duimnael|300px|Die behandeling van water in 'n suiweringsaanleg maak die water skoner.|alt= Waterbesoedeling is slegs die besoedeling van watermassa (soos mere, riviere, oseane en grondwater). Waterbesoedeling kom voor wanneer die besoedelende stof direk of indirek in die watermassa beland sonder voldoende behandeling om die skadelike stof te verwyder.

Waterbesoedeling beïnvloed plante en organismes wat in die water lewe en in byna alle gevalle is die uitwerking nie net skadelik wat individuele spesies en bevolkings betref nie, maar ook die biologiese gemeenskappe.

Algemeen Water wat in die natuur voorkom, bevat altyd 'n hoeveelheid organiese en anorganiese stowwe, waarvan die konsentrasies in 'n dinamiese ewewig verkeer en deur 'n komplekse reeks prosesse gehandhaaf word (selfsuiweringsvermoë). Sodra hierdie balans sodanig versteur is dat die water nie sonder nadelige gevolge gebruik kan word nie, is dit besoedel.

Oorsake kan van natuurlike oorsprong wees, soos byvoorbeeld erosie, waardeur groot hoeveelhede grond in die water beland, of uitloging van die ondergrond, waardeur anorganiese soute en sure in die water opgelos word. Oormatige waterbesoedeling is kenmerkend vir die bevolkingsaanwas en toenemende industrialisasie van die 20e eeu.

Huishoudelike en nywerheidsafvalwater beland in riviere en damme, terwyl chemikalieë wat aan landbougewasse toegedien word, nie net die grond besoedel nie, maar later in spruite, damme, riviere en die see gevind kan word. Dit beteken dat nie net visse nie, maar ander waterdiere en plante ook vernietig word. In die afgelope tyd was daar byvoorbeeld verskeie voorvalle van visvrektes in die Vaalrivier vanweë waterbesoedeling deur fabrieksafvalstowwe. In 2018 is beraam dat in sommige dele van die Vaal 80% van die lewe in die rivier se water reeds verdwyn het.

Ontspanning het ook al 'n besoedelingsfaktor geword: rommel wat deur hengelaars en duisende piekniekgangers in die water gegooi word en olie afkomstig van motorbote is van die grootste oorsake van die besoedeling van natuurlike waterbronne. Sedert die sewentigerjare is daar ook besef dat besoedeling nie net die verbruikersmoontlikhede van water beperk nie·, maar ook nadelig vir die omgewing is. Benewens biologiese besware kan estetiese en etiese besware aangevoer word omdat vuil, lewelose water groot afbreuk aan die natuurskoon doen.

Hoewel die oseane se water 70% van die aarde se oppervlak bedek is in talle dele van die wêreld (onder meer Suid-Afrika) vars water skaars en daarom moet die beskikbare water ten volle benut word. Om besoedeling in Suid-Afrika te bekamp, is streng wetgewing ingestel (die Waterwet, No. 54 van 1956) ingevolge waarvan die samestelling van nywerheids - en riooluitvloeisels wat in riviere gestort word, streng beheer word.

Wetgewing rakende waterbesoedeling moet egter op internasionale vlak deurgevoer word om doeltreffend te wees, aangesien die besoedelde water van riviere uiteindelik in die see beland.

Organiese besoedeling Daar word 'n onderskeid gemaak tussen biologiese en chemiese besoedeling. Biologiese besoedeling ontstaan wanneer water met menslike en dierlike uitwerpsel en slagafval besmet word en virusse, bakterieë en ander siektedraende mikroörganismes in die water aanwesig is. Groot konsentrasies paratifus- en tuberkulosebakterieë kom in rioolwater van groot stede en in die afvalwater van nywerhede voor.

Onsuiwerhede van natuurlike oorsprong in water word deur sommige aërobiese bakterieë afgebreek. Oliebesoedeling is nie net tot die see beperk nie: olie en olieprodukte word vanweë lekkasies en die uitspoel van oliehouers deur riole na waterbronne gevoer. 'n Olielaag op die wateroppervlak belemmer die suurstoftoevoer na lewende organismes onder die oppervlak. Watervoëls kry dodelike hoeveelhede olie in wanneer hulle hul vere probeer skoonmaak.

