duimnael|links|220px|Die Trojaanse perd. duimnael|220px|links|Die brandende Troje, ’n olieverfskildery deur Johann Georg Trautmann. Die Trojaanse Oorlog is in die Griekse mitologie ’n oorlog deur die Achajers (Grieke) teen die stad Troje nadat Paris van Troje Helena gesteel het van haar man, Menelaos, die koning van Sparta.
Die oorlog is een van die belangrikste gebeure in die Griekse mitologie en word weergegee in talle werke, onder andere die Ilias en die Odussee deur Homeros. Die kern van die Ilias (Boeke II-XXIII) beskryf ’n tydperk van vier dae en twee nagte in die 10de jaar van die dekade lange beleg van Troje; die Odussee beskryf die terugtog huis toe van een van die helde van die oorlog, Odusseus. Ander episodes uit die oorlog het materiaal verskaf vir Griekse tragedies en ander werke in die Griekse letterkunde, asook vir Romeinse digters soos Vergilius en Ovidius.
Die antieke Grieke het geglo Troje was naby die Dardanelle geleë en dat die Trojaanse Oorlog ’n historiese gebeurtenis in die 13de of 12de eeu v.C. was, maar teen die middel 19de eeu n.C. is beide die stad en die oorlog algemeen as niehistories beskou. In 1868 het die Duitse argeoloog Heinrich Schliemann die Engelse amateurargeoloog Frank Calvert ontmoet wat Schliemann oorreed het dat Troje ’n werklike stad was in wat nou Hisarlik in Turkye is. Op grond van uitgrawings wat Schliemann en ander gedoen het, word dit nou deur die meeste geleerdes aanvaar.
Of daar enige historiese feite in die verhaal van die Trojaanse Oorlog is, word steeds oor gedebatteer. Baie geleerdes glo dit het ’n historiese kern, maar dit kan bloot beteken die Homeriese stories is ’n vermenging van verskeie verhale van oorwinnings en ekspedisies deur Miceense Grieke in die Bronstydperk. Dié wat glo die stories handel oor ’n werklike historiese konflik, meen gewoonlik dit dateer van die 12de of 11de eeu v.C. Die datums wat verkies word, is dié wat deur Eratostenes aangegee word: 1194-1184 v.C., wat rofweg ooreenstem met argeologiese bewyse van ’n katastrofiese brand wat Troje VII verwoes hetWood (1985: 116–118) en die einde van die Laat Bronstydperk.
Bronne thumb|links|180px|Fragmente uit die tweede boek van die Ilias. Die gebeure van die Trojaanse Oorlog word aangetref in baie Griekse letterkundige werke en word uitgebeeld op talle Griekse kunswerke. Daar is geen enkele, gesaghebbende bron wat die hele verhaal vertel nie. Dit is eerder saamgestel uit ’n verskeidenheid bronne, waarvan sommige teenstrydige weergawes bevat.
Die belangrikste letterkundige bronne is die twee epiese gedigte wat tradisioneel aan Homeros toegeskryf word, die Ilias en die Odussee, wat iewers tussen die 9de en die 6de eeu v.C. saamgestel is.Wood (1985: 19) Elke gedig handel oor net ’n deel van die oorlog. Die Ilias dek ’n kort tydperk in die laaste jaar van die beleg van Troje, terwyl die Odussee handel oor Odusseus se terugkeer na sy tuiste ná die verwoesting van Troje; dit bevat verskeie terugflitse oor spesifieke gebeure in die oorlog.
Ander dele van die Trojaanse Oorlog word vertel in die gedigte van die Epiese Siklus. Hoewel net fragmente van die gedigte bewaar gebly het, is die inhoud daarvan bekend uit ’n opsomming in Proklos se Chrestomatie. Dit is onbekend wie die Epiese Siklus geskryf het. Daar word algemeen geglo die gedigte is in die 7de en 6de eeu v.C. geskryf, ná die samestelling van die Homeriese gedigte, maar daar word algemeen aanvaar hulle is op vroeëre tradisies geskoei.Burgess, pp. 10–12; cf. W. Kullmann (1960), Die Quellen der Ilias.
Beide die Homeriese gedigte en die Epiese Siklus se oorsprong is mondelinge tradisie. Selfs nadat hierdie gedigte geskryf is, is die mites van die Trojaanse Oorlog mondelings oorgedra in baie genres van die digkuns en deur niepoëtiese oorlewerings. Gebeure en besonderhede wat eers in die werk van latere skrywers voorkom, is mondelings oorgedra en kan so oud soos die Homeriese gedigte wees. Visuele kuns, soos geverfde vase, is nog ’n medium waarin die mites van die oorlog gesirkuleer is.Burgess, pp. 3–4.
