Anatomy of a Scandal is 'n Amerikaanse rillerdramaminireeks vir televisie wat deur David E. Kelley en Melissa James Gibson geskep is. Dit is geskoei op die roman met dieselfde naam deur Sarah Vaughan. Die reeks bestaan uit ses episodes en het op 15 April 2022 op Netflix begin wys.
Opsomming Sophie Whitehouse, die vrou van die Britse Tory-parlementslid James Whitehouse, vind uit haar man het 'n affair gehad met sy jong assistent Olivia Lytton. Die nuus raak bekend en beïnvloed hulle hele lewe. Sy moet noodgedwonge die gevolge van haar man se dade verwerk. Om sake te vererger word James van die verkragting van Olivia aangekla en hulle raak in 'n hofsaak verstrengel.
Hoofkarakters Rupert Friend is James Whitehouse, die Britse minister van binnelandse sake en 'n groot vriend van die premier. Ben Radcliffe vertolk die rol van 'n jong James Whitehouse. Sienna Miller is Sophie Whitehouse, James se vrou. Hannah Dodd vertolk die rol van 'n jong Sophie, toe bekend as Sophie Greenaway. Michelle Dockery is Kate Woodcroft, die staatsaanklaer wat met James se saak gemoeid is. Nancy Farino vertolk die rol van 'n jong Kate Woodcroft, toe bekend as Holly Berry. Naomi Scott is Olivia Lytton, parlementêre navorser op James se personeel wat 'n affair met hom het en hom later aankla van verkragting. Joshua McGuire is Chris Clarke, Downing Street se hoof van kommunikasie. Josette Simon is Angela Regan, James se prokureur.
Episodes 1 "Episode 1" S.J. Clarkson Melissa James Gibson & David E. Kelley
Die mooi en ryk Sophie Whitehouse se man, die Tory-MP James Whitehouse, roep haar huis toe van 'n partytjie af. Hy erken hy het 'n vyf maande lange affair met een van sy assistente, Olivia Lytton, gehad en dat die nuus binnekort gaan breek. Hoewel Sophie ontsteld is, besluit sy om haar man te vergewe omdat hulle al van hulle studentedae af saam is en twee kinders het. Net toe dit lyk of die storie sal gaan lê, word James meegedeel Olivia het hom van verkragting aangekla.
2 "Episode 2" S.J. Clarkson Melissa James Gibson
James word van verkragting aangekla en die hofsaak begin. Nadat Sophie uit haar sosiale kring uitgesluit is, begin sy nadink oor haar besluit om James te ondersteun ten koste van haarself. Sy woon James se verhoor teensinnig by terwyl Olivia getuig dat, ondanks James se bewerings dat die verhouding betekenisloos was, hy haar intelligensie waardeer het en sy verlief was op hom. Sophie verlaat ontsteld die hofsaal.
3 "Episode 3" S.J. Clarkson Melissa James Gibson
James se hofsaak duur voort. James erken hy en Olivia het seks gehad, maar beweer daar was wedersydse instemming. Sophie is baie ongemaklik, maar bly in die hof. Kort daarna hoor James nog 'n vrou met die naam Holly Berry het na vore gekom, met 'n bewering dat James haar seksueel aangerand het terwyl hulle medestudente aan Oxford was. Sy en Sophie het in hulle eerste universiteitsjaar saam studeer. Die premier, Tom Southern, wat James tot dusver bygestaan het, dreig om dit nie meer te doen nie toe hy teenstand in sy eie party ervaar. James herinner hom daaraan dat Tom baie aan hom verskuldig is. In 'n terugflits word gesien hoe James vir Tom tydens 'n partytjie gehelp het om die dood van hulle vriend Alec Fisher toe te smeer. Alec het van 'n dak afgeval nadat hy heroïen gebruik het wat deur Tom aan hom voorsien is.
4 "Episode 4" S.J. Clarkson Melissa James Gibson & David E. Kelley
Sophie besoek James se ouers op die platteland saam met die kinders. Olivia se vriendin Kitty Ledger getuig. Kate sukkel met die ondervraging en kry later 'n paniekaanval. Toe Sophie tuis kom, is sy steeds ontsteld deur die feit dat James glad nie vir Holly kan onthou nie. In 'n terugflits word gesien hoe James vir Holly verkrag, met fyn detail wat ontstellend baie ooreenstem met Olivia se verkragting. Kate bel haar ma en dit kom uit dat sy Holly Berry is wat nou 'n ander naam gebruik en 'n heel ander voorkoms het.
5 "Episode 5" S.J. Clarkson Melissa James Gibson & David E. Kelley
James getuig en erken hy en Olivia was gedurende die affair verlief. Beide Sophie en James lyk of hulle Kate onafhanklik van mekaar as Holly Berry herken; Sophie danksy Kate se besondere manier van aantekeninge maak en James vanweë Kate se vrae. Toe hy besef wie Kate is, gebruik hy sy getuienis om te ontken dat hy haar verkrag het, op 'n manier wat net Kate sal verstaan, maar hy verloor sy humeur. Sophie is ontsteld deur die hofsaak en sluip later uit die huis om Kate in privaathed te ontmoet.
6 "Episode 6" S.J. Clarkson Melissa James Gibson & David E. Kelley
Hoewel Kate ontken dat sy Sophie ken, verlaat Sophie hulle ontmoeting oortuig daarvan dat sy Holly Berry is. Tuis beken James teenoor Sophie dat hy die nag toe Alec dood is, seks gehad het met 'n vrou wat Holly Berry kon gewees het. Hy sê verder Tom het die dwelms voorsien wat tot Alec se dood gelei het en hy het van die bewyse ontslae geraak. Die hofsaak eindig en James word onskuldig aan verkragting bevind. James erken in privaatheid aan Sophie dat hy Olivia 'n "prick-tease" genoem het, hoewel hy dit in die hof ontken het. Sophie besluit om James te verlaat. Sy ontmoet Kate 'n laaste keer. Kate sê James het haar verkrag. Op haar beurt sê Sophie sy het James en Tom se betrokkenheid by Alec se dood aan die pers uitgelek. As gevolg daarvan word Tom gewing om as premier te bedank en arresteer die polisie vir James. Sophie en haar kinders begin 'n nuwe lewe op die platteland en Kate sit haar werk as aanklaer voort.
Ontvangs Die reeks het op Rotten Tomatoes 'n goedkeuringsyfer van 60% gehad, met 'n gemiddelde punt van 5,9 uit 10, gebaseer op 42 resensies. Metacritic het 'n punt van 52 uit 100 aan die reeks gegee, gebaseer op 20 resensies. Dit kom neer op 'n "gemengde of gemiddelde" reaksie.
Anatomy of a Scandal was vyf weke lank onder Netflix se 10 mees gekykte Engelse reekse. In die tweede week was dit nommer een.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse televisiereekse