid-Soedan is die vlag van Suid-Afrika een van net twee vlae wêreldwyd wat ses verskillende kleure in sy hoofontwerp het (dit sluit skakerings van een kleur in ’n vlag uit). Daar is geen amptelike simboliek aan die vlagkleure verbonde nie. Drie van die vlag se kleure (rooi, wit en blou) kom van die vlae van die twee Boererepublieke en die Union Jack in die middel van die ou landsvlag, en die ander drie kleure (swart, groen en goud) kom van die vlag van die ANC (wat die vernaamste versetbeweging teen die rassistiese regering was). Die groen Y-vorm beteken dat Suid-Afrika as een nasie die toekoms moet ingaan, of dat die hede en die verlede saamvloei.

Ontwerp Met die aanvang van die nuwe regering in 1994 het Suid-Afrika ook ’n nuwe vlag gekry om die nuwe verenigde nasie te simboliseer. Die vlag is ontwerp deur Frederick Brownell, destydse staatsheraldikus van Suid-Afrika. Hy het volgens eie bewerings ook die vlag van Namibië ontwerp nadat dit op 21 Maart 1990 van Suid-Afrika onafhanklik geword het.

350px|senter|Konstruksietekening

Kleure Die kleurskema word hieronder gelys:

KleurskemaGroenSwartWitGeelRooiBlou Pantone 3415 c 1235 c 179 c Reflex blue c RGB-kleurmodel 0-124-89 0-0-0 255-255-255 252-181-20 226-61-40 12-28-140 CMYK C100-M0-Y28.23-K51.37 C0-M0-Y0-K100 C0-M0-Y0-K0 C0-M28.17-Y92.06-K1.18 C0-M73.01-Y82.3-K11.37 C91.43-M80-Y0-K45.1 Heksadesimaal 007C59 000000 FFFFFF FCB514 E23D28 0C1C8C Tekstielkleur CKS 42 c Spektrumgroen CKS 401 c Blou-swart CKS 701 c Nasionale vlagwit CKS 724 c Goudgeel CKS 750 c Chilli-rooi CKS 762 c Nasionale vlagblou

Geskiedenis Tot 1902 Die ná die Boere se Groot Trek in Transvaal gestigte Zuid-Afrikaansche Republiek het ’n vierkleurige vlag met die bynaam Vierkleur gebruik. Die vlag het drie horisontale bane in rooi, wit en blou gehad, soos die vlag van Nederland, en in die vlagpaalkant ’n groen vertikale baan gehad. Dit is vanaf 1857 tot 1874, weer vanaf 1875 tot 1877 en dan vanaf 1881 tot 1902 gebruik. Onder President Thomas François Burgers is vanaf 1874 tot 1875 die Burgers Flag (of Kruisvlag) gebruik, wat ’n rooi Andreaskruis met wit fraiings op ’n blou veld vertoon. Ná die republiek se nederlaag tydens die Tweede Vryheidsoorlog is in die Britse Transvaalkolonie ’n blou vaandel gebruik. Dit het in die wapperkant ’n wit skyf met ’n rustende leeu in ’n veldlandskap vertoon.

’n Ander Boererepubliek, die Oranje-Vrystaat, het vanaf 1857 tot 1902 ’n vlag met sewe bane in wit en oranje (beginnende met wit), met die Nederlandse vlag (rooi-wit-blou) in die skildhoek gebruik. Ná die verowering deur die Britte is ook hier, in die Oranjerivierkolonie, ’n blou vaandel met ’n springbok op ’n wit skyf in die wapperkant ter onderskeiding gebruik.

1902–1910 Ná die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 en die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is die Britse vlag gebruik as die vlag van die Unie. Vir gebruik op see is blou en rooi Britse vaandels gebruik, met die wapenskild uit die landswapen om hulle te differensieer. Hulle is nie bedoel as die nasionale vlag nie maar as handelsvlag en diensvlag ter see, maar in werklikheid is veral die rooi variant as ’n nieamptelike nasionale vlag beskou.

