duimnael|300px|Voorbeeld van 'n wapen
'n Wapen is 'n stuk gereedskap wat gebruik word om mense, diere of voorwerpe te beseer, beskadig of dood te maak. Dit kan gebruik word as aanval- of verdedigingsmiddel. Sedert die begin van die menslike geskiedenis het mense al wapens vir jag, selfverdediging en oorlogvoering gebruik.
Die ontwikkeling van wapens is deur die eeue heen gestimuleer deur die eise wat gebruikers aan hulle wapens gestel het. Die kennis en bewerking van metale hang ten nouste saam met die ontwikkeling van wapentuig. Eeue gelede was die mens al daartoe in staat om wapens van hoë gehalte uit metaal te vervaardig.
Hierdie wapens was gewoonlik versier en was dan ook statussimbole. Groot kundigheid en vernuf is aan die dag gelê, want die bekendstelling van 'n aanvalswapen het telkens tot die uitvinding van ʼn verdedigingsmetode gelei. Die wapenwedloop wat kenmerkend vir die 20e eeu geword het, bring mee dat die ontwikkeling van wapentuig teenswoordig selfs vinniger as tevore geskied. Vuurwapens is alle wapens wat ʼn projektiel deur middel van 'n plofstof kan afvuur.
Konteks Wapens is hulpmiddels in die geveg tussen individue of groepe mense. Vandag word wapens vir oorlogvoering en verdediging gebruik, maar in die primitiewe tye het mense gewoonlik hulle werktuie as wapens gebruik. 'n Voorbeeld hiervan is die handbyl, wat in die eerste plek nie 'n wapen was nie maar wel as sodanig gebruik is; dit geld ook vandag ook vir die mes en die jaggeweer. Tot in die Laat Middeleeue was Wes-Europa nie baanbrekers op die gebied van wapentuigontwikkeling nie; maar dit het na die koms van vuurwapens verander.
Onderskeid in wapens Daar word hoofsaaklik tussen aanvals en verdedigingswapens onderskei. Dit blyk uit die geskiedenis van die ontwikkeling van nuwe tipes wapens dat verdedigingswapens meestal moes aanpas by veranderde en verbeterde aanvalswapens. By hierdie beskouing bestaan daar egter die gevaar dat die geskiedenis van wapentuig te maklik aan historiese gebeurtenisse gekoppel word.
Nie-vuurwapens word verdeel in steek-, stoot- (byvoorbeeld die lans) en slaanwapens (of kap- en slaanwapens; byvoorbeeld die swaard). Onder hierdie tipe wapens, wat bedoel is vir handgemene, tel ook primitiewe wapens soos die knuppel, en onbedekte wapens soos die sabel, piek, ensovoorts. Die ander groep staan bekend as afstandwapens.
Geskiedenis Prehistorie Die eerste mense het waarskynlik geen spesifieke wapens geken nie, en die enigste werktuig wat slegs as wapen gedien het, was die knuppel en later die strydbyl - albei was natuurlik van klip gemaak en dus moeilik hanteerbaar. Die spies, pyl en boog, en slinger is ook waarskynlik as wapens gebruik, hoewel dit in die eerste plek vir jag bedoel was.
Die gebruik van metaal, veral brons en yster, het 'n revolusie in die ontwikkeling van wapens ingelui omdat die mes, dolk en swaard toe gemaak kon word. Talle brons- en ysterswaarde uit die prehistoriese tyd is in opgrawings gevind, veral in grafte, want dit was die gebruik dat die wapenrusting saam met die dooie begrawe is. Die helm, skild en harnasdele het daarna ontwikkel omdat die krygsman hom moes beskerm teen die swaard van die vyand; dit is een van die eerste voorbeelde van die aanpassings wat ten opsigte van verdediging teen die verbeterde wapens van die vyand gemaak moes word.
In die brons- en ystertydperk is spiese en lanse van brons- of ysterpunte voorsien. 'n Laaste ontwikkeling was die verdediging van woonplekke. Vandat die mense landbouers geword het en gevolglik vaste woonplekke gehad het, was hulle huise blootgestel aan roof en plundering. Sedert die Bronstydperk is nedersettings dus beskerm deur grondwalle, verskansings en later klipmure. So 'n verskansing het gewoonlik bestaan uit pale wat regop in die grond geplant is. Ten slotte het die perd en strydwa op die toneel verskyn; dit is waarskynlik vir die eerste keer deur Indo-Iraanse stamme in die omgewing van die Kaspiese See gebruik.
