Hierdie artikel handel oor die land in Europa. Vir die eiland, sien Groot-Brittanje, en vir ander gelyknamige state, sien Verenigde Koninkryk (dubbelsinnig).
Die Verenigde Koninkryk (Engels: United Kingdom; kort UK, VK) of Brittanje, amptelik die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland (United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland), is die grootste eilandstaat in Europa en bestaan uit die vier lande (in Engels nations genoem) Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland. Dit is noordwes van die Europese vasteland op die hoofeiland Groot-Brittanje geleë en beslaan daarnaas ook sowat 'n sesde van sy westelike buureiland Ierland (Noord-Ierland). Die staatsgebied word omring deur die Noordsee in die ooste, die Engelse Kanaal in die suide en die Atlantiese Oseaan in die weste en die noorde. As gevolg van sy koloniale verlede is daar nog steeds talle kleiner oorsese besittings.
links|duimnael|ESA-Satellietbeeld van die Britse Eilande duimnael|links|DIe Verenigde Koninkryk vroeg in Januarie 2010, met 'n sneeukleed bedek Die historiese oorspronge van die Verenigde Koninkryk strek terug tot in die tydperk van die Angel-Saksiese koning Athelstan wat in die vroeë 10de eeu oorheersende invloed oor aangrensende Keltiese koninkryke begin uitoefen het. In die volgende eeue het ook verder afgeleë koninkryke deur militêre verowering onder Engelse gesag gekom.
Wallis, 'n losse verbond van Keltiese koninkryke in die suidweste van Groot-Brittanje, is deur die sogenaamde Uniewette (Acts of Union) van 1535 en 1542 amptelik met Engeland verenig. Skotland, wat al sedert 1603 deur 'n Engelse monarg geregeer word, is in 1707 formeel met Engeland en Wallis verenig om die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje te vorm (Acts of Union 1707). Sedertdien is na die verskillende volke binne die Verenigde Koninkryk as Britte verwys.
Ierland het vanaf die 17de eeu geleidelik onder Engelse gesag gekom en is in 1800 volgens die Uniewet (Act of Union) formeel met Groot-Brittanje verenig. Die grootste deel van Ierland, 'n merendeels Rooms-Katolieke land, het in 1922 sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verwerf, maar ses van die historiese provinsie Ulster se nege graafskappe met 'n oorwegend Protestantse bevolking het as Noord-Ierland deel van die Verenigde Koninkryk gebly.
Betrekkinge tussen die vier landsdele van die Verenigde Koninkryk is verskeie kere deur politieke, ekonomiese en kulturele spanning vertroebel. So het die regerende party in Skotland, die Skotse Nasionale Party, laat in 2014 'n vergeefse poging aangewend om Skotse onafhanklikheid deur middel van 'n referendum te bewerkstellig. Die Britse regering het politieke ontevredenheid met die tendensieel sentralistiese regeringstelsel in die laat 20ste eeu deur die skepping van streeksparlemente met sekere bevoegdhede in Noord-Ierland, Skotland en Wallis probeer teenwerk.
Britse entrepreneurs, tegnici en wetenskaplikes het beslissende bydraes tot die wêreldekonomie en tegnologiese vooruitgang gemaak. So was die Verenigde Koninkryk die eerste land ter wêreld wat die nywerheidsomwenteling ondergaan het. In die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog het die land sy internasionale invloed veral op kulturele gebied laat geld, waaronder literatuur, toneelkuns, film, televisie en popmusiek. Die lang lys van suksesvolle uitvoere sluit die Engelse taal in wat vandag orals op aarde as die leidende medium en lingua franca van ekonomie, wetenskap, kuns en kultuur gebesig word.
Van die Verenigde Koninkryk se huidige totale bevolking van 69,3 miljoen is die oorgrote meerderheid (sowat 58,6 miljoen of 85 persent) in Engeland saamgetrek. Die bevolking van Wallis word op 3,2 miljoen beraam (vyf persent van die VK se totale bevolking), dié van Skotland op 5,5 miljoen (agt persent) en dié van Noord-Ierland op 1,9 miljoen (drie persent). Die gemiddelde bevolkingsdigtheid vir die hele Koninkryk is 285 inwoners per km².
Die Verenigde Koninkryk is 'n stigterslid van die Britse Statebond, die NAVO en die Verenigde Nasies en was daarnaas 'n lidland van die Europese Unie.
