Jacob Abraham Uitenhage de Mist (Zaltbommel, Nederland, 20 April 1749 - Voorburg, Nederland, 3 Augustus 1823) was 'n Nederlandse staatsman, staatshoof van die Bataafse Republiek van 17 April tot 1 Mei 1797 en kommissaris-generaal van die Kaapkolonie tydens die afwesigheid van 'n goewerneur van 21 Februarie 1803 tot 25 September 1804 in ooreenstemming met die Verdrag van Amiens.
De Mist word in 1768 meester in die regte aan die Universiteit van Leiden en in 1796 afgevaardig as lid vir die distrik Deventer na die Nasionale Vergadering. In 1800 is hy benoem tot lid van die "Raad der Aziatische Bezittingen en Etablissementen". Op 10 Desember die volgende jaar gee die Bataafse regering hom opdrag om ondersoek in te stel na die wyse waarop die Kaap geregeer moet word. Hy gee sy beskouinge in sy memorandum.
As kommissaris van die Kaap stel hy op 1 Maart 1803 luitenant-generaal Jan Willem Janssens aan as goewerneur van die Kaap en stel ook die Politieke Raad en Raad van Justisie in. Hierna vertrek hy op 'n uitgebreide reis na die binneland. In 1804 besoek hy die sendeling dr. J.T. van der Kemp en proklameer op 7 Februarie 'n nuwe distrik wat later ter ere van hom Uitenhage genoem word. In Mei stel hy 'n Kommissaris van Veeteelt aan en vaardig op 25 Julie die Kerkorde en op 11 September sy Onderwysordonnansie uit.
Op 25 September lê hy die amp van kommissaris-generaal neer en vertrek 25 Februarie die volgende jaar met die Silenus of New York oor Amerika na Nederland. Op 25 Julie lê hy 'n verslag voor oor sy handelinge en besluite aan die Kaap.
Sien ook Lys van kommandeurs en goewerneurs van die Kaapkolonie
Bronne Rosenthal, Eric, 1978. Encyclopaedia of Southern Africa. Kaapstad en Johannesburg: Juta and Company Limited. Albertyn, C.F. dr. (hoofred.), 1972. Die Afrikaanse Kinderensiklopedie. Kaapstad: Nasou.
Kategorie:Nederlandse kommandeurs en goewerneurs van die Kaapkolonie Kategorie:Nederlandse religieuse mense Kategorie:Vrymesselaars Kategorie:Geboortes in 1749 Kategorie:Sterftes in 1823