The Darjeeling Limited is 'n Amerikaanse komediedramarolprent van 2007 wat deur Wes Anderson geregisseer is. Hy was ook die medevervaardiger saam met Scott Rudin, Roman Coppola en Lydia Dean Pilcher en het die draaiboek saam met Coppola en Jason Schwartzman geskryf.

Die hoofakteurs in die prent is Owen Wilson, Adrien Brody en Schwartzman as drie vervreemde broers wat 'n jaar ná hulle pa se begrafnis afspreek om mekaar in Indië te ontmoet en op 'n "spirituele reis" aan boord van 'n luuksetrein te gaan. Ook te sien is onder andere Anjelica Huston – en Natalie Portman, Camilla Rutherford, Irrfan Khan en Bill Murray is in kameerolle.

Die prent is op 29 September 2007 uitgereik en het oor die algemeen gunstige resensies gekry. Dit het $17,5 miljoen gekos om te maak en het $35 miljoen geïn. Die première was op die 64ste Venesiese Internasionale Rolprentfees, waar dit om die Goue Leeu meegeding het.

Anderson se kortprent Hotel Chevalier, met Schwartzman en Portman, dien as 'n voorspel tot die fliek.

Storielyn

In Indië probeer 'n sakeman vergeefs sy trein, die Darjeeling Limited, inhardloop terwyl dit die stasie verlaat. Hy word egter geklop deur 'n jonger man, Peter Whitman, wat wel die trein net-net haal. Peter herenig op die trein met sy twee broers, Francis en Jack. Hulle het mekaar 'n jaar tevore laas op hulle pa se begrafnis gesien.

Francis, die oudste, wil met sy broers herenig om op 'n spirituele selfontdekking te gaan. Hy soek ook in die geheim na sy ma, Patricia, wat die broers jare tevore laas gesien het. Francis lê beslag op sy broers se paspoorte om te keer dat hulle te vroeg teruggaan huis toe.

Die trein neem die broers deur die platteland en verby verskeie tempels, maar die spanning bou op toe die jonger broers hulle vererg oor Francis se baasspelerige houding. Dié erken later hulle sal hulle ma ook sien; sy het 'n Christelike non geword en woon in 'n klooster in die Himalaja. Peter en Jack is woedend toe hulle dit uitvind en die broers raak handgemeen, tot ontsteltenis van hulle medepassasiers. Hulle word van die trein af gesit. Intussen kry die broers 'n brief van hulle ma wat daarop dui dat sy hulle nie wil sien nie. Hulle besluit om terug te gaan huis toe.

Nadat 'n seun verdrink het wat Peter op die platteland op hulle terugtog probeer red het, woon hulle sy begrafnis by en kry terugflitse na hulle pa se begrafnis. Daar word onthul dat hulle pa dood is nadat 'n taxi hom getref het terwyl sy motor vir herstelwerk in die motorhawe was en dat hulle ma nie die begrafnis bygewoon het nie.

By die lughawe skeur die broers hulle kaartjies op en besluit om hulle ma te besoek. By die klooster is Patrica verbaas maar bly om hulle te sien. Nadat die broers Patricia dié aand gekonfronteer het omdat sy hulle verlaat het, sit die gesin in stilte en vind mekaar in liefde. Toe die broers die volgende oggend wakker word, hoor hulle Patricia het die klooster verlaat. Hulle besluit om nie vir haar te wag om terug te kom nie en huis toe te gaan.

Op hulle trein na die lughawe bied Francis aan om Peter en Jack se paspoorte terug te gee, maar hulle sê hy moet dit eerder nog 'n rukkie hou. Francis sê: "Kom ons gaan drink iets en rook," en die broers verlaat hulle kompartement.

Rolverdeling

Owen Wilson as Francis Adrien Brody as Peter Jason Schwartzman as Jack Amara Karan as Rita Wally Wolodarsky as Brendan Irrfan Khan as die pa van die jong seun Barbet Schroeder as die werktuigkundige Camilla Rutherford as Alice Bill Murray as die sakeman Anjelica Huston as Patricia Natalie Portman as Rhett Kumar Pallana as die ou man

Ontvangs Op Rotten Tomatoes het die prent ’n goedkeuringsgradering van 69% van 193 resensente gekry, met ’n gemiddelde punt van 6,7/10. Die webtuiste se konsensus lui: “Met die vereiste kombinasie van humor, hartseer en uitstekende beeldmateriaal sal The Darjeeling Limited Wes Anderson-aanhangers tevrede stel.” Op Metacritic het die film ’n telling van 67 uit 100, gebaseer op 35 resensies, wat dui op 'n “algemeen gunstige” ontvangs.

Roger Ebert van die Chicago Sun-Times het die prent 3,5 uit 4 sterre gegee en sy Indiese omgewing geprys. Hy het opgemerk Anderson gebruik “Indië nie op ’n toerisagtige manier nie, maar as ’n agtergrond wat baie, baie opvallend is.” Chris Cabin van Filmcritic.com het die fliek 4 uit 5 sterre gegee en dit Anderson se “beste werk tot dusver” genoem. Lisa Schwarzbaum van Entertainment Weekly het dit ’n “B+” gegee en beskryf as ’n bekende sielkundige en stilistiese reis vir Anderson, maar met ’n "verbasende nuwe volwassenheid”. A.O. Scott van The New York Times het dit ’n "eienaardige, gebrekkige, maar nietemin pragtig handgemaakte voorwerp” genoem en die sentimentele waarde daarvan beklemtoon.

Minder gunstige resensies het gekom van onder andere Nick Schager van Slant Magazine wat dit 2 uit 4 sterre gegee het en die herhalende stilistiese elemente van Anderson se prente as beperkings gekritiseer het. Emanuel Levy het dit ’n “C” gegee en aangevoer Anderson se tematiese en stilistiese herhaling perk die fliek in, ondanks die nuwe omgewing en medewerkers.

Glenn Kenny van Première het The Darjeeling Limited as die vyfde beste prent van 2007 aangewys, en Mike Russell van The Oregonian het dit agtste op sy jaareindlys geplaas.

Verwysings

Skakels

Darjeeling Limited, The