Homo erectus ("regop mens") is ’n uitgestorwe hominienspesie wat regdeur die grootste deel van die Pleistoseen geleef het. Die vroegste fossiele bewyse dateer uit sowat 2 miljoen jaar gelede en die mees onlangse bewyse uit sowat 108 000 jaar gelede. Die spesimens is van die eerste herkenbare lede van die genus Homo.
Verskeie menslike spesies, soos H. heidelbergensis en H. antecessor het blykbaar uit H. erectus ontwikkel, en Neanderdallers, H. denisova en die moderne mens het op hulle beurt vermoedelik uit H. heidelbergensis ontwikkel.
H. erectus was die eerste menslike voorouer wat deur die hele Eurasië versprei het, van die Iberiese Skiereiland tot Java. Asiatiese bevolkings van H. erectus kon die voorouers gewees het van H. floresiensis en moontlik H. luzonensis. Die laaste bekende bevolking van H. erectus is H. e. soloensis van Java, sowat 117 000 tot 108 000 jaar gelede.
H. erectus het 'n moderner houding en liggaamsproporsies gehad en was die eerste menslike spesie met 'n plat gesig, prominente neus en moontlik 'n yl haarbedekking. Hoewel die spesie se breine groter as dié van sy voorouers was, het die kapasiteit grootliks gewissel na gelang van die bevolking. Dit lyk of die breine in vroeëre bevolkings vroeg in die kinderjare ophou ontwikkel het, wat daarop dui kinders was met geboorte in 'n groot mate selfonderhoudend en dat dit kognitiewe ontwikkeling deur hulle lewe beperk het. H. erectus was 'n roofdier aan die bopunt van die voedselketting; Op terreine is die oorblyfsels ontdek van mediumgroot tot groot diere, soos beeste of olifante. Dit lyk dus of hulle in groepe gejag het. Die spesie word verbind met die vroeë steengereedskapsbedryf en was vermoedelik die eerste menslike voorouer wat vuur gebruik, in groepe gejag en kos versamel het, beseerde en siek groepslede versorg het en moontlik op die see gevaar het. Hulle was dalk ook die vroegste beoefenaars van kuns, maar bewyse daarvoor is skaars.
Die mans en vroue was rofweg dieselfde grootte (dus met min geslagsdimorfie), wat kan dui op monogamie in ooreenstemming met algemene neigings onder primate. Die lengte het wel van 146-185 cm gewissel en gewig van 40-68 kg. Dit is onduidelik of H. erectus kon praat, hoewel al voorgestel is hulle het deur die een of ander prototaal gekommunikeer.
Taksonomie Ontdekking Die Nederlandse anatomis Eugène Dubois en sy span het in 1891 ’n menslike kopbeen op die eiland Java in Indonesië ontdek; hy het dit Pithecanthropus erectus genoem. Die spesie is nou bekend as H. erectus. Die vonds het bekend geword as die Javamens. Byna al die dele van die kopbeen het verlore geraak tydens die Tweede Wêreldoorlog, hoewel afgietsels nog bestaan.
thumb|240px|links|'n Kaart van die verspreiding van gereedskapgebruikers in die Middel-Pleistoseen. Deur die 20ste eeu het antropoloë gedebatteer oor die rol van H. erectus in die mens se evolusie. Vroeg in die eeu is vanweë nog ontdekkings op Java en by Zhoukoudian in China geglo die moderne mens het in Asië ontwikkel. Charles Darwin en ander het egter geglo die mens se vroegste voorouers kom uit Afrika. Hy het daarop gewys dat sjimpansees en gorillas, die mens se naaste lewende verwante, net in Afrika voorkom.
Van die 1950's tot die 1970's het verskeie fossiele vondste in Oos-Afrika bewys gelewer dat die oudste Homininae hier ontstaan het. Daar word nou geglo H. erectus is ’n afstammeling van vroeëre genera soos Ardipithecus en Australopithecus, of vroeë Homo-spesies soos Homo habilis of Homo ergaster. H. habilis en H. erectus het verskeie duisende jare saam bestaan en kan verskillende lyne van ’n gemeenskaplike voorouer wees.
Nog fossiele is later ontdek wat eers ander name gekry het, maar later herklassifiseer is as H. erectus, soos in September 1949 in Swartkrans, Suid-Afrika, en in 1961 in Tsjad, Noord-Afrika. Homo erectus georgicus is die subspesienaam wat soms gebruik word vir fossiele kop- en kakebene wat in Dmanisi, Georgië, ontdek is. Hoewel dit eers as ’n aparte spesie geklassifiseer is, val dit nou binne die spesie H. erectus.
Fossiele Fossiele wat ontdek is, is onder meer:
D2700 KNM ER 3733 Yuanmou-mens OH 9 KNM ER 992 KNM ER 3883 Daka Sangiran 4 Sangiran 2 Trinil 2 Ternifine 2-3 Sangiran 17 Pekingmens Madam Buya Hexian Ngandong 7 Dali NG 6
Evolusie
Daar is voorgestel dat H. erectus sowat 2 miljoen jaar gelede uit H. habilis ontwikkel het. Dit word egter betwis, omdat hulle minstens 'n halfmiljoen jaar saam bestaan het. Alternatiewelik kon 'n groep van H. habilis geïsoleer gewees het en het net dié groep in H. erectus ontwikkel (kladogenese).
Omdat die vroegste oorblyfsels van H. erectus in beide Afrika en Asië ontdek is (in Suid-Afrika van sowat 2,04 miljoen jaar gelede en in China van sowat 2,1 miljoen jaar gelede), word gedebatteer oor waar H. erectus ontwikkel het. 'n Studie van 2011 dui daarop dat dit H. habilis is wat Wes-Asië uit Afrika bereik het, dat vroeë H. erectus daar ontwikkel het en dat vroeë H. erectus toe van Wes-Asië na Oos-Asië, Suidoos-Asië, terug na Afrika en na Europa versprei het, en eindelik in Afrika tot die moderne mens ontwikkel het. Ander stel voor H. erectus / H. ergaster het in Afrika ontwikkel, waar hulle eindelik in die moderne mens ontwikkel het.
H. erectus het Sangiran, Java, teen 1,8 miljoen jaar gelede bereik, en 'n tweede, aparte vlaag van H. erectus het Zhoukoudian, China, sowat 780 000 jaar gelede beset. Vroeë tande van Sangiran is groter as en stem meer ooreen met dié van basale Westerse H. erectus en H. habilis as dié wat in Zhoukoudian van H. erectus gekry is. Latere tande van Sangiran lyk egter kleiner, wat kan dui op 'n sekondêre kolonisasievoorval in Java deur die Zhoukoudian- of 'n nabyverwante bevolking.
Subspesies Homo erectus erectus (Javamens, 1,6-0,5 miljoen jaar gelede) Homo erectus ergaster (1,9-1,4 miljoen jaar gelede) Homo erectus georgicus (Dmanisi-hominiene, 1,8-1,6 miljoen jaar gelede) Homo erectus lantianensis (Lantianmens, 1,6 miljoen jaar gelede) Homo erectus nankinensis (Nanjingmens, 0,6 miljoen jaar gelede) Homo erectus pekinensis (Pekingmens, 0,7 miljoen jaar gelede) Homo erectus soloensis (Solomens, 0,546-0,143 miljoen jaar gelede) Homo erectus tautavelensis (Tautavelmens, 0,45 miljoen jaar gelede) Homo erectus yuanmouensis (Yuanmou-mens, 1,7 miljoen jaar gelede)
Sedert die ontdekking van die Javamens in 1893 is daar 'n neiging in paleoantropologie om die getal voorgestelde spesies van Homo te verminder, en daarom sluit H. erectus alle vroeë vorme van Homo in wat uit H. habilis ontwikkel het en verskil van vroeë H. heidelbergensis (in Afrika ook bekend as H. rhodesiensis). Dit word soms beskou as 'n wydverspreide, polimorfe (veelvormige) spesie.
Vanweë so 'n groot variasie is al voorgestel dat die antieke H. rudolfensis en H. habilis beskou word as vroeë variëteite van H. erectus. Die primitiewe H. e. georgicus van Dmanisi, Georgië, het die kleinste breinkapasiteit van enige bekende hominien uit die Pleistoseen (sowat 600 cc), en sy insluiting in die spesie sal die omvang van H. erectus sodoende uitbrei dat dit spesies soos H. rudolfensis, H. gautengensis, H. ergaster en dalk H. habilis insluit. 'n Studie uit 2015 dui egter daarop dat H. georgicus 'n vroeëre, primitiewer spesie van Homo verteenwoordig. Dit word soms nie as H. erectus beskou nie.
Daar word debatte gevoer oor of die H. e. ergaster van Afrika 'n aparte spesie is (en dat H. erectus in Asië ontwikkel en toe na Afrika migreer het), en of dit die Afrikavorm (sensu lato) van H. erectus (sensu stricto) is. As laasgenoemde reg is, is ook voorgestel dat H. ergaster die onmiddellike voorvader van H. erectus verteenwoordig. Verder is voorgestel dat H. ergaster, in plaas van H. erectus of die een of ander bastervorm tussenin, die onmiddellike voorvader van ander argaïese en moderne mense is.
thumb|160px|Dmanisi-kopbeen 3 (twee van verskeie bene wat in Dmanisi in Georgië ontdek is).
Afstammelinge en sinonieme thumb|160px|Die skedel van H. e. pekinensis toon 'n plat gesig en prominente wenkbrourif. Homo erectus is die oudste bekende spesie van Homo. Dit het sowat 2 miljoen jaar gelede al bestaan, teenoor Homo sapiens se bykans 'n derde van 'n miljoen jaar.
Daar is geen definisie om te bepaal watter argaïese mense as 'n subspesie van H. erectus, van H. sapiens of as 'n aparte spesie geklassifiseer behoort te word nie.
Kandidate vir H. erectus uit Afrika: Homo ergaster (of H. erectus uit Afrika") Homo naledi (of H. e. naledi) Kandidate vir H. erectus uit Asië: Homo antecessor (of H. e. antecessor) Homo heidelbergensis (of H. e. heidelbergensis) Homo cepranensis (or H. e. cepranensis) Homo floresiensisIn 2017 is voorgestel H. floresiensis is vanweë morfologiese oorwegings 'n susterspesie van óf H. habilis óf 'n habilis-erectus-ergaster-sapiens-klade, en is 'n veel antieker lyn as Homo erectus self. Homo sapiens-kandidate: Homo neanderthalensis (of H. s. neanderthalensis) Homo denisova (of Homo sp. 'Denisova', H. sapiens ssp. 'Denisova' of H. sp. 'Altai') Homo rhodesiensis (of H. s. rhodesiensis) Homo heidelbergensis (of H. s. heidelbergensis) Homo sapiens idaltu
Anatomie Kop Homo erectus het 'n plat gesig gehad in vergelyking met vroeëre hominiene, asook 'n prominente wenkbrourif en 'n lae, plat skedel. Die teenwoordigheid van 'n swaardlyn-, frontale en voorhoofkeel (klein kruine al langs dié beennate) het gelei tot voorstelle dat dit tekens is van 'n aansienlike verdikking van die kopbeen, veral die gewelfde skedeldak. CT-skanderings het getoon dit is nie die geval nie. Die agterkant van die skedel is egter merkbaar dikker as by moderne mense, en is moontlik 'n basale (voorouer)-eienskap.
thumb|links|260px|Model van Homo erectus in die Natuurhistoriese Museum in Londen. Die fossielrekord toon H. erectus was die eerste menslike spesie met 'n neus wat vooruitsteek, wat vermoedelik die gevolg is van die behoefte om klammigheid te behou wanneer droë lug ingeasem word. Volgens 'n hipotese van die Amerikaanse sielkundige Lucia Jacobs was die vooruitstekende neus eerder 'n manier om die rigting van verskillende reuke vas te stel om navigasie en langafstandmigrasie te vergemaklik.
Die gemiddelde breingrootte van die Asiatiese H. erectus was sowat 1 000 cc (kubieke sentimeter). Merkbaar kleiner spesimens is ook al ontdek in Dmanisi, Georgië, Kenia en moontlik Ethiopië. H. erectus se breingrootte wissel gewoonlik tussen 546 en 1 251 cc, wat meer is as die wisseling by moderne mense en sjimpansees, maar minder as by gorillas.
H. erectus het die dunste tandemalje gehad van enige Plio-Pleistoseen-hominien. Emalje keer dat harde kos die tand laat breek, maar bemoeilik die skeur van taai kos. Die onderkaak by H. erectus en alle vroeë Homo is dikker as dié van moderne mense en alle lewende ape. Dit beteken hulle kon baie hard byt en kou. Die praktiese implikasies daarvan is egter onduidelik. Tog was die onderkaak van H. erectus effens dunner as by die vroeë mens.
Die kies- en voorkiestande van H. erectus het meer groewe as dié van H. habilis, wat daarop dui H. erectus het brosser kos geëet (wat groewe veroorsaak). Dit alles dui daarop dat H. erectus se mond minder toegerus was om harde kos te kou en beter toegerus om taai kos te skeur, maar dit het die verskeidenheid van hulle kos verklein.
Liggaam thumb|200px|links|Die skelet en 'n rekonstruksie van die Turkana-seun deur Mauricio Antón.
Nes die moderne mens het H. erectus baie in grootte gewissel, van 146 tot 185 cm in lengte en van 40 tot 68 kg in gewig. Dit was vermoedelik na aanleiding van streeksverskille in klimaat, lewensduur of voeding. Onder primate kom dié reaksie op omgewingsfaktore net by moderne mense voor.
Nes by mense, maar anders as by ander primate, was daar oënskynlik nie 'n groot grootteverskil tussen mans en vroue nie, maar daar is nie genoeg fossieldata om dit te staaf nie. Breingroottes by sommige fossiele verskil wel.
thumb|200px|Die rekonstruksie van 'n vroulike H. erectus.