Romeinse tydperk (ca. 100 v.C. - 500 n.C.) Gedurende die Romeinse tyd is die eerste fase van die ontwikkeling van aanvals- en verdedigingswapens afgerond. Die Grieke het reeds talle nuwe wapens ontwikkel wat later deur die Romeine verbeter is. Die Romeinse legioene het 'n sterk swaard en stootlans met 'n skerp punt gebruik. Laasgenoemde was egter nie geskik in sekere omstandighede (byvoorbeeld gevegte in berge) nie, en is vervang deur 'ʼn pilum, 'n spies van ongeveer 2 m lank wat gegooi is.
'n Soldaat is beskerm deur 'n pantser van metaalringe of -plate, 'n bronshelm, beenskutte en 'n houtskild wat met kalfsvel of linne bedek is. Die legioene is in versterkte barakke gehuisves. Om stede te kon verower, het die Romeine van wapens (wat vir die eerste maal deur die Grieke gebruik is) soos die ballista (waarmee groot klippe na 'n teiken geskiet is), die ram (om mure en poorte oop te breek) en die telenon (waarmee soldate tot op vyandelike mure gehys is) gebruik gemaak.
Op see was die Karthagers die Romeine se meerderes totdat laasgenoemde galeiskepe wat toegerus was met brûe om op vyandelike skepe te kon kom (enterbrue), begin gebruik het. Dit het handgemene gevegte op see moontlik gemaak. Die galeiskip was tot in die 16e eeu 'n belangrike oorlogskip.
Middeleeue In die Frankiese Ryk (6e - 9e eeu) was daar in Wes-Europa 'n herwaardering van die perd as "wapen". In die slag van Poitiers (732) het Karel Martel die geveg met 'n swaar gewapende ruiterleër beslis. Die wapenrusting van 'n ridder het bestaan uit 'n gooibyl (franciska), 'n breë spies, 'n lang swaard (spatha) en 'n mes (scrama-sax). Later in die Middeleeue het die ysterharnas uit die maliekolder (met sy kenmerkende metaalringe) ontwikkel, en in die 15e eeu het die gepantserde perde op die slagveld verskyn.
In die Frankiese tyd het ook die burg ontstaan, wat later op die lees van kastele (oorspronklik uit die Ooste) geskoei was. Hindernisse, soos water en steil rotse, het dikwels as bykomende beskerming gedien. Stede is beskerm deur mure wat aanvanklik van grond gemaak is en later van klip gebou is. Gedurende die Laat Middeleeue het nog meer maniere ontstaan om die swaar gewapende ridderleërs se bewegings nog moeiliker te maak.
'n Gevreesde taktiek uit hierdie tyd was 'n spesiale afdeling boogskutters wat agtermekaar staan en skiet het. Veral die Engelse het gedurende die Honderdjarige Oorlog (14e - 15e eeu) met die taktiek groot sukses teen Frankryk behaal. Die gebruik van vuurwapens het die einde van die riddertydperk beteken, en was 'n tweede revolusionêre ontwikkeling in die geskiedenis van wapentuig.
Moderne tyd (16e - 19e eeu) In die 15e en 16e eeu het vuurwapens 'n integrerende deel van die krygskunde geword. Ridderleërs is nou vervang deur goed opgeleide huursoldate. Omdat die vuurwapens egter na een skoot onbruikbaar was, het die tradisionele wapens nog ʼn belangrike plek beklee. Die swaard moes plek maak vir die sabel, wat baie ligter was, en die bajonet, wat op gewere gebruik is. Ou wapens wat in die 15e eeu nog gebruik is, was die hellebaard ('n tipe byl aan ʼn lang handvatsel), spiese en knuppels met ysteruitsteeksels.
Een van die eerste leërs wat aan die eise van die nuwe tyd voldoen het, was die van prins Maurits van die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande aan die einde van die 16e eeu. Hellebaardiers is deur piekeniers vervang, terwyl daar ook 'n hele afdeling goed toegeruste musketiers was. Die ruitery het van pistole (ratslotpistole) gebruik gemaak en elkeen het 'n hele paar pistole byderhand gehad indien een probleme sou gee.
Later is die ratslotkarabyn deur die ruitery gebruik. In die 17e eeu het die bou van vestings baie aandag gekry omdat dit ontwerp moes word om bestand te wees teen vyandelike kanonvuur. Van die geniale bouwerk van die Fransman Sébastien Vauban (1633 - 1707) bestaan daar vandag nog voorbeelde en talle is tot monumente verklaar. Seilskepe is in hierdie tyd ook verander tot oorlogskepe met afsonderlike dekke vir kanonne, en bewapende handelskepe is daarna nie meer vir oorlogvoering gebruik nie.
Ontwikkeling van vuurwapens en kanonne In die 7e eeu het die Bisantyne oor 'n gedugte wapen beskik, naamlik die sogenaamde Griekse vuur. Die samestelling van hierdie wapen is onbekend, maar volgens oorlewering kon Griekse vuur kon nie eers met water geblus word nie. Griekse vuur was moontlik 'n primitiewe vlamwerper. In die 13e eeu is 'n tipe brandvuurpyl algemeen in Europa gebruik om brand in vyandelike kampe te stig. Buskruit is as dryflading gebruik en die vuurpyl had 'n trefafstand van ongeveer 2 km.
Die Duitse monnik Berthold Schwarz (begin van die 14e eeu) was die eerste persoon wat met behulp van buskruit projektiele afgevuur het; hy het handvuurwapens sowel as die sogenaamde vuurmond, wat 'n primitiewe voorloper van die kanon was, vervaardig. Gedurende die 14e eeu het die vuurwapen 'n belangrike deel van krygstaktiek en -tegniek geword. Die kanon was aanvanklik klein, maar het mettertyd groter en swaarder geword en gelei tot die ontstaan van 'n bombardeerder wat bresse in kasteel- en vestingmure kon skiet.
Die kanonne van die 15de eeu het maar baie min verskil van die wat in die voorafgaande eeue gebruik is. Hulle was nog steeds moeilik om te hanteer. Toe het iemand egter met die skitterende plan gekom om die loop op twee groot wiele te monteer. Om die kanon te laai, het die kanonnier die buskruit in die loop afgestoot met 'n lang stok. Daarna het hy 'n houtskyf in die loop afgedruk om die buskruit en die kanonbal van mekaar te hou. Die bal self is laaste in die loop geplaas.
Die hele operasie was uit die aard van die saak baie gevaarlik. Die buskruit self was 'n fyn poeier en wanneer dit vervoer is, het dit stofwolkies afgegee wat deur die geringste vonkie ontbrand kon word. Toe het iemand daaraan gedink om die drie verskillende bestanddele van die buskruit apart na die slagveld te neem en hulle daar te meng. Maar dit was uiters omslagtig. Uiteindelik is 'n makliker - en veiliger - manier gevind om die buskruit te hanteer. Die kruit is in klein hoeveelhede aangemaak, met water natgemaak en dan toegelaat om droog te word.
Dit het dan harde skywe gevorm wat met veiligheid vervoer kon word. Wanneer dit gebruik moes word, is dit dan eenvoudig verpoeier. Tot omstreeks 1420 is klippe as koeëls gebruik. Later is egter yster- en loodballe gebruik, waarin groewe gemaak is om hulle akkurater te laat trek. Dit was egter nog altyd moeilik om kanonne te laai, en die kanonnier was buitendien die hele tyd aan die vuur van die vyand blootgestel.
Die eerste agterlaaier-kanon is in 1380 vervaardig. Die doel hiervan was om die kanonnier- in staat te stel om sy kanon te herlaai sonder om sy gesig vir die vyand te wys. Aan die agterkant van die kanon is 'n stuk van die boonste deel van die loop afgesaag sodat 'n beweegbare slot daarin kon pas. In hierdie slot is die buskruit en kanonkoeël geplaas en daarna dig gesluit. Die laaiery kon dus aan die agterkant van die kanon uitgevoer word, en die kanonnier was betreklik veilig.
Die enigste probleem met hierdie agterlaaier-kanonne was hul uiters lae vuurkrag. Die slot het nooit juis baie dig gesluit nie, sodat die gasse wat die ontploffing veroorsaak het, deur die sluitstuk ontsnap en die krag van die ontploffing baie verminder het. Gevolglik is die kanonne maar nog altyd van voor gelaai, en dit was eers in die 19de eeu dat die agterlaaiers ver genoeg ontwikkel het om die voorlaaiers heeltemal te verdring.
Mettertyd het dit duidelik geword dat die nuwe wapen doeltreffend ingespan kon word. Die volgende ding watt gedoen is, was om dit vinniger te laat skiet. Die kanon wat hier regs afgebeeld word, is in omstreeks 1360 gebou en was die voorloper van die moderne masjiengeweer. Die agt lope is met buskruit en kanonkoeëls gelaai. Hulle is om die beurt op die vyand gerig en afgevuur. Maar partykeer het al die lope per ongeluk gelyk afgegaan – tot die verdriet van die aanvallers. Nie baie soldate was bereid om met die kanon te skiet nie.