Die Barok was 'n kunssinnige stylperiode wat gewild was van die einde van die 16de eeu tot aan die begin van die 18de eeu. Barok het sy oorsprong in Italië gehad en het die destydse argitektuur, tuinargitektuur, skilderkuns, beeldhoukuns, letterkunde en musiek beïnvloed. Die woord "barok" is van die Portugese woord barroco afkomstig, wat "onreëlmatig gevormde pêrel" beteken. Daar word onderskei tussen die vroeë, hoë en laat-barok. Die barokstylperiode is retrospektief benoem waarby die term self oorspronklik 'n pejoratiewe betekenis gehad het.Visuele Kunste Graad 12 Leerderboek. Mowbray: Future Managers 2013, bl. 20

Die gewildheid en sukses van die Barokstyl was deur die Rooms-Katolieke Kerk aangemoedig, wat van mening was dat die kunste ook godsdienstige temas in direkte en emosionele betrokkenheid moet oordra. Die aristokrate het die Barokstyl as 'n kans gesien om besoekers te beïndruk en hul mag en beheer te versinnebeeld. Barokpaleise is voorsien van luisterryke howe en weelderige ontvangskamers. duimnael|Monteverdi se Ritorno

Met Barok word die styl aangedui van beeldende kuns, literatuur en musiek, in 'n periode wat ruweg van die einde van die 16e eeu tot die eerste helfte van die 18e eeu geduur het. Die Barok het sy ontstaan in Italië gehad en vinnig oor die res van Europa versprei.

Die styl het 'n sterk religieuse inslag en word gekenmerk deur 'n strewe na grootse swier, verhewenheid, eenheid en ewewigtigheid in die kunswerke.

Beroemde kunstenaars soos Bernini, Rubens, Rembrandt, Velazquez, Cervantes, Monteverdi en Bach word as verteenwoordigers van die Barok gereken. Die term barok word ook nog in sy oorspronklike betekenis, dit wil sê "oordrewe geornamenteer" gebruik vir oordadig versierde kunswerke uit ander stylperiodes.

Algemeen Met die begrip barok is daar aanvanklik 'n boustyl in die beeldende kunste gedurende die 17e en begin van die 18e eeu aangedui. Vandag is dit 'n algemeen aanvaarde kultuurhistoriese term wat ook betrekking het op die literatuur en musiek van dié periode. Die woord het aanvanklik 'n ongunstige betekenis gehad. Dit is van die Portugese woord barocco afgelei, wat onvolmaakte vorm beteken, en in die laat 18e eeu is dit as 'n skeldwoord gebruik teen die kunsvorme wat nie aan die destydse kunsbeskouing beantwoord het nie.

Sedert die 20e eeu word die Barok as die styl van 'n spesifieke periode gesien wat sy eie spesifieke waarde het. Verder het die woord barok ook nog die betekenis van onreëlmatig en oordadig behou.

Beeldende kunste In die beeldende kunste dui die woord barok die styl aan van die periode wat tussen die Renaissance en die maniërisme van die 16e eeu en die Rokoko van die 18e eeu lê. Duitse kunshistorici van die 18e eeu wat in kuns 'n opeenvolging van siklusse sien, bestaande uit jeug (bloei), volwassenheid (hoogtepunt) en ouderdom (verval), het die Barok as laaste fase van die Renaissance gesien en dit dan ook met die verwarrende term "Laat-Renaissance" aangedui.

Die Barok kan gesien word as 'n reaksie teen die maniërisme, waarin langgerekte, elegante en verwronge figure in die skilder- en beeldhoukuns voorgekom het, en is geïnspireer deur die werke van die Renaissance-kunstenaars, wat op hulle beurt weer die oudheid as voorbeeld gekies het.

Waar daar egter in die Renaissance gelyke nadruk op alle detail gelê is, is dit in die Barok ondergeskik aan die geheel. 'n Verdere verskil tussen die statiese kuns van die Renaissance en die strewe na verbeeldingryke beweging en dramatiese uitdrukking by die Barokkunstenaars.

Die Barok word ook beskou as die kuns van die Teenhervorming, dit wil sê die "bestryding van reformasie deur die reiniging en ordening van die Kerk", maar tog moet onthou word dat die Teenhervorming maar één aspek van die 17e eeu was. Buitendien het daar ook protestantse kunstenaars in die Barokstyl gewerk. Die ontwerpe van die Franse barok is meer gematig en strenger as in ander lande en word ook die Klassisistiese tydperk genoem.

Literatuur duimnael|Portret van die 17e eeu se Nederlandse skrywer, Joost van den Vondel. Die Barokletterkunde lê in die literatuurgeskiedenis in die tydperk tussen die Renaissance en die Verligte en Klassisistiese periode. Soos die skilderkuns, het dit 'n sterk religieuse inslag gehad. Dit is dan ook as die literatuur van die Teenhervorming gekarakteriseer, aangesien die meeste skrywers Rooms-Katoliek was. Baie van die skrywers het hulle daadwerklik in diens van die Kerk gestel en hulle vir die herstel van 'n Middeleeuse Christelike tradisie beywer, teenoor die sogenaamde heidense verstandelike tendens van die Renaissance.

Tegelyk het die Barok egter heelwat aan die Renaissance ontleen. Hieruit ontstaan teenstrydighede tussen 'n Godgerigte houding en 'n standpuntstelling met die mens as middelpunt. So ook tussen mistiek en erotiek, asketisme en wêreldsheid, wat alles bepalend was vir die styl en tematiek van die Barokliteratuur.

Teenoor die optimisme van die Renaissance-mens, wat aan homself en aan die lewe glo, stel die Barok 'n ontnugterde lewensgevoel, twyfel aan die werklikheid van dit wat waarneembaar is en 'n besef van die ydelheid van alles, die onvermydelikheid van die dood (memento mori) en die vermaning dat God die mens se enigste Verlosser is.

Die konflik tussen die tydelike en die ewige manifesteer in literêre stylfigure soos die paradoks en antitese, asook in sinnebeelding en oordrywing van die werklikheid ter wille van die strewe na 'n wêreldse én religieuse grootsheid en verhewendheid.

Behalwe in die Duitse, Franse, Italiaanse, Spaanse en Portugese literatuur, word die Barok-letterkunde ook in Engels (Metafisiese digters soos John Milton) en Nederlands (Joost van den Vondel, Jan Vos), asook in die Slawiese en Suid-Amerikaanse letterkunde aangetref.

Musiek duimnael|Johann Sebastian Bach  (61 jaar oud) was een van die baroktydperk se voorste komponiste. Die musikale Barok begin aan die einde van die 16e eeu met die jong Gabrieli en Monteverdi, en eindig by Händel en J. S. Bach in die helfte van die 18e eeu. Die vernaamste kenmerke is die ontwikkeling van die monodie (begeleide eenstemmige sang) wat die opkoms van die solis en die ontwikkeling van die opera tot gevolg gehad het, asook die ontstaan van die konsert uit die stile concertato waarin kore, ensembles en soliste teenoor mekaar geplaas was. Oordadige versierings word ook in die musiek gebruik, waar die stile concertato in 'n aantal oratoria en misse monumentale afmetings aanneem.

Boukuns duimnael|Barok plafon-fresco's (Ljubljana Cathedral). Die boukuns van die Barok word deur beweging gekenmerk, 'n begrip wat eintlik strydig met die term boukuns klink, omdat geboue uit statige, beweginglose massa bestaan. Die beweging word egter gesuggereer deur die kontrasterende werking van hol en bolontwerpe, terwyl die grondplan soms met 'n afwisseling van verskillende ruimte vloei. Gesamentlik vorm dié ruimtevorme dikwels 'n ovaal.

Soms word die onverwagte en teenstrydige ook benadruk. Dit kom byvoorbeeld tot uiting in die verrassende kruising van twee rigtingasse (dit is die lyne wat die oog volg) in sowel die grondplan van geboue as dié van stede.

'n Verdere kenmerk is die strewe na eenwording van die verskillende kunsvorme. Hierdeur dra die boukuns, skilderkuns, beeldhoukuns en kunsnywerheid by tot die ontstaan van één kunswerk wat sterk tot die verbeelding spreek.

Die ontwerpe is oor die algemeen swaarder en meer hoogdrawend as in die voorafgaande Renaissance-tydperk, terwyl die oordadige versierings die werklike argitektoniese vorm soms totaal oorheers. Behalwe in Italië, die geboorteplek van die Barok, word die barokboukuns ook in Suid-Duitsland, Oostenryk, Spanje, Portugal en in Latyns-Amerika aangetref.

Italië Die vroeë barokboukuns het gedurende die eerste helfte van die 17de eeu in Rome ontstaan. Tydens Paulus V se bewind (1605-1621) het Carlo Maderna met die afwerking van die St. Pieterskerk voortgegaan (1606-1626). Hy het 'n skip en 'n gewei by die koepel, wat Michelangelo in die Renaissance-periode gebou het, gevoeg. In die gewel is die halfsuile verdubbel, 'n tipiese baroktema wat destyds baie gewild was.

Die bekendste argitekte was Gian Lorenzo Bernini (1598-1680) en Francesco Borromini (1599-1667). Borromini het onder andere die St. Carlino alle Ouattro Fontane (1638-1641 en 1665-1667) en die St. Ivodella Sapienza (1642-1660), albei in Rome, gebou. Beide is kleinerige kerke met beweeglike plattegrond. So het die San Carlino byvoorbeeld 'n golwende gewei, en die rustige binneversiering word deur wit en goud oorheers. Die uitbundige binneversiering van kerke waarmee die Barok oor die algemeen geassosieer word, dateer eintlik uit 'n latere fase van die Barok. duimnael|Cornaro-kapel in Santa Maria. 'n Uitsondering is Bernini se Cornaro-kapel in die St. Maria della Vittoria in Rome, waar daar reeds in 1646 'n barok-kombinasie geskep is met gekleurde ligte en donker marmer, dramatiese beelde en goud. Bernini, wat ook skilder en by uitstek beeldhouer was, het vir baie jare aan die interieur van die St. Pieterskerk gewerk en het ook die St. Andrea al Quirinale (Rome) (1658-1760), 'n kerk met 'n tipiese ovaal Barokgrondplan, gebou.

Nog 'n bekende argitek uit dié tyd was Carlo Rainaldi (1611-1691) wat onder andere die St. Agnese op die Piazza Navona in Rome (in 1652 begin) gebou het. Hierdie kerk het 'n gewei met twee torings en is deur Borromini voltooi. Aan die einde van die 17e eeu is talle barokgeboue in Noord-Italië opgerig, onder andere deur die argitek Guarino Guarini (1624-1683). Hy was ook die ontwerper van die Palazzo Carignano in Turyn (1679), 'n paleis met golwende mure van baksteen, wat in dié tyd baie ongewoon in Italië was.

Spanje en Portugal In Spanje en Portugal het 'n uiters dekoratiewe variasie van die Barok ontstaan na aanleiding van José de Churriguera (1655-1725) se ontwerpe, wat die Churriguereske-styl genoem word. 'n Voorbeeld hiervan is die sakristie van die Kaarthuisklooster in Granada (1727-1764).

Duitsland en Oostenryk duimnael|Bouwerk, Oberes Belvedere 1773, van Johann Lukas von Hildebrandt. Aan die einde van die 17de eeu en in die eerste helfte van die 18e eeu het 'n aantal argitekte 'n speelse en ligter Barokargitektuur ontwerp wat moeilik van die Rokoko onderskei kan word. Hoewel die maatskaplike belangstelling van geestelikes en adellikes aan die taan was, is daar steeds talle kloosters en paleise gebou.

Die belangrikste argitekte in Oostenryk was Johann Bernhard Fischer von Erlach (1656-1723) en Johann Lukas von Hildebrandt (1668-1745). Die grondplan van die Karlskerk in Wene (1716-1737), ontwerp deur Fischer von Erlach, gaan duidelik terug op die grondplanne van Bernini en Rainaldi, maar die indeling is speelser en swieriger. Hildebrandt het onder andere die twee Belvedere-paleise in Wenen gebou (1714-1724). Die barokpaleise in Duitsland en Oostenryk is voorsien van wye trappe, soos gesien kan word in die woning van die prins-biskop in Würzburg, gebou volgens 'n ontwerp van Johann Balthaser Neumann (1687-1753).

Ook die groot trappehuis van die biskop se paleis in Bruchsal in Karlsruhe (1730) is deur Neumann ontwerp. Enige tyd vergelykbaar met die barokpaleise is die barokkloosters, waarvan 'n belangrike voorbeeld die klooster in Melk aan die Donau is. Dit is ontwerp deur Jacob Prandtauer (1660-1726) en die bouwerk is in 1702 begin. Die kompleks bestaan uit 'n groot kerk met 'n golwende gewei en twee torings. Aan weerskante van die kerk is 'n kloostergebou.

Die twee broers Cosmas Damian Asam (1686-1739) en Egid Quirin Asam (1692-1750) uit Suid-Duitsland se werk verdien ook vermelding. In Rome is hulle deur Bernini se werke beïnvloed en hulle het 'n paar toneelagtige skeppinge ontwerp waarin die bouwerk, beeldhouwerke en skilderye 'n eenheid vorm, soos in die private kerk van Egid Quirin en die Johann Nepomuk-kerk in München (1733-1750).

Latyns-Amerika