Insekte (Insecta) is 'n klas van die geleedpotiges (Arthropoda). Meer as 'n miljoen spesies is al beskryf en benoem, wat dit verreweg die grootste klas van alle diere maak: meer as die helfte van alle bekende dierspesies is insekte. Skattings van die werklike totaal loop op tot sowat 5,5 miljoen spesies.

Insekte het, nes ander geleedpotiges, gesegmenteerde liggame en gelede pote (vandaar die naam "geleedpotige") en haal asem deur middel van 'n trageëstelsel. Kenmerkend van insekte is hulle ses pote, en almal het 'n uitwendige skelet of eksoskelet, hoewel dit nie by alle groepe ewe hard is nie. Die liggaam van 'n insek is in drie verdeel: die kop, borsstuk en agterlyf, alhoewel die verdeling nie altyd duidelik is nie. By sommige insekte is die dele saamgesmelt of is van die dele gesplete. Talle insekte het vlerke, behalwe die eerste verteenwoordigers van hierdie klas, die Apterygota en heelparty ander vorms wat dit later verloor het, soos die weeluise.

Insekte ondergaan gedaantewisseling. Hulle ontwikkel uit 'n eier en gaan deur verskillende stadiums voordat hulle volwassenheid bereik; by die groepe met volledige gedaantewisseling is een van daardie stadiums 'n papie. Die diere kan baie verskil in hulle stadiums, soos 'n rusper wat 'n vlinder word. Insekte is Ecdysozoa en soos alle diere wat tot hierdie groep behoort vervel hulle om te kan groei.

Insekte lewe op land en in varswater, alhoewel daar 'n paar soorte is wat ook in seewater woon. Hulle is die enigste ongewerweldes wat kan vlieg. Die vakgebied wat hom met die bestudering van insekte besig hou, heet insektekunde, oftewel entomologie.

Sommige insekte is van groot nut vir die mens en word op groot skaal gekweek, soos bye (vir hul heuning) en sywurms (vir sy). Ander bestuif plante, beheer pesinsekte en dien as voedsel vir ander diere. Daar is ook insekte wat as 'n plaag beskou word, soos dié wat gewasse beskadig of siektes oordra. Insekte speel ook 'n belangrike rol in die biologie: navorsing oor die vrugtevlieg het 'n onskatbare bydrae tot genetika gelewer. Daar is ook insekte wat parasiete is, soos weeluise, luise of vlooie.

Kommunikasie tussen insekte vind plaas deur middel van geurstowwe of liggaamsgedrag. Dit is veral belangrik vir insekte soos bye, termiete en miere, wat sosiaal is. Hulle bou state waar net 'n koningin eiers lê en die dogters die werkers van die nes vorm.

Die volwasse moderne insekte wissel in grootte van 0,139 mm (die mannetjie van die dwergwesp Dicopomorpha echmepterygis) tot 56,7 cm met die pote uitgestrek (die stokinsek Phobaeticus chani, wie se liggaam alleen 35,5 cm meet en daarmee die langste insekliggaam is). Die stokinsek Phryganistria chinensis is met die pote uitgestrek nog langer – 62,4 cm – al is sy liggaam self 'n bietjie korter. Die uitgestorwe Meganeura, wat 300 miljoen jaar gelede gelewe het, was een van die grootste insekte wat ooit bestaan het, met 'n vlerkspan van tot 75 cm.

Etimologie Die woord insek kom van die Latynse insectum, die verlede deelwoord van insecare ("insny"), omdat 'n insek se liggaam lyk asof dit in drie stukke ingesny is. Plinius die Ouere het die Latynse woord as leenvertaling van die Griekse ἔντομον (éntomon) geskep, wat op sy beurt van ἔντομος (éntomos, "in stukke gesny") afgelei is. Dit was Aristoteles se naam vir hierdie groep diere, en van dieselfde stam kom die naam van die vakgebied entomologie.

Die omgangswoord gogga, wat in Afrikaans vir insekte en ander klein ongewerweldes gebruik word, is uit Khoekhoe oorgeneem, waar xo-xon 'n versamelnaam vir kruipende en krioelende diertjies was.

Insekte en ander goggas In die omgangstaal word byna enige klein geleedpotige wat op land voorkom 'n gogga genoem, maar biologies gesproke is verskeie van hierdie diere nie insekte nie. Duisendpote, honderdpote, pissebedde, spinnekoppe, myte, bosluise en skerpioene het wel 'n gelede uitwendige skelet, maar hulle bouplan verskil van dié van insekte.