1910–1928 Toe die Unie van Suid-Afrika in 1910 as deel van die Britse Ryk gestig is, was die Union Jack die enigste vlag wat amptelike status geniet het. Vir gebruik op see is die blou en rooi Britse vaandels gebruik, met Suid-Afrika se landswapen daarop om hulle van die gewone vaandels te onderskei. ’n Nuwe wapen is in September dieselfde jaar ontwerp en lasbriewe van die admiraliteit is in Desember uitgereik wat die gebruik van die wapen op ’n rooi vaandel goedgekeur het. Alhoewel die vlag vir gebruik op see bedoel was, is die Suid-Afrikaanse rooi vaandel, soos in ander kolonies en heerskappye van die Britse Ryk, op land as ’n de facto nasionale vlag gebruik. In 1912 is ’n koninklike lasbrief uitgereik waarvolgens die Suid-Afrikaanse rooi vaandel verander is om die wapen op ’n wit skyf te plaas, aangesien ’n reël in die Admiralty Flag Book voorgeskryf het dat die wapen op ’n wit skyf geplaas moes word indien een kleur van die wapen met die veld van die vaandel ooreenstem. Na bewering het Louis Botha in 1915 die Suid-Afrikaanse rooi vaandel ná die verowering van Duits-Suidwes-Afrika as deel van die Suidwes-Afrika-veldtog in Windhoek gehys. Die rooi vaandel is glo soms op regeringsgeboue gehys en die blou vaandel by Suid-Afrika se verteenwoordigende kantore in die buiteland. Die Suid-Afrikaanse rooi vaandel was nóg onder die Anglo-Afrikane nóg onder die Afrikaner-gemeenskap gewild. Afrikaners het dit verwerp omdat die vlag die Union Jack gebruik het en Anglo-Afrikaners omdat dit nie die Union Jack alleenlik was nie. Die Suid-Afrikaanse rooi vaandel het nie langer as die nieamptelike vlag gedien nie, maar is tot in 1951 as handelsvlag op see gebruik. Handelskeepvaartwet 1951; Staatskoerant nr 6085, gedateer 25 Julie 1958

In 1925, ná die algemene verkiesing van 1924 waarin Barry Hertzog as die eerste eerste minister van die Nasionale Party verkies is, is deur Daniël François Malan aan die parlement ’n wet vir ’n nuwe vlag voorgelê, waarvan Malan gehoop het dat dit ’n “suiwer vlag” sonder die Union Jack is. Debatte oor ’n verandering aan die vlag het tot drie jaar se ingewikkelde onderhandelinge gelei, aangesien die Afrikaners as nasate van Boere wat in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het, die Union Jack in die vlag as onvanpas verwerp het, terwyl die Anglo-Afrikane gevrees het dat die stemmeerderheid van Afrikaners besig was om simbole van die Britse Ryk te verwyder; en die Natalprovinsie het met afstigting gedreig indien die Union Jack verwyder sou word. Ná drie jaar is ’n kompromie bereik waarvolgens die nuwe vlag ’n kleiner weergawe van die Union Jack sou vertoon en nie ’n vaandel is nie. Die Union Nationality and Flags Act 1928 het ook bepaal dat die nuwe vlag van Suid-Afrika en die Union Jack saam as amptelike vlae van Suid-Afrika sou dien.

1928–1994

duimnael|Oranje, Blanje, Blou, die voormalige vlag van Suid-Afrika, 1928 tot 1994 In 1925 het Suid-Afrikaners begin dink aan ’n eie vlag vir die Unie van Suid-Afrika. Hierdie idee het momentum verkry onder die regering van Barry Hertzog, wat ’n eie Suid-Afrikaanse identiteit sonder ’n Britse invloed as ’n politieke ideaal voorgestaan het. Daar was felle teenstand deur sommige mense wat die Union Jack wou hê. In Durban het 15 000 mense amper oproerig geraak in hul teenstand teen ’n nuwe vlag. Betogings van ondersteuners van die Union Jack het sedert 1925, met die indiening van ’n wetsontwerp vir die behoud van die Union Jack, ook momentum verkry. In reaksie het die regering professor Blommaert in bevel van ’n sentrale vlagkomitee aangestel om aanbevelings te versamel. Hul verslag kon eers in 1927 ingedien word, waarin hulle ’n vlag, soortgelyk aan dié van prins Willem van Oranje met ewe breë horisontale bande in oranje, wit en blou voorgestel het. Hierdie vlag was juis die agtergrond van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap. Die vlag word ook die Van Riebeeckvlag of die Prinsevlag genoem. In die middel van die wit baan was die vlag van die Oranje-Vrystaat, wat vertikaal afhang. Aan weerskante daarvan en vas daarteen is die Union Jack, soos dit in 1927 bestaan het, horisontaal en in die rigting van die vlagpaal; die Vierkleur van die Zuid-Afrikaansche Republiek horisontaal en weg van die vlagpaal af. Artikel 5 van Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet no. 32 van 1961. In hierdie reëling geniet elkeen van die miniatuurvlae gelyke voorrang.