duimnael Franz Ritter von Hipper (gebore Franz Hipper; 13 September 1863 – 25 Mei 1932) was 'n admiraal in die Duitse Keiserlike Vloot (Kaiserliche Marine) wat 'n belangrike rol gespeel het in die seeoorlogvoering van die Eerste Wêreldoorlog. Franz von Hipper het in 1881 by die Duitse Vloot aangesluit as 'n offisierskadet. Hy het verskeie torpedoboot-eenhede aangevoer en as wagoffisier aan boord van verskeie oorlogskepe gedien, sowel as Kaiser Wilhelm II se seiljag SMY Hohenzollern. Hipper het verskeie kruisers in die verkenningsmagte aangevoer voordat hy in Oktober 1913 as bevelvoerder van die I Verkenningsgroep aangestel is.
Hy is veral bekend vir die bevelvoering van die Duitse slagkruisers van die I Verkenningsgroep tydens die Eerste Wêreldoorlog, veral tydens die Slag van Jutland op 31 Mei – 1 Junie 1916. Tydens die oorlog het Hipper die Duitse slagkruisers gelei tydens verskeie aanvalle op die Engelse kus, waarvoor hy in die Engelse pers as 'n "babamoordenaar" verguis is. Sy eskader het in Januarie 1915 met die Britse slagkruiser-eskader gebots tydens die Slag van Doggersbank, waar die gepantserde kruiser Blücher verlore gegaan het. By die Slag van Jutland is Hipper se vlagskip Lützow gesink, hoewel sy skepe daarin geslaag het om drie Britse slagkruisers te sink. In 1918 is hy bevorder om Admiraal Reinhard Scheer op te volg as bevelvoerder van die Hoë See-vloot.
Na die einde van die oorlog in 1918 het Hipper met 'n volle pensioen uit die Keiserlike Vloot afgetree. Hy het aanvanklik onder 'n alias geleef en gereeld getrek om radikale rewolusionêre te vermy tydens die Duitse Rewolusie van 1918–1919. Nadat die rewolusie bedaar het, het hy na Altona buite Hamburg verhuis. Anders as sy meerdere, Reinhard Scheer, het hy nooit 'n memoir van sy diens tydens die oorlog gepubliseer nie. Hipper is op 25 Mei 1932 oorlede. Die Kriegsmarine het hom herdenk met die lansering van die swaar kruiser Admiral Hipper in 1938.
Bronnelys
Eksterne skakels
Kategorie:Duitse militariste Kategorie:Duitsers in die Eerste Wêreldoorlog Kategorie:Geboortes in 1863 Kategorie:Sterftes in 1932