Leonard Norman Cohen (21 September 1934–7 November 2016) was 'n Kanadese sanger, liedjieskrywer, musikant, digter en romanskrywer wat in die 1960’s gewild geword het. Hy het ’n baie lae sangstem gehad en sy vroeë liedjies is bekend vir hul hartseer en neerslagtige toon.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Cohen het sy grootste suksesse in die 1960's behaal en word naas Bob Dylan en Paul Simon as een van die invloedrykste musikale kunstenaars van dié periode beskou. Hy het tot in die 21ste eeu gehore met sy unieke diep stem en melancholiese sangstyl vermaak. Sy werk behandel dikwels temas van godsdiens, seksualiteit en die verhoudinge tussen mense. Onder sy bekendste liedjies tel "Suzanne" (1968) en "I’m Your Man" (1988). Sy lirieke het vir meer as vyftig jaar lank 'n beslissende invloed op ander musikale kunstenaars en skrywers uitgeoefen.
Leonard Cohen is deur die Amerikaanse Rock and Roll Hall of Fame asook die Kanadese Music Hall of Fame en Songwriters Hall of Fame vereer. Die sanger het daarnaas die hoogste burgerlike toekenning in Kanada, die Ordre du Canada/Order of Canada, ontvang.
Biografie
Cohen is op 21 September 1934 in Westmount, 'n Engelssprekende voorstad van Montreal, Quebec, in 'n Joodse middelklasgesin gebore. Sy ma, Marsha (Masha) Klonitsky, 'n boorling van Kaunas, was die dogter van 'n Talmoediese skrywer van Litaus-Joodse afkoms, Rabbi Solomon Klonitsky. Sy oupa aan vaderskant, wat saam met sy gesin in 1927 uit Pole na Kanada geïmmigreer het, was die stigterspresident van die Kanadese Joodse Kongres.
Sy pa, Nathan Cohen, die eienaar van 'n betreklike groot klerebesigheid, is oorlede toe Cohen nege jaar oud was. Die Cohens was aanhangers van Ortodokse Judaïsme, 'n stroming binne die Joodse godsdiens waarin tradisie en 'n streng onderhouding van die Wet van Moses sentraal staan, en lede van die Shaar Hashomayim-kongregasie, 'n Joodse Asjkenasi-gemeente in Westmount waarmee Cohen gedurende sy gehele lewe bande gehandhaaf het.Toronto Star, 11 November 2016: Leonard Cohen buried quietly on Thursday in Montreal
Hy is op 7 November 2016 in Los Angeles in die Verenigde State oorlede. Sy vyftiende ateljee-album Thanks for the Dance met nege nuwe liedere, waaraan Leonard Cohen kort voor sy afsterwe nog aan gewerk het, is deur sy seun Adam voltooi. Dit is in November 2019 postuum vrygestel.
Verwysings
Eksterne skakels
Amptelike webwerf
Kategorie:Kanadese digters Kategorie:Kanadese Jode Kategorie:Kanadese musici Kategorie:Kanadese skilders Kategorie:Kanadese skrywers Kategorie:Sangers Kategorie:Geboortes in 1934 Kategorie:Sterftes in 2016