Volwasse insekte is die enigste geleedpotiges wat ooit vlerke het – tot twee pare, altyd op die borsstuk. Of hulle nou vlerke het of nie, kan volwasse insekte aan hulle driedelige liggaam (kop, borsstuk en agterlyf) en aan die drie pare pote op die borsstuk uitgeken word. Spinnekoppe het vier pare pote en 'n tweedelige liggaam; duisendpote het twee pare pote per segment en honderdpote een paar per segment; pissebedde, wat eintlik skaaldiere is, het sewe pare pote.

Entomoloë hou die naam "goggas" in die enger sin vir die Hemiptera of halfvlerkiges voor, waaronder sikades en skildgoggas val – die groep wat in Engels as true bugs bekend staan.

Diversiteit en verspreiding Aantal spesies duimnael|regs|Ongeveer die helfte van alle beskryfde eukariote spesies is insekte (die linkerkant van die diagram). Skattings van die totale aantal insekspesies verskil aansienlik. Die algemeenste skatting is dat daar sowat 5,5 miljoen insekspesies op aarde bestaan, waarvan ongeveer een miljoen reeds beskryf en benoem is. Dié beskryfde spesies maak sowat die helfte uit van alle bekende eukariote, die groep wat diere, plante en swamme insluit.

Vyf ordes bevat elk meer as 100 000 beskryfde spesies: die Hemiptera (halfvlerkiges), Lepidoptera (skoenlappers en motte), Diptera (vlieë en muskiete), Hymenoptera (wespe, bye en miere) en Coleoptera (kewers). Die kewers alleen tel meer beskryfde spesies as enige ander orde van diere.

Verspreiding en habitatte duimnael|Insekte kan meteens in reuse hoeveelhede voorkom, soos treksprinkane en periodieke sikades. Hierdie radarbeeld van die Mississippirivier toon aan dat die insekte hulself in enorme getalle versprei het. Insekte kom op elke vasteland en in byna elke habitat op land voor. Daar is veel meer spesies in die trope, en veral in reënwoude, as in matige klimaatsones. Sommige wêrelddele is baie beter deurnavors as ander: die Britse Eilande is so deeglik opgeteken dat die lys van sowat 22 500 spesies waarskynlik binne 5% van die werklike getal is, terwyl die oorgrote meerderheid insekte van die trope en die Suidelike Halfrond nog nie beskryf is nie.

Tussen 30 000 en 40 000 spesies leef in varswater, maar slegs ongeveer honderd spesies is werklik marien; die seelopers van die genus Halobates leef byvoorbeeld op die oppervlak van die oop see. Aan die ander uiterste floreer skerpioenvlieë van die genus Boreus op sneeu en op groot hoogtes, terwyl treksprinkane, miere, kewers en termiete aangepas is by van die warmste en droogste omgewings op aarde.

Evolusie Verwantskappe Insekte vorm 'n klade, dit wil sê 'n natuurlike groep met een gemeenskaplike voorouer, binne die geleedpotiges. Hulle behoort tot die Hexapoda of sespotiges, en hulle naaste verwante is die Diplura, die tweestertjies. Die ander twee groepe sespotiges, die springsterte (Collembola) en die oerinsekte (Protura), staan verder van die insekte af. Ontledings van volledige genome plaas die springsterte en oerinsekte saam as suster van 'n groep wat die tweestertjies en die insekte bevat.

Die tradisionele verdeling van die insekte in vlerklose Apterygota en gevlerkte Pterygota hou nie meer in sy geheel steek nie, want die Apterygota is nie monofileties nie: die springhaarstertjies (Archaeognatha) is suster van al die ander insekte, terwyl die silwervissies (Zygentoma) saam met die gevlerkte insekte in die Dicondylia val.

Fossielgeskiedenis duimnael|regs|Die reusagtige naaldekokeragtige insek Meganeura monyi het in die laat Karboon, sowat 300 miljoen jaar gelede, vlerkspanne van tot 75 cm gehad. Die oudste fossiel wat waarskynlik 'n primitiewe vlerklose insek is, is Leverhulmia uit die Windyfield-chert van Skotland, wat uit die vroeë Devoon dateer. Die oudste bekende vlieënde insekte kom uit die middel-Karboon, sowat 328 tot 324 miljoen jaar gelede, waarna die groep vinnig in 'n groot verskeidenheid vorme uitgestraal het. Bewerings dat gevlerkte insekte reeds in die Siluur of Devoon, sowat 400 miljoen jaar gelede, ontstaan het – 'n ouderdom wat uit skattings met die molekulêre klok volg – stem nie met die fossielrekord ooreen nie.

Vier grootskaalse uitstralings van insekte word onderskei: die kewers vanaf sowat 300 miljoen jaar gelede, die vlieë vanaf sowat 250 miljoen jaar gelede, en die motte en die wespe albei vanaf sowat 150 miljoen jaar gelede. Die Hymenoptera het in die Trias, omtrent 200 miljoen jaar gelede, verskyn, maar het hulle groot verskeidenheid eers in die Kainosoïkum bereik.

Koevolusie met blomplante Verskeie van die suksesvolste insekgroepe het saam met die blomplante ontwikkel, 'n treffende voorbeeld van koevolusie. Insekte was van die eerste plantvreters op land en het as belangrike keuringsagente op plante opgetree. Plante het chemiese verdedigingsmiddels teen dié vraat ontwikkel, en die insekte het op hulle beurt maniere ontwikkel om die plantgifstowwe te verwerk. Baie insekte gebruik daardie gifstowwe om hulself teen roofdiere te beskerm, en adverteer hulle giftigheid dan dikwels met waarskuwingskleure.

Morfologie en fisiologie duimnael|regs|Die bou van 'n insek. A – kop, B – borsstuk, C – agterlyf.

Driedelige liggaam Die insekliggaam is gesegmenteer en word deur 'n uitwendige skelet van hoofsaaklik chitien gestut. Die segmente is in drie eenhede saamgevoeg: die kop, die borsstuk of toraks en die agterlyf of abdomen. Die kop dra 'n paar voelhorings, 'n paar saamgestelde oë, nul tot drie enkelvoudige ogies of ocelli, en drie stelle aangepaste aanhangsels wat die mondstukke vorm. Die borsstuk dra die drie pare pote en tot twee pare vlerke. Die agterlyf bevat die grootste deel van die spysverterings-, asemhalings-, uitskeidings- en voortplantingsorgane.

Segmentering Die kop is in 'n harde, sterk versklerotiseerde kopkapsule ingesluit wat nie meer uitwendig gesegmenteer is nie. Die borsstuk bestaan uit drie afdelings: die prothorax voor, dan die mesothorax en agter die metathorax. Die prothorax dra die eerste paar pote, die mesothorax die tweede paar pote en die voorvlerke, en die metathorax die derde paar pote en die agtervlerke. Die agterlyf is die grootste liggaamsdeel, gewoonlik met 11 of 12 segmente, en is minder sterk versklerotiseer as die kop of die borsstuk. Elke segment het 'n verharde plaat bo (die tergum) en onder (die sternum), met buigbare vliese tussen die plate, en elke segment dra 'n paar asemgaatjies.

Uitwendige skelet Party dele van die insek se huid is baie hard, soos die dop of voorvlerke van die lieweheersbesie en ander kewers. Ander dele is egter sag, veral die vliesagtige dele tussen die segmente van die agterlyf, wat gesien kan word as ons die voorvlerke oplig. Die huid van 'n insek bedek die hele liggaam en is sy uitwendige skelet, waaraan die spiere vasgeheg is. Dit bestaan hoofsaaklik uit 'n waterdigte stof, chitien.

Saamgestelde oë 'n Insek het gewoonlik twee soorte oë: enkelvoudige ogies, die sogenaamde ocelli, bo-op die kop, en 'n groot saamgestelde oog aan elke kant van die kop. Die saamgestelde oë is baie ingewikkeld. Hulle bestaan uit 'n groot aantal klein fasette, wat elkeen 'n uiters klein ogie is, met 'n lens en 'n soort netvlies, byna soos menslike oë, hoewel hul bouvorm verskil. Die getal fasette verskil van soort tot soort. Dit wissel tussen minder as tien in elke oog by party insekte en 4 000 by die huisvlieg, en tot 30 000 by party soorte naaldekokers. Ondanks hul ingewikkelde bou is hierdie saamgestelde oë nie so doeltreffend soos die mens se oë in die vorming van 'n duidelike beeld nie. Hulle is ook nie in staat om te fokus nie. Hulle is egter baie gevoelig vir bewegings. Dit is die rede waarom dit so moeilik is om 'n vlieg te vang.

Ander sintuie duimnael|regs|Die meeste insekte het 'n paar groot saamgestelde oë en ander sintuigorgane, soos voelhorings wat bewegings en chemiese stimuli optel, op die kop.