Naam duimnael|links|'n Euler-diagram van die Britse Eilande: Die volledige amptelike naam is "Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland". Die term "Groot-Brittanje" word dikwels gebruik om na die Verenigde Koninkryk te verwys, alhoewel Groot-Brittanje streng gesproke net uit Engeland, Skotland en Wallis bestaan en dus na die grootste van die Britse Eilande verwys.
Die voorsetsel "Groot" is aan die Franse taal ontleen, wat 'n onderskeiding maak tussen die Franse gewes Bretagne en Grande Bretagne ("Groot-Brittanje"). Die Latynse naam Britannia het sy historiese oorsprong in die Keltiese woord Brith, wat letterlik "bont" of "gevlek" beteken.
Die land se naam in die skryfwyses van die amptelik erkende tale is: Engels: United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland Iers-Gaelies: Ríocht Aontaithe na Breataine Móire agus Thuaisceart Éireann Kornies: Rywvaneth Unys Breten Veur ha Kledhbarth Iwerdhon Skots: Unitit Kinrick o Great Breetain an Northren Irland Ulster-Skots: Claught Kängrick o Docht Brätain an Norlin Airlann of Unitet Kängdom o Great Brittain an Norlin Airlann Skots-Gaelies: Rìoghachd Aonaichte na Breatainne Mòire is Èireann a Tuath Wallies: Teyrnas Unedig Prydain Fawr a Gogledd Iwerddon
Geskiedenis Antieke en Middeleeue duimnael|links|Die Romeinse Muur van Hadrianus duimnael|Stonehenge in Suid-Engeland, wat minstens 4 000 jaar gelede deur mense uit die Nuwe Steentydperk opgerig is Volgens algemene siening is groot dele van die eiland Groot-Brittanje aan die einde van die Voorgeskiedenis deur Kelte bevolk. Hulle het 'n nou verbintenis met Gallië gehandhaaf. In 55 v.C. is Brittanje vir die eerste keer deur die Romeinse provinsiale goewerneur Julius Caesar aangeval. Brittanje is in 43 v.C., sonder Skotland, verower en het vir sowat 400 jaar onder Romeinse bewind gebly. Hulle het onder andere Londinium, die huidige Londen, gestig. Toe die Romeine onttrek het, het Angel, Sakse en Jute hulle op die eiland gevestig en die Kelte na die gebiede van die hedendaagse Wallis en Skotland verdring. Vervolgens het in die suide van Skotland die Koninkryk Strathclyde ontstaan. Die meeste gebiede, wat deur die Angel-Sakse oorheers is, het vanaf die 10de eeu die Koninkryk van Engeland geword. Gelyktydig het die Koninkryk van Skotland ontstaan, nadat die Pikte en die Keltiese Skotte uit Dalriada verenig het.
In 1066 het die Normandiese verowering van Engeland met die inval van Hertog Willem I begin, en met die Slag van Hastings tot die Normandiese heerskappy oor Engeland gelei. As gevolg van hierdie verowering is Engeland se kultuur en taal aansienlik verander en die feodalisme het Engeland bereik. Die Anglo-Normanne het 'n groot invloed op die land gehad, maar het uiteindelik met die plaaslike bevolking vermeng. Met die verowering van Wallis het die Engelse monarge van die Franse dinastie die grootste deel van die eiland verower, maar hulle kon nie daarin slag om Skotland te verower nie. Vervolgens het Skotland 'n onafhanklike koninkryk gebly en 'n mededinger van Engeland geword.
As gevolg van erfenisse ein eise op die Franse troon het die Engelse monarge in konflik met Frankryk gekom, wat tot die Honderdjarige Oorlog gelei het. Die Koninkryk Frankryk is deur die Koninkryk Skotland ondersteun.
Moderne tyd duimnael|Met die Slag by Waterloo in 1815 is die Napoleoniese oorloë beëindig en die Pax Britannica het begin duimnael|Wêreldkaart van 1910, wat die Britse Ryk toon duimnael|Infanterie van die Royal Irish Rifles tydens die Slag van die Somme in Julie 1916 In die vroeë Moderne tyd het die Protestantse Hervorming en stigting van die Anglikaanse Gemeenskap tot godsdienstige konflikte gelei. Die Prinsdom van Wallis, sedert 1284 onder gesag van Engeland, is met die Laws in Wales Acts 1535 and 1542 by Engeland ingelyf. Ierland het in 1541 'n personele unie met Engeland aangeknoop en die Koninkryk van Ierland gevorm. Rooms-Katolieke gebiede in die hedendaagse Noord-Ierland is van die Gaeliese adel ontneem en aan Engelse en Skotse setlaars oorhandig. In die Middel-17de eeu was al drie koninkryke in oorloë betrokke, waartydens die monargie afgeskaf en die Gemenebes van Engeland, Skotland en Ierland gestig is.
