Your Name Engraved Herein (Chinees: 刻在你心底的名字, Kē zài nǐ xīndǐ de míngzì, "Die naam wat in jou hart gegraveer is") is 'n Taiwannese romantiese drama van 2020 wat deur Patrick Kuang-hui Liu geregisseer is. Die hoofakteurs is Edward Chen, Tseng Jing-hua en Mimi Shao. Die première was op 30 September 2020 in Taiwan, en dit is op 23 Desember internasionaal deur Netflix uitgereik. Your Name Engraved Herein is die LGBT-fliek met die hoogste bruto wins nog in Taiwan se geskiedenis en die gewildste Taiwannese fliek van 2020. Dit was uiteindelik die eerste prent met 'n gay tema wat meer as NT$100 miljoen by die Taiwannese loket geïn het.

Die prent het vyf benoemings vir Taipeise Goue Perd-pryse gekry, en gewen vir beste kinematografie en beste oorspronklike liedjie.

Opsomming Net nadat die krygswet in 1987 in Taiwan tot 'n einde gekom het, raak twee seunsleerlinge, Chang Jia-han ("A-han") en Wang Bo Te ("Birdy"), verlief te midde van gesinsdruk, homofobie en sosiale veranderings. 'n Nuwe leerling, Birdy, kom by 'n Katolieke seunskool aan waar hy en A-han gou beste vriende word. Albei is musikante in die skoolorkes, waar hulle vir mekaar loer. Die skool se priester en orkesleier, vader Oliver, herinner die leerlinge daaraan om profiter du moment ("in die oomblik te leef"). Dit lei daartoe dat A-han sy vriendskap met Birdy verdiep. Die seuns gaan saam op reis na Taipei – oënskynlik om te rou oor die dood van president Chiang Ching-kuo – en raak nog nader aan mekaar deur hulle avonture in die hoofstad. Hoewel hulle belangstelling wedersyds is, weifel hulle om daarop te reageer. Die bekendstelling van meisieleerlinge in die skool benadeel hulle vriendskap, want dit verander die klasdinamika. 'n Meisie hou van Birdy en bied hom die kans op 'n sosiaal aanvaarbare heteroseksuele verhouding, maar A-han klou vas aan sy toegeneentheid jeens Birdy. Herhaalde voorvalle van konflik en versoening verinnig en versuur die twee seuns se verhouding, en uiteindelik stuur die noodlot hulle in verskillende rigtings.

Hoofakteurs Edward Chen (陳昊森) as Chang Jia-han (bynaam "A-Han") Leon Dai (戴立忍) as 'n middeljarige "A-Han" Tseng Jing-Hua (曾敬驊) as Wang Po Te (bynaam "Birdy") Wang Shih-hsien (王識賢) as 'n middeljarige "Birdy" Fabio Grangeon 法比歐) as vader Oliver Mimi Shao (邵奕玫) as Wu Ruo-fei (bynaam "Ban-Ban") Waa Wei (魏如萱) as 'n middeljarige "Ban-Ban"

Ontvangs Loket Your Name Engraved Herein is die LGBT-fliek met die hoogste bruto wins nog in Taiwan se geskiedenis en die gewildste Taiwannese fliek van 2020. Dit was uiteindelik die eerste prent met 'n gay tema wat meer as NT$100 miljoen by die Taiwannese loket geïn het.

Resensies Op Rotten Tomatoes het die fliek 'n goedkeuringsyfer van 90%, met 'n gemiddelde punt van 7,3/10.

Teo Bugbee van The New York Times skryf: "Die regisseur, Patrick Liu, het 'n oog vir de manier waarop fisieke begeerte manifesteer: die tekens van toegeneentheid, die houdings van mense wat voorgee om mekaar nie te erken nie. Hy jaag nie die romanse tussen die seuns aan nie, en sy geduld laat die seuns toe om 'n geloofbare verhouding te ontwikkel."

In Yahoo Lifestyle SEA het Teng Yong Ping gemeen die aandoenlike telefoonoproep waar Jia-han 'n liefdesliedjie speel wat hy vir Birdy geskryf het (die temalied, wat 'n Goue Perd-prys gewen het), sal waarskynlik baie kykers laat huil. Hy vind dit egter verwarrend dat die storie sonder rede met 30 jaar aangeskuif word na die huidige Quebecstad, waar die karakters, nou volwasse en vertolk deur Leon Dai en Jason Wang, die graf van vader Oliver besoek. "Dit is waarskynlik omdat die prent gedeeltelik deur die Kanadese regering befonds is."

Verwysings

Skakels

Kategorie:Rolprente