duimnael|250px|The Heart of the Ocean (werklike rekwisiet), die halssnoer wat Cal aan Rose gee as verlowingsgeskenk. duimnael|250px|Die trappestel wat in die rolprent gebruik is, is effens breër as die stel wat op die werklike skip gebruik is, gemaak, aangesien hedendaagse mense breër en groter is as wat die mense van daardie dae en in daardie klas was.
Titanic is 'n Amerikaanse romantiese rolprent van 1997 wat oor die sinking van die RMS Titanic handel en deur James Cameron geregisseer, geskryf, medevervaardig en medegeredigeer is. Kate Winslet vertolk die rol van Rose DeWitt Bukater en Leonardo DiCaprio die rol van Jack Dawson — twee lede van verskillende sosiale klasse wat op mekaar verlief raak aan boord van die skip se noodlottige nooiensvaart. Die hoofkarakters en die sentrale liefdesverhaal is fiktief, maar sommige karakters (soos lede van die bemanning) is op werklike mense gegrond. Gloria Stuart speel die ouer Rose, wat die verhaal vertel.
Die vervaardiging van die rolprent het in 1995 begin toe Cameron beeldmateriaal van die werklike wrak van die RMS Titanic ondersee verfilm het. Hy het die liefdesverhaal gesien as 'n manier om die gehoor by die ware tragedie van die skip te betrek. Die moderne tonele is by die Akademik Mstislav Keldysh verfilm en die res van die tonele op 'n herskepping van die skip wat by Playas de Rosarito, Baya California, gebou is. Cameron het ook van skaalmodelle en rekenaargeskepte beelde gebruik gemaak om die sinkingstoneel te herskep. Titanic was indertyd die duurste rolprent en het ongeveer VS$ 200 miljoen gekos, met befondsing van Paramount Pictures en 20th Century Fox.
Die rolprent sou aanvanklik op 2 Julie 1997 uitgereik word, maar naproduksie-vertragings het die rolprent se uitreiking tot 19 Desember 1997 vertraag. Nadat die nuusmedia hiervan te hore gekom het, het hulle geglo dat Titanic 'n mislukking sou wees en dat die rolprent Fox en Paramount daarmee saam sou kelder. Met sy uitreiking was die rolprent egter 'n enorme kritiese en finansiële sukses. Dit is vir veertien Academy-toekennings benoem en het elf, onder meer beste rolprent, gewen.http://www.rottentomatoes.com/m/titanic/ Dit het die rolprent met die hoogste bruto inkomste tot op daardie stadium geword, met 'n wêreldwye totaal van VS$1,8 miljard, steeds die sesde grootste bruto inkomste tot dusver in Noord-Amerika, met inflasie ingereken.
Intrige
In 1996 verken skattejagter Brock Lovett (Bill Paxton) en sy span die wrak van die RMS Titanic, op soek na 'n halssnoer met 'n waardevolle blou diamant, genaamd die Heart of the Ocean (Afrikaans: Hart van die Oseaan). Onsuksesvol in hul soektog na skatte, ontdek hulle egter 'n skets van 'n jong dame wat naak op 'n sofa terugleun en die Heart of the Ocean dra. Die datum op die skets is die datum waarop die Titanic gesink het. Die eenhonderd en een jaar oue Rose Dawson Calvert (Gloria Stuart) kom van die ontdekking van die skets te hore en nader gevolglik vir Lovett om hom in kennis te stel dat sy die dame in die skets is. Sy en haar kleindogter Elizabeth "Lizzy" Calvert (Suzy Amis) besoek Lovett en sy skeptiese span op sy reddingskip. Gevra of sy weet waar die halssnoer is, roep sy ou herinneringe aan boord die Titanic op en onthul sy die eerste keer dat sy Rose DeWitt Bukater is, 'n passasier van wie daar tot in daardie stadium aanvaar is dat sy in die tragedie omgekom het.
In 1912 gaan die gegoede 17-jarige Rose (Kate Winslet) aan boord van die skip in Southampton, Engeland met haar verloofde Caledon "Cal" Hockley (Billy Zane), die seun van 'n Pittsburghse staalmagnaat, en haar moeder, Ruth DeWitt Bukater (Frances Fisher). Beide Cal en Ruth beklemtoon die belangrikheid van Rose se verlowing met Cal, aangesien die huwelik die uitwissing van die Dewitt-Bukater-skuld te weeg sou bring; alhoewel Rose en haar moeder uiterlik as gegoed voorkom, is hulle in werklikheid bankrot. Rose word radeloos en gefrustreer deur haar verlowing met die beheersugtige Cal en die druk wat haar moeder op haar skouers plaas om met die huwelik voort te gaan en poog sy gevolglik selfmoord deur van die agterskip af te spring. Voordat sy die sprong kan onderneem, benader swerwer en kunstenaar Jack Dawson (Leonardo DiCaprio) haar, en oorreed haar om nie te spring nie. Aanvanklik glo Cal, sy vriende en die skeepsbemanning dat Jack Rose wou verkrag nadat hulle haar skreeue gehoor het. Sy verduidelik dat Jack haar lewe gered het en kamoefleer haar selfmoordpoging deur aan te voer dat sy gegly het toe sy oor die reëling geleun het om die skroewe (propellers) te besigtig. Jack ondersteun die bewering, alhoewel Hockley se kneg en voorheen Pinkerton-agent, Spicer Lovejoy (David Warner), nie oortuig is nie. Jack en Rose stel 'n voorlopige vriendskap op met haar danke aan hom vir sy bevestiging, en hy deel verhale van sy avonture met sy reise en sketse, met haar. Hul vriendskaplike band verdiep nadat hulle 'n stywe en formele eersteklasdinee verlaat en by 'n veel lewendiger party met Ierse dans, musiek en aal in die derdeklas aansluit.
Cal word van Rose se manewales in die tussendek ingelig en gooi 'n ontbyttafel omver in 'n vlaag van woede toe hy haar die volgende oggend verbied om weer met Jack te ontmoet. Rose besluit egter om hom en haar ma te trotseer nadat sy aanskou hoe 'n vrou haar sewejarige dogtertjie aanmoedig om haar soos 'n betaamlike dame aan tee te gedra, en vra vir Jack om haar naak te skets terwyl sy slegs die Heart of the Ocean, haar verlowingsgeskenk van Cal, dra. Daarna hardloop hulle speels vir Lovejoy weg en gaan hulle benededeks na die skip se vragruim. Hulle klim in William Carter se Renault en gaan voort met seksuele omgang, voordat hulle na die skip se voordek gaan. Rose besluit om met hul aankoms in New York Stad die skip met Jack te verlaat. Hulle aanskou dan die skip se noodlottige botsing met 'n ysberg. Nadat hulle die toevallige gesprek van die uitkyke aanhoor oor hoe ernstig die botsing is, sê Rose vir Jack dat hulle haar moeder en Cal moet gaan waarsku. Intussen ontdek Cal Rose se naakskets en uittartende boodskap in sy kluis en stel hy Jack vir die diefstal van die Heart of the Ocean op deurdat Lovejoy die juweel in Jack se sak plaas. Nadat sy agterkom dat Cal beplan om Jack vir die dood benededeks agter te laat, hardloop Rose weg van Cal en haar moeder om Jack van gevangenskap uit die kaptein se kantoor te red.
Jack en Rose keer na die boonste dek terug. Cal en Jack wil beide Rose se veiligheid verseker en, alhoewel hulle vyande is, oorreed hulle haar om in 'n reddingsboot te klim. Maar nadat sy besef dat sy haar liefde nie kan verlaat nie, spring Rose terug op die skip en verenig sy haar met hom op die skip se eersteklas trappehuis. Cal word met woede gevul — hy neem Lovejoy se pistool en jaag Jack en Rose afwaarts met die dekke en in die oorstroomde eerstesklas dineesalon in. Wanneer Cal se ammunisie opraak, besef hy dat hy die Heart of the Ocean in sy mantel wat hy oor Rose geplaas het, vergeet het. Cal verlaat Lovejoy en keer na die sloepedek terug, waar hy in Collapsible A inklim terwyl hy voorgee dat hy na 'n verlate kind omsien, en nadat die beampte wat hy vroeër omgekoop het om hom 'n plek in 'n reddingsboot te verseker, die geld in sy gesig teruggegooi het. Nadat Jack en Rose na die boonste dek terugkeer, is al die reddingsbote reeds weg en hulle beland in die yskoue Atlantiese Oseaan se waters wanneer die skip tuimel en sink. Jack en Rose is in staat om aan 'n gekerfe eikepaneel te klou, maar dit kan net een persoon ondersteun. Jack sterf 'n kouedood, maar Rose word, met vyf ander oorlewendes, gered wanneer Vyfde Offisier Harold Lowe met Reddingsboot 14 terugkeer.