Alhoewel in 1660 die monargie heringevoer is, het die absolutisme nooit in Brittanje gevestig nie. Die Britse grondwet het 'n grondwetlike monargie met 'n parlementêre regeringstelsel saamgebring. Met die Acts of Union 1707 is die Koninkryke van Skotland en Engeland tot die Koninkryk van Groot-Brittanje verenig; albei lande het sedert 1603 dieselfde monarg gehad (personele unie).
Met die stigting van die Royal Society het die regering op wetenskappe begin fokus. In die daaropvolgende tyd het Groot-Brittanje 'n wêreldwye seemag geword en talle gebiede ontdek en gekoloniseer, aanvanklik veral in Noord-Amerika, maar later ook in Afrika en Asië. Na afloop van die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog het die Verenigde State, tot dusver die belangrikste Britse kolonie, onafhanklik geword. Met die Acts of Union 1800 is die Koninkryk van Groot-Brittanje met die Koninkryk Ierland verenig, nadat laasgenoemde vanaf 1169 tot 1603 plek-plek onder Engelse invloed geval het. Vervolgens is die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland gestig.
Op 21 November 1806 het die Franse keiser Napoleon 'n Kontinentale stelsel teen die Britse Eilande opgerig; dit was tot in 1814 van krag. Met hierdie stelsel wou Napoleon die Britse ekonomie kniehalter en die Franse ekonomie teen beide Europese en oorsese mededingers beskerm. Groot-Brittanje het egter nuwe markte, veral in Noord-Amerika, gevind.
Die Verenigde Koninkryk, die oorheersende nywerheids- en seemag van die 19de eeu, het 'n beduidende rol in die ontwikkeling van die demokratiese stelsel, literatuur en wetenskap gespeel. Groot-Brittanje het vir 'n ewewig van magte op die Europese vasteland gepleit (Pax Britannica) en hiervoor wisselende alliansies gesluit. Ten tye van sy hoogtepunt het die Britse Ryk sowat twee vyfdes van die wêreld oorheers, wat in talle oorloë verower is.
Die toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is deur alle partye ondersteun, met uitsondering van 'n fraksie binne die Arbeidersparty rondom Ramsay MacDonald. Die Britte het saam met Frankryk, Rusland en (vanaf 1917) die Verenigde State teen Duitsland en die ander Sentrale Moondhede tot hul oorwinning in 1918 geveg.
In 1922 het 26 Ierse graafskappe die Ierse Vrystaat (vanaf 1937 Éire, sedert 1949 Republiek Ierland) gevorm. Die oorblywende ses graafskappe in die Ulster-provinsie behoort, ten spyte van Ierse weerstand, tot die Verenigde Koninkryk. Sedert 1927 lui die amptelike naam "Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland".
Na die Duitse Inval van Pole in 1939 het die Verenigde Koninkryk en Frankryk oorlog teen Nazi-Duitsland verklaar. In Mei 1940 het Winston Churchill, sedert 1939 Kabinetslid en teenstander van die Appeasement-beleid, Britse eerste minister geword. Na die oorgawe van Frankryk het Churchill alle kragte vir die oorlog saamgespan, waardeur 'n Duitse inval in Groot-Brittanje tydens die Slag om Brittanje suksesvol afgeweer is. Deur Duitse missiel- en bomaanvalle is Coventry, dele van Londen en ander Britse stede vernietig en sowat 32 000 burgerlikes dood. Eers vanaf einde 1942 was die Verenigde Koninkryk buite die Britse eilande suksesvol: Tydens die Tunisië-veldtog onder Bernard Montgomery, tydens die verowering van Sisilië en Italië in 1943, later tydens die D-Day in 1944 en uiteindelik tydens die verowering van Duitsland in 1945.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog duimnael|Winston Churchill het twee keer as Britse eerste minister gedien duimnael|Margaret Thatcher, eerste minister (1979–1990)