duimnael|regs|Die suidwestelike hang van Spookberg, 'n kop in die Lebomboberge, met die skedels van gesneuwelde Zoeloekrygers steeds sigbaar op die voorgrond. Die Slag van Spookberg, ook bekend as die Slag van eTshaneni, het op 5 Junie 1884 net oos van die hedendaagse Mkuze-dorp aan die voet van die Lebomboberge plaasgevind. Dit was die bepalende veldslag vir die opvolging van die Zoeloekroon in die onstuimige tyd na die dood van koning Cetshwayo. Dinuzulu van die uSuthu-faksie het uZibhebhu van die Mandlakhazi-faksie hier verslaan. Dinuzulu was met sy pa se afsterwe 'n jongeling van omtrent 15 jaar, en uZibhebhu, Cetshwayo se kleinneef, was omtrent 27 jaar ouer en 'n gesaghebbende, onafhanklike Zoeloestamhoof. Albei sou in hul veldslae op Boere-hulp staatmaak.

Aanloop Na afloop van die Anglo-Zoeloeoorlog het Wolseley beplan om die Zoeloes onder dertien kapteinskappe te plaas, maar dit het 'n tydperk van wedywering en stamvetes ingelui. Onder leiding van prins uNdabuko is die uSuthu-stam in Maart 1883 by die Slag van Msebe in 'n lokval gelei, toe die Mandlakhazi vinnig suidwaarts teruggeval het.

'n Jaar later, op 21 Mei 1884 het die Boere vir Dinuzulu tydens 'n seremonie te Ingome as Zoeloekoning ingehuldig, nominaal om vrede te bewaar. Sewentig boerewaens het 'n laer gevorm en die teenwoordige getal Zoeloes is op 7 000 geskat. Etlike stamhoofde het Dinizulu vergesel, maar Oham, uZibhebhu en umNyamana was afwesig, alhoewel hulle afgevaardigdes gestuur het met magtiging om die skikking goed te keur.Buitenland: Londen, 30 Mei. Nieuwe Winschoter Courant (1 Junie 1884) Boereleier Dirk C. Uys het saam met Dinizulu onder 'n blou-wit vlag gestaan, soos 44 jaar tevore toe die Boere Panda gekroon het. Uys het aangekondig dat daar ooreengekom is om verdere bloedvergieting te voorkom deur Panda se troon in hierdie opvolgerlyn te herstel. Uys het 'n algemene amnestie verklaar en 'n beroep op die Zoeloes gedoen om hul assegaaie neer te lê. Die deel van Zoeloeland wat die Boere sou behou, het ooreengestem met die gebied wat hulle vóór die oorlog geëis het. Aanvalle op die koninklike party het egter voortgeduur.

uMnyamana, die voormalige uNdunankulu of eerste minister van koning Cetshwayo, het as peetpa vir die koning se kinders, en dus ook vir die jong prins Dinuzulu opgetree. uMnyamana het prins uZibhebhu as 'n Britse lakei gesien, en vir die jong Dinuzulu gewaarsku dat oorlog teen uZibhebhu sou lei tot oorlog teen Brittanje. Dinuzulu was egter vasbeslote om uZibhebhu te vernietig, totdat uMnyamana hom onttrek het met die woorde: "Omdat jy gekies het om my ongehoorsaam te wees, sal ek as jou vader nie by hierdie saak betrokke raak nie, maar ek sal niemand verbied om te gaan nie, want die mense behoort aan die koning." uMnyamana se twee seuns het hul dan inderdaad by Dinuzulu se veldtog aangesluit.

Veldslag duimnael|regs|200px|uZibhebhu van die Mandlakazi-faksie Dinuzulu, met ondersteuning van die uSuthu-faksie, het om die herwinning van sy vader se grond geveg, en om sy opvolging teen sy mededinger, hoofman uZibhebhu, te verseker. Weens 'n gebrek aan eie magte, moes Dinuzulu egter 'n alliansie vorm. Hy het hulp van Transvaalse boere gevra en aan hulle grond belowe in ruil vir militêre hulp. Die 100 tot 120 berede Boere is aangevoer deur Lucas Meyer, en onder sy kommandolede was ook sy familielid Coenraad Meyer, en Louis Botha, destyds veldkornet. Adolf Schield.i. Adolf Friedrich Schiel (Frankfurt, Duitsland, 19 Desember 1858 - †Bad Reichenhall, Duitsland, 5 Augustus 1903), staatsamptenaar van die ZAR was aan die hoof van 20 Duitsers van Lüneberg wat ook by die kommando aangesluit het. Dinuzulu kon aan die begin van Junie 'n mag van meer as 6 000 uSuthu by die ekuShumayeleni uMuzi versamel. uZibhebhu het met sowat 3 000 manskappe en drie of vier wit huursoldate weer na die suidooste van sy stamgebied teruggetrek, en sy vroue, kinders en vee op 'n rif noord van die Mkuzerivier versteek, terwyl sy soldate aan die voet van Spookberg se ruie hange stelling ingeneem het.

Op die namiddag van 5 Junie 1884 het die bepalende slag op die suidoewer van die Mkuzerivier plaasgevind, waar Dinuzulu en sy uSuthu-faksie, met die bystand van die berede Boerevrywilligers, die oorwinning oor uZibhebhu se Mandlakhazi-faksie kon behaal. Die uSuthu het in tradisionele bors-en-horingsformasie opgeruk, met Schiel se vrywilligers wat die linkerhoring ondersteun het, en Meyer se kommando wat die bors- en regterhoring ondersteun het. Terwyl die uSuthu se linkerflank die Mandlakazi suksesvol by 'n donga aangeval het, het die aanstormende Mandlakazi die uSuthu se regterhoring teruggedryf. Die Boere het sarsies vanuit die saal oor die koppe van die weifelende uSuthu afgevuur, wat die Mandlakazi laat terugdeins het. Sommige het die rivier na hul families toe oorgesteek, terwyl ander daar afgesny en op die oewer afgemaai is. Die Boere het geen ongevalle gely nie, en die uSuthu-verliese is onbekend. Mandlakazi se verliese was aansienlik en ses van uZibhebhu se broers het gesneuwel. Die seëvierende uSuthu en Boere het na raming 60 000 beeste gebuit.

Die Mandlakazi-magte is verstrooi, hul mag in die streek is gebreek en hul voormalige stamgebied was nou ontoeganklik. Die lyke van talle gesneuweldes het die slagveld besaai, maar uZibhebhu self kon met sekere manskappe en familie, benewens Eckersley, 'n wit handelaar, oor die Lebomboberg ontsnap. Kol. Reitz beweer in sy boek "Trekking On" dat hy nog in die vroeë 1920's die geraamtes op die slagveld teëgekom het.

Nasleep Dinuzulu was nou die onbestrede heerser van die Zoeloes. Die prys van sy Boere-alliansie was egter die skepping van die Nieuwe Republiek. In September 1884 het uZibhebhu die oorblywende Mandlakazi, omtrent 6 000 mense, na die "Reserve Territory" gelei,Die "Reserve Territory" is in 1882 gevorm as deel van die Tweede Partisie van Zoeloeland. Dit het bestaan uit land tussen die Thukela- en Mhlatuzeriviere. wat deur die Britte opsy gesit is vir Zoeloes wat nie aan die Zoeloe-koningshuis onderhorig was nie. Oorspronklik in 1979 in Londen deur Longman gepubliseer. Dinuzulu se finale afrekening met uZibhebhu sou eers in 1888 met die Slag van Ivuna plaasvind. Daar het Dinuzulu 4 000 Usuthu-krygers in 'n suksesvolle aanslag op uZibhebhu se vesting gelei, waartydens die Mandlakazi omsingel en verslaan is. Dinuzulu was later in 'n stryd met die Britte gewikkel wat Zoeloeland in 1887 geannekseer het. Hy is twee keer verban, eers in 1888 tot 1898 te Sint Helena, en na die Bambata-opstand weer van 1907 tot 1913 in Transvaal.

Verwysings

Kategorie:Veldslae van die Zoeloes