duimnael|350px|Hoenderhof, geskilder deur Otto Scheuerer (1862-1934) duimnael|Verkoper van gebraaide pluimvee in Korhogo, Ivoorkus
Pluimvee is gedomestikeerde voëls wat deur mense aangehou word vir hul nuttige produkte. Pluimvee is basies vee met vere ('n pluim is 'n veer). Dit sluit in: hoenders, kalkoene, eende, makoue, ganse en selfs volstruise. Hulle word aangehou vir die eiers wat hulle lê, vleis en selfs vir hulle vere.
Onder pluimvee word verstaan voëls wat ter wille van eier- of vleisproduksie aangehou word. Van al die voëlsoorte neem die hoender verreweg die vernaamste plek in die pluimveebedryf in, maar eende, ganse, makoue, kalkoene en kwartels speel ook 'n belangrike rol.
In die pluimveebedryf word daar onderskei tussen lêrasse vir die produksie van eiers vir die verbruikersektor en vleisrasse vir die produksie van braaikuikens en -hoenders, eende, ganse, ensovoorts.
Eiers is vanweë hulle hoë proteïeninhoud, vitamiene en minerale 'n belangrike voedingsproduk, asook pluimveevleis, wat gewoonlik 'n besonder gunstige vet/vleisverhouding het. Pluimveeboerdery is uiters gespesialiseer. Die werfhen met haar kuikens en weglêneste is vir altyd verby. In die plek daarvan het die sogenaamde batteryhen gekom.
Hulle produseer in hul duisende eiers, soms letterlik op 'n lopende vervoerband, in draadhokkies nie groter as 20 x 25 cm nie. Die braaihoender, 'n "uitvinding" van die 20de eeu, broei in 'n masjien uit, en word na 8 weke geslag sonder dat die dier ooit die sonlig gesien het. Die arbeid, soos die uithaal van eiers, kos en water gee, en die skoonmaak van die hokke, vereis vanweë meganisasie die minimum mannekrag. Die totaal onnatuurlike leefwyse van hierdie diere lok, veral in Europa, dikwels kritiek by diereliefhebbers uit.
Aan die ander kant bied die bedryf aan 'n proteïen-honger wêreld 'n goedkoop en higiëniese voedselbron. Veral in Europa, waar byna alle voedselpryse sterk gestyg het, het die prys van eiers en pluimvee in die laaste dekade feitlik konstant gebly. In Suid-Afrika word hierdie meganisasieproses ook in die laaste dekades toegepas, en mettertyd word groot voordeel hieruit geput. Die nuwe boerderymetodes en moderne aanpassing het egter daartoe gelei dat produksiekoste, en daarmee saam die verbruikersprys van pluimvee en eiers, in die laaste dekade skerp gestyg het.
In Europa word daar nog net in België en Nederland op redelike skaal met kalkoene geboer. In Suid-Afrika word daar heelwat moeite gedoen om hierdie bedryf te stimuleer. Lê-eende word amper nie meer in Europa aangehou nie omdat die vraag na eendeiers sterk gedaal het. In Suid-Afrika het die bedryf nog nooit werklik ingang gevind nie. Frankryk is die belangrikste produsent van ganse, terwyl tarentale daar ook gesogte pluimvee is.
Geskiedenis Oor die afstamming van die hoender (Gallus domesticus) is daar min bekend. Daar word aanvaar dat die huishoender 'n afstammeling is van die wilderooiboshoender of Bankivahoender (Gallus gallus), wat vandag nog in Indonesië, Birma, Noord-Italië en op die Filippynse Eilande aangetref word. Ook ander boshoenders, die sogenaamde Lafayettehoender (Gallus lafayettii) uit Sri Lanka, die Indiese Sonnerathoender (Gallus sonneratii) en die Javaanse vurksterthoender (Gallus varius), het vermoedelik ook ʼn aandeel gehad in die ontwikkeling van die huishoender.
Uit die Ooste het hierdie mak hoenders, wat reeds onderling begin teel het en veral vanweë hulle vleis en later hulle eiers aangehou is, waarskynlik via Wes-Asië, Noord-Afrika, Griekeland en Italië na die Weste versprei. Die Romeine het hoenders as heilige diere beskou (nie te heilig om in die kookpot te beland nie) en het die mak hoender na die Germaanse volke versprei. Gedurende die Middeleeue het die kruistogte waarskynlik die verspreiding van die mak hoender baie vergemaklik.
Die Europese koloniste het hoenders na Amerika geneem, soos Jan van Riebeeck ook hoenders saam met hom na die Kaap gebring het. Uit geskiedenisbronne is dit egter ook bekend dat Vasco da Gama hoenders in Natal opgemerk het. Die Swart stamme wat uit die Noorde van Afrika suidwaarts getrek het, het dus ook hulle eie soort hoenders gehad. Ook die Khoi het hoenders aangehou, maar in vergelyking met die destydse Europese huishoender was hulle van swak gehalte. Van Riebeeck het gedurende 1656 en 1657 hoenders uit Holland ingevoer met die oog op die produksie van vleis en eiers.
Jan Woutersz was waarskynlik die eerste hoenderboer in Suid-Afrika. In die 18de en 19de eeu was daar nog geen georganiseerde hoenderboerdery nie, maar die meeste boere het wel hoenders op die werf aangehou. Hoenders is ook tydens die Groot Trek die binneland ingeneem in spesiale houthokke, wat onder aan die ossewa gehang het.
Kalkoene duimnael|'n Kalkoenmannetjie wat pronk Kalkoene het oorspronklik wild in Noord-Amerika voorgekom. Die Asteke het waarskynlik kalkoene as huisdiere aangehou. Ook ander Indiaanse kulture het die kalkoen mak gemaak, veral vir die vleis maar ook vir hul mooi vere. Die mak kalkoen stam af van die subspesie Meleagris gallopavo gallopavo, wat nog in die suide van Mexiko aangetref word. In sy oorspronklike woongebied is hierdie kalkoen vandag baie skaars en word dit as 'n bedreigde spesie beskou. Kort nadat Amerika ontdek is, het die Spanjaarde kalkoene saam met hulle teruggeneem Europa toe.
Die huidige kalkoenrasse stam van hierdie ingevoerde voëls af. Daar is bruin of sogenaamde bronskleurige kalkoene, in Suid-Afrika die bekende blougrys kalkoen, en ook die oorheersende wit kalkoenras, veral in die Europese pluimveebedryf.
Eende en ganse duimnael|160px|'n Wildlopende makgans in Tasmanië Die moderne eenderasse in die pluimveebedryf stam af van die verskillende wilde-eende in die Noordelike Halfrond, soos Anas platyrhynchos, die Indiese drafeend en die beroemde Pekingeend. Die Chinese was waarskynlik die eerste mense wat eende mak gemaak het. Eende is nie net vanweë hul vleis en eiers aangehou nie, maar ook vir hulle dons en vere. Dit is bekend dat die Voortrekkers ook eende saam met hulle die binneland ingeneem het.
In die Oudheid is ganse op groot skaal in verskeie dele van Europa aangehou. Hulle het waarskynlik van die bekende wilde- of grysgans (Anser anser) afgestam. Die Romeine was veral lief vir die diere. Ganse is wel diere en was dus grotendeels selfversorgend. Namate minder ruimte in Europa beskikbaar was, het die gewildheid van die gans as plaasdier afgeneem. In Oos-Europa is die gans nog 'n gewilde plaasdier, maar in Wes-Europa word hulle nog net op groot skaal aangehou vir die produksie van ganslewers.
Veranderde benadering Hoenders, ganse en makoue is vir 'n lang tyd as feitlik selfversorgende diere op plase of in agterplase aangehou. Pluimveeboerdery was aanvanklik nie op vleisproduksie toegespits nie, en die vere is hoofsaaklik gebruik vir die verfraaiing van klere, die maak van kussings, matrasse en ander artikels. Die eerste volwaardige pluimveeskou is in 1849 in Boston in die VSA gehou, en hierdeur is die studie van die destyds bestaande rasse sterk aangemoedig.
Dit was ook die aansporing tot die ontwikkeling van nuwe rasse en soorte. Kennis van eierproduksie was in daardie jare uiters gebrekkig. Oor die kunsmatige uitbroei van eiers was die destydse hoenderboere minder onseker. Die Ou Egiptenare en die Chinese het al geweet hoe dit gedoen moet word. Teen die einde van die 19de eeu het die beperkte pluimveebedryf in Suid-Afrika hom begin toespits op die teel van rashoenders. James Templar het byvoorbeeld in 1883 ʼn klompie rasegte hoenders ingevoer en ene Jan Hofmeyr en 'n boer, bekend as Van Eyssen, het sy voorbeeld gevolg.
Die eerste pluimveeklubs is in 1884 in Natal en in 1893 in die Westelike Provinsie gestig – laasgenoemde het 110 lede gehad. In 1904 het pluimveeliefhebbers die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging in Kimberley gestig, hoofsaaklik met die oog op die bevordering en beheer van pluimveeskoue. Pluimveeliefhebbers is so geïnspireer dat pluimvee uit Brittanje, Nieu-Seeland, Denemarke, Duitsland, Frankryk, België, Italië, die VSA en die Verre Ooste ingevoer is.
Gedurende 1914 is eiers ten bedrae van R132 000 ingevoer. Na die Eerste Wêreldoorlog moes Suid-Afrika egter selfversorgend raak en in 1921 is eiers ten bedrae van R400 000 na Brittanje en Europa uitgevoer. Die gevolge van die Anglo-Boereoorlog was 'n werklike stukrag in die ontwikkeling van die pluimveebedryf in Suid-Afrika. Omdat Transvaal en die Vrystaat na die oorlog feitlik kaal gestroop was van hul inkomstebronne, is hoenderboerdery beskou as 'n vinnige metode om die veefaktor in te skakel en terselfdertyd as tussentydse voedselbron te dien. Teen 1930/ 31 het uitvoere die rekordsyfer van 193 162 kiste van 30 dosyn elk bereik.
Die Tweede Wêreldoorlog, wat in 1939 uitgebreek het, het feitlik alle uitvoer tot stilstand gebring. Die Staat was verplig om as koper op te tree en dit het die hele bemarkingstruktuur verander. In 1953 is die Eierbeheerraad gestig. Pluimveeboerdery in Suid-Afrika het gedurende die laaste 80 jaar ʼn belangrike bedryf geword en groot pluimveeplase word naby Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein, Durban en Pietermaritzburg aangetref. Die klem in die pluimveebedryf het dus op hoenders en hoendereiers geval.
Teenoor die pluimveebedryf wat enersyds ontwikkel het, het daar, anders as in Europa, ook nog heelwat pluimvee op kleiner skaal op die gewone gemengde boerdery agtergebly. In Europa het pluimvee feitlik heeltemal van die plase af verdwyn en in die bedryf beland. In Suid-Afrika het die proses heelwat stadiger en anders verloop, hoewel die beeld van die pluimveeboerdery in die laaste paar dekades drasties verander het. Sowat 50 jaar gelede was die aanhou van hoenders heeltemal gebaseer op hul natuurlike leefwyse: 'n haan met 'n klompie henne wat vry kon rondbeweeg, en saam 'n hegte groepie met 'n streng hiërargie gevorm het. Die hele dag lank het die werfhoender geskrop op soek na sade, wurms en insekte.
In die natuur het hulle in bome geslaap, maar op plase of in die agtertuin was daar 'n hoenderhok om hulle teen roofdiere te beskerm, en in plaas van takke het hulle op stellasies geslaap. Gewoonlik is daar eenkant in die hok 'n plek afgesonder waar die henne kon lê. Dit is hierdie wydverspreide weglêery wat die uithaal van eiers 'n baie tydrowende taak gemaak het. In Europa is die toneel van die klompie vrylopende hoenders, eende of ganse beslis verby, maar nog nie heeltemal in Suid-Afrika nie.
duimnael|180px|'n Plymouth Rock-hoender Terwyl dit in Europa ekonomies nie meer moontlik is om pluimvee op hierdie "natuurlike" manier aan te hou nie, word die metode van boerdery in Suid-Afrika met sy talle kleinboere en landelike gemeenskappe nog algemeen toegepas. Dit gaan in sulke gevalle nie werklik oor die ekonomiese bedryf nie, maar oor ʼn voorraad eiers en vleis vir 'n selfversorgende klein gemeenskap. Aan die ander kant het die aanhou van hoenders in 'n hok in die agterplaas op selfs die groter dorpe heeltemal onekonomies geword.
Die hoenders eet in geldwaarde meer kos op as wat hulle in vleiswaarde en eiers kan produseer. Die werfhen of vars eier uit die hoenderhok het 'n buitensporige duur artikel geword. Die enigste manier om hoenders en ander pluimvee ekonomies lonend te maak, was die oorskakeling na die massabedryf. Op die moderne pluimveeplase word enorme getalle hoenders in 'n beperkte ruimte binnenshuis gehou, dikwels sonder daglig. Hulle kan skaars beweeg, en hulle enigste taak is die lê van eiers of om so vinnig moontlik te groei sodat hulle geslag kan word.