Van der Merwe is 'n 2017 Suid-Afrikaanse tweetalige komedierolprent geskryf en geregisseer deur Bruce Lawley met die akteurs Rob van Vuuren, Chanelle de Jager en Reine Swart in die hoofrolle. Dit handel oor die dogter van 'n stereotipiese Afrikaner wat met 'n Engelsman wil trou.

Storielyn Van is 'n boer wat op 'n plaas woon wat hy van sy oupa geërf het. Hy woon saam met sy vrou Suzette en seun Klein Jan. Wanneer Suzette uitvind dat hul dogter, Marike, verloof raak aan 'n Engelsman, George, word die nuus met afgryse begroet. Van weet wat dat sy pa, Schalk, dit sal afkeur omdat hy vasgevang is in die bitterheid van die verlede en die na-oorlogse nydigheid tussen Boer en Brit. Toe Van die nuus aan Schalk en die res van sy familie oordra, eis Schalk dat Van die verlowing laat verbreek. Sake vererger wanneer Marike en George twee weke later op die plaas aankom.

Van moes weens spanning dokter toe gaan. Marike vertel vir haar ma en pa dat sy en George beplan om op 'n vakansie weg te gaan trou. Van probeer om Marike met 'n vorige kêrel by die gemeenskapsklub te herenig, maar sy pogings om die verlowing te verbreek blyk tevergeefs. Na 'n Argument tussen Marike en Van besluit Van dat hy George 'n kans moet gun. Wanneer George se ouers en ouma van Engeland arriveer, ontmoet hulle Van terwyl hy probeer om 'n hardlywige koei 'n enema te gee, wat voorspelbaar rampspoedig eindig. George se pa, Harold, bestuur 'n perdeweddery en sê altyd "wil jy wed?", terwyl Mavis as 'n snob voorkom. Van en George begin stadig om mekaar te vind, tot groot ontsteltenis van Schalk.

By 'n karaokeklub verstik Schalk, net om deur George gered te word, tot Schalk se verleentheid. Die volgende dag is almal geskok om te hoor dat die gemeenskapsklub weens 'n ongeluk afgebrand het. Om homself te probeer versoen, besluit Van om die familieplaas as die troulokaal aan te bied. Die hele familie, saam met George en sy ouers, besluit om te help met die voorbereidings. Danie, Willem en Elmarie, verskeur tussen hul pa se wrok en Marike se liefde, besluit ook om te help. Marike en George trou uiteindelik, Schalk arriveer by die onthaal, besef hy is verkeerd en sê vir Van dat hy trots is op hom. Die uitgebreide familie vier deur te braai.

Rolverdeling

Rob van Vuuren as Van, die titelkarakter en "swartskaap" van die familie. Chanelle de Jager as Suzette, Van se vrou wat teen haar familie se wense met hom getrou het. Reine Swart as Marike, Van en Suzette se dogter, wat in Engeland opgevoed word en aan George verloof is. Matthew Baldwin as George, Marike se verloofde van Engeland, wat studeer om 'n dokter te word. Ian Roberts as Schalk, Van se oorheersende pa wat 'n wrok teen die Britse volk koester as gevolg van sy geskiedenis as 'n Boer. Rika Sennett as Ouma, Schalk se vrou wat Marike se verlowing ten volle ondersteun. Juanre Bewick as Klein Jan, Van en Suzette se seun. Louw Venter as Willem, Van se broer wat kampioen perde teel. Benedikt Sebastien as Danie, Van se broer wat in inligtingstegnologie werk. Erika Wessels as Elmarie, Van se suster wat haar broer liefdevol "Porky" noem en besig is om haar PhD te verwerf. Andre Jacobs as Harold, George se pa, 'n beroepsperdewedder en herstellende alkoholis. Adrienne Pearce as Mavis, George se ma wat soms snobisties teenoor die van der Merwes optree. Clare Marshall as Ouma Stokes, George se ouma. Greg Kriek as Kobus, Marike se vorige kêrel. Neels van Jaarsveld as die predikant. Kurt Darren as die sanger op die troue.

Produksie Die verfilming is in September 2016 net buite Kaapstad, gedoen. Rob van Vuuren het sy hare afgeskeer vir die rol en 'n vetpak gedra. Die rolprent is op 28 Julie 2017 in Suid-Afrika vrygestel.

Ontvangs Die rolprent het nie positiewe resensies ontvang nie. Spling het die rolprent 'n telling van 5 uit 10 gegee en in sy kommentaar aangevoer: "Die boep en "manscaping" is oordrewe, wat 'n ewe komiese uitbeelding van Van Vuuren onderstreep. Die toneelspel is net so karikatuuragtig soos met karakters soos Mr. Bean en Ace Ventura " en "alhoewel hierdie familiekomedie sy goeie oomblikke het, maak die lae-hangende-vrugte konsep en dun bronmateriaal dit 'n liggewig en lawwe aangeleentheid." Daniel Rom van Fortress of Solitude het die rolprent 'n negatiewe resensie gegee en gesê: "Die komedie is bedoel om uit die botsing van kulture munt te slaan, sowel as uit die [oudmodiese] reaksies van die familie, wat spruit uit die kulturele herinnering aan die volksmoord wat deur die Britte teen hulle gepoog is. Ek oordryf, maar steeds. Dis net so verdomp vervelig."

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Afrikaanse rolprente