duimnael|294px|Die Groot Sfinks en die piramides van Giza is van die maklikste herkenbare simbole van Antieke Egipte. duimnael|294px|'n Kaart van Antieke Egipte.
Antieke Egipte was die beskawing aan die Nylrivier, waar die hedendaagse Egipte lê, tussen omstreeks 3100 v.C. en die verowering van Egipte deur Alexander die Grote in 332 v.C. Dit was een van die wêreld se ses beskawings wat in die 31ste eeu v.C. onafhanklik ontstaan het, en wel ná die vereniging van Bo- en Benede-Egipte onder die eerste farao.Dodson (2004) bl. 46 Die geskiedenis van Antieke Egipte strek oor 'n paar stabiele koninkryke: die Ou Ryk van die Vroeë Bronstydperk, die Middelryk van die Middel-Bronstydperk en die Nuwe Ryk van die Laat Bronstydperk. Hulle is afgewissel met tydperke van relatiewe onstabiliteit wat die "Oorgangstydperke" genoem word.
Egipte het die hoogtepunt van sy mag tydens die Nuwe Ryk bereik, in die tyd van die Ramses-farao's, toe dit net so sterk soos die Hetitiese, Assiriese en Mitanni-ryk was. Daarna het dit geleidelik verswak. Egipte is in die Derde Oorgangstydperk en die Laat Tydperk deur verskeie ander volke binnegeval of verower, soos die Kanaäniete/Hyksos, Libië, Nubië, Assirië, Babilonië en Antieke Griekeland. Ná die dood van Alexander die Grote het een van sy generaals, Ptolemeus Soter, hom as heerser van Egipte gevestig. Dié Griekse Ptolemeïese Dinastie het tot 30 v.C. oor Egipte regeer, toe dit onder Cleopatra deur die Romeinse Ryk verower is en 'n Romeinse provinsie geword het.Clayton (1994) bl. 217
Die sukses van die Antieke Egiptiese beskawing is deels te danke aan die land se vermoë om by die toestande van die Nylriviervallei aan te pas. Die voorspelbare oorstromings en beheerde besproeiing van die vrugbare vallei het groot oeste tot gevolg gehad, en dit het weer gelei tot 'n digter bevolking, sosiale ontwikkeling en uitgebreide kultuur. Met ekstra bronne tot sy beskikking kon die regering hom wend tot mineraalontginning in die vallei en omringende woestynstreke, en dit het ook die ontwikkeling van 'n vroeë skryfstelsel, die organisering van kollektiewe bouwerk en landbouprojekte, handel met ander streke en die opbou van 'n militêre mag moontlik gemaak. Dit alles was onder beheer van farao's met behulp van 'n uitgebreide godsdiensstelsel.James (2005) bl. 8Manuelian (1998) bl. 6–7
Onder die baie prestasies van Antieke Egipte was 'n stelsel wat die bou van enorme piramides, tempel en obeliske moontlik gemaak het, asook 'n wiskundestelsel, 'n praktiese en doeltreffende medisynestelsel, besproeiing- en landboustelsels, die eerste bekende skepe,Ward, Cheryl. "World's Oldest Planked Boats", in Archaeology (Vol. 54, No. 3, Mei/Junie 2001). Archaeological Institute of America glastegnologie, nuwe vorme van letterkunde en die eerste bekende vredesverdrag (met die Hetiete).Clayton (1994) bl. 153
Antieke Egipte het 'n blywende nalatenskap gehad. Sy kuns en argitektuur is wyd nageboots en sy oudhede is tot in al die uithoeke van die aarde versprei. Sy monumentale ruïnes inspireer reisigers en skrywers al eeue lank. 'n Nuutgevonde respek vir oudhede en uitgrawings in die vroeë moderne tyd het gelei tot Egiptologie (die wetenskaplike ondersoek van die Antieke Egiptiese beskawing) en 'n groter waardering vir sy kulturele nalatenskap.James (2005) bl. 84
Geskiedenis
Die Nyl was vir die grootste deel van die menslike geskiedenis die lewenslyn van die streek.Shaw (2002) bl. 17, 67–69 Die vrugbare oorstromingsgebied van die rivier het mense die geleentheid gegee om 'n landbou-ekonomie en 'n meer gesofistikeerde, gesentraliseerde gemeenskap te skep.Shaw (2002) bl. 17 Nomadiese jagters het aan die einde van die Middel-Pleistoseen, sowat 120 000 jaar gelede, in die Nylriviervallei gaan woon. Teen die laat Paleolitikum het die klimaat van Noord-Afrika al hoe warmer en droër geword, en die mense het om die Nyl begin saamtrek.
Predinastiese Tydperk duimnael|200px|links|'n Tipiese Naqada II-pot wat met bokke versier is (Predinastiese Tydperk). In Predinastiese en Vroegdinastiese tye was die Egiptiese klimaat baie minder droog as vandag. Groot dele van die land was bedek met savanne en het troppe hoefdiere gehuisves. Plante en diere was baie meer volop in al die streke. Jag sou belangrik gewees het vir die vroeë Egiptenare, en dit is ook die tyd waarin diere vir die eerste keer mak gemaak is.
Teen die helfte van die 6de millennium v.C. het klein stamme wat in die Nylvallei gewoon het, ontwikkel in 'n reeks kulture wat landbou en veeteelt beoefen het. Hulle het ook potte en persoonlike artikels gemaak soos kamme, armbande en krale. Die grootste van hierdie vroeë kulture in Bo-Egipte (die suide) was die Badari, wie se oorsprong waarskynlik in die Westelike Woestyn lê; hulle is bekend vanweë hul keramiekwerk, steengereedskap en koperartikels van hoë gehalte.Hayes (1964) bl. 220
Die Badari is opgevolg deur die Amratiese (Naqada I) en die Gerzeh-kultuur (Naqada II),Childe, V. Gordon (1953), New Light on the Most Ancient Near East, (Praeger Publications) wat verantwoordelik was vir 'n aantal tegnologiese vorderings. Reeds in die Naqada I-tydperk het predinastiese Egiptenare obsidiaan van Ethiopië af ingevoer om lemme en ander voorwerpe te maak.Barbara G. Aston, James A. Harrell, Ian Shaw (2000). Red. Paul T. Nicholson en Ian Shaw. "Stone," in Ancient Egyptian Materials and Technology, Cambridge, 5–77, bl. 46–47. Uit die Naqada II-tydperk is bewyse gevind van kontak met die Midde-Ooste, veral Kanaän en die Bublos-kus.Patai, Raphael (1998), Children of Noah: Jewish Seafaring in Ancient Times (Princeton Uni Press) Oor 'n tydperk van sowat duisend jaar het die Naqada-kultuur uit 'n paar klein boerderygemeenskappe ontwikkel tot 'n magtige beskawing wie se leiers in algehele beheer van die mense en bronne van die Nylvallei was. Die Naqada III-leiers het 'n mag gevestig wat by Hierakonpolis, en later by Abydos, gesentreer was en hul beheer oor Egipte noordwaarts met die Nyl langs uitgebrei.Shaw (2002) bl. 61 Hulle het ook handel gedryf met Nubië in die suide, die oasisse van die Westelike Woestyn in die weste en die kulture van die Oos-Mediterreense gebied en die Nabye Ooste in die ooste. In Nubiese koninklike grafte is die oudste bekende voorbeelde van Egiptiese dinastiese simbole gevind, soos die wit kroon van Bo-Egipte en die valk.
Die Naqada-kultuur het 'n uiteenlopende hoeveelheid goedere vervaardig wat die toenemende mag en rykdom van die elite weerspieël het, sowel as persoonlike artikels soos kamme, beeldjies, geverfde potte, klipvase en juwele van onder meer goud en ivoor. Hulle het ook 'n keramiekglasuur, bekend as "faience", ontdek wat tot in die Romeinse Tydperk gebruik is om bekers, gelukbringers en beeldjies te versier. In die laaste deel van die Predinastiese Tydperk het die Naqada-kultuur skrifsimbole ontwikkel wat eindelik gelei het tot 'n volledige stelsel hiërogliewe vir die skryf van Egipties.Allen (2000) bl. 1
Vroegdinastiese tydperk (c. 3050–2686 v.C.) Die Vroegdinastiese Tydperk het omtrent saam met die vroeë Sumereries-Akkadiese beskawing van Mesopotamië en antieke Elam bestaan. Die Egiptiese priester Manetho van die 3de eeu v.C. het die lang lyn farao's van die eerste een tot met sy tyd ingedeel in 31 dinastieë, 'n stelsel wat vandag nog gebruik word.Clayton (1994) bl. 6 Hy het sy amptelike geskiedenis begin met Menes, wat vermoedelik die twee ryke Bo- en Benede-Egipte omstreeks 3100 v.C. verenig het.Shaw (2002) bl. 78–80
duimnael|Die Narmer-palet beeld die vereniging van die Twee Lande uit.Robins (1997) bl. 32 Die oorgang van die twee ryke in een staat het waarskynlik geleideliker plaasgevind as wat Egiptiese skrywers dit beskryf, en daar is geen rekord van Menes uit sy tyd nie. Baie geleerdes glo Menes was dalk farao Narmer, wat uitgebeeld word met koninklike drag op die seremoniële Narmer-palet, waarop die vereniging van die Twee Lande uitgebeeld word.Clayton (1994) bl. 12–13 In die Vroegdinastiese Tydperk, omstreeks 3150 v.C., was die mag van die eerste farao's by Memphis gesentreer, van waar hulle die werkmag en landbou in die vrugbare Nyldelta kon beheer, sowel as die belangrike handelsroete na die Levant. Die toenemende mag en rykdom van die eerste farao's is duidelik uit hul versierde mastabagrafkelders en kultusgeboue by Abydos, wat gebruik is om die vergoddelikte farao ná sy dood te vereer.Shaw (2002) bl. 70 Die koningskap wat deur die farao's ontwikkel is, het staatsbeheer oor die land, arbeid en bronne gewettig – wat belangrik was vir die oorlewing en groei van Antieke Egiptiese beskawings.