Rose word deur die RMS Carpathia na New York geneem, waar sy haar naam as Rose Dawson opgee. Met haar aanneem van Jack se van, lei sy almal om die bos om te glo dat Rose DeWitt Bukater tydens die tragedie gesterf het. Sy sien Cal ook vir die laaste keer op Carpathia se dek terwyl hy na haar soek (sy verduidelik hy sou homself later doodskiet ná die Wall Street-ineenstorting van 1929 waartydens hy alles verloor het). Nadat sy haar verhaal klaar vertel het, gaan die ouer Rose na die agterstewe van Lovett se skip. Nadat sy op die reëling klim, word dit duidelik dat sy steeds die Heart of the Ocean in haar besit het. Sy laat die diamant in die see val en stuur dit om by die oorblyfsels van die belangrikste gebeurtenis in haar lewe aan te sluit. Die rolprent eindig met 'n skoot van Rose in haar warm bed, nes Jack aan haar gesê het sy uiteindelik sou sterf. Rondom haar is foto's van haar terwyl sy al die dinge doen wat sy gesê het sy in haar lewe nog met Jack sou gaan doen het. Die finale skoot van die rolprent is 'n visioen van die jong Rose wat met Jack aan die Grand Staircase verenig word en deur die slagoffers van die Titanic toegejuig word wanneer hy haar soen.
Rolverdeling Fiktiewe karakters
Kate Winslet as Rose DeWitt Bukater: Rose is 'n sewentienjarige dame wat geforseer word om aan Caledon Hockley verloof te raak sodat sy en haar moeder, Ruth, hul status kan behou ná die dood van haar vader wat hulle slegs 'n skuldboedel nagelaat het. Hulle gaan Titanic as eersteklaspassasiers aan boord, waar Rose Jack, 'n derdeklaspassasier, ontmoet. Sy oorleef die sinking wanneer twee beamptes haar lewendig in die yskoue waters vind.
Leonardo DiCaprio as Jack Dawson: Jack is 'n swerwerkunstenaar wat van die hand na die tand leef en wat kaartjies vir die RMS Titanic vir hom en sy vriend Fabrizio in 'n kaartspel wen. Hy word met eerste oogopslag tot Rose aangetrokke en kry toevallig die geleentheid om met haar te praat toe sy by die agterskip wou afspring. Hierdie heldhaftige daad stel hom in staat om vir een aand met die eersteklaspassasiers te meng. Hy sterf later in die vriesende water. Billy Crudup en Stephen Dorff is aanvanklik vir Jack se rol oorweeg.
Billy Zane as Caledon Nathan "Cal" Hockley: Cal is Rose se verloofde, die ouderwetse arrogante en snobistiese eersteklaskarakter, en erfgenaam tot 'n reusagtige staalboedel. Hy raak al hoe meer verleë, jaloers, en wreed oor Rose se verhouding met Jack. Hy skenk die beroemde "Heart of the Ocean" aan Rose as 'n herinnering van sy gevoelens vir haar, en dan vra hy haar "om haar hart aan hom oop te maak". Sy lewe word gespaar nadat hy plek op 'n reddingsboot kon bekom deur voor te gee dat hy na 'n kind omsien. Die ouer Rose ontbloot dat Cal 'n geweer in sy mond gesit het nadat hy al sy bates in die Wall Street-ineenstorting van 1929 verloor het.
Frances Fisher as Ruth DeWitt Bukater: Ruth is Rose se weduweemoeder wat haar dogter se verlowing aan Cal organiseer om haar familie se hoërklas-status te beveilig. Sy is lief vir haar dogter, maar glo dat haar huwelik aan Cal die regte ding is om te doen. Sy is die epitomee van die oppervlakkige en skynheilige opperklassamelewing en verag Jack, alhoewel hy haar dogter se lewe gered het. Sy word deur 'n reddingsboot gered.
Danny Nucci as Fabrizio De Rossi: Fabrizio is Jack se Italiaanse beste vriend wat saam met hom Titanic aan boord gaan nadat Jack twee kaartjies in 'n kaartspel gewen het. Fabrizio sterf tydens die skip se sinking nadat een van die skoorstene omval en hom tref.
Jason Barry as Tommy Ryan: Tommy is 'n Ierse derdeklaspassasier wat aan Jack en Fabrizio bevriend raak. Hy maak 'n opmerking oor hoe skraal die kanse is dat Jack naby Rose sal kan kom. Tommy word tydens die sinking van die skip deur Eerste Offisier Murdoch doodgeskiet, nadat laasgenoemde uit vrees van 'n oorrompeling 'n skoot afvuur.