José Mário dos Santos Mourinho Félix (Europese Portugees: [ʒuˈzɛ moˈɾiɲu]; gebore 26 Januarie 1963) is 'n Portugese professionele sokkerafrigter en voormalige -speler. Hy is een van die mees bekroonde sokkerafrigters en word algemeen beskou as een van die grootste afrigters van alle tye. Mourinho het liga-titels in vier lande gewen, is een van slegs ses afrigters wat die Europese Beker met twee klubs gewen het, en is die enigste afrigter wat al drie van die huidige UEFA-klubkompetisies gewen het.

Na 'n onopsigtelike loopbaan as middelveldspeler in die Portugese ligas, het Mourinho op 24-jarige ouderdom afgetree en hom tot afrigting gewend. Hy was eers ’n tolk vir Bobby Robson by Sporting CP en Porto, voordat hy sukses behaal het as assistent by Barcelona onder Robson en daarna sy opvolger, Louis van Gaal. Ná kort bestuursperiodes by Benfica en União de Leiria, het Mourinho in 2002 teruggekeer na Porto, waar hy twee Primeira Liga-titels, die Taça de Portugal, die UEFA-beker en die UEFA Champions League gewen het. Hierdie sukses het hom in 2004 'n skuif na Engeland besorg, na Chelsea, waar hy bekend geword het vir sy opmerking tydens sy eerste perskonferensie: "Ek dink ek is ’n spesiale een" – 'n aanhaling wat daartoe gelei het dat die Britse media hom "The Special One" gedoop het. Met Chelsea het Mourinho twee Premier League-titels, 'n FA-beker en twee Liga-bekers in drie seisoene gewen, voordat hy in 2007 vertrek het te midde van berigte oor onenigheid met eienaar Roman Abramowitsj.

In 2008 het Mourinho by die Italiaanse klub Inter Milaan aangesluit. Hy het hulle in sy eerste seisoen na die Serie A-titel gelei, en in 2010 'n kontinentale driekamp behaal – Serie A, Coppa Italia en die UEFA Champions League – 'n eerste in die geskiedenis vir 'n Italiaanse klub. Dit het hom een van vyf afrigters gemaak wat die Europese Beker met twee klubs gewen het, en later daardie jaar is hy aangewys as die eerste FIFA Wêreldafrigter van die Jaar. Mourinho het toe na Real Madrid in Spanje verhuis, waar hy in 2011–12 die La Liga-titel gewen het en verskeie binnelandse rekords gebreek het, insluitend vir punte, doele en oorwinnings in 'n seisoen. Hy het ook die vyfde afrigter geword om liga-titels in vier lande te wen. Mourinho het Real Madrid in 2013 verlaat en by Chelsea aangesluit, waar hy nog 'n liga-titel en 'n Liga-beker gewen het, maar is in 2015 ontslaan ná 'n swak reeks uitslae.

Mourinho is in 2016 aangestel as afrigter van Manchester United en in 2019 van Tottenham Hotspur, maar albei tydperke het op gespanne voet geëindig. Ten spyte hiervan het Mourinho die Europa League en 'n Liga-beker met Manchester United gewen, en Tottenham na 'n Liga-beker-eindstryd gelei – hoewel hy minder as 'n week voor die eindstryd ontslaan is. Hy het Roma van 2021 tot 2024 bestuur en in sy eerste seisoen die eerste UEFA Conference League gewen. Dit was Roma se eerste Europese titel en hul eerste trofee sedert 2008, en dit het Mourinho die eerste afrigter gemaak wat 'n groot Europese kompetisie met vier verskillende klubs gewen het, en die derde om al die UEFA-klubkompetisies te wen.

Mourinho is in 2015 deur die Portugese Sokkerfederasie (FPF) aangewys as Portugese Afrigter van die Eeue.

Bronnelys Jonathan Wilson: The Barcelona Legacy: The Evolution of winning soccer Tactics from Cruyff to Guardiola, Blink Publishing, London, 2018. .

Verwysings

Kategorie:Portugese sokkerspelers Kategorie:Sokkerafrigters Kategorie:Geboortes in 1963 Kategorie:Lewende mense