Vier Asiatiese Tiere (oftewel die Vier Asiatiese Drake of Vier Klein Drake in Chinees en Koreaans) is 'n term wat gebruik is om na die vier Oos-Asiatiese lande Suid-Korea, Hongkong, die Republiek China op Taiwan en Singapoer te verwys, veral tydens die groot ekonomiese opswaai wat hierdie lande in die periode tussen 1950's en 1990's ervaar het. Die term volg die voorbeeld van die sogenaamde Baltiese Tier, d.i. Estland, Letland en Litaue, en die Keltiese Tier wat verwys na die Republiek Ierland, almal vinnig groeiende ekonomieë.

Die term het later ook ander Suidoos-Asiatiese lande soos Thailand, Maleisië, Indonesië en Filippyne ingesluit. Na dié vier Suid-Asiatiese ekonomieë word in Chineestalige ekonomiese gebiede letterlik verwys as die "vier klein Asiatiese drake" (Tradisionele Chinees: 亞洲四小龍; Vereenvoudigde Chinees: 亚洲四小龙; Pinyin: Yàzhōu sì xiǎolóng); hierdie term word deesdae ook in Koreaans, Japannees en Frans gebruik. Die term, wat in die 1980's geskep is, verwys daarna dat hierdie ekonomieë danksy hul hoë ekonomiese groei van ontwikkelende lande in ontwikkelde lande ontwikkel het. Die naam is gebaseer op die kragtige energie van 'n tier wat op die punt is om te spring en dui op die hoë dinamika van die ekonomiese opswaai.

Teen die begin van die vroeë 21ste eeu het hierdie ekonomieë volgens die Wêreldbank in hoëinkomstelande ontwikkel wat hulle spesialiseer in gebiede van mededingende voordeel. Hongkong en Singapoer het vername internasionale finansiële sentrums geword, terwyl Suid-Korea en die Republiek China leiers in die vervaardiging van elektroniese komponente en toerusting geword het; Suid-Korea het ook tot 'n groot wêreldwye wapenvervaardiger ontwikkel. Groot instellings het daarop aangedring om hulle as rolmodelle vir baie ontwikkelende lande te laat dien, veral die Tiger Cub-ekonomieë van Suidoos-Asië.

In 1993 het 'n Wêreldbankverslag, The East Asian Miracle, neoliberale beleide gekrediteer vir die ekonomiese oplewing, insluitende die handhawing van uitvoergerigte beleide, lae belasting en minimale welsynstate. Institusionele ontledings het bevind dat daar 'n mate aan staatsinmenging betrokke was. Volgens sommige ontleders het nywerheidsbeleid en staatsinmenging 'n baie groter invloed gehad as wat dit in die Wêreldbankverslag voorgestel word.

Al die vier lande is lede van beide die Wêreldhandelsorganisasie en APEC, terwyl slegs Suid-Korea 'n lidland is van die Groep van 20 en die OESO; beide Singapoer en Suid-Korea is lede van ASEAN (laasgenoemde saam met Japan en die Volksrepubliek China van ASEAN+3). Al vier die lande is volgens die Internasionale Monetêre Fonds, Menslike-ontwikkelingsindeks en Wêreldbank ontwikkelde lande.

Afname in misdaad duimnael|links|Langtermyn-afname van moordsyfers in Oos-Asiese lande In baie Oos-Asiatiese lande was daar, veral van die 1960's af, 'n betreklik eweredige en parallele afname in misdaad. Dié lande se misdaadvlak is intussen aansienlik minder as dié van Westerse lande. Volgens die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Kriminaliteit hou hierdie afname verband met die spesifiek Oos-Asiatiese ontwikkelingsmodel, wat staat maak op nougesetheid en selfdissipline, gepaard met 'n bevordering van algemene opvoeding, 'n hoë vlak aan regulatoriese ingrypings deur die regering in beleggings en ekonomiese ontwikkeling, asook 'n doeltreffende openbare administrasie.

Galery

Verwysings

Kategorie:Ekonomie van Hongkong Kategorie:Ekonomie van die Republiek China Kategorie:Ekonomie van Singapoer Kategorie:Ekonomie van Suid-Korea