Ou Ryk (2686–2181 v.C.) duimnael|links|Die Giza-piramides. duimnael|200px|'n Standbeeld van Chafra. Groot vordering is tydens die Ou Ryk gemaak wat betref argitektuur, kuns en tegnologie. Dit was die resultaat van verhoogde landbouproduktiwiteit, 'n groter bevolking en waarskynlik 'n goed ontwikkelde sentrale administrasie.James (2005) bl. 40 Van die grootste prestasie van Antieke Egipte kom uit die Ou Ryk: die Giza-piramides en die Groot Sfinks. Belasting is ook ingevorder, besproeiingsprojekte gekoördineer om oeste te vergroot, boere is opgeroep vir bouprojekte en 'n regstelsel is gevestig om vrede en orde te handhaaf.Shaw (2002) bl. 102
Saam met die opkoms van 'n belangrike en sentrale administrasie het 'n nuwe klas opgevoede skribas en amptenare ontstaan wat landgoedere van die farao gekry het as betaling vir hul dienste. Farao's het ook geld gegee vir hul dodekultusse en plaaslike tempels om te verseker dié instellings het genoeg geld om die farao ná sy dood te aanbid. Geleerdes glo vyf eeue van dié praktyke het die ekonomiese mag van die farao's geleidelik gekelder en daartoe gelei dat die ekonomie nie meer 'n groot gesentraliseerde administrasie kon hanteer nie.Shaw (2002) bl. 116–7 Namate die farao's se mag afgeneem het, het streeksgoewerneurs (nomargs) die oppergesag van die farao's begin bevraagteken. Dit, tesame met kwaai droogtes tussen 2200 en 2150 v.C., het waarskynlik gelei tot 'n 140 jaar lange tydperk van hongersnood en onmin bekend as die Eerste Oorgangstydperk.Clayton (1994) bl. 69
Eerste Oorgangstydperk (2181–1991 v.C.) Nadat Egipte se sentrale regering aan die einde van die Ou Ryk ineengestort het, kon die administrasie nie meer die land se ekonomie onderhou of stabiliseer nie. Streeksgoewerneurs kon nie meer op die farao's staatmaak in tye van krisis nie, en voedseltekorte en politieke twiste het gelei tot hongersnood en kleinskaalse burgeroorloë.
Plaaslike leiers, wat niks aan die farao's verskuldig was nie, het hul nuwe onafhanklikheid gebruik om 'n vooruitstrewende kultuur in die provinsies te vestig. Namate die provinsies beheer oor hul eie bronne geneem het, het hulle ryker geword; dit word weerspieël deur groter en beter begrafnisse onder alle sosiale klasse.Shaw (2002) bl. 120 Provinsiale ambagsmanne het kulturele motiewe wat voorheen tot die koninklikes beperk was, gebruik en aangepas. Skribas het letterkundige style ontwikkel wat die optimisme en oorspronklikheid van die tydperk weerspieël.Shaw (2002) bl. 146
Plaaslike leiers het met mekaar begin meeding om grondgebied en politieke mag. Teen 2160 v.C. het heersers in Herakleopolis Benede-Egipte in die noorde beheer, terwyl 'n mededingende klan van Thebe, die Intefs, beheer in Bo-Egipte in die suide oorgeneem het. Namate die Intefs magtiger geword het en hul beheer noordwaarts uitgebrei het, het 'n botsing tussen die twee dinastieë onafwendbaar geword. Omstreeks 2055 v.C. het die noordelike Thebaanse magte onder Mentoehotep II eindelik die Herakleopolis-heersers verslaan en die Twee Lande herenig. Dit het 'n tydperk ingelui van ekonomiese en kulturele vernuwing bekend as die Middelryk.Clayton (1994) bl. 29
Middelryk (2134–1690 v.C.) duimnael|200px|Amenemhat III, die laaste groot heerser van die Middelryk.