Herbert Henry Asquith, 1ste graaf van Oxford en Asquith (* 12 September 1852; † 15 Februarie 1928) was 'n liberale Britse politikus wat tussen 1908 en 1916 as eerste minister van die Verenigde Koninkryk gedien het. Sy ampstermyn was tot en met 5 Januarie 1988 die langste aaneenlopende van alle Britse eerste ministers in die 20ste eeu - 'n rekord wat eers deur Margaret Thatcher gebreek is.

As Britse premier het Asquith met sy Liberale Party 'n aantal belangrike hervormings ingestel, waaronder sosiale versekering en die beperking van die politieke invloed van die Britse Hoërhuis. Onder sy regering het die Verenigde Koninkryk tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree, maar 'n reeks militêre en politieke krisisse het in laat 1916 tot sy vervanging deur David Lloyd George gelei. Asquith se politieke geskil met Lloyd George was 'n beslissende faktor in die agteruitgang van die Liberale Party.

Voor sy ampstermyn as eerste minister het hy as minister van binnelandse sake (Home Secretary, 1892-95) en as minister van finansies (Chancellor of the Exchequer, 1905-08) gedien. Voor sy verheffing tot die adelstand in 1925, toe hy die graaf van Oxford en Asquith geword het, het hy algemeen as H.H. Asquith bekend gestaan.

Asquith se prestasies in vredestye is deur sy swakhede in oorlogstye oorskadu. Baie geskiedkundiges beskryf hom as 'n aarselende eerste minister wat nie in staat was om vir die publiek die indruk van 'n aktiewe en dinamiese politieke leier te skep nie. Ander historici beklemtoon die uitstekende administratiewe vaardighede wat hy deurgaans vertoon het en voer aan dat baie van die beduidende hervormings, wat algemeen met Lloyd George as "die man wat die oorlog gewen het" verbind word, in werklikheid deur Asquith geïmplementeer is.

Die oorheersende geskiedkundige oordeel is dat daar in der waarheid twee Asquiths was: die hoflike en versoenende Asquith wat sukses as politieke leier in vredestye behaal het, en die weifelende Asquith wat in toenemende mate uitgeput geraak het en gedurende die Groot Oorlog 'n beleid van verwarring en vertraging gevoer het.

Bronnelys Stephen Bates: Asquith. (20 British Prime Ministers of the 20th Century). Haus Publishing, London 2006, . John Campbell: Pistols at Dawn: Two Hundred Years of Political Rivalry from Pitt and Fox to Blair and Brown. Vintage Books, London 2009, , Roy Jenkins: Asquith: Portrait of a Man and an Era. Collins, London 1986, . Stephen Koss: Asquith. Lane, London 1976, . V. Markham Lester: H. H. Asquith: Last of the Romans. Lexington Books, London 2019, .

Kategorie:Eerste Ministers van die Verenigde Koninkryk Kategorie:Britte in die Eerste Wêreldoorlog Kategorie:Britse opposisieleiers Kategorie:Britse ministers Kategorie:Ministers van Binnelandse Sake Kategorie:Ministers van Finansies Kategorie:Geboortes in 1852 Kategorie:Sterftes in 1928