Sunderland Association Football Club is ’n professionele sokkerklub gebaseer in Sunderland, Tyne and Wear, Engeland. Die klub ding mee in die Premierliga, die hoogste vlak van die Engelse sokkerligastelsel.

Die klub is in 1879 gestig, en het ses titels in die hoogste liga gewen (1892, 1893, 1895, 1902, 1913 en 1936) in die voormalige Eerste Divisie, en was ook vyf keer naaswenners. Sunderland het ook die FA-beker twee keer gewen (in 1937 en 1973), en was twee keer naaswenners (1913 en 1992), asook die wenners van die FA Charity Shield in 1936. Hulle was ook finaliste in die Ligabeker in 1985 en 2014.

Die klub se bynaam is The Black Cats (Die Swart Katte), en hulle speel hul tuiswedstryde by die Stadium of Light, wat ’n kapasiteit van 49 000 het. Hulle het in 1997 van Roker Park na hul nuwe stadion verskuif. Sunderland het ’n intense en langstaande mededinging met die nabygeleë Newcastle United, met wie hulle die Tyne–Wear-derby sedert 1898 betwis. Die klub speel in rooi-en-wit gestreepte truie en swart kortbroeke.

Verwysings

Externe skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Engelse sokkerklubs