Ds. Petrus Stefanus Zacharias (oom Pietie) Coetzee (distrik Boshof, Oranje-Vrystaat, 25 Desember 1885 – Bloemfontein, 3 September 1975) was 'n leraar in die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Ds. Coetzee was 'n leier in die Transvaalse sowel as die Vrystaatse Kerk, waarin hy beskryf is as "by uitstek die eerbiedwaardige, geestelike leier van sy Kerk en volk". Sedert 1956 is hy drie keer verkies as moderator van die Vrystaatse Sinode, nadat hy jare vantevore al aktuarius en skriba van die Vrystaatse en later aktuarius van die Transvaalse Sinode was. Hy het lank sitting in die Federale Raad van Kerke gehad en tydens die viering in 1958 van die vyftigjarige jubileum van dié liggaam was hy die voorsitter daarvan. In 1962 word hy ook assessor van die eerste Algemene Sinode. In al die gemeentes wat hy bedien het, speel hy 'n leidende rol in kerklike en kulturele aangeleenthede. Aan die Witwatersrand dien hy in een stadium in 35 liggame en in die Vrystaat in talle sinodale kommissies. Tydens sy verblyf aan die Rand het hy nader kennisgemaak met die besonderse behoeftes van die Afrikaner-intrekkers in dié kosmopolitiese stad. In sy pastorie te Braamfontein is onder meer die idee van die Randse Armesorgraad gebore, 'n liggaam wat jare lank 'n geweldige groot rol gespeel het in die versorging na siel en liggaam van die behoeftige Afrikaners. Tydens sy verblyf daar was hy ook aktuaris van die Transvaalse Sinode.

Vir sy groot werk vereer die Universiteit van Stellenbosch hom in 1965 met 'n eredoktorsgraad in die teologie en in 1966 volg die Vrystaatse Universiteit met 'n eredoktorsgraad in die lettere en wysbegeerte (D.Phil.). Van die groot geleenthede waar hy opgetree het, was die inhuldiging van die eerste twee staatspresidente.

Herkoms duimnael|Ds. Coetzee het die diens in die Bosmanstraatse NG kerk in Pretoria gelei toe staatspresident C.R. Swart die eed van getrouheid afgelê het kort voor hy ingehuldig is as die Republiek van Suid-Afrika se eerste staatspresident. Petrus Coetzee is op die plaas Blaauwboschfontein in die distrik Boshof in die Vrystaat gebore en het die naam gedra van sy grootvader aan grootmoederskant, P.S.Z. Fourie, die eerste landdros van Boshof. Hy was die tweede seun van die gesiene ouerpaar wat ook drie dogters gehad het. Sy eerste skoolonderrig het hy op sy vader se plaas, Bosfontein, ontvang. Terwyl hy op Boshof verder skoolgegaan en die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitgebreek het, het hy as 14-jarige penkop by die Boshof-Boerekommando aangesluit. Sy onverskrokkenheid in gevegte het dadelik die oog gevang van genl. C. Badenhorst, onder wie se bevel die Boshof-kommando gestaan het. Die generaal het aan hom die belangrike taak van spioen en rapportryer toevertrou. In hierdie hoedanigheid het hy telkemale vertroulike rapporte en boodskappe tussen genls. Badenhorst, Hertzog en De Wet oorgebring. Hierdie kennismaking met genls. Hertzog en De Wet het die grondslag vir 'n hegte vriendskapsband in naoorlogse tye gelê. Tot sy bittere spyt moes hy ook eindelik die wapen op 'n plaas net ten weste van Brandfort neerlê. Dié pynlikheid hiervan, soos hyself vertel het, is in Mei 1961 tot die laaste greintjie toe uitgewis, skryf J.A. Bosch, "toe dit sy heerlike voorreg was om die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika, C.R. Swart, met sy verkiesing op sy plaas net ten ooste van Brandfort te gaan gelukwens".

Opleiding duimnael|links|upright|Ds. Coetzee as jong predikant op Odendaalsrus. Ná die vredesluiting in 1902 is hy na Franschhoek vir sy verdere skoolopleiding gestuur. Spoedig was sy skooljare agter die rug toe hy in 'n betreklike kort tyd skoolhoër en matriek afgelê het, en is hy na die Victoria-kollege op Stellenbosch vir sy B.A.-graad. Ongelukkig moes hy op hierdie tydstip sy studie weens 'n geldskaarste onderbreek en hy het toe op Reddersburg en later Winburg gaan skoolhou. Daar het hy wiskunde doseer en een van sy eerste leerlinge was Charles Robberts Swart, wat op 13-jarige leeftyd sy matriekeksamen geslaag het. Terwyl hy op Winburg onderwys gegee het, ontmoet hy 'n musiekonderwyseres, Ellen Bredell, met wie hy later in die eg verbind is. Op haar beurt het sy weer musiekonderrig aan 'n minlike dogter, Nellie de Klerk, 'n skoolmaat van C.R. Swart, gegee. Nellie het later die eggenote van C.R. Swart geword. Daar het dus, sedert vroeë tye, 'n hegte vriendskapsband tussen die gesinne Coetzee en Swart bestaan. As onderwyser het Coetzee groot sukses behaal en is selfs deur die uitvoerende raad van die OVS versoek om in die Villiers-kommissie van ondersoek na tegniese onderwys te dien.

Hy besluit egter om sy Heer en volk van die kansel af te dien, en met dié doel voor oë keer hy in 1910 terug na Stellenbosch. Die student Coetzee het met hart en siel sy studie aangepak en sy admissie-eksamen in 1913 cum laude afgelê. Intussen is diamante op die ou familieplaas ontdek en dit stel hom, kort ná sy huwelik, in staat om na Europa te vertrek, waar hy verder aan die Vrye Universiteit van Amsterdam studeer het onder die vermaarde hoogleraars dr. Kuyper en Bavinck. Daar was hy met sy doktorale studie in die teologie besig toe die Eerste Wêreldoorlog 'n einde daaraan maak en hy na Suid-Afrika moet terugkeer.

Odendaalsrus links|duimnael|Die sinkkerk van die gemeente Odendaalsrus, waarin ds. Coetzee die Woord van 1916 tot einde 1919 bedien het. duimnael|Ds. P.S.Z. Coetzee en sy eerste vrou, gebore Ellen Bredell. Ná haar dood in 1936 is hy getroud met die weduwee van ds. D.P. Cillié. Lg. was sy boesemvriend en leraar van die NG gemeente Johannesburg van 1920 tot '26 en van '29 tot '33 (toe hy oorlede is in die amp). Ds. Coetzee het in 1915, die jaar waarin hy na Suid-Afrika teruggekeer het, sy proponentseksamen afgelê en hulpprediker in die moedergemeente op Stellenbosch geword, waar hy in Januarie 1916 deur 'n boesemvriend, ds. D.P. Ackerman van Bethlehem, georden is tot leraar van die NG Kerk. Nadat hy die beroep na Odendaalsrus in April daardie jaar aangeneem het, het Jannie Delport, Pieter Lourens en Johannes Swart ds. Coetzee en sy gevolg in April 1916 op Ventersburgweg, die latere Hennenman, gaan afhaal. Die leraar en sy vrou is gasvry en gulhartig in hul nuwe werkkring ontvang. Op 15 April 1916 is die nuwe leraar, die derde in die toe 11 jaar oue gemeente se bestaan, bevestig. Aan dié plegtigheid het deelgeneem ds. A.J. Malherbe van Boshof, wat ook die bevestigingsrede gehou het, en di. W.J. Klomp van Kroonstad, C.J. Pienaar van Bultfontein, C.J. van Niekerk van Edenville, C.R. Ferreira van Koppies en J.J. Krige van Bothaville.

Weens die Rebellie was daar verdeeldheid in die gemeente en tweedrag onder lidmate. Daarvan was ds. Coetzee terdeë bewus. Hy het gevolglik sy intreepreek daarop gemik deur die volgende Sondag 2 Korintiërs 13:11 as teks te neem: "Voorts, Broeders! Zijt blijde, wordt volmaakt, zijt getroost, zijt eensgezind, leeft in vrede; en de God der liefde en des vredes zal met u zijn." Dit was 'n direkte aanval op die verdeeldheid in die gemeente en het dan ook geseënde vrugte afgewerp. Met die huisbesoek het ds. Coetzee dit erns gemaak en ook baie moeite gehad om gemeentelede wat weens politieke geskille uitmekaargespat het, weer bymekaar te kry. Deur gebed, takt en volharding het hy daarin geslaag om die gemeente weer tot 'n hegte eenheid saam te snoer. Bidure en 'n Bybelklas het van krag tot krag gegaan onder sy besielende leiding.