In latere tydperke het dramaturge, historici en ander intellektuele werke geskryf wat deur die Trojaanse Oorlog geïnspireer is. Die drie groot tragedieskrywers van Athene – Aischulos, Sophokles en Euripides – het verskeie dramas geskryf wat episodes van die oorlog uitbeeld. Onder Romeinse skrywers was die belangrikstes die 1ste-eeuse digter Vergilius; in Boek 2 van sy Eneïde vertel Eneas van die verwoesting van Troje.
Legende Volgens legende het die oorlog ontstaan uit ’n rusie tussen die godinne Hera, Atena en Afrodite nadat Eris, die godin van twis en onenigheid, aan hulle ’n appel gegee het met die boodskap "vir die mooiste een". Zeus het die godinne na Paris van Troje gestuur, en hy het beslis Afrodite, as die "mooiste een", moet die appel kry. In ruil daarvoor het Afrodite gesorg dat Helena, die pragtigste van alle vroue en die vrou van Menelaos van Sparta, op Paris verlief raak. Paris het Sparta saam met haar verlaat en teruggekeer na Troje.
Menelaos se broer, Agamemnon, koning van die Micene, het ’n ekspedisie van Achajers na Troje gelei en die stad vir 10 jaar beleër weens Paris se belediging. Ná die dood van baie helde, onder andere die Achajers Achilles en Alias en die Trojane Hektor en Paris, het die stad geval met die inval in die Trojaanse perd. Die Achajers het die Trojane vermoor (buiten ’n paar vroue en kinders wat hulle gehou en as slawe verkoop het) en die tempels verwoes, en hulle so die wraak van die gode op die hals gehaal. Min van die Achajers het veilig teruggekeer huis toe en baie het kolonies op verafgeleë plekke gestig.
Die Romeine het later hulle oorsprong teruggespeur na Eneas, Afrodite se seun en een van die Trojane, wat glo die oorlewende Trojane na die hedendaagse Italië gelei het.
Die volgende opsomming van die Trojaanse Oorlog is volgens die volgorde van gebeure in Proklos se opsomming, asook die Ilias, Odussee en Eneïde. Dit is aangevul met besonderhede deur ander skrywers.
Oorsaak van die oorlog thumb|220px|Poluksena se sarkofaag in die Troje-museum. thumb|220px |Musiekfigure van klei in die Troje-museum.
Zeus se plan Volgens die Griekse mitologie het Zeus koning van die gode geword deur sy pa, Kronos, omver te werp; Kronos het weer sý pa, Uranos (Uranus), omvergewerp. Zeus was nie getrou aan sy vrou en suster, Hera, nie en het baie verhoudings gehad waaruit baie kinders gebore is. Omdat Zeus geglo het daar is te veel mense wat die aarde bewoon, het hy ’n visie gehad van MomosScholium oor Homeros A.5. of TemisPlato, Republic 2,379e. wat die Trojaanse Oorlog gebruik om die mense op aarde minder te maak, veral sy halfgoddelike afstammelinge.Apollodorus, Epitome 3.1, Hesiodos-fragment 204,95ff.
Dit word ondersteun deur Hesiodos se weergawe:Nou was al die gode deur twis verdeel; want op presies dié tyd het Zeus, wat van hoog af donder, wonderlike planne beraam, selfs om storms en orkane oor die hele aarde los te laat, en hy was haastig om ’n totale einde te maak aan sterflike mense; hy het verklaar dat hy die lewe van die halfgode sou vernietig, dat die kinders van die gode nie moet paar met armsalige sterflikes nie, want hy het hulle lot met sy eie oë gesien; maar dat die geseënde gode van toe af, nes voorheen, hulle lewe en woonplekke afsonderlik van mense moes hou. Maar dié wat uit beide onsterflikes en mense gebore is, het Zeus waarlik ’n geswoeg en verdriet op verdriet toegewens.Berlin Papyri, No. 9739; Hesiodos. Catalogue of Women Fragment 68. Vertaal deur Evelyn-White, H.G. Loeb Classical Library Volume 57. Londen: William Heinemann, 1914
Paris se beslissing thumb|220px|Paris se beslissing (1904), deur Enrique Simonet. Zeus het by óf TemisApollonius Rhodius 4.757. óf Prometeus gehoor dat hy, nes sy pa, Kronos, deur een van sy seuns omvergewerp sou word. Volgens nog ’n profesie sou ’n seun van die seenimf Tetis, op wie Zeus verlief geraak het nadat hy haar aan die Griekse kus gesien het, groter word as sy pa.Scholiast oor Homeros se Ilias; Hyginus, Fabulae 54; Ovidius, Metamorfoses 11.217. Moontlik om dié redesApollodorus, Library 3.168. het Zeus opdrag gegee dat Tetis met ’n ouerige sterflike koning, Peleus, trou.Pindar, Nemean 5 ep2; Pindar, Isthmian 8 str3–str5. Of miskien wou Tetis Hera, wat haar grootgemaak het, behaag.Hesiodos, Catalogue of Women fr. 57; Cypria fr. 4.
