Henri Girard (16 Julie 1917 – 4 Maart 1987) was 'n Franse skrywer en joernalis wat gebruik gemaak het van die skuilnaam Georges Arnaud. Hy is gebore in Montpellier tydens die Eerste Wêreldoorlog. Hy is die skrywer van die roman Le Salaire de la peur.
Biografie Vroeë Lewe en opvoeding Henri Georges Charles Achille Girard is tydens die Eerste Wêreldoorlog in Montpellier gebore. Sy vader, Georges Girard (1891–1941), was 'n argivaris-paleograaf. Sy moeder, Valentine Arnaud (1883–1926), was 'n letterkundeonderwyseres aan 'n hoërskool in Montpellier. Hulle is op 3 Junie 1916 in die Montpellier-stadsaal tydens 'n burgerlike seremonie getroud.
Henri Girard, 'n enigste kind, is op 16 Julie 1917 gebore. Sy moeder was, ten spyte van postpartum depressie, heeltemal toegewy aan haar kind en het hom alleen grootgemaak. Sy vader was in die tyd aan die oorlogsfront.
Aan die einde van die oorlog het George Girard 'n werk as bibliotekaris by die Ministerie van Buitelandse Sake gekry. Die paartjie het na Parys, Rue Madame, verhuis. Valentine het nie gewerk nie en het haar seun tuisonderrig gegee. In September 1922 het sy haar eerste aanval van tuberkulose opgedoen en is na 'n sanatorium in Leysin gestuur, waar sy 'n jaar lank gebly het. Henri is in die sorg van sy grootouers aan vaderskant geplaas. Sy tante, Amélie Girard (1897–1941), het na hom omgesien tot Valentine se terugkeer.
'n Jaar later het Valentine na Parys teruggekeer. Die paartjie het hulle in 'n villa in Meudon gevestig. Henri is nie skool toe gestuur nie. Valentine het sy opvoeding oorgeneem. In 1926 was sy swanger, maar sy het egter weer ernstig siek geword en is op 12 September 1926 oorlede in 'n sanatorium in Chamonix.
Henri het na sy grootouers aan vaderskant teruggekeer. Hy het akademies gesukkel en sy eerste baccalauréat (Hierdie kwalifikasie, allerweë in Frankryk bekend as die bac, is 'n Franse nasionale akademiese kwalifikasie wat studente kan verwerf na voltooiing van hul sekondêre onderwys (aan die einde van die lycée) deur aan sekere vereistes te voldoen. Alhoewel dit slegs in sy huidige vorm as 'n skoolverlatingseksamen bestaan sedert keiser Napoleon Bonaparte se inwerkingtreding op 17 Maart 1808, dateer die oorsprong daarvan terug na die eerste Middeleeuse Franse universiteite ) gedruip, wat hy uiteindelik geslaag het nadat hy sy laaste jaar van hoërskool herhaal het. Hierna het by die Fakulteit Lettere en Regte ingeskryf en sy regsgraad in 1938 verwerf.
Hy is in 1938 met Annie Chaveneau getroud, maar na drie jaar is hulle geskei. Die egskeiding is eers in 1944 afgehandel. Hy is in 1945 met Suzanne Graux, 'n sangeres, getroud, met wie hy twee seuns gehad het.
Na vyf maande militêre diens in Nancy en Toul is hy weens spierswakheid ontslaan. In Junie 1940, na 'n derde poging, kon hy sy mobilisering 'n paar dae voor die Franse nederlaag bewerkstellig. Hy is in Augustus 1940 definitief ontslaan.
Op aandrang van sy vader het hy hom voorberei vir die toelatingseksamen tot die Conseil d'État, wat hy gedruip het.
Op 24 Oktober 1941, in die familiekasteel in Escoire, Dordogne, is sy vader, sy tante en hul bediende, Louise Soudeix (1879–1941), dood aangetref. Hulle is vermoor met 'n sekel. Henri Girard is aangekla. Hy is verdedig deur 'n toonaangewende prokureur van daardie tyd, Maurice Garçon. Hy is agtien maande lank aangehou in die Beylleme-gevangenis in Périgueux, en op 2 Junie 1943 vrygespreek na 'n tien minute lange beraadslaging.
Hy het die familiefortuin wat hy geërf het, in rekordtyd verkwis. Ten einde sy krediteure te ontglip het hy sy vrou en kinders verlaat en op 3 Mei 1947 aan boord van 'n skip gegaan, wat hom in Venezuela laat beland het. Hy het agtien maande in Suid-Amerika deurgebring, hoofsaaklik in Colombïe. Daar het hy verskeie werk gedoen soos 'n taxibestuurder, vragmotorbestuurder en goudprospekteerder.
Nadat hy in 1949 na Frankryk teruggekeer het met 'n manuskrip wat hy later as Le Voyage du mauvais larron (Die reis van 'n goddelose dief) sou publiseer, die mees outobiografiese roman van sy lewe, het hy weer kontak gemaak met Lella Facchini, die muse en voormalige lewensmaat van die fotograaf Édouard Boubat, met wie hy 'n verhouding gehad het voor sy vertrek (Élisabeth in Le Voyage du mauvais larron). Hulle is getroud. Girard was sonder 'n inkomste en op soek na werk. Omdat hy niks gevind het nie, het hy besluit om 'n roman te skryf wat goed sou verkoop. Die boek is aanvanklik verwerp, maar uiteindelik in 1950 deur Julliard uitgegee as Le Salaire de la peur (Die lone van vrees).
Die boek het 'n topverkoper geword. Drie jaar later is dit verwerk vir film as Le Salaire de la peur (in Engels bekend as The Wages of Fear). Dit is geregisseer deur Henri-Georges Clouzot, met Yves Montand, Charles Vanel en Vera Clouzot in die hoofrolle. Die rolprent was 'n reuse sukses en het die Palme d'Or tydens die Cannes-rolprentfees en die Goue Beer in Berlyn gewen.
In 1977 is die filmregte verkoop vir 'n verwerking deur die regisseur William Friedkin. Die vrystelling van die rolprent,Le Convoi de la peur (Sorcerer), is oorskadu deur die gelyktydige vrystelling van George Lucas se Star Wars. Dit was 'n mislukking.
'n Latere verwerking deur Julien Leclercq, wat in 2024 op Netflix vrygestel is, het 'n powere kritiese ontvangs gehad.
Hy het sy toekomstige vrou, Rolande Lasserre, in 1953 ontmoet. Sy sou sy kameraad word in die stryd vir Algerynse onafhanklikheid.
In 1957, na die doodsvonnis wat in Julie van daardie jaar aan Djamila Bouhired opgelê is, het hy saam met die prokureur Jacques Vergès 'n manifes gepubliseer met die titel Pour Djamila Bouhired. Nadat Djamila in 1959 deur Generaal de Gaulle begenadig is, is hy uit die tronk vrygelaat na die Évian-ooreenkomste (19 Maart 1962).
In 1954 publiseer hy 'n toneelstuk, Les Aveux les plus doux (The Sweetest Confessions), wat 'n groot sukses was. ’n Rolprentverwerking van Les Aveux les plus doux, met Philippe Noiret, Roger Hanin en Caroline Cellier in die hoofrolle, is deur Édouard Molinaro geregisseer.
Drie jaar later, terwyl hy deelgeneem het aan 'n klandestiene vergadering van die Jeanson-netwerk, is Girard in hegtenis geneem omdat hy geweier het om inligting oor die ander betrokkenes te verskaf: hy het geweier om te onthul waar en in wie se teenwoordigheid hierdie perskonferensie ten gunste van Algerynse onafhanklikheid plaasgevind het. Hy het steun ontvang van Joseph Kessel, Jean-Paul Sartre, Jacques Prévert, Louis Aragon, François Maspero, André Frossard, Pierre LazareffLettre envoyée au tribunal militaire par Pierre Lazareff, citée par Charlotte Delbo, Les Belles Lettres, Paris, éd. de Minuit, 1961, rééd. 2012, bl. 45. en ander prominente figure. Girard het hierdie verhoor as 'n platform vir media-aandag gebruik. Hy het Mon procès (My Verhoor), geïllustreer deur Siné, in 1961 by Éditions de Minuit gepubliseer.
Daar was verontwaardiging beide teen die poging tot skending van professionele geheimhouding, waardeur Girard as joernalis beskerm is, en toenemend teen die praktyk van marteling in Algerië, wat die eintlike kwessie in die saak was. Sy verhoor voor die Permanente Militêre Tribunaal van Parys het gelei tot 'n opgeskorte vonnis van twee jaar. Die uitspraak is egter later deur die Cour de cassation tersyde gestel.
In 1962 het Girard hom saam met Lasserre, met wie hy in 1966 getroud is, in die nuut-onafhanklike Algerië gevestig. Hy het planne ontwikkel vir 'n joernalistiekskool en 'n Nasionale Filmsentrum, maar nie een daarvan is ooit verwesentlik nie. Hy het gereeld vir Révolution africaine geskryf. Die egpaar het twee dogters gehad, gebore in 1962 en 1964.
In 1973 het tuberkulose hom gedwing om in Chamonix, Frankryk, te woon. Hy het Algerië in 1974 permanent verlaat.
Latere jare Van 1975 tot 1981 het hy deelgeneem aan Franse televisieberigte oor belangrike sake, veral dié rakende die Moon-sekte en die Joachim Peiper-saak (’n voormalige SS-offisier wat skuiling gesoek het in Haute-Saône en wie se huis in 1976 afgebrand is, waarvan ’n ongeïdentifiseerde liggaam later in die puin ontdek is).
In 1984 het Girard hom saam met sy vrou in Barcelona gevestig, waar hy op 4 Maart 1987 aan ’n hartaanval oorlede is.
Kinders
Henri Girard het twee seuns gehad genaamd Dominique (1946) en Henri (1947), en twee dogters, Catherine (1962) en Laurence (1964).
Werke Le Salaire de la peur, Julliard, 1950. Le Voyage du mauvais larron, Julliard, 1951; Le Pré aux Clercs, 1987 Lumière de soufre, Julliard, 1952. Indiens des hauts plateaux, revue 9, n°8, décembre 1952. Prisons 53, Julliard 1953. Schtibilem 1941, Julliard, 1953. Les Oreilles sur le dos, Editions du Scorpion, 1953; Julliard, 1974 Les Aveux les plus doux, Julliard, 1954. Les Aveux les plus doux (scénario), Editions des Lettres françaises, 1954. Indiens pas morts, Delpire Editeur, 1956. Pour Djamila Bouhired, Editions de Minuit, 1957. Maréchal P..., Editeurs Français Réunis, 1958. La Plus Grande Pente, Julliard, 1961. Mon procès, Editions de Minuit, 1961. Préface within The Murder of Roger Ackroyd of Agatha Christie, Le Livre de Poche, 1961. L'Affaire Peiper : plus qu'un fait divers, Atelier Marcel Jullian, 1978. Chroniques du crime et de l'innocence, Jean-Claude Lattès, 1982. Juste avant l'aube, in collaboration with Jean Anglade, Presses de la Cité, 1990.
Verwysings
Eksterne skakels Georges Arnaud, le multimedi-homme (amptelike webwerf - met inligting in Engels)
Kategorie:Geboortes in 1917 Kategorie:Sterftes in 1987 Kategorie:Franse skrywers