El Camino: A Breaking Bad Movie (of slegs El Camino) is 'n Amerikaanse neo-Western en misdaadrillerfliek van 2019. Dit is deel van die Breaking Bad-franchise en is 'n opvolg van die televisiereeks Breaking Bad. Dit bou voort op die verhaal van Jesse Pinkman, wat saam met sy voormalige onderwyser Walter White 'n tikryk in Albuquerque, Nieu-Mexiko, opgebou het. Die skepper van die reeks, Vince Gilligan, het El Camino geskryf en geregisseer en was 'n medevervaardiger. Aaron Paul is weer in die rol van Jesse Pinkman. Verskeie akteurs van Breaking Bad is ook in hulle ou rolle te sien, insluitend Jesse Plemons, Krysten Ritter, Charles Baker, Matt Jones, Robert Forster, Jonathan Banks en Bryan Cranston. Forster is dood die dag toe die fliek uitgereik is en dit was dus een van sy laaste verskynings op die skerm.

El Camino het positiewe resensies gekry en is vir verskeie pryse benoem, insluitend vier Emmys. Dit het die Critics' Choice Television Award en Satellite Award gewen vir beste rolprent wat vir TV gemaak is.

Akteurs Aaron Paul as Jesse Pinkman, 'n voormalige tikvervaardiger en 'n oudvennoot van Walter White Jesse Plemons as Todd Alquist, een van Jesse se gevangenemers en lid van die neo-Nazi-groep wat Jesse dwing om tik te vervaardig; hy word in terugflitse van voor sy dood gewys. Krysten Ritter as Jane Margolis, Jesse se oorlede vriendin wat in 'n terugflits verskyn Charles Baker as Skinny Pete, Jesse se vriend Matt Jones as Brandon "Badger" Mayhew, Jesse se vriend Robert Forster as Ed Galbraith, die eienaar van 'n stofsuierwinkel wat misdadigers help om 'n nuwe blyplek onder 'n nuwe identiteit te kry Jonathan Banks as Mike Ehrmantraut, Jesse en Walter se voormalige vennoot wat in 'n trugflits verskyn Bryan Cranston as Walter White, die voormalige misdaadbaas en Jesse se oudonderwyser wat in 'n terugflits verskyn

Ontvangs Op Rotten Tomatoes is El Camino: A Breaking Bad Movie deur 92% van 133 resensente goedgekeur, met 'n gemiddelde punt van 7,3/10. Die webtuiste se konsensus lui:" El Camino, vermaaklik al is dit nie noodsaaklik nie, voeg ’n bevredigende, laat slot by die Breaking Bad-verhaal – aangevoer deur ’n vertolking van Aaron Paul wat die beste van sy loopbaan is.” Op Metacritic het die fliek ’n telling van 72 uit 100 gekry, gebaseer op 34 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige” ontvangs.

Judy Berman van Time het Aaron Paul se “betowerende” hoofrolvertolking geloof en verwys na sy gemak om ’n rol wat hy jare lank nie vertolk het nie "weer volledig syne te maak … en Jesse toe te rus met dieselfde mengsel van (afnemende) lawwe speelsheid en (toenemende) eksistensiële vrees wat hom deur die reeks se finale episode gedryf het”. Liz Shannon Miller van The Verge het gemeen "[Paul] se werk in El Camino is verstommend, gegewe die hoë moeilikheidsfaktor wat gepaardgaan met die vertolking van soveel variasies van dié karakter”. In teenstelling hiermee het GQ se David Levesley gevoel El Camino benut nie Paul se volle potensiaal nie. “Sonder akteurs om teenoor te speel, weet die rolprent dikwels nie wat om met hom te doen nie”. Daniel Fienberg van The Hollywood Reporter het ook Jesse Plemons se vertolking uitgelig en gesê: “Plemons het nooit die respek gekry wat hy verdien het nie … en dit is dalk ’n goeie tyd om behoorlik te geniet hoe ’n vreemde en verskriklike ou Todd was.”

As voortsetting van Breaking Bad Alan Sepinwall van Rolling Stone het El Camino as ’n voortsetting van Breaking Bad geprys en gesê “as Breaking Bad se afsluiting ’n fout gehad het … is dit dat Jesse ’n bietjie agtergelaat is. Teen die einde van El Camino is dit nie meer die geval nie”. The Daily Beast se Melissa Leon het saamgestem en gesê die skepper van Breaking Bad, Vince Gilligan, "se meditatiewe neo-Westerse El Camino gee ’n slot aan Jesse se verhaal wat die emosionele (en fisieke) letsels uiteensit waarmee Walt hom gelaat het om mee saam te leef”.

Terwyl Josh Spiegel van /Film die fliek geniet het, het hy die rolprent as onnodig vir die reeks beskou. Hy het geskryf: “As jy van Breaking Bad gehou het … het jy dalk gewonder: ‘Wat gaan volgende met Jesse Pinkman gebeur?’ Dit is nie dat Vince Gilligan se antwoord ’n slegte idee was nie. Dit is net dat ’n twee uur lange weergawe van daardie antwoord, hoe mooi dit ook al lyk en hoe goed dit ook al gespeel word, heeltemal oorbodig was.” Die BBC se Hugh Montgomery het dit beskryf as ’n "franchise-uitbreiding so lui en leeg soos enigiets wat vir die grootskerm uitgedink is”.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente