Fransmanshoek is ‘n bewaringsgebied, hengelaarsoord en piekniekterrein by Vleespunt, die kaap tussen Vleesbaai en Visbaai aan die Tuinroete van Suid-Afrika.

Ligging Hierdie terrein lê by 34° 17′ 58″ suid, 21° 56′ 45″ oos, ten suidooste van die vakansieoorde Vleesbaai en Boggomsbaai en noordoos van Gouritsmond.

Naam Op 11 September 1763 het die Franse oorlogskip Le Fortuné onder bevel van kapt. De Surville teenoor ‘n varswaterbron by Kanonpunt (ook bekend as Kaap Vacca) vergaan. Die skip met 441 matrose en soldate aan boord was onderweg van Réunion en het hier aangedoen om sy watervoorraad aan te vul. Al die opvarendes het die ramp oorleef en is oor land na Kaapstad. Alle waardevolle items is destyds van die skip verwyder, behalwe ‘n kanon wat glo tussen rotse vasgesit het en blykbaar by ‘n baie lae gety nog gesien kan word.

Die gebiede Fransmanshoek en Kanon het hulle name aan hierdie skipbreuk te danke. Na bewering het afstammelinge van hierdie drenkelinge die van Fransman aangeneem.

Gedenkteken In Desember 1999 het die Franse ambassade in Suid-Afrika ‘n gedenkplaat ter herdenking aan die stranding van die Le Fortuné hier aangebring.

Bronnelys Slingsby, Peter: Garden Route – the map. Muizenberg: Slingsby Maps, 2010. Turner, Malcolm: Shipwrecks & Salvage in South Africa – 1505 to the present. Kaapstad: Struik, 1988.

Eksterne skakels https://fransmanshoek.co.za/

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Skeepswrakke Kategorie:Wes-Kaap