Fool Me Once is 'n Britse rillerreeks vir televisie, wat deur Quay Street Productions vir Netflix vervaardig is. Dit is verwerk van Harlan Coben se 2016-roman Fool Me Once. Van die akteurs is Michelle Keegan, Adeel Akhtar, Dino Fetscher, Richard Armitage en Joanna Lumley. Die première was op 1 Januarie 2024 op Netflix. Storielyn

Die voormalige weermagkaptein en helikoptervlieënier Maya Stern Burkett se man, Joe Burkett, word vemoor kort nadat haar suster, Claire Walker, ook vermoor is. Maya het dikwels terugflitse na Joe en haar laaste ontplooiing. Maya besoek haar skoonma, Judith Burkett, gereeld, maar die twee sit nie langs dieselfde vuur nie.

Speurder Sami Kierce is aan die hoof van die ondersoek na haar man se moord. Hy ontdek Joe en Claire is met dieselfde wapen geskiet. Claire het vir die Burketts se farmaseutiese maatskappy gewerk. 'n Vriendin, Eva, vertel vir Maya Claire het 'n geheime foon gehad. Maya deursoek haar suster se huis en vind die foon. Sy vind uit die foon word net van 'n videoarkade af gebel, maar die eienaar sê hy weet niks daarvan af nie. Speurder Kierce raak al hoe bekommerder oor sy gereelde floutes.

Intussen kom Claire se kinders, Abby en Dan, op ou foto's af van hulle swanger ma saam met 'n onbekende man. Hulle besef hulle het 'n halfsibbe. Abby vind uit haar halfbroer is Louis, haar voetbalafrigter se assistent. Hy sê vir haar hy het Claire vir 'n kort rukkie geken voor haar dood.

Maya vind uit haar suster se foon behoort aan Corey die fluitblaser. Hy het Claire geken, want sy wou Maya beskerm, en daarom het sy hom gehelp om die Burketts se maatskappy te ondersoek. Corey vertel vir Maya haar skoonfamilie se farmaseutiese maatskappy is verantwoordelik vir verskeie mense se dood.

Maya spoor intussen vir Christopher Swain, 'n skoolvriend van haar man en swaer, Andrew, wat ook dood is, op en hy onthul dat Joe sy broer vermoor het.

Speurder Kierce vind eindelik vir Corey, en Corey vertel vir hom van die talle pasiënte wat sterf van die Burketts se medisyne. Die speurder besef eindelik wat met hom verkeerd is, want hy gebruik self van dié medisyne.

Aan die einde van die reeks besoek Maya die Burketts om hulle te konfronteer oor al die mense wat haar man, Joe, blykbaar vermoor het.

Rolverdeling

Ontvangs Op Rotten Tomatoes het die reeks 'n goedkeuringsyfer van 71% gekry met 'n gemiddelde punt van 6/10, gebaseer op 17 resensies. Veral Keegan en Lumley se spel is geprys.

In sy eerste week is dit deur meer as 37,1 miljoen mense gekyk, met meer as 238 miljoen uur se kyktyd; dit was een van die grootste debute op Netflix. Die eerste episode het 6,34 miljoen kykers gelok, wat dit onder die top-10 laat tel het.

Keegan is in September 2024 op die Britse National Television Awards benoem as beste aktrise in 'n drama, en die reeks as beste nuwe drama.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Britse televisiereekse