Al die gode is na Peleus en Tetis se troue genooi en hulle het baie presente gebring.Photius, Myrobiblion 190. Zeus het egter opdrag gegee dat Hermes vir Eris, die godin van onenigheid, by die deur wegwys.P.Oxy. 56, 3829 (L. Koppel, 1989) Sy was beledig en het ’n geskenk van die deur af gegooi:Hyginus, Fabulae 92. ’n goue appel met die boodskap "vir die mooiste een".Apollodorus Epitome E.3.2 Hera, Atena en Afrodite wou al drie die appel hê. ’n Rusie het ontstaan en nie een van die gode teenwoordig wou een uitsonder en die ander twee kwaad maak nie.
Eindelik het Zeus aan Hermes opdrag gegee om die drie godinne na Paris, ’n prins van Troje, te neem. Dié is, onbewus van sy koninklike herkoms, as ’n skaapwagter in Berg Ida grootgemaakPausanias, 15.9.5. weens ’n profesie dat hy die ondergang van Troje sou bewerkstellig.Euripides Andromage 298; Div. i. 21; Apollodorus, Library 3.12.5. Nadat die drie godinne in die fontein van Ida gebad het, het hulle nakend voor hom verskyn – óf om sy guns te probeer wen óf op versoek van Paris. Paris kon nie besluit wie die mooiste is nie, en die godinne het hom probeer omkoop. Atena het hom wysheid en die vermoëns van die grootste vegters aangebied; Hera het hom politieke mag en beheer oor die hele Asië aangebied; en Afrodite het hom die liefde van die beeldskoonste vrou in die wêreld, Helena van Sparta, aangebied. Paris het in Afrodite se guns beslis en die appel aan haar toegeken. Ná verskeie avonture het Paris na Troje teruggekeer, waar sy koninklike familie hom erken het.
thumb|links|220px|Tetis gee aan haar seun Achilles wapens wat deur Hefaistos gemaak is, 575-550 v.C. Peleus en Tetis het ’n seun gehad en hom Achilles genoem. Daar is voorspel dat hy óf van ouderdom sou doodgaan ná ’n onopwindende lewe óf jonk op die slagveld sou sterf en deur poësie onsterflik word.Homer Iliad I.410 Toe Achilles nege jaar oud was, het Kalchas voorspel dat Troje nooit weer sonder sy hulp sou val nie.Apollodorus, Library 3.13.8.
Volgens ’n paar bronne het Tetis Achilles onsterflik probeer maak toe hy klein was. Sommige beweer sy het hom elke nag oor ’n vuur gehou om sy sterflike dele weg te brand en hom bedags met ambrosia (godespys) gesmeer, maar Peleus het daarvan uitgevind en dit stopgesit.Apollonius Rhodius 4.869–879; Apollodorus, Library 3.13.6. Volgens sommige weergawes het Tetis al ’n paar seuns op dié manier doodgemaak, en Peleus se tussenkoms het dus Achilles se lewe gered.Frazer on Apollodorus, Library 3.13.6. Ander bronne beweer Tetis het Achilles gebad in die rivier Styx, wat na die onderwêreld loop, en hom so onkwesbaar gemaak wanneer die water aan hom raak.Alluded to in Statius, Achilleid 1.269–270. Omdat sy hom aan sy hak (hiel) vasgehou het, het sy hak nie onder water gekom nie en het dit dus sterflik en kwesbaar gebly (vandaar die uitdrukking "Achilleshiel" vir ’n kwesbare plek of swakheid). Toe hy volwasse was, was hy die grootste van al die sterflike vegters. Ná Kalchas se profesie het Tetis Achilles in Skuros aan die hof van koning Lukomedes weggesteek, waar hy as ’n meisie vermom is.Hyginus, Fabulae 96. Op ’n kritieke punt in die oorlog het sy haar seun gehelp deur vir hom wapens te gee wat deur die god Hefaistos gemaak is.
Paris en Helena se weglopery