Gedurende sy dienstyd hier het die kerkraad besluit om die "Zaal" van die heer Williams vir die kerk aan te koop. Dit is dan ook gedoen vir £815.51. Oorspronklik wou hulle hierdie saal in 'n skoolkoshuis omskep, maar het later daarteen besluit. Dit sou dien as 'n kerksaal, waaraan die gemeente op daardie stadium 'n behoefte gehad het. 'n Donker tyd het vir die pastorie en gemeente aangebreek in Oktober 1918 toe die gevreesde griep oor die land toegeslaan het, en Odendaalsrus nie verbygegaan het nie. Honderde mense moes in die bed bly weens die siekte. Die pastorie self is tot 'n hospitaal omskep en siekes het tot in die sitkamer gelê. Kosbare lewens is by tientalle gedurende hierdie tyd afgemaai. Die dag met die eerste doopdiens ná die griep was nie maklik te vergeet nie, want net vroue in swart geklee het voor die kansel gestaan, weduwees weens die gevreesde siekte.

Wat die onderwys betref, het ds. Coetzee 'n leidende aandeel geneem in die totstandkoming van 'n koshuis, die vooruitgang van die skool en die eerste matriekklas wat hy in die lewe geroep het. Hy het selfs nege maande lank die rol van onderwyser vertolk. Ook het hy 'n leidende rol in die opheffing van sy volksgenote gespeel deur die kerklike barmhartigheidsdiens.

In Desember 1919 ontvang ds. Coetzee 'n beroep na Philippolis, en word gelei om die beroep te aanvaar na 'n vrugbare verblyf van drie en 'n half jaar in die gemeente. Hy verlaat 'n gemeente wat deur die Rebellie verdeeld was, as 'n eenheid, en 'n primêre skool as 'n sekondêre, met twee koshuise.

Philippolis duimnael|links|Ds. Coetzee was van 1920 tot 1925 Philippolis se derde NG leraar. Einde 1919 het ds. Coetzee die beroep na die NG gemeente Philippolis aangeneem, waar hy vroeg in 1920 bevestig is. Alhoewel die konsulent, ds. C. Jooste van Trompsburg, in die tussentyd, terwyl die gemeente vakant was ná die dood van die geliefde dr. Tobie Muller, waardevolle geestelike diens verrig het, het ds. Coetzee dadelik na sy aankoms grondige ondersoek na die Sondagskool, katkisasie, Bybelstudieklasse, buitedienste en die onderwys ingestel. Hy het besef dat hierdie terreine die slagaar van sy geestelike bearbeiding was. Onder sy leiding het die kerkraad 'n drastiese besluit na aanleiding van ontug geneem en pogings in werking gestel om dit uit die gemeentelike lewe te weer. So is byvoorbeeld besluit dat alle persone wat hul aan ontug skuldig maak, voortaan voor die volle Kerkraad sou verskyn. Die sielkundige uitwerking hiervan is deur die afname van ontugsake bewys. Deur sy toedoen is die baie moeilikhede betreffende Waterkloof uiteindelik vreedsaam opgelos.

Ds. Coetzee het deur sy prediking sy gemeente tot liefde en vrede aangespoor en dit was inderdaad ook die voorbeeld wat hy gestel het. Die gemeente Philippolis sal hom as die vurige en positiewe prediker onthou wat nie geskroom het om sonde by die naam te noem nie, aldus J.A. Bosch. "Deur besondere takt aan die dag te lê, het hy geweet hoe om sy gemeentelede vir 'n goeie saak in te span en, aan te spoor. Hy was bekend as die kinderliefhebber vir wie hy nooit 'n offer van tyd of krag te groot geag het nie. As gevolg van sy belangstelling in die onderwys en die opvoeding van die jeug was; hy gedurende sy verblyf die groot stukrag agter die vooruitgang van die plaaslike skool." Deur ds. Coetzee se toedoen is die eerste doelmatige koshuis, Ons Huis, daargestel. Dit het hom gegrief dat baie kinders net wag om die ouderdom te bereik waarop die skool verlaat kon word. Daarom het hy dikwels trae seuns en dogters van die huis af teruggebring skool toe. Hy het ook nie geaarsel om, wanneer dit nodig was, self weer as wiskunde-onderwyser in te spring nie. Talle persone wat hy tot die skool teruggedwing het, het wat later hoë posisies in die land beklee.

Ds. Coetzee was steeds bereid om sy offer van watter aard ook al, te bring. In 1922 toe die gemeente in 'n finansiële nood verkeer, het hy nie geaarsel om aan te beveel dat sy jaarlikse salaris met £50 verminder moes word nie. Sommige kerkraadslede het gewag gemaak van die "vertroue en liefdesband wat daar bestaan tussen die pastorie en die gemeente".

Edenburg duimnael|Die kerkraad van die NG gemeente Edenburg in ds. Coetzee se tyd. Hy sit voor in die middel.