In Her Shoes is 'n Amerikaanse romantiese komediedrama van 2005 wat deur Curtis Hanson geregisseer is. Die draaiboek is deur Susannah Grant geskryf en is geskoei op die roman met dieselfde naam van 2002 deur Jennifer Weiner. Die hoofakteurs is Cameron Diaz, Toni Collette, Shirley MacLaine en Mark Feuerstein.

Die prent gaan oor die konserwatiewe, ernstige Rose (Collette) wat bande verbreek met haar onverantwoordelike, partytjiemal suster (Diaz) nadat sy haar in die bed betrap het met haar kêrel. Later ontdek hulle Ella (MacLaine), die ouma wat hulle nie geweet het bestaan nie.

Die première was op die Toronto- Internasionale Rolprentfees van 2005. Die prent is op 7 Oktober 2005 deur 20th Century Fox in Amerika uitgereik. Dit het hoofsaaklik positiewe resensies ontlok. Rolverdeling

Cameron Diaz as Maggie Feller Toni Collette as Rose Feller, Maggie se oudste suster Shirley MacLaine as Ella Hirsch, Maggie en Rose se ouma Ken Howard as Michael Feller, Maggie en Rose se pa Mark Feuerstein as Simon Stein Candice Azzara as Sydelle Feller, Maggie en Rose se stiefma Francine Beers as mev. Lefkowitz Norman Lloyd as die professor Jerry Adler as Lewis Feldman Brooke Smith as Amy Richard Burgi as Jim Danvers Anson Mount as Todd Eric Balfour as Grant Alan Blumenfeld as mnr. Stein Andy Powers as Tim Ivana Miličević as Caroline, Maggie en Rose se oorlede ma (op foto's).

Storielyn

Die susters Maggie en Rose Feller verskil baie van mekaar. Hulle is deur hulle pa, Michael, en stiefma, Sydelle, grootgemaak nadat hulle ma, Caroline, in ’n motorongeluk gesterf het toe hulle nog jonk was. Rose is ’n oënskynlik gewone en ernstige prokureur en beskerm as die oudste suster vir Maggie ondanks haar tekortkominge. Maggie is ’n vrye gees wat nie ’n vaste werk kan behou nie (deels weens haar disleksie) en wend haar tot alkohol en mans vir emosionele en finansiële ondersteuning.

Toe Sydelle vir Maggie uitsmyt, laat Rose haar teensinnig toe om by haar in haar woonstel in Philadelphia in te trek. Maggie sukkel om werk te kry en veroorsaak gou probleme, onder meer deurdat Rose se motor weggesleep word nadat Maggie dit onwettig parkeer het. Hulle reeds moeilike verhouding versleg verder toe Rose haar saam met Jim, haar kêrel en kollega, in die bed betrap. Hartseer en woedend skop sy Maggie uit.

thumb|160px|links|Shirley MacLaine speel die rol van ouma Ella. ’n Paar dae tevore het Maggie, terwyl sy deur haar pa se lessenaar na geld gesoek het, ’n bondel ou verjaardagkaartjies vir haar en Rose ontdek wat kontant bevat het en van hulle “vervreemde” ouma Ella afkomstig was. Dakloos en sonder werkvooruitsigte reis sy na Florida om haar ouma te gaan soek. Ella glo Maggie is net met vakansie en nooi haar om by haar te bly. Ella vertrou aan haar goeie vriendin Ethel toe dat Caroline geestelik siek was en voor haar dood vir haar ’n briefie geskryf het waarin sy gevra het dat Ella na haar dogters omsien.

Met verloop van tyd besef Ella Maggie het net gekom om te sonbaai en geld van haar te steel. Toe Maggie haar vra om ’n toneelloopbaan vir haar te finansier, stel Ella voor dat sy Maggie se salaris sal verdubbel indien sy ’n werk in die hulpsorgafdeling van die aftreeoord aanvaar.

Intussen bedank Rose uit haar werk om die prokureur met wie sy uitgegaan het te vermy en word sy ’n hondestapper. Sy begin met Simon Stein, ’n kollega by die regsfirma, uitgaan. Hulle raak verlief en verloof. Intussen raak Maggie bevriend met ’n inwoner, ’n blinde afgetrede professor in Engelse letterkunde, wat haar vra om gedigte vir hom voor te lees. Weens haar disleksie sukkel Maggie aanvanklik, maar sy verbeter met die professor se leiding en emosionele ondersteuning.

