Die oorblysels van die Konvensiebrug op die grens van Mpumalanga en KwaZulu-Natal is van historiese belang.
Op die hoofspoorlyn tusssen Johannesburg en Durban staan van Volksrust in die rigting van Charlestown die reste van twee brughoofde van ‘n spoorbrug oor die Grensspruit.
Rondom 1894 was daar verskeie kwessies tussen die ZAR en die Britse regering wat opgeklaar moes word. Die belangrikste hiervan was beide moondhede se verhouding tot Swaziland. So belangrik is die saak beskou dat beide Paul Kruger en Henry Loch persoonlik by die gesprekke betrokke was. Die Volksraad stem in dat Kruger self daarheen gaan op voorwaarde dat hy nie die grondgebied van sy land verlaat nie. Toe kom Loch met die eis dat hy ook nie Britse grondgebied wil verlaat nie. Om die saak te skik is tente opgeslaan op ‘n eiland in die middel van die Grensrivier en vind die onderhandelinge daar van 6 tot 10 November plaas. Helaas word Loch op 9 November siek en om die probleem op te los word Loch se treinwa in die middel van die spoorbrug getrek en kon beide hoofonderhandelaars op eie grondgebied die onderhandelinge voortsit. Die derde Swaziland Konvensie is onderteken en Swaziland onder beheer van die ZAR geplaas.
Die bouval van die brug is in 1954 tot kulturele gedenkwaardigheid verklaar.
Bibliografie Oberholster, J.J.: Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972.
Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika