Die anti-bandiete-proteste van 1849 in die Kaapkolonie was ‘n belangrike fase in die grondwetlike ontwikkeling van Suid-Afrika.

Agtergrond In die 1840’s het die Britse regering al hoe meer daaraan begin dink om gevangenes ook na die Kaapkolonie te deporteer soos dit al tientalle jare na Australië die gebruik was. Op 7 Augustus 1845 stuur die minister van kolonies, George Grey, ‘n brief aan Harry Smith, die goewerneur in Kaapstad, dat die regering in Londen Britse wetgewing so gaan wysig dat gevangenes ook na die Kaapkolonie verban kan word. Grey noem dat die jong misdadigers voordelig vir die kolonie sal wees, want hulle sal die arbeidstekort verlig. Smith kry dus die opdrag om die publiek se mening daaroor te toets. Maar dit was nie die werklike rede waarom die kolonie tot strafkolonie verklaar moes word nie. In die 1840’s was die Engelse tronke oorvol en met hierdie stap sou die gevangenisse ontlas word. Ook sou dit die aanhoudende besware uit Australië dat hulle alle boewe moes aanvaar, besweer. Dan sou dit ook bydra tot die verligting van die groot hongersnood in Ierland en dalk help om die Ierse rebellie van 1848 te onderdruk. Baie van die sogenaamde boewe was egter jonk en agter tralies weens minder ernstige oortredings. Ander was Ierse politieke gevangenes.

Besware Grey se voorstel het ‘n uitbarsting van protes aan die Kaap veroorsaak gelei deur John Fairbairn, die redakteur van die South African Commercial Advertiser. In die westelike deel van die kolonie was daar juis toe ‘n besondere stabilitiet en rustigheid. Rondom Kaapstad het die inwoners gestreef na al groter regeringsdeelname. Hulle was bang dat hul strewe deur die invoer van tronkvoëls teengewerk kan word. ‘n Hele aantal beswaarskrifte oor die saak is aan die Britse regering gerig. Nogtans verklaar George Grey die Kaap in 1848 tot strafkolonie.

Krisis Op 8 November 1949 maak Harry Smith bekend dat hy die proklamasie ontvang het dat hulle gevangenes gaan ontvang. As Britse staatsamptenaar moes hy die bevel uitvoer, alhoewel hy in sy privaat hoedanigheid ook daarteen gekant was. Die bevel lei tot ‘n uitbarsting van verontwaardiging in Kaapstad, want die inwoners voel dat hulle deur die Britse regering misken word. ‘n Golf van protesaksies gepaard met burgerlike ongehoorsaamhied spoel oor die land. Verskeie plaaslike politici wat met die Britte se planne wou saamwerk en sakemanne wat beplan het om die skip te bevoorraad, is deur die opgewonde publiek aangeval, hul winkels geplunder en verniel.

Julie 1949 In Maart 1849 publiseer die South African Commercial ‘n berig wat noem dat die skip Neptune reeds na die Kaap onderweg was. ‘n Skare van 5000, nagenoeg ‘n kwart van die stad se bevolking, het op 4 Julie onder leiding van onder andere J.B. Ebden, Saul Solomon en Fairbairn op die Parade saamgetrek. Dit het bestaan uit verteenwoordigers uit alle groepe van die samelewing, naamlik Engels- en Nederlandssprekendes, blank en gekleurd. Beswaarskrifte is onderteken en direk aan koningin Victoria verstuur. Verklarings is onderteken dat hulle aan geen bandiet werk sal verskaf nie. Om doeltreffende weerstand te koördineer is ‘n anti-bandiete-beweging met Fairbairn as leier gevorm. Die gemoedere het so hoog geloop dat Fairbairn op 15 Oktober in sy eie huis in Seepunt deur waarskynlik werklose agente van die owerheid aangeval en sy woning verniel is.

Boikot Toe die Neptune in September 1849 met sy 282 bandiete in Tafelbaai aankom, is dit nie toeglaat om vas te meer nie. Niemand is toegelaat om voorrade aan die skip te voorsien nie. Noodgedwonge seil die skip toe na Simonsbaai. Enige persoon wat handel dryf met die skip is geboikot. Die publiek is beveel om slegs sake te doen met firmas wat die boikot ondersteun. Vir dae lank het die handel in die stad stilgestaan en was die strate verlate. Sekere vrederegters, veldkornette en parlementslede het uit solidariteit met die boikotters uit hul ampte bedank. Boikotbrekers is op ‘n swartlys geplaas en sosiale omgang met hulle is vermy. By die Neptune raak die toestand so akuut dat goew. Smith o.a. die Britse kapt. Robert Stanford beveel om voedsel aan die skip te verskaf. Hulle doen goeie sake, maar so ondermyn die goewerneur die gesag van die plaaslike regering en die wil van die publiek. Stanford word as ‘n ongewenste persoon verklaar en sosiaal verban. Toe sy dogter ernstig siek word, waag geen dokter om haar te behandel nie en sterf sy. Op 21 Februarie 1850 seil die Neptune weg na Australië en so kom ‘n periode van meer as 5 maande se openbare onrus en geweld ten einde. Toe die skip vertrek, was daar groot vreugde in Kaapstad en die groter dorpe. Kerkklokke het gebeier, vreugdevure is aangesteek, volksfeeste met sang en musiek is gehou om die oorwinning oor die diktatoriale gesag van die regering in Engeland te vier. Die nie-aanvaarding van hierdie Britse gevangenes was nie bloot omdat hulle misdadigers was nie, maar beslis ook die eensydige besluit van die regering in Londen sonder om die wense van die Kaapse bevolking in ag te neem.

Politieke gevolge Hierdie krisis en die oorwinning het tot groter eensgesindheid tussen die Kaapse bevolkingsgroepe in die stad en op die platteland gelei sowel as tot groter politieke bewuswording. Die strewe na selfbeskikkingsreg lei tot verantwoordelike regering, die vestiging van die Kaapse parlement en uiteindelik kry die Kaapkolonie in 1872 selfregering.

Adderleystraat Toe die Britse parlementslid Charles Adderley se pleidooie lei tot die opheffing van die verklaring van die kolonie tot strafkolonie is die hele saak ontlont. As dank het die stadsraad van Kaapstad die straat destyds bekend as die Heerengracht herdoop tot Adderleystraat. Verskeie groter dorpe het die voorbeeld gevolg.

Prominente persone Vooraanstaande persone wat ‘n rol in hierdie krisis gespeel het, was Charles Adderley Christoffel Josephus Brand John Bardwell Ebden (*Norfolk, 9 April 1787 - †Kaapstad, 22 September 1873), ‘n Kaapse sakeman en politikus John Fairbairn George Grey (*Gibraltar, 1799 - †Falloden, Northumberland, 9 September 1882), Britse minister van kolonies (moet hom nie verwar met die Kaapse goewerneur met dieselfde naam) Hercules Crosse Jarvis William Porter (*Artikelly, naby Limavady, Londonderry, Ierland, 15 September 1805 - †Lennoxvale, Belfast, Noord-Ierland, 13 Julie 1880), prokureur-generaal in die Kaapkolonie Harry Smith Saul Solomon Robert Stanford (aktief 1849), Britse lojalis tydens die anti-bandieteproteste

Bibliografie Böeseken, A.J.: Die Nuusbode. Kaapstad: Nasou, 1966 (lees: Anna Böeseken) Kruger, D.W.: Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Nasou, 1966 Muller, C.F.J. (red.): Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Pretoria: Academica, 1973.

Kategorie:Geskiedenis van Suid-Afrika