Ripley is 'n Amerikaanse neo-noir-rillerreeks vir televisie wat deur Steven Zaillian geskep, geskryf en geregisseer is. Dit is geskoei op die rillerroman The Talented Mr. Ripley van 1955 deur Patricia Highsmith.
Die akteurs sluit in Andrew Scott, Dakota Fanning en Johnny Flynn. Die kortreeks van agt episodes is die eerste verwerking van Hightsmith se roman vir 'n reeks.
Ripley sou op Showtime gewys word, maar in Februarie 2023 is dit na Netflix geskuif. Die première was op 4 April 2024, en dit het lof gekry vir die skryfwerk, regie, en toneelspel, veral vir Scott as Tom Ripley. Op die 76ste Emmy-toekenningsaand het dit 14 benoemings gekry, insluitende vir uitmuntende beperkte reeks, en vir toneelspelpryse vir Scott en Fanning. Dit het vier gewen, onder meer vir uitmuntende regie van 'n beperkte reeks vir Zaillian. Dit het ook 'n paar ander pryse gewen.
Hoofakteurs Andrew Scott as Tom Ripley Dakota Fanning as Marge Sherwood Johnny Flynn as Dickie Greenleaf Eliot Sumner as Freddie Miles Margherita Buy as signorina Buffi, die verhuurder van Ripley se woonstel Maurizio Lombardi as inspekteur Pietro Ravini
Storielyn Tom Ripley is in 1961 in New York ’n armoedige swendelaar. Onbewus van sy omstandighede, huur ’n welgestelde man hom om sy verlore seun te oorreed om uit Italië terug te keer huis toe. Maar Tom se kennismaking met Dickie Greenleaf se gemaklike en sorgelose lewe in die buiteland blyk “die eerste stap in ’n komplekse lewe van bedrog, swendelary en moord” te wees.
Ontvangs thumb|220px|Sommige resensente het Scott se vertolking die beste Ripley nog genoem.
Op Rotten Tomatoes is 86% van 136 resensies positief en het die prent 'n gemiddelde punt van 8/10. Die webtuiste se konsensus lui: “Steven Zaillian se uitspattige herinterpretasie van Ripley is in weelderige swart-wit, met ’n reptielagtige Andrew Scott wat die skerm gyselaar hou, en die reeks tap vars bloed uit Patricia Highsmith se verraderlike sosiale klimmer.” Op Metacritic behaal die reeks ’n gemiddelde telling van 76 uit 100, gebaseer op 43 resensies, wat dui op 'n “algemeen gunstige” reaksie.
Matt Schimkowitz van The A.V. Club het die reeks ’n A− gegee en gesê: “Die pret van Ripley lê altyd daarin hoe hy met sy misdade wegkom, en Zaillian vergeet dit nie.” In sy resensie vir The Mercury News het Randy Myers dit ’n punt van 3,5/4 gegee en opgemerk: “Hoewel sommige afgesit kan word deur Ripley se afgemete tempo en sy kil persoonlikheid, sal noir-aanhangers nie wees nie en sal hulle hulle verwonder aan hoe doeltreffend die reeks ’n dikwels oorbenutte genre laat herleef.”
Judy Berman van die tydskrif Time het geskryf: “Scott is dalk meer as twee dekades ouer as sy karakter soos deur Highsmith bedink (hy lyk nie so nie), maar het nietemin vir ons die eerste definitiewe Ripley op die skerm gegee.”
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse televisiereekse