Intussen plaas Rose se onwilligheid om oor Maggie te praat spanning op haar verhouding met Simon en haar pa. Hoewel Michael onbewus bly van sy dogters se vervreemding, probeer Simon vir Rose sover kry om oor Maggie te praat. Toe hy sien sy vertrou eerder haar probleme aan Jim toe, verbreek hy die verlowing.

Ella kontak Rose en stuur vir haar ’n vliegkaartjie om haar te besoek. Rose konfronteer haar pa daaroor dat hy hulle ouma vir haar en Maggie geheim gehou het. Hy verduidelik teensinnig dat Ella nie goedgekeur het dat Caroline kinders kry nie weens haar geestesiekte en haar geneigdheid om haar medikasie te verwaarloos, en dat sy hom dus vir Caroline se dood blameer het.

By Ella onthul Rose aan haar en Maggie dat Michael en Caroline ná 'n uitstappie ’n groot rusie gehad het en dat hy gedreig het om haar in ’n geestesinrigting te laat opneem. Caroline het haarself twee dae later om die lewe gebring. Maggie besef Rose het haar teen die waarheid oor hulle ma beskerm, en die twee raak versoen.

Simon kom in Florida aan nadat Maggie hom gekontak het, en hy en Rose maak vrede. Eindelik vertel Rose vir hom van Maggie en haar begeerte om haar te beskerm. Later vind Rose en Simon se troue plaas. Ella en Michael raak versoen en Maggie lees ’n gedig as huweliksgeskenk voor, wat Rose tot trane dryf.

Ontvangs In Her Shoes het oor die algemeen positiewe resensies gekry. Op Rotten Tomatoes het dit 'n positiewe punt van 74% gekry op grond van 160 resensies, met ’n gemiddelde telling van 6,8/10. Die webtuiste se konsensus lui: “Eerlikheid en sterk vertolkings maak In Her Shoes 'n uitstekende keuse vir alle gehore.”.In Her Shoes Movie Reviews, Pictures. Rotten Tomatoes. Besoek op 27 Januarie 2020. Op Metacritic het dit 'n punt van 60% gekry op grond van 36 resensies

Rex Reed van The New York Observer noem die prent "pure genot" en 'n "fliek om te koester". Hy meen dit was MacLaine se beste rol sedert Terms of Endearment ... sy is snaaks en aangrypend en gebruik oorvloedige menslikheid en slim sielkundige insig tot groot voordeel en deel haar kennis gulhartig met die ander akteurs.” Roger Ebert van die Chicago Sun-Times sê die rolprent “begin met die bestanddele van ’n gewone rolprent en word dan iets besonders. Die emosionele uitbetaling aan die einde is verdien, nie omdat ons dit as die onvermydelike uitkoms van die intrige sien aankom nie, maar omdat dit skielik uit die bloute kom en, sodra ons daaroor nadink, volkome sin maak. Dit vertel ons iets fundamenteels en belangriks oor ’n karakter; dit laat haar toe om daardie iets te deel met die mense vir wie sy lief is, en dit doen sy op ’n manier wat ons onmoontlik kon voorsien. Soos ’n goeie gedig oorrompel dit ons met die wending wat dit reg aan die einde neem.”

Mick LaSalle van die San Francisco Chronicle voer daarenteen aan die rolprent is “byna ’n ware stelling, byna ’n eerlike uitbeelding van ’n sibbeverhouding en byna nie ’n sentimentele Hallmarkkaartjie van ’n rolprent nie. Maar dit eindig in ’n limbo van betekenisloosheid, met die skrywer Susannah Grant en regisseur Curtis Hanson wat krampagtig voorgee dat hulle een soort verhaal vertel het, terwyl hulle eintlik iets heel anders vertel het.” Carino Chocano van die Los Angeles Times het saamgestem en die rolprent beskryf as ’n "eienaardige rolprent wat meer as twee uur lank sweef tussen lig en donker, waarheid en valse opheffing, dreigement en oormatige vertroeteling.”

Benoemings Shirley MacLaine Golden Globe vir beste vroulike byspeler. Satellite Award vir beste vroulike byspeler in 'n rolprent

Toni Collette Satellite Award vir beste aktrise in 'n rolprentdrama Australian Film Institute Award vir beste aktrise

Cameron Diaz Imagen Foundation Award vir beste aktrise

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente