Josef Mengele (16 Maart 1911 - 7 Februarie 1979) was 'n Duitse Nazi-offisier van die Schutzstaffel (SS) en dokter in die Tweede Wêreldoorlog – aan die Russiese front en daarna in Auschwitz tydens die Holocaust, waar sy bynaam die "Doodsengel" (Duits: Todesengel) was. Hy het dodelike eksperimente sonder enige mediese grondslag uitgevoer op gevangenes in die Auschwitz-konsentrasiekamp, waar hy lid van die span dokters was wat slagoffers gekies het om in die gaskamers te sterf en een van die dokters wat die gas toegedien het.
Voor die oorlog het Mengele 'n doktersgraad in antropologie en medisyne behaal en 'n loopbaan as navorser begin. Hy het in 1937 by die Nazi-party en in 1938 by die SS aangesluit. Hy is aan die begin van die oorlog as mediese offisier aangestel en vroeg in 1943 oorgeplaas na die Nazi-konsentrasiekampdiens. Hy is aan Auschwitz toegewys, waar hy die geleentheid gesien het om genetiese toetse op gevangenes uit te voer. Sy eksperimente het hoofsaaklik oor tweelinge gegaan, sonder inagneming van die gesondheid of veiligheid van die slagoffers. Met troepe van die Rooi Leër wat deur die Nazi-besette Pole beweeg het, is Mengele op 17 Januarie 1945 oorgeplaas na die Gross-Rosen-konsentrasiekamp, 280 km van Auschwitz. Dit was net 10 dae voor die aankoms van die Sowjetmagte by Auschwitz.
Ná die oorlog het Mengele in Julie 1949 na Argentinië gevlug met die hulp van 'n netwerk van voormalige SS-lede. Hy het aanvanklik in en om Buenos Aires gewoon, maar in 1959 na Paraguay en in 1960 na Brasilië gevlug terwyl hy gesoek is deur Wes-Duitsland, Israel en Nazi-jagters soos Simon Wiesenthal, wat hom voor 'n hof wou daag. Hy is nooit gevang nie. In 1979 het hy verdrink nadat hy 'n hartaanval gekry het terwyl hy swem en is onder die vals naam Wolfgang Gerhard begrawe.
Vroeë lewe Mengele is op 16 Maart 1911 in Günzburg, Beiere, gebore in 'n Katolieke gesin, as die oudste van drie seuns van Karl Mengele en Walburga (gebore Hupfauer). Sy twee jonger broers was Karl jr. en Alois. Hulle pa was die stigter van 'n maatskappy wat landboumasjinerie vervaardig het. Mengele was suksesvol op skool en het ’n belangstelling in musiek, kuns en ski ontwikkel. Hy het in April 1930 matriek geskryf en daarna filosofie aan die Universiteit van München gaan studeer, waar die hoofkantoor van die Nasionaal-Sosialistiese Party (Nazi-party) geleë was. Hy het ook die Universiteit van Bonn bygewoon, waar hy sy voorlopige mediese eksamen afgelê het. In 1931 het hy aangesluit by Der Stahlhelm, ’n paramilitêre organisasie wat in 1934 opgeneem is in die Nazi's se Sturmabteilung (SA). In 1935 het Mengele ’n doktorsgraad (PhD) in antropologie aan die Universiteit van München verwerf.
In Januarie 1937 het hy by die Instituut vir Erfbiologie en Rasssegesondheid in Frankfurt aangesluit, waar hy gewerk het onder die Duitse genetikus Otmar Freiherr von Verschuer, wat ’n besondere belangstelling in die navorsing van tweelinge gehad het. As Von Verschuer se assistent het Mengele gefokus op die genetiese faktore wat aanleiding gee tot 'n gesplete lip en verhemelte of ’n gesplete ken. Sy proefskrif oor die onderwerp het hom in 1938 ’n cum laude-doktersgraad (MD) aan die Universiteit van Frankfurt besorg. (Albei sy grade is in die 1960's deur die betrokke universiteite herroep.) In ’n aanbevelingsbrief het Von Verschuer sy betroubaarheid geprys, asook sy vermoë om ingewikkelde materiaal mondelings duidelik oor te dra. Die Amerikaanse skrywer Robert Jay Lifton meen Mengele se gepubliseerde werke was in lyn met die wetenskaplike hoofstroomwerke van daardie tyd, en sou waarskynlik selfs buite Nazi-Duitsland as geldige wetenskaplike prestasies gegeld het.
Op 28 Julie 1939 is Mengele getroud met Irene Schönbein, wat hy ontmoet het terwyl hy as inwonende geneesheer in Leipzig gewerk het. Hulle enigste seun, Rolf, is in 1944 gebore.
Militêre loopbaan Die ideologie van Nazisme het elemente van antisemitisme, rasseverbetering en eugenetiek saamgevoeg en dit gekombineer met pan-Germaanse nasionalisme en territoriale ekspansionisme met die doel om meer Lebensraum ("leefruimte") vir die Duitse volk te skep. Nazi-Duitsland het probeer om hierdie nuwe gebiede te bekom deur Pole en die Sowjetunie aan te val, met die bedoeling om die Jode en Slawiërs wat daar gewoon het – en wat deur die Nazi's, as die sogenaamde Ariese meesterras, as minderwaardig beskou is – te deporteer of te vermoor.
Mengele het in 1937 by die Nazi-party aangesluit en in 1938 by die Schutzstaffel (SS). Hy het in 1938 basiese opleiding ontvang en is in Junie 1940 opgeroep vir diens in die Wehrmacht (die gewapende magte van Nazi-Duitsland), enkele maande ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het kort daarna as vrywilliger aangesluit by die Waffen-SS, die gevegsafdeling van die SS, waar hy tot November 1940 gedien het met die rang SS-Untersturmführer (tweede luitenant) in ’n mediese reserwebataljon. Hy is daarna toegewys aan die Rasse- en Nedersettingshoofkwartier van die SS in Poznań om kandidate vir verduitsing te evalueer.
In Junie 1941 is Mengele na Oekraïne gestuur waar hy die Ysterkruis, tweede klas, ontvang het. In Januarie 1942 het hy as mediese beampte by die 5de SS-Pantserdivisie Wiking aangesluit. Nadat hy twee Duitse soldate uit 'n brandende tenk gered het, is hy vereer met die Ysterkruis, eerste klas, die swart medalje vir gewondes en die Medalje vir die Sorg van die Duitse Volk. In die middel van 1942 is hy as ongeskik vir verdere aktiewe diens verklaar nadat hy ernstig gewond is in aksie naby Rostof aan die Don. Ná sy herstel is hy oorgeplaas na die Rasse- en Nedersettingshoofkwartier in Berlyn, waar hy sy verbintenis met Von Verschuer hervat het. Dié het intussen direkteur van die Kaiser Wilhelm-instituut vir Antropologie, Menslike Erflikheid en Eugenetiek geword. Mengele is in April 1943 bevorder tot die rang van SS-Hauptsturmführer (kaptein).
Auschwitz duimnael|260px|Die "keuring" van Hongaarse Jode by Birkenau, Mei/Junie 1944.
In 1942 is Auschwitz II (Birkenau), wat oorspronklik bedoel is om slawearbeiders te huisves, begin gebruik as 'n gekombineerde werk- en uitdelgingskamp. Gevangenes is uit die hele Nazi-beheerde Europa per spoor daarheen vervoer en het daagliks in konvooie aangekom. Teen Julie 1942 het SS-dokters begin met die keuring van Jode vir verdelging. Jode is by hulle aankoms geskei: Dié wat as geskik vir werk beskou is, is in die kamp toegelaat, terwyl dié wat as ongeskik geag is, onmiddellik in die gaskamers vermoor is. Diegene wat gekeur is om te vermoor – sowat driekwart van die totaal – het bykans alle kinders, vroue met klein kinders, swanger vroue en bejaardes ingesluit, asook enigiemand wat (ná ’n vinnige en oppervlakkige inspeksie deur ’n SS-dokter) nie volkome gesond en fiks gelyk het nie.
Vroeg in 1943 het Von Verschuer vir Mengele aangemoedig om aansoek te doen vir 'n verplasing na diens in konsentrasiekampe. Mengele se aansoek is goedgekeur en hy is na Auschwitz gestuur, waar hy deur SS-Standortarzt Eduard Wirths, hoof- mediese beampte by Auschwitz, aangestel is as hoofarts van die Zigeunerfamilienlager (Romakamp) in Birkenau, ’n subkamp op die hoofterrein van Auschwitz. Die SS-dokters het nie gevangenes self behandel nie, maar het toesig gehou oor die aktiwiteite van gevangenedokters wat gedwing is om in die kamp se mediese diens te werk. As deel van sy pligte het Mengele weekliks die hospitaalkasernes besoek en beveel dat enige gevangenes wat nie binne twee weke herstel het nie, na die gaskamers gestuur word.
