Die Jura (Engels: Jurassic) is ’n geologiese periode van die Mesosoïese Era en strek van die einde van die Trias sowat 201,3 miljoen jaar gelede tot die begin van die Kryt sowat 145 miljoen jaar gelede. Die Jura is ook ’n chronostratigrafiese sisteem van die Mesosoïese erateem. 300px|thumb|links|'n Kaart van die wêreld, soos dit in die Middel-Jura gelyk het (sowat 170 miljoen jaar gelede). duimnael|276px|Groot dinosourusse het in die Jura voorgekom in woude met ewe groot naaldbome.
Die Jura is die middelste periode van die Mesosoïkum en is genoem na die Juragebergte in die Europese Alpe, waar kalksteenstrata uit die periode die eerste keer ontdek is.
Teen die begin van die Jura het die superkontinent Pangea uitmekaar begin dryf en twee landmassas, Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide, gevorm. Dit het die kuslyn verleng en die kontinentale klimaat verander van droog tot vogtig, en baie van die woestyne van die Trias is vervang deur reënwoude. Daar was geen yskappe by die pole nie.
Die Jura het begin met die Trias-Jura-uitwissing. Die einde van die periode het egter geen duidelike, definitiewe grens met die Kryt nie; dit is die enigste grens tussen geologiese periodes wat amptelik ongedefinieer is.
Op die land het die dierelewe verander van die Trias se oorheersende Dinosauromorpha en Crocodylomorpha tot een wat slegs deur dinosourusse oorheers is. Die eerste voëls het ook in die Jura hulle verskyning gemaak nadat hulle uit ’n tak van die Theropoda ontwikkel het. Ander belangrike gebeurtenisse sluit in die verskyning van die eerste akkedisse en die evolusie van soogdiere.
In die oseane het seereptiele voorgekom soos Ichthyosauria en Plesiosauria, terwyl Pterosauria die oorheersende vlieënde gewerweldes was. Moderne haaie en rôe het die eerste keer in dié periode ontstaan en gediversifseer.
Die plantegroei het meestal uit varings en naaksadiges, insluitende naaldbome, bestaan. Baie moderne groepe het ook hulle verskyning gemaak.
Etimologie en geskiedenis thumb|links|180px|'n Portret van Alexandre Brongniart, wat die naam "Jura" uitgedink het.
Die chronostratigrafiese term "Jura" kom van die Juragebergte, 'n beboste bergreeks wat hoofsaaklik aan die grens tussen Frankryk en Switserland loop. Die naam kom van die Kelties vir "beboste berg", en is deur Latyn as 'n naam van 'n plek ontleen. Dit het later in Juria en eindelik Jura ontwikkel.
Tydens 'n toer van die streek in 1795 het die Duitse naturalis Alexander von Humboldt die koolstofdeposito's in die Juragebergte herken as geologies verskillend van die Triasoue Muschelkalk van Suid-Duitsland, maar hy het verkeerdelik afgelei dat hulle ouer is. Hy het dit toe in 1799 Jura-Kalkstein ("Jura-kalksteen) genoem.
In 1829 het die Franse naturalis Alexandre Brongniart 'n boek gepubliseer met die naam Beskrywing van die Terreine wat die Kors van die Aarde uitmaak of Essay oor die Struktuur van die Bekende Grondgebiede van die Aarde. Hierin gebruik hy die frase terrains jurassiques wanneer hy 'n vergelyking tref tussen die "Jura-Kalkstein" van Humboldt en kalksteen van Brittanje van dieselfde ouderdom. So het hy die term wat later "Jura" geword het, geskep en gepubliseer.
Die Duitse geoloog Leopold von Buch het in 1839 die drievoudige verdeling van die Jura daargestel: van die oudste tot die jongste die Swart, Bruin en Wit Jura.Von Buch, L., 1839. Über den Jura in Deutschland. Der Königlich Preussischen Akademie der Wissenschaften, Berlin, p. 87.
Die Franse paleontoloog Alcide d'Orbigny het in geskrifte tussen 1842 en 1852 die Jura in 10 stadiums verdeel, gebaseer op ammoniete en ander fossiele in Engeland en Frankryk. Sewe word steeds gebruik, maar nie een het sy oorspronklike definisie behou nie. Die Duitse paleontoloog Albert Oppel het in sy studies tussen 1856 en 1858 d'Orbigny se oorspronklike skema verander en die stadiums verder in biostratigrafiese sones verdeel, hoofsaaklik gebaseer op ammoniete. Die meeste van die moderne stadiums van die Jura is in 1962 by die Colloque du Jurassique à Luxembourg geformaliseer.
Geologie Die periode Jura word in drie epogs verdeel: die Vroeë, Middel- en Laat Jura. Net so word die Jura in stratigrafie verdeel in die series Onderste, Middelste en Boonste Jura. Geoloë verdeel die rotse van die Jura in 'n stratigrafiese stel eenhede wat etages genoem word, wat elk gevorm het tydens ooreenstemmende geologiese tydperke bekend as tydsnedes of tye.
Etages kan wêreldwyd of streeksgewys verdeel word. Globale etages word deur die Internasionale Kommissie vir Stratigrafie bekragtig. Die tydsnedes/etages van die Jura kan regs heel bo gesien word.Cohen, K.M., Finney, S.C., Gibbard, P.L. & Fan, J.-X. (2013; updated) The ICS International Chronostratigraphic Chart. Episodes 36: 199–204.
Stratigrafie thumb|Gevoude kalksteenlae van die Onderste Jura in Switserland. thumb|Strata van die Middel-Jura in Argentinië. thumb|Tidwell-lid van die Morrison-formasie (Boonste Jura), Colorado.
Die stratigrafie van die Jura is hoofsaaklik gebaseer op die gebruik van ammoniete as indeksfossiele. Die eerste verskyningsdatum van spesifieke taksons van ammoniete word gebruik om die begin van etages aan te dui, asook kleiner tydperke in etages, bekend as "ammonietsones". Hulle word soms weer verder verdeel in subsones. Globale stratigrafie is gebaseer op Europese standaard-ammonietsones.
Vroeë Jura Die oudste deel van die Juraperiode is histories die Lias genoem. Dit stem rofweg ooreen met die Vroeë Jura, maar sluit ook 'n deel van die vroeëre etage Rhaetium in. Die etage Hettangium is in 1864 deur die Switserse paleontoloog Eugène Renevier genoem na Hettange-Grande in Noordoos-Frankryk. Die begin van die Hettangium, en dus die Jura as geheel, word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Psiloceras spelae tirolicum in die Kendlbach-formasie by Kuhjoch.
Die etage Sinemurium is in 1842 die eerste keer deur Alcide d'Orbigny gedefinieer en gebruik. Die naam kom van die Franse dorp Semur-en-Auxois, naby Dijon. Die begin van die etage word bepaal deur die eerste verskyning van die ammoniet Vermiceras quantoxense.
Albert Oppel het die Pliensbachium in 1858 genoem na die dorp Pliensbach, naby Stuttgart, Duitsland. Die begin daarvan word bepaal deur die eerste verskyning van die ammoniet Bifericeras donovani.
Die etage Toarsium is genoem na die dorp Thouars (Latyn: Toarcium) in die Loirevallei in Frankryk. Die grens is die eerste verskyning van ammoniete wat tot die subgenus Eodactylites behoort.
Middel-Jura Die Aalenium is genoem na die stad Aalen in Duitsland. Dit is in 1864 deur die Switserse geoloog Karl Mayer-Eymar gedefinieer. Die begin daarvan word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Leioceras opalinum.
Alcide d'Orbigny het die etage Bajosium na die dorp Bayeux (Latyn: Bajoce) in Normandië, Frankryk, genoem. Die begin daarvan word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Hyperlioceras mundum.
Die Batonium is in 1843 deur die Belgiese geoloog d'Omalius d'Halloy na die stad Bath, Engeland, genoem. Die begin word gedefinieer as die eerste verskyning van die ammoniet Gonolkites convergens, aan die begin van die Zigzagiceras zigzag-ammonietsone.
Die Callovium se naam kom van die Latynse weergawe van die dorp Kellaways in England, en is in 1852 deur Alcide d'Orbigny benoem. Die begin daarvan is die eerste verskyning van die ammoniete wat tot die genus Kepplerites behoort.
Laat Jura Die Oxfordium is in 1844 deur Alcide d'Orbigny genoem na die stad Oxford in Engeland, met verwysing na die Oxford-klei. Die onderste grens is die eerste verskyning van die ammoniet Quenstedtoceras mariae. Daaropvolgende voorstelle was die eerste verskyning van Cardioceras redcliffense as die begin van die etage.
Die dorp Kimmeridge aan die kus van Dorset, Engeland, is die oorsprong van die naam Kimmeridgium. Die etage is in 1842 deur Alcide d'Orbigny bedink, met verwysing na die Kimmeridge-klei. Die onderste grens word gedefinieer as die eerste verskyning van ammoniete van die Bauhini- en Baylei-sone.
Die Titonium is in 1865 deur Albert Oppel in wetenskaplike geskrifte begin gebruik. Die naam is ongewoon onder die name van geologiese etages, want dit kom uit die Griekse mitologie en is nie 'n pleknaam nie. Titonos was die seun van Laomedon van Troje en het verlief geraak op Eos, die Griekse godin van die daeraad. Albert Oppel het haar naam vir die etage gekies omdat die Titonium begin het met die daeraad van die Kryt-periode. Die begin daarvan word beskou as die eerste verskyning van die ammonietgenus Gravesia.
Die boonste grens van die Jura is tans ongedefinieer; die grens tussen die Jura en die Kryt is die enigste stelselgrens sonder 'n definisie. Calpionellids, 'n enigmatiese groep planktonprotiste wat vir 'n kort ruk van die laat Jura tot die vroeë Perm volop was, is voorgestel as die beste kandidate vir die vasstelling van die Jura-Kryt-grens. Veral die eerste verskyning van Calpionella alpina is voorgestel as die definisie van die begin van die Kryt.
Minerale- en koolwaterstofneerslae Die Kimmeridge-klei en ekwivalente is die grootste bronrots vir die Noordsee-olie. Die Arabiese Intrabankbekken, wat tydens die Middel- en Laat Jura neergelê is, is die terrein van die wêreld se grootste oliereserwes, insluitende die Ghawarveld, die wêreld se grootste olieveld.
Die Jura-oue Sargelu- en Naokelekan-formasies is groot bronrotse vir oliereserwes in Irak. Meer as 1 500 gigaton Jurasteenkoolreserwes word in Noordwes-China aangetref, hoofsaaklik in die Turpan-Hami- en Ordos-bekken.
Slagkraters Groot slagkraters sluit in die Morokweng-slagkrater, 'n inpakstruktuur met 'n deursnee van 70 km onder die Kalahariwoestyn in noordelike Suid-Afrika. Dit dateer van die Titonium, sowat 146,06 ± 0,16 miljoen jaar gelede.
Nog 'n groot slagkrater is die Poetsjezj-Katoenki-krater, met 'n deursnee van 40 km, onder Nizjni Nowgorod-oblast in Wes-Rusland. Die impak dateer van die Sinemurium, 195,9 ± 1,0 miljoen jaar gelede.
Paleogeografie en tektoniek thumb|links|220px|Pangea aan die begin van die Jura. thumb|220px|links|Gondwanaland het in die Laat Jura opgebreek, en die Indiese Oseaan het as gevolg daarvan ontstaan.
Aan die begin van die Jura was die hele landmassa van die Aarde verenig in die superkontinent Pangea. Dié het in die Vroeë Jura begin opbreek in die noordelike superkontinent, Laurasië, en die suidelike superkontinent, Gondwana. Die eerste skeuring was tussen Noord-Amerika en Afrika, in die Vroeë Jura.
Gedurende die Jura het die noordelike Atlantiese Oseaan relatief smal gebly, terwyl die suidelike Atlantiese Oseaan eers in die Kryt ontstaan het. Die kontinente was omring deur Panthalassa, met die Tetisoseaan tussen Gondwana en Asië. Aan die einde van die Trias het die seevlakke gestyg en die grootste dele van Sentraal- en Wes-Europa is oorvloei. Dit het verander in 'n argipel eilande wat deur vlak seë omring was.
Gedurende die Jura was die noord- en suidpool met oseane bedek. Aan die begin van die Vroeë Jura was die Boreale Oseaan verbind aan die Proto- Atlantiese Oseaan deur die "Wikingkorridor", of Transkontinentale Laurasiese Seekanaal, van 'n paar honderd kilometer breed. Tydens die Callovium het die Toergai- Epikontinentale See gevorm, en dit het 'n seegrens tussen Europa en Asië gevorm.
Madagaskar en Antarktika het in die laat Vroeë Jura van Afrika begin wegdryf saam met die uitbarsting van die Karoo-Ferrar- groot vulkaniese provinsies, en dit het die westelike Indiese Oseaan geopen en die verbrokkeling van Gondwana begin.
Aan die begin van die Jura was Noord- en Suid-Amerika nog verbind, maar teen die begin van die Laat Jura het hulle van mekaar weggedryf en die Karibiese Seekanaal, ook bekend as die Spaans-Amerikaanse Korridor, gevorm wat die Noord-Atalantiese Oseaan met Oos-Panthalassa verbind het. Paleontologiese data dui daarop dat die seekanaal sedert die Vroeë Jura oop kon gewees het.
thumb|260px|Die vorming van die Pasifiese Plaat in die Vroeë Jura.