Die Lincoln Near-Earth Asteroid Research- (LINEAR)-projek is 'n samewerking van die Amerikaanse lugmag, Nasa en die Massachusetts-tegnologie-instituut se Lincoln-laboratorium vir die stelselmatige opsporing van nabyaardevoorwerpe. LINEAR was verantwoordelik vir die ontdekking van die meeste asteroïede van 1998 af, totdat dit in 2005 deur die Catalina-lugopname verbygesteek is. Teen 15 September 2011 het die projek 231 082 nuwe klein Sonnestelselliggame ontdek, waarvan minstens 2 423 nabyaarde-asteroïede en 279 komete is. Die instrumente wat deur LINEAR gebruik word, is in Nieu-Mexiko geleë.
Geskiedenis In die laat 1970's is die Lincoln-laboratorium se eksperimentele toetsterrein in Nieu-Mexiko gebou. Laeligvideokameras is gebruik. In 1994 is voorgestel dat geoutomatiseerde opsporings van asteroïede met nuwe tegnologie hier gedoen word. Die LINEAR-projek het in 1996 begin met die ontdekking van nabyaardevoorwerpe met behulp van 'n teleskoop met 'n 10-duim-lensopening.
Die eerste LINEAR-teleskoop was in Maart 1998 ten volle werksaam. Van Oktober 1999 af is 'n tweede 1 m-teleskoop bygevoeg. In 2002 is 'n 0,5 m-teleskoop bygevoeg om opvolgwaarnemings te doen van ontdekkings deur die twee soekteleskope. Daarmee is sowat 20% meer van die lug elke nag deursoek. Data van die teleskope word na 'n gerief van die Lincoln-laboratorium in Massachusetts gestuur vir prosessering. Inligting oor die opsporings word daarna na die Kleinplaneetsentrum gestuur.
Ontdekkings Benewens die ontdekking van meer as 140 000 kleinplanete, het LINEAR ook erkenning gekry vir die ontdekking, mede-ontdekking en herontdekking van verskeie periodieke komete, insluitend 11P/Tempel–Swift–LINEAR, 158P/Kowal-LINEAR, 160P/LINEAR (LINEAR 43), 165P/LINEAR (LINEAR 10) en 176P/LINEAR (LINEAR 52, 118401 LINEAR: een van net vyf voorwerpe wat as beide asteroïede en komete geklassifiseer is). Een van LINEAR se ontdekkings, , het op 21 Maart 2021 naby die Aarde verbybeweeg.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Ruimteverkenning