Die aktiewe bestanddele van wasmiddels wat in waterbronne beland, breek die drywende olie op in klein druppels, wat deur visse en waterdiere opgeneem kan word. Landbouchemikalieë kan akute en chroniese vergiftiging by diere en plante veroorsaak. Sommige giftige stowwe hoop op in dierlike weefsel, wat vrektes kan veroorsaak, soos die geval was met die groot visvrektes in die Ryn in 1969. Die situasie in die Ryn het sedertdien baie verbeter. Dit het selfs in 2013 die Europese Rivierprys gewen wat deur die International River Foundation (IRF) toegeken word. Maar daar is steeds probleme in Europese riviere. In 2022 het 300 ton vis in die Oder gesterf. Die oorsaak was 'n verhoogde saliniteit deur sout wat uit die Poolse myne afkomstig is. Dit het die groei van 'n algspesies bevorder.

Gevoelige plant- en diersoorte dien as biologiese indikators waarvolgens die giftigheidsgraad van water bepaal kan word. Hulle dui die aanwesigheid, maar nie die aard nie, van gifstowwe aan. Sekere gifstowwe, soos DDT, is so skadelik dat die gebruik daarvan streng beheer word. Navorsing het getoon dat gebiede wat ver van enige menslike aktiwiteit geleë is, reeds met DDT besmet is: DDT is byvoorbeeld in visweefsel by Rosseiland in die Suidpoolgebied gevind.

Anorganiese besoedeling Die anorganiese besoedeling van water, byvoorbeeld deur soute, sure en ione van swaar metale, lei tot vergiftiging, versouting en eutrofikasie. Die grootste sondaars op die gebied is nywerhede en myne wat groot hoeveelhede koper, kwik, sink, chroom, lood, sianied, suur, ensovoorts in water laat beland. Die landbousektor is eweneens skuldig aan besoedeling (kunsmis), terwyl huishoudelike afvalwater stowwe soos fosfate en wasmiddels bevat. Nie alleen die oppervlakwater nie, maar ook grondwater word hierdeur besoedel.

Vergiftiging Vergiftiging word veral deur swaar metale veroorsaak. Metaalione word opgeneem deur skulpdiere soos mossels, wat weer deur die mens geëet word. In die vyftigerjare is talle mense in Minamatabaai in Japan weens kwikvergiftiging dood omdat hulle vergiftigde vis geëet het.

Versouting Die toename in die soutinhoud van oppervlakwater berokken groot skade aan landbougewasse en skep probleme in die voorsiening van drinkwater. Die belangrikste oorsaak van versouting in Wes-Europa was die groot hoeveelhede sout afkomstig uit myne in Frankryk wat deur die Ryn weggevoer is. Dieselfde probleem word in Suid-Afrika ondervind, veral in die Hartbeespoortdam suiwer rivierwater het 'n soutinhoud van minder as 10 dele in 1 miljoen dele water. die soutinhoud van die Hartbeespoortdam het van 34 dele in ʼn miljoen (1980) tot 45 dele (1982) gestyg.

Eutrofikasie

Eutrofisering vind plaas wanneer binnelandse water met fosfaat- en stikstofverbindings (afkomstig van landbou- en huishoudelike afvalwater) "verryk" word. Die kunsmatige verryking van water bring sekere fisiese en chemiese veranderings mee. Die gasbalans in varswater (O2/CO2-verhouding) word deur fotosinterende bakterieë en alge, wat suurstof produseer en koolsuurgas gebruik, in stand gehou. Indien daar 'n skielike toevloei in voedingstowwe soos nitrate en fosfate is, neem die getalle van alge so drasties toe dat hulle mekaar in die water oorwoeker.

Groot hoeveelhede sterf derhalwe af en stel sodoende nog voedingstowwe aan die aërobiese heterotrofe bakterieë beskikbaar. Die bakterieë, wat suurstof gebruik en koolsuurgas produseer, vermeerder vinnig. Dit versteur die gasbalans en veroorsaak dat baie plante en diere doodgaan en sodoende meer organiese voedingstowwe aan die bakterieë beskikbaar stel. Na 'n tydperk is daar geen suurstof meer in die onderste lae van die water oor nie, wat weer toestande vir die anaerobiese saprofitiese bakterieë gunstig maak (hulle kan nie in die aanwesigheid van suurstof leef nie).

Die water se suurstofkonsentrasie is dus besonder laag, die pH daal (water word suurder) en weldra oorleef net 'n paar vissoorte in die boonste lae van die water. Eutrofisering kan beheer word deur te verhoed dat riooluitvloeisel in damme of mere beland of deur die nutriënte uit rioolafval te verwyder voordat dit in die rivier of dam vloei. Die probleem kan verder bekamp word deur landboupraktyke met betrekking tot die toediening van kunsmis te verbeter en deur fosfate uit waswater te verwyder.

Seebesoedeling

Besoedeling van die seewater word veroorsaak deur besoedelde water van riviere wat in die see uitmond, afvalstowwe wat van nywerhede en stede langs die kus afkomstig is, afval van skepe en giftige stowwe in die lug wat in die water oplos. Daar is 'n wanopvatting dat die groot watermassa van oseane die besoedelingsprobleem self kan oplos. Seebesoedeling het egter al sulke ernstige afmetings aangeneem dat die gevolge daarvan nie langer onderskat kan word nie.

Besoedeling deur afvalwater In die algemeen skep huishoudelike afvalwater geen probleem vir die oseane nie, maar ten opsigte van kuswaters, riviermondings en baaie skep dit wel 'n probleem. Bakterieë en virusse wat siektes veroorsaak, is in ongesuiwerde rioolwater aanwesig. Dit is baie gevaarlik om rou skulpdiere uit besoedelde seewater te eet omdat skulpdiere bakterieë saam met water inneem en dit in hul weefsels behou.

Oesters moet byvoorbeeld gedurig gekontroleer word. Nitrate en fosfate wat nie vooraf uit huishoudelike en nywerheidsafvalwater verwyder word nie, het ʼn ernstige uitwerking op die gehalte van seewater. Ongeveer 50 000 ton fosfor beland jaarliks in die Noordsee. Die oormaat plantvoedingstowwe kan 'n oordadige groei van alge meebring en uiteindelik veroorsaak dat die suurstofkonsentrasie daal, wat die eutrofiseringsproses aan die gang sit.

Toksiese stowwe soos DDT en chemiese stowwe (swaar metale, sure en gasse) word via grondwater of afvalwater na die see gevoer. DDT word nog steeds in plankton in die oseane en in die weefsel van robbe en pikkewyne uit die poolstreke gevind. Wetenskaplikes glo dat twee derdes van die ongeveer 1,5 miljoen ton DDT wat vervaardig is voordat die gebruik daarvan beperk is, steeds in afsaksels op die seebodem voorkom.

Seebesoedeling via die lug Tot in die sewentigerjare is geglo dat slegs radioaktiewe afval van kernproewe die see via die dampkring besoedel. Dit blyk egter dat ander stowwe ook op die manier in die water val. Ongeveer 350 000 ton lood (hoofsaaklik afkomstig van uitlaatpypgasse van motors) het jaarliks in die see beland. UNEP, die United Nations Environment Programme, het 19 jaar geprobeer om die gebruik van tetraëtiellood in motorbrandstowwe wêreldwyd te ban, maar in sommige lande het politici groot, goedkoop voorrade gekoop. In Julie 2021 het Algerië die laaste voorraad verbruik. Die Verenigde Nasies skat dat die globale uitfasering $2,44 triljoen per jaar bespaar het, danksy verbeterde gesondheid en laer misdaadsyfers, en die voorkoming van meer as 1,2 miljoen voortydige sterftes. Maar loodhoudende brandstof kan steeds in vliegtuie en veldvoertuie gebruik word.

Ongeveer 100 000 ton kwik word ook na die see gevoer: Water wat met kwik besoedel is, kan dodelike gevolge hê, soos die talle sterftes van mense in Minamatabaai getuig: 'n Chemiese nywerheid in Minamata het onder meer van kwikverbindings gebruik gemaak en die afval in die baai laat vloei. Die uitwerking daarvan het in 1950 duidelik geword toe dooie visse in die baai begin uitspoel het. Twee jaar later het katte begin doodgaan en teen 1953 het die inwoners simptome van verlamming, blindheid en breinbeskadiging begin toon.

Teen 1976 is 120 inwoners aan kwikvergiftiging dood, 800 het breinskade opgedoen en teen 1978 is altesaam 1 500 vir kwikvergiftiging behandel. Die nywerheid se jarelange weiering om verantwoordelikheid te erken en die besoedeling te staak, het die tragedie vererger.

Oliebesoedeling