Die Eugène Bonaparte-gedenkteken staan op die plek waar die keiserlike prins Napoléon Eugène Louis Bonaparte tydens die Anglo-Zoeloeoorlog gesneuwel het en is daarom deel van die historiese slagveldroete van KwaZulu-Natal. Hierdie baken dui die einde van die Bonaparte-dinastie aan.

Ligging Die kruis is by 28° 7′ 36″ suid, 30° 46′ 38″ oos, ‘n 250 meter noord van die Jojosirivier en aan die suidekant van die dorpie Uqweqwe. Dit is ‘n 6 km wes van die hoofpad van Nondweni na Vryheid, noordnoordwes van Barklieside, noordwes van Babanango en oos van Dundee. Die monumente wat die Slag van Bloedrivier herdenk, is effens wes.

Kruis Hierdie marmerkruis staan in ‘n gedenktuin onder bome wat in die vroeë 1900’s aangeplant is. Die jaar na sy dood het sy ma, keiserin Eugenie, die terrein besoek. Op die kruis is die volgende bewoording aangebring: This cross is erected by Queen Victoria in affectionate remembrance of Napoleon Eugene Louis Jean Joseph, Prince Imperial, to mark the spot where while assisting in a reconnaissance with the British troops on the 1st June 1879 he was attacked by a party of Zulus and fell with his face to the foe.

Monument Die kruis is in 1939 tot ‘n gedenkwaardigheid verklaar. ‘n Verdere gedenksteen is op 1 Junie 1979 deur die Franse ambassadeur in Suid-Afrika namens die Franse regering onthul.

Bibliografie Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972.

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika