Brahim Abdelkader Díaz (Arabies: إبراهيم عبد القادر دياز; gebore 3 Augustus 1999), bekend as Brahim, is ’n professionele sokkerspeler wat as aanvallende middelveldspeler of vleuel vir die La Liga-klub Real Madrid speel. Hy is in Spanje gebore uit ’n Spaanse moeder en ’n Marokkaanse vader, en het gekies om die Marokkaanse nasionale span te verteenwoordig.
Klubloopbaan
Manchester City Brahim het sy klubloopbaan by sy tuisdorpklub Málaga begin, voordat hy in 2015, op 16-jarige ouderdom, vir ’n aanvanklike fooi van £200 000 na Manchester City verhuis het.
Op 21 September 2016 het Díaz sy eerstespan-debuut vir City gemaak toe hy in die 80ste minuut as plaasvervanger opgedaag het in ’n EFL-beker-wedstryd teen Swansea City. Vyf dae later het hy sy eerste professionele kontrak met die klub onderteken, vir ’n tydperk van drie jaar.
Op 21 November 2017 het Brahim sy Champions League-debuut teen Feyenoord gemaak, en op 20 Januarie 2018 het hy sy Premierliga-debuut beleef in ’n 3–1-oorwinning teen Newcastle United.
Real Madrid
Ná intense oordragspekulasie en met sy kontrak by Manchester City wat in Junie 2019 sou verstryk, het Brahim Díaz op 6 Januarie 2019 by Real Madrid aangesluit vir ’n oordragsfooi van £15,5 miljoen (€17 miljoen). Hy het ’n sesjaarkontrak tot 2025 onderteken, met bybetalings wat die oordragwaarde tot £22 miljoen (€24 miljoen) kon verhoog.
Díaz het sy debuut op 9 Januarie 2019 in die Copa del Rey gemaak en vier dae later sy La Liga-debuut beleef. Hy het sy eerste doel in Mei 2019 aangeteken en het ses liga-verskynings gemaak toe Real Madrid die 2019/20 La Liga-titel gewen het.
In 2020 is hy vir drie seisoene aan AC Milan uitgeleen. Tydens sy tyd in Italië het hy belangrike doele aangeteken, onder meer teen Juventus en Liverpool, en was deel van die span wat die Serie A-titel in 2021/22 gewen het.
Op 10 Junie 2023 het Real Madrid Brahim se terugkeer ná ’n drieseisoen-leningstydperk by AC Milan aangekondig, en met sy terugkeer het hy ’n kontrakverlenging tot Junie 2027 met die klub onderteken.
Internasionale loopbaan
Brahim Díaz het Spanje op jeugvlak verteenwoordig en in 2021 sy enigste senior verskyning vir Spanje gemaak, waarin hy ook gescore het. In 2023 het hy besluit om Marokko op internasionale vlak te verteenwoordig en het sy debuut gemaak op 22 Maart 2024 in ’n 1–0-oorwinning teen Angola. Op 6 September het Díaz sy eerste doel vir Marokko aangeteken in ’n 4–1-oorwinning teen Gabon tydens die kwalifikasie vir die Afrikanasiesbeker 2025 (Marokko was reeds gekwalifiseer as gasheer). In die eindtoernooi het hy vyf doele aangeteken, maar in die eindstryd het hy ’n strafskop reguit in die arms van Senegal se doelwagter geskiet.
Verwysings
Kategorie:Marokkaanse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1999 Kategorie:Lewende mense