Mengele se werk het ook die uitvoer van keurings behels – ’n taak wat hy dikwels uit eie wil onderneem het, selfs wanneer dit nie aan hom opgedra is nie, in die hoop om proefpersone vir sy eksperimente te vind, veral in sy soektog na tweelinge. In teenstelling met die meeste ander SS-dokters, wat die keurings as een van hulle stresvolste en onaangenaamste pligte beskou het, het hy die taak met ’n uitbundige houding uitgevoer, dikwels glimlaggend of fluitend. Hy was een van die SS-dokters wat toesig gehou het oor die toediening van Zyklon B, die sianiedgebaseerde plaagdoder wat vir massamoorde in die gaskamers van Birkenau gebruik is. Hy het in dié hoedanigheid gedien by die gaskamers geleë in krematoriums IV en V.
Toe ’n uitbraak van noma – ’n gangreenagtige bakteriese siekte van die mond en gesig – die Romakamp in 1943 tref, het Mengele navorsing begin om die oorsaak van die siekte vas te stel en ’n behandeling te ontwikkel. Hy het die hulp ingeroep van gevangene Berthold Epstein, ’n Joodse pediater en professor aan die Universiteit van Praag. Die pasiënte is in aparte kasernes geïsoleer en verskeie siek kinders is doodgemaak sodat hulle gepreserveerde koppe en organe na die SS se Mediese Akademie in Graz en ander geriewe gestuur kon word vir studie. Hierdie navorsing was steeds aan die gang toe die Romakamp in 1944 gelikwideer en die oorblywende inwoners vermoor is.
Toe ’n tifusepidemie in die vrouekamp uitbreek, het Mengele een blok van 600 Joodse vroue ontruim en hulle na die gaskamers gestuur om vermoor te word. Die gebou is daarna skoongemaak en ontsmet, en die inwoners van ’n aangrensende blok is gebad, van luise ontsmet en van nuwe klere voorsien voordat hulle na die skoon blok verskuif is. Hierdie proses is herhaal totdat al die kasernes ontsmet was. Soortgelyke prosedures is toegepas tydens latere epidemies van skarlakenkoors en ander siektes, met besmette gevangenes wat in die gaskamers vermoor is. Vir hierdie optrede is Mengele met die Oorlogsverdienstekruis, tweede klas met swaarde, bekroon en is hy in 1944 bevorder tot hoofgeneesheer van die Birkenau-subkamp.
Eksperimente met mense Mengele het Auschwitz as ’n geleentheid gebruik om sy antropologiese studies en navorsing oor oorerflikheid voort te sit deur gebruik te maak van gevangenes vir mediese eksperimentering. Sy mediese eksperimente het nie die slagoffers se gesondheid, veiligheid of fisieke en emosionele lyding in ag geneem nie. Hy was veral geïnteresseerd in identiese tweelinge, mense met heterochromie (oë van twee verskillende kleure), dwerge en mense met fisieke abnormaliteite.
duimnael|Van links is Richard Baer, Josef Mengele en Rudolf Höss in Auschwitz, 1944. Elizabeth Moscowitz, lid van die Ovitz-familie dwerge wat in Auschwitz was, het getuig Mengele het toe hy haar en ander lede van haar familie sien, uitgeroep: "Nou het ek werk vir 20 jaar". Tweelingnavorsing was van besondere belang vir Mengele, aangesien een tweeling as proefpersoon en die ander as kontrole kon dien. Miklós Nyiszli en ander het berig die tweelingstudies is moontlik ook gemotiveer deur ’n poging om strategieë te ontdek waardeur "rassuiwer" Duitsers meer tweelinge sou kon voortbring. ’n Toekenning is later toegestaan deur die Deutsche Forschungsgemeinschaft ("Duitse Navorsingstigting"), op versoek van Von Verschuer, wat gereeld verslae en monsters van Mengele ontvang het. Die toekenning is gebruik om ’n patologielaboratorium aan Krematorium II by Auschwitz II-Birkenau te bou. Nyiszli, wat weens sy agtergrond as patoloog gedwing is om namens Mengele te werk, het monsters voorberei en nadoodse ondersoeke vir hierdie laboratorium uitgevoer.
Mengele se proefkonyne is beter gevoed en gehuisves as die ander gevangenes en tydelik van die gaskamers gespaar. Hulle het in hulle eie kasernes gewoon, waar hulle voorsien is van kos van ietwat beter gehalte en effens verbeterde leefomstandighede in vergelyking met die ander areas van die kamp. Wanneer hy sy jong proefkonyne besoek het, het hy homself as "oom Mengele" voorgestel en vir hulle lekkers gebring. ’n Voormalige Auschwitz-dokter het van Mengele gesê:
duimnael|260px|Joodse kinders wat aan die lewe gehou is in Auschwitz vir gebruik in Mengele se mediese eskperimente.