Nieu-Seeland (Engels: New Zealand, [njuːˈziːlənd], ; Māori: Aotearoa, [aɔˈtɛaɾɔa]) is 'n eilandstaat in die suidwestelike Stille Oseaangebied. Geografies bestaan dié land, wat in 1840 tot Britse kolonie verklaar is en in 1907 'n dominium binne die Britse Gemenebes van Nasies geword het, uit twee hoofeilande en 'n aantal kleiner eilande. Nieu-Seeland is 'n grondwetlike monargie met Charles III as staatshoof (verteenwoordig deur die goewerneur-generaal, dame Cindy Kiro) en 'n eenkamerparlement met 121 afgevaardigdes. Saam met die Cookeilande, Niue, die Ross-Afhanklikheid en Tokelau vorm dit die Koninkryk van Nieu-Seeland.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Nieu-Seeland in 2002 'n Algemene Māorinaam vir Nieu-Seeland is Aotearoa, meestal vertaal as Land van die Lang Wit Wolk. Nieu-Seeland staan bekend vir sy isolasie: dié land word deur die Tasmansee, wat ongeveer 2 000 kilometer wyd is, van sy noordwestelike buurland Australië geskei. Die naaste buurlande is Nieu-Kaledonië, Fidji en Tonga in die noorde en Antarktika in die suide. Weens sy afgeleë ligging was Nieu-Seeland – behalwe vir Antarktika – die laaste groot landmassa waar mense hulle gevestig het.

Nieu-Seeland kan nóg in geografiese nóg in kulturele opsig by 'n bepaalde vasteland gereken word: dié land lê gedeeltelik op die Australiese asook die Pasifiese Plaat en toon sowel ooreenkomste met die hoofsaaklik Europese kultuur van Australië as die Polinesiese gedeelte van Oseanië. Die eilandstaat vorm die westelike punt van die Polinesiese Driehoek.

Nieu-Seeland verskil van ander nywerheidslande deur sy ongewone ekonomiese struktuur – die belangrikste sektore is land- en bosbou, voedselverwerking en toerisme. Dikwels word na Nieu-Seeland as 'n "groen eiland" verwys, veral vanweë sy lae bevolkingsdigtheid, sy ongeskonde natuur asook sy veelsydige en – danksy die geïsoleerde ligging – unieke flora en fauna.

Van Nieu-Seeland se byna vyf miljoen inwoners woon rofweg 3,5 miljoen op die Noordeiland en een miljoen op die Suideiland. Hierdie eilande is onder die grootstes in die wêreld en die gekombineerde landarea is vergelykbaar met dié van die Britse Eilande en meer as twee keer so groot soos die Wes-Kaap. Tesame met Aotearoa, was 'n ander Māorinaam vir Nieu-Seeland Niu Tireni, 'n transliterasie van die Engelse naam.

Ander eilande het veel kleiner bevolkings en dek baie minder landarea. Die belangrikste van hierdie eilande is: Stewart-eiland (suid van die Suideiland), die derde grootste eiland volgens landarea met 'n bevolking van sowat 400. Waiheke-eiland, 'n eiland in Auckland se Haurakibaai, en met 'n bevolking van sowat 7 000 (veel meer in die somer), die derde digste bewoonde eiland in Nieu-Seeland. Groot Barrière-eiland, oos van die Haurakibaai. Chathameilande, 'n afgeleë groep eilande met 'n bevolking van sowat 750.

Veral sedert die 1990's het 'n groot aantal Suid-Afrikaanse immigrante hulle in Nieu-Seeland gevestig. Tans is meer as 40 000 Nieu-Seelanders in Suid-Afrika gebore, maar ook sowat 18 000 Amerikaners het 'n nuwe tuiste in die Pasifiese eilandstaat gevind.

Etimologie duimnael|links|Die westelike kus van Nova Zeelandia op 'n kaart van 1666 duimnael|James Cook se kaart van Nieu-Seeland in 1769 Aotearoa (wat letterlik vertaal as "land van die lang wit wolk") is die huidige Māori-naam vir Nieu-Seeland en word ook gebruik in Nieu-Seelandse Engels. Dit is nie bekend of die Māori voor die aankoms van die Europeërs reeds enige benaming gebruik het wat na die hele land verwys het – oorspronklik is net die Noordeiland Aotearoa genoem. Op 13 Desember 1642 het Abel Tasman Nieu-Seeland ontdek en dit – met die veronderstelling dat dit Vuurland, die mees suidelike punt van Suid-Amerika, sou wees – State Landt genoem.

In 1645 het Nederlandse kartograwe die eilande na die provinsie Zeeland Nova Zeelandia genoem. Hierdie benaming is deur die Britse ontdekkingsreisiger James Cook in 1769 verengels na New Zealand.

Die Māori het verskeie tradisionele name vir die twee hoofeilande, insluitend Te Ika-a-Māui (die vis van Māui) vir die Noordeiland en Te Wai Pounamu (die water van Greenstone) of Te Waka o Aoraki (die kano van Aoraki) vir die Suideiland. Vroeë Europese kaarte verwys na die eilande as Noord (Noordeiland), Middel (Suideiland) en Suid (Stewart-eiland / Rakiura). Sedert 1830 gebruik kaarte die terme Noord en Suid om die twee grootste eilande van mekaar te onderskei en sedert 1907 is dit die aanvaarde norm. Die New Zealand Geographic Board het in 2009 ontdek dat die name van die twee eilande nog nooit geformaliseer was nie, beide die benamings en alternatiewe is in 2013 geformaliseer. Die amptelike name is nou North Island of Te Ika-a-Māui vir die Noordeiland en South Island of Te Waipounamu vir die Suideiland. Vir albei eilande kan die Engelse óf die Māori-name óf beide name bymekaar gebruik word.

Geografie Ligging duimnael|links|'n Ortografiese projeksie met die Bounty-eilande as sy middelpunt duimnael|Nieu-Seeland en die subantarktiese eilandgroepe duimnael|Die eksklusiewe ekonomiese sone van Nieu-Seeland en sy oorsese gebiede Nieu-Seeland is suid van die ewenaar op die Suidelike Halfrond geleë, en sy eilande vorm afgeleë gebiede in die suidwestelike Stille Oseaan. Gewoonlik word dié land by Oseanië gereken (veral wanneer hierdie geografiese term ook Australië insluit), maar soms volgens 'n meer spesifieke geografiese en kulturele oogpunt ook as 'n deel van Polinesië beskou. Vanweë die kulturele ooreenkomste met Australië word Nieu-Seeland daarnaas ook by dié vasteland gereken.

Die Tasmansee, wat deel uitmaak van die Stille Oseaan, lê wes van die hoofeilande en skei Nieu-Seeland van Australië, die mees nabygeleë landmassa 1 600 kilometer wes daarvan. Die Antarktiese landmassa lê 3 000 kilometer verder suidwaarts. Kleiner lande of oorsese gebiede naby Nieu-Seeland sluit Nieu-Kaledonië, Tonga en Fidji in die noorde in. Nieu-Seeland is dié land wat die verste van Sentraal-Europa af lê; dele van dié land is op die aardbol net teenoor Spanje geleë en vorm dus sy antipode.

Naas die twee hoofeilande, Noord- en Suideiland, is daar meer as 700 kleiner eilande. Die hoofeilande, waarna dikwels ook as die Nieu-Seelandse vasteland (Mainland New Zealand) verwys word, word deur die Cook-seestraat, waarvan die nouste punt maar 23 kilometer wyd is, van mekaar geskei. Baie van die kleiner eilande soos Stewart-eiland, wat dikwels nog by die Nieu-Seelandse Mainland gereken word, die Great Barrier-eiland en die digbevolkte Waiheke-eiland is binne 'n radius van vyftig kilometer van die hoofeilande se kuslyn af geleë.

Net die Kermadec-eilande 1 000 kilometer noord van die Noordeiland, die Chathameilande (wat 700 kilometer oos van die Noordeiland naby die Internasionale datumgrens geleë is) en die vyf Sub-Antarktiese eilandgroepe – Auckland, Campbell, Antipodes, Snares en Bounty – meer as 200 kilometer suid van die Suideiland maak nie deel uit van die hoofeilande se argipel nie. Die Noordeiland is heeltemaal op die Australiese Plaat geleë, terwyl die Suideiland sowel deel uitmaak van die Australiese asook die Pasifiese Plaat. Die twee hoofeilande was gedurende die laaste Ystydperk nog met mekaar verbind. Net soos Ysland kan hulle derhalwe ook as 'n selfstandige vasteland beskryf word aangesien hulle destyds nog albei op twee plate geleë was.

Nieu-Seeland maak amptelik aanspraak op die Ross-Afhanklikheid in Antarktika wat eweneens 'n reeks kleiner eilande behels; volgens die Antarktiese Ooreenkoms word Nieu-Seeland se aanspraak egter op internasionale vlak nie erken nie. Daarnaas maak Tokelau as 'n afhanklike gebied deel uit van Nieu-Seeland, terwyl die Cookeilande en Niue as selfregerende gebiede op die grondslag van vrye assosiasie met Nieu-Seeland verbind is. Hierdie gebiede maak deel uit van die Koninkryk van Nieu-Seeland.

Nieu-Seeland se totale oppervlakte beloop 268 021 vierkante kilometer; dié land is sodoende ietwat kleiner as Italië of die Filippyne, maar ietwat groter as die Verenigde Koninkryk. Terwyl die hoofeilande in oos-westelike rigting maksimaal 450 kilometer wyd is, strek hulle langs hul hoofas in noord-oostelike rigting oor 'n afstand van meer as 1 600 kilometer. Die kuslyn het 'n lengte van 15 134 kilometer. In vergelyking met sy landmassa het Nieu-Seeland relatief uitgestrekte territoriale waters met 'n oppervlakte van 167 653 vierkante kilometer en een van die wêreld se grootste eksklusiewe ekonomiese sones (EES) met 3 931 136 vierkante kilometer.

Geologie duimnael|links|Die Taupomeer op die Noordeiland is in 'n kaldera geleë wat meer as 20 000 jaar gelede tydens die uitbarsting van 'n supervulkaan gevorm is duimnael|Geologiese kaart van Seelandië duimnael|Die Pohutu-geyser in Whakarewarewa Soos die meeste huidige landmassas op die Suidelike Halfrond het ook Nieu-Seeland tot sowat 200 miljoen jaar gelede deel uitgemaak van die prehistoriese Gondwana-vasteland, 'n reusagtige vasteland op die Suidelike Halfrond wat vanuit die westelike Suid-Amerika oor Afrika en Australië tot by die westelike Stille-Oseaangebied gestrek het. Dit is nie presies bekend wanneer die huidige Nieu-Seeland homself van die landmassa, wat tans Antarktika vorm, losgewikkel het nie, maar deskundiges reken dat hierdie proses gedurende die Kryt, rofweg 85 miljoen jaar gelede, of selfs vroeër al aan die gang was – en wel voordat ook Australië van Gondwana losgebreek het.

Nieu-Seeland was voortaan 'n geïsoleerde argipel, 2 000 kilometer van Australië en 8 000 kilometer van Chili af geleë – 'n gebied waarmee dit gedurende die Ystydperk via Antarktika nog verbind was. Sommige ooreenkomste ten opsigte van Nieu-Seeland se flora getuig hiervan.

Sedert hierdie periode het in Nieu-Seeland 'n flora en fauna ontwikkel wat onafhanklik van dié van ander landmassas was. In geologiese opsig het die eilande 'n rustige periode deurloop waartydens sy bergreekse aan sterk erosie blootgestel en uiteindelik volledig verweer was. Uitgestrekte, laer geleë moerasgebiede het ontstaan wat later tot steenkoolvelde omgevorm is.

Minder as 30 miljoen jaar gelede het weer 'n onstuimige geologiese periode begin, en dieper liggende gebiede het uit die see begin verrys. Nieu-Seeland se kuslyn het tydens die Mioseen 'n growwe vorm gekry wat eers in die laaste paar miljoen jare tot sy huidige gestalte ontwikkel het. Baie berge en valleie is selfs later, in die loop van die laaste 100 000 jaar, gevorm. Gedurende die Ystydperk was veral die Suideiland sterk vergletser.

Tans is Nieu-Seeland op die grenslyn tussen die Australiese en die Pasifiese Plaat geleë. Alhoewel hierdie tektoniese plate nie regstreeks teen mekaar skuur nie, oefen hulle nogtans 'n beduidende invloed op die eilandstaat uit. Hul frontale krag laat geologiese breuke ontstaan wat druk op verskillende gesteentelae uitoefen en die grond steeds verder na bowe skuif. Die tweede krag, wat langs die kante werk, lei tot sogenaamde transform-versteurings wat soms aardbewings en tsoenamis kan veroorsaak.

Net soos ander lande, wat langs die grens van die Pasifiese Plaat geleë is, behoort ook Nieu-Seeland tot die Pasifiese Ring van Vuur. Aardbewings, breuke en vulkaniese aktiwiteit is tipiese verskynsels in hierdie gebied, en sommige van die aarde se aktiefste vulkane is in Nieu-Seeland geleë. Hierdie vulkane is beperk tot die Noordeiland en baie van hulle is in die Taupo Volcanic Zone in die sentrum van die eiland gekonsentreer.

Al drie vulkane in die Sentrale Plato is byvoorbeeld nog aktief – die stratovulkaan Ruapehu het so onlangs as 2007 uitgebars. Die aardkors in die Bay of Plenty-gebied is so dun soos nergens anders in die wêreld nie so dat verskillende soorte geotermiese aktiwiteite soos geysers en warm fonteine hier aangetref kan word. 'n Bekende vulkaan in hierdie gebied is White Island; sy laaste groot uitbarsting was